'N LEWE MET KRAG EN IMPAK


Oom Jan

Ons het ’n vriend, oom Jan wat elke jaar ’n nuwe Bybel koop en dit van voor tot agter deurlees. Hy is nou besig om dit vir die elfde keer te doen. So paar dae gelede kom hy gou hier aan vir sy gebruiklike kuiertjie en koffiedrink. Hy vertel toe dat hy tans Samuel lees en so verbaas was om nou eers raak te lees dat daar in 1 Sam 3:1 staan dat die woord van die Here min gehoor is in daardie dae en dat vers 7 sê dat Samuel nog nie die Here geken het nie! En dit terwyl hy aan die Here toegewy was en in die tempel grootgeword het!  

Lees self weer die storie

Ek het toe ook nuuskierig  geraak om weer Samuel  se storie te lees. Ons ken min of meer die storie: sy ouerlose ma het by die Here gepleit en gesmeek  om ’n kind te hê en belowe toe om die kind aan die Here te wy indien Hy haar gebed beantwoord. Sy word swanger, Samuel word gebore en sy hou haar belofte. Die kind word groot in die tempel waar die Here met hom praat en hy word ’n groot profeet wat ’n groot impak maak.

Nadat ek weer lees oor Samuel, sien ek  toe duidelik 4 fase van sy lewe, wat ek ook wil toepas op enige een van ons se lewe:

1)      Opvoeding

2)      Dien die Here

3)      Persoonlike ontmoeting met die Here

4)      ’n Lewe met krag en impak

Samuel kry ’n goeie, godsdienstige opvoeding:

Hy het toegewyde ouers wat ’n voorbeeld stel van hoe om die Here te dien

·         Elkana het elke jaar uit die stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring. (1 Sam 1:3)

·         Ook Hanna het saamgegaan tempel toe en die Here aanbid.

·         Hanna praat met die Here, pleit en bid en gee nie om dat die priester Eli dink sy is dronk nie.

·         Hanna kom haar belofte aan die Here na, al moes dit seker hoe swaar wees om die kind vir wie sy so lank gewag het terug te gee aan die Here.

·         Lees haar pragtige lofprysing wat sy aan die Here bring in 1 Sam 2 (:2 Daar is geen heilige soos die Here nie, buiten U is daar nie een nie, daar is geen rots soos ons God nie .... ens.)

Sy ouers het hom aan die Here afgegee, hom toegewy aan die Here

Sy het hom as klein seuntjie weggebring na die huis van die Here in Silo (1 Sam 1:24)

Baie van ons het ook só grootgeword:

·         Toegewyde ouers

·         Hulle het vir ons ’n voorbeeld van diens gestel

·         Hulle het hulle bydraes vir die kerk gegee, was betrokke, ouderling in die kerk, voorsitter van die vrouediens, ens.

·         Hulle het ons kerk toe gevat en ons aan die Here gewy met ons doop of inseëning

·         Hulle het getrou huisgodsdiens gehou en ons van die Here geleer

Voorbeelde in die Bybel van mense wat ook sulke ouers gehad het:

·         Timoteus: Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Lois en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is. (2 Tim 1:5)

·         Jesus:  Hy is besny (Luk. 1:21), toegewy aan God (Luk. 1:22 sy oiuers het hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel – en dit was gedoen volgens die wetlike bepaling dat die eerste seun aan die Here afgesonder moet word, volgens Luk. 1:23), hulle het die gebruiklike offers gebring (Luk. 2:24), Hy is tempel toe geneem vir die Paasfees (Luk. 1:41), ens.

Die regte opvoeding is reg en goed

·         Ouers se godsdienstigheid  is “aansteeklik” en as hulle hul kinders opvoed volgens die Here se voorskrifte, het die kinders  ’n “goeie kans” in die lewe (gewoonlik.... want dit het ongelukkig nie met Samuel se kinders gewerk nie! 1 Sam 8:1-3 ... maar hulle was nie soos hy nie. Hulle het die regspraak verdraai, hulleself verryk ten koste van ander, omkoopgeskenke aangeneem)

·         Wanneer ouers hulle kinders só grootmaak, is hulle binne die riglyne wat die Bybel stel:

Deut. 6:6 Hierdie gebooie moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.

Samuel dien die Here

1 Sam 3:1 Onder toesig van Eli het hy die Here gedien

Hoe sou hy die Here gedien het in die tempel?

·         Hy het takies verrig in die tempel

·         Die deure oop en toe gesluit

·         Die kerse  aangesteek

·         Hy het gesorg dat daar olie in die lampe is

·         Hy het die bejaarde priester bygestaan

Hy het NIE

·         Die woord van die Here bestudeer / gehoor nie (1 Sam 3:1 Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie)

·         Die Here geken  nie (1 Sam3:7 Maar Samuel het nog nie die Here geken nie)

Baie van ons het ook die Here só gedien, of dien die Here miskien steeds só:

Ons is betrokke in die kerk, ons bak koeksisters, organiseer die basaar, sing in die koor, besoek siekes, ens., maar ons KEN nie die Here nie; sy woord is nie aan ons geopenbaar nie.

