DIE MOEILIKSTE TEKSTE

Ek gesels gister met iemand wat vir Marius Vermaak van Crisis on Call aanhaal. Marius sê vir die persoon die volgende: “As daar een teks is wat geen mense op aarde kan nakom nie, is dit die een wat sê dat ons ons nie moet bekommer nie.” Ek besef op daardie oomblik dat mens (ek) so graag sulke dinge predik, maar dit self nie kan doen nie. En so kom daar in die volgende uur of twee een na die ander teks in my op, wat so lekker is om aan te haal en mense mee te probeer bemoedig, maar wat tog so moeilik is om te doen. Die Bybel is die mees wonderlike boek op aarde, ’n handboek of gids, wat elke enkele aspek van die lewe aanspreek, wat waarsku, teregwys, leer, bemoedig en rigting gee. Daar bestaan geen ander geskrewe werk soos dit nie en niks is so omvattend nie. Die Bybel hou vir jou die wet voor, wat besliste moets en moenies is, maar die Bybel gee ook tonne tekste wat bedoel is om raad te gee. Ongelukkig verval die mens in teorieë oor die Bybel se inhoud, op ’n manier wat nie die bedoeling van die teksgedeelte is nie. Ons kom met vrae soos: “Is dit of dat sonde, want dit staan sus of so in die Bybel.” Maar baie dinge gaan nie oor sonde nie en staan nie geskryf om mens te verdoem as jy dit nie nakom nie. As ek vir my kind raad gee, beteken dit nie dat hy uiters ongehoorsaam en rebels is as hy nie my raad vat nie. Hy mag dalk net sy kop stamp as hy dit verwerp, maar hy oortree nie noodwendig my reëls nie en “wette” nie. Ek dink baie tekste in die Bybel is meer om raad te gee, as om ’n wet te wees.

Matt. 6:25-34
“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

Aan die een kant ’n wonderlike gedeelte van hoop en vertroosting. Jesus self is aan die woord tydens die bergrede. Waarmee was Jesus hier besig? Het Hy hierdie woorde gesê in die konteks van ’n wet? Iets wat jy oortree as jy sou durf waag om jou vir een oomblik te bekommer en waarvoor Hy jou sal straf? Nee, honderd maal nee! Weet jy, dit maak my regtig omgekrap as mense vir jou vertel dat vrees en bekommernis van die duiwel af kom. Dit is verseker nie wat Jesus se bedoeling was toe Hy hierdie woorde uitgespreek het nie. O ja, jy stem nie saam nie? Vertel my dan van die 100 persent suksesse wat jy hiermee het? Ek glo nie daar is een mense wat dit régtig kan regkry nie. Wie het nie al wakker geword in die nag en sommetjies gemaak oor jou geldsake nie? Of getob oor die “rumors” by die werk dat mense afgelê gaan word nie? Het jy al een oggend ’n oproep gekry van ’n mediese dokter wat vir sê: “Mnr. Botha, jou ma is met kanker gediagnoseer en sal moontlik net 6 maande leef.” Dis daar waar die tekkie die teer tref. Dalk moes ek sê: “Dokter, weet jy, dis geen probleem nie, daar is hoegenaamd niks om oor bekommerd te wees nie!” Die realiteit was egter iets heeltemal anders. Want, jy sien, ons is net mense, ons hou nie van onsekerheid nie, ons hou nie van trauma nie. Ons weet die realiteite van die lewe is nie altyd maanskyn en rose nie.

My seun kom onlangs by my sê: “Pa, weens sus en so omstandighede gaan ek van nou af ’