DIE MOEILIKE TAAK VAN VADERSKAP

Vaderskap is ‘n baie moeilike taak / werk, wat ‘n man kry op ‘n tyd wat hy die minste daarvoor toegerus is. Dit is ’n Godgegewe taak, ‘n taak waar daar na hom opgekyk word deur baie, ‘n nering waarvoor daar geen graad is nie, geen kursusse, diplomas, en geen ere doktorsgrade op die einde nie. In enige werksituasie word jy beter en beter soos wat jou kennis en ondervinding toeneem, jy klim die sporte hoër en hoër, dag vir dag, mense se agting en erkenning vir jou neem toe en jy word beter by die dag. Met vaderskap gebeur die teendeel. Jy presteer dikwels slegter en slegter soos wat die kinders deur verskillende fases gaan, daar is gewoonlik nie veel erkenning nie en die meeste pa’s voel eventueel of hulle gefaal het. Veral as die produk wat gevorm word, nie aan sy verwagtinge voldoen nie. Jy sien, die probleem is eintlik baie eenvoudig. Die meeste pa’s se leerskool is die voorbeeld van ‘n ander pa (sy eie), wat dalk net so sleg gevaar het. Dit klink nogal “gloomy” en of ons patetiese manne onsself vreeslik jammer kry.

Maar ek moet sê, ten spyte van alles, is dit die mees vervullende werk op aarde, en dit staan gelyk aan die taak om ‘n man te wees vir my vrou. 

Is jy ‘n pa duisend?  Weet jy, die norm waarteen ek en jy die dinge meet, is om onsself as aardse pa’s, te meet teen ons hemelse Pappa.  1 Joh 4: 8  “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde”.  

‘n Pa duisend, is een wat sy kinders liefhet! 

Job 1 : 1 – 5
In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad en was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe. Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man. Sy seuns het om die beurt partytjies gehou in mekaar se huise. By sulke geleenthede het hulle dan hulle drie susters genooi om saam met hulle fees te vier. Ná so 'n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters beveel om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg die môre het hy vir hulle almal 'n brandoffer gebring, want, het Job gesê: miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.Job het dit elke keer gedoen. 

Job was ‘n pa wat omgee.  ‘n Pa wat sy kinders so liefgehad het, dat hy so dikwels as wat hy kon, vir sy kinders by God ingetree het. Dit klink of Job nogal goed gevaar het. Lees ons egter die gelykenis van die verlore seun, sien ons ’n pa wat dalk gevoel het of hy ‘n totale mislukking was. Tot sy seun teruggekom het.  

Luk 15 : 20b – 24
Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. Toe sê die seun vir hom: "Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie." Maar sy pa roep sy werksmense: "Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry." Toe het hulle begin feesvier. 

 ‘n Goeie pa.  Een wat ongelooflik seergemaak is deur sy kind, maar steeds die “ultimate” van genade betoon het en vergewe het. 

Hier is ‘n paar aanhalings wat ek raakgelees het oor vaderskap.

“Before I got married I had six theories about raising children; now, I have six children and no theories.” 
“The heart of a father is the masterpiece of nature.” 
“It is very easy to be a military strategist, a mercenary, or a king, but much harder to be a father.” 
“Finally coming to terms with Fathers Day. I blow as a Dad. I get it. No, I'm not an evil, abusive Father, it's just that while all my intentions and thoughts have been out of love for my kids, my actions and behaviour never measured up.”
“Son, there are times a man has to do things he doesn't like to, in order to protect his family.” 
“I think that the best thing we can do for our children is to allow them to do things for themselves, allow them to be strong, allow them to experience life on their own terms, allow them to take the subway...let them be better people, let them believe more in themselves.” 
“That anyone could father a child, but a real man chooses to be a dad.”
“Behind every great man is a man greater, his father.” 
“Forget Batman: when I really thought about what I wanted to be when I grew up, I wanted to be my dad.”
“The greatest thing a father can do for his daughter is to love her mother.” 
“Of all the titles that I've been privileged to have, the title of 'dad' has always been the best.” 

“He didn’t tell me how to live; he lived, and let me watch him do it." 