Om die Here te dien in die kerk en met kerk betrokkenheid is  reg en goed

·         Vir die suksesvolle verloop van ’n kerkdiens is daar baie mense nodig vir: Klank, musiek, plek aanwys, tee inskink, skoonmaak, Sondagskool, ens.

·         Die Bybel sê in Heb. 10:25 ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly nie

·         Die Bybel praat ook van gawes wat ons almal het wat ons moet gebruik om mekaar te dien en die gemeente op te bou; deurdat ons mekaar dien, dien ons die Here

·         Ons moet ook getrou wees in klein, onbelangrike dinge, sodat die Here groter sake aan ons kan toevertrou: “‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel” (Matt. 25)

·
        
Sonder  ’n persoonlike ontmoeting met Jesus , sonder om Hom te ken en Hom as Verlosser in my lewe in te nooi, sal hierdie bg. diens aan die Here  net ’n “uiterlike skyn van godsdiens” wees.

·         Mense gebruik dikwels die uitdrukking: jy is so besig met die dinge van die Here, dat jy nie by die Here van die dinge uitkom nie.

Samuel se persoonlike ontmoeting met die Here

Ten spyte daarvan dat Samuel deur sy ouers aan die Here toegewy is (die “regte” opvoeding en voorbeeld gehad het) en diens gedoen het in die tempel , het Hy nie die Here geken nie (1 Sam 3:7)

Die Here het met hom gepraat, hom geroep, maar hy kon nie sy stem herken nie, want hy het Hom nie geken nie; die woord van die Here was nog nie aan hom geopenbaar nie (ek wonder: het Eli sy plig as priester versuim?)

Baie van ons het ook hierdie gebrek aan kennis / persoonlike ontmoeting /  herken van God se stem al het ons in Christelike huise grootgeword en al is ons lankal lidmate van die kerk en al dien ons die Here met ons kerklike aktiwiteite.

Uit hierdie gedeelte sien ek ’n paar dinge wat nodig is vir ’n persoonlike ontmoeting met die Here:

1)
      Hoor ek as Hy roep? Ken ek sy stem? Samuel het gehoor, maar gedink dis Eli

2)
      As ek hoor Hy roep, antwoord ek Hom, of gaan ek eers na ander mense toe om te vra wat ek gehoor het?

3)
      Is ek stil en wag ek dat Hy met my praat? Na die derde keer wat die Here Samuel geroep het, het hy teruggegaan na sy slaapplek en gewag dat die Here weer met hom praat. Ek moet self stil wees voor die Here  en luister. Gaan lê soos Samuel en wag....

4)
      Stel ek myself tot sy beskikking as ek Hom hoor roep? “Praat Here, U dienskneg luister” (1 Sam 3:9); Ps. 123:2 Soos die oë van 'n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van 'n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God; open die Woord en luister!

5)      As Hy met my praat, gehoorsaam ek dit wat Hy vir my sê? Hoor en doen.  Heb. 4:7 Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie.

6)
      Nader tot God en Hy sal tot jou nader (Jak 4:8). Stel jouself tot sy beskikking, maak jou hart oop en Hy sál homself aan jou openbaar en met jou praat.

Voorbeelde uit die Bybel van persoonlike ontmoetings:

1)
      Paulus: Op die pad na Damaskus het hy self vir Jesus ontmoet en dit het die hele koers en doel van sy lewe verander.

2)
      Saggeüs: Hy wou Jesus sien en het in die boom gaan wag. Jesus het dit raakgesien en vir hom gesê: “kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan”. (Luk. 19:5)

3)
      Maria: “Ek is tot beskikking van die Here” Luk. 1:38

Ons moet sélf hoor, sélf ervaar, sélf kennis van die Here opdoen:

1)      Joh. 4:42 Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister en ons weet dat hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.

2)      Ps. 34:9 Kom ondervind en sien self dat die Here goed is.

3)
      Job 42:5 Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van u sê, maar nou het ek U self gesien.

Samuel se lewe het krag en impak

1 Sam 2:26 Die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind.

1 Sam 3:19-20 Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. Die hele Israel van Noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here.

Samuel het die rol van Rigter (1 Sam 7:15 Samuel was sy lewe lank ’n leier in Israel) , Profeet (1 Sam 7:6 hy het onderrig oor reg en verkeerd) & Priester (1 Sam 7:5,9 hy tree in vir die volk by God en doen belydenis namens hulle, bring offers aan God) vervul en het ook die tydperk van koningskap in Israel ingelei deurdat hy Saul as koning gesalf het.

Het my lewe ’n doel en impak ?

Ons opvoeding en ouers se voorbeeld, die feit dat hulle ons aan die Here toegewy het, was belangrik vir ons geestelike lewe. Dat ons in die kerk grootgeword het en die Here dien in die kerk is baie belangrik, maar dis eers wanneer ons ’n persoonlike ontmoeting het met die lewende Jesus en self die krag van die Heilige Gees  in ons voel werk, dat ons lewens ’n doel sal hê en ons ’n impak sal maak vir God se koninkryk.

Heb. 6:10 Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie. Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle enduit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop vervul is. Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

Wilna Botha
17 Junie 2012
wilna@heuning.co.za

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die webruimte (www.heuning.co.za)