Nou ja, waar staan ek en jy in ons vaderskap? Hoe maak ons seker dat ons ook ‘n pa van formaat is?  Hoe lyk jou verhouding met jou kinders, wat sien hulle as hulle jou sien? 

Ek hou daarvan om die pa en ma se rolle in die huis te vergelyk met ’n leeu en ‘n lammetjie:

‘n Ma se rol is om die sagte een te wees wat altyd beskerm, altyd bederf, toegee, ‘n sagte hart het, en dinge toelaat wat die pa gewoonlik teen die mure uitdryf. Baie pa’s dink die ma probeer ‘n wig indryf tussen hom en die kinders en dat hy dikwels uit die prentjie uitgestoot word. Ek self het al gewonder of ek enigsins ‘n rol in hierdie prentjie het en het al gedink ek word dikwels gerepudieer. Maar dis die ma se rol. Punt. 

Die pa, daarenteen, is soos ‘n leeu. ‘n Leeumannetjie is ‘n wilde ding. Wanneer die leeuwyfie die welpies in die wêreld bring, en daar is ‘n ander mannetjie in sy gebied, byt hy die kleintjies dood. Klink wreed nè? Wel, hy doen dit net om een rede, en dit is om sy bloedlyn te beskerm, om seker te maak dat sy gene voortplant. Wanneer die kleintjies jong, volwasse leeus is, verdryf hy hulle uit die trop uit om ‘n lewe vir hulleself  te gaan maak. Nou ja, ons as mans byt verseker nie die kleintjies dood nie en jaag hulle nie weg nie (al voel mens so as hulle tieners is), maar daar is ‘n baie sterk vergelyking. ‘n Pa se ingebore drang, is dat sy kinders in die toekoms moet oorleef en selfversorgend sal wees.

Daarom is die pa maar gewoonlik die ongewilde een, die ou hoof-vark en doen hy dinge wat die ma soms nie kan hanteer nie. Punt is, ons is so gemaak. 

Kan jy sien hoekom die Here se bedoeling is dat die kinders in ‘n stabiele gesin grootword waar ma en pa se rolle ewe belangrik is?

Ongelukkig word ver meer as die helfte van kinders  vandag in enkel-ouer huise groot, en daarom is dit ‘n geweldige uitdaging vir die ma (wat gewoonlik die toesig het). En nog meer, pa doen alles in sy vermoë om die kinders te destabiliseer hier van die kantlyn af, want die egskeiding is mos net ma se skuld! Geluk meneer (en dikwels mevrou), julle verwoes julle kinders, dryf hulle in die afgrond in en sê dan mooi dat julle lief is vir hulle. 

Daar is ook her-saamgestelde gesinne waar dit voel of niks werk nie, want “yours, mine and ours” bring onbeskryflike uitdagings te weeg. 

Dalk gaan daar nou 101 dinge deur jou kop.  Dalk is jy geskei en jou kinders bly nie meer by jou nie.  Dalk is jou kinders al self pa’s.  Dalk voel jy dat jy gefaal het as pa.  My vriend, dit is nie te laat om die drade op te tel nie.  ‘n Verhouding word deur woorde gebreek, en deur woorde reggemaak. 

Iemand skryf vir my ‘n brief en sê dat hy sy seun verloor het in ‘n ongeluk, en daar was slegte verhoudinge waaroor hy bitter spyt is. Hy noem ook dat hy die Here dikwels vra vir vergifnis. “Dikwels” is nie nodig nie, eenmaal is genoeg en daarna is die truuk om te glo dat die Here Sy beloftes hou rondom dit. Wat nog voorlê is selfvergifnis. Begin daarmee, werk daaraan en moenie jouself kastei nie, want 90% van die dinge waaroor jy sleg voel, is dinge wat jy in elk geval moes doen, want  jy is nou maar eenmaal die ongewilde leeu. Dis jou werk. Onthou die mooi herinneringe en sit die slegtes agter jou. 

Hier is ‘n paar punte waaraan ons as manne kan dink : 

1.                  Voorbeeld:   

Daar is geen beter manier waarop ons goeie pa’s kan wees as om vir jou kind ‘n goeie voorbeeld te wees nie.  Dink net bietjie, hoeveel van jou pa se karaktertrekke en maniertjies is in jou?  As daar negatiewe dinge is, wil jy nie dalk die een wees om hierdie bose ketting te breek nie?  As jy slegte herinneringe het, verander die geskiedenis.  Ons sê maklik: “moenie maak soos ek maak nie, maak soos ek sê”.  Dit werk nie so nie.  Alles wat jy doen, sal jou kind doen.  Alles wat jy is, sal hy wees.  Kan jy regtig sê: “moenie rook of drink”, as jy dit self doen nie?  As ek en jy ons vrouens hardhandig hanteer, raai wat gaan met jou skoondogter gebeur?

Is jy dalk as kind gemolesteer? Breek daardie vloek vandag nog!

Het jou kind jou al sien bid?  Dalk daar in jou binnekamer, of jou stiltetyd plekkie.  Jou voorbeeld vryf af. 

2.                  Leer hom:  

Spr 29 : 17  “Gee jou seun ‘n goeie opvoeding en jy sal gerus wees oor hom, hy sal jou baie vreugde verskaf”. 

Deut 6 : 6 – 7  “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.  Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is en as jy gaan slaap en as jy opstaan” 

Leer jou kinders die weë van die Here.  Ek wil jou vra, as jy jou kinders gedoop het toe hulle klein was (of ingeseën het), dink jy ooit nog aan daardie belofte? 

3.                  Tugtig hom 

Spr 13 : 24  “Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie.  As hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is” 

As jy jou kinders tug, wys dit jy is betrokke.  Jy moet hulle natuurlik op die regte manier tug, nie doodslaan, vloek of uitskel nie.  Daar moet reëls wees. Jou kind moet weet wat van hom verwag word. 

4.                  Bemoedig hom

Kol 3 : 21  “Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek sodat hulle moedeloos word nie” 

Aanmoediging en bemoediging beteken nie om ondraaglike eise (akademies, sport, ens.) aan jou kind te stel nie. 

5.                  Wees lief vir jou kind se ma – respekteer haar

Iemand het gesê:  “Die beste wat jy vir jou kind kan doen, is om vir sy ma lief te wees.”

Miskien is jy geskei – respekteer dan ten minste jou kind se ma. 

Kom ons vat saam: 

·                     Het jy al vir jou kind gesê jy is lief vir hom?  Begin daarmee, sê dit elke dag.  Stuur sommer nou ‘n SMS, al is hy dalk al uit die huis uit.

·                     As daar dalk ‘n breuk met jou kind is, wil jy dit nie vandag regmaak nie?  Moenie langs sy graf staan en dan is dit te laat nie.

·                     Moenie vir jou kind te veel geld gee nie.  Dikwels doen ‘n pa dit as ‘n afkoopboete omdat hy nie betrokke is nie – dit is fataal.

·                     Sê soms NEE! Leer hierdie “magic” woord gebruik. Jy mág sê: “Ek kan, maar ek wil nie”

·                     Seën jou kinders.  Lees Gen 49 : 22 hoe Jakob vir Josef seën.  Spreek ‘n seën uit oor jou kinders of skryf dit vir hulle in ’n brief of ’n kaartjie neer.

·                     Bid vir jou kind – ook vóór hom.  Bid die krag en redding van God oor hom af.

·                     Wees lief vir sy ma. Sorg dat daar ’n sigbare eenheid tussen jou en jou vrou is.

·                     Wees die hoof van jou huis.

·                     Spandeer tyd saam.

·                     Hou ’n balans tussen werk en huis. Hoeveel besittings/geld sal vir jou genoeg wees? (Lees  Spr 30 : 8 – 9)

·                     Berei hulle voor vir die grootmenslewe / beroepslewe / besigheidswêreld.

·                     Vermy te veel tyd weg van die huis af.

·                     Breek die ratrace

·                     Fisiese kontak met jou kind.

·                     Praat opbouend met jou kinders. Spreek lewe.

·                     Koop vir jou dogter blomme.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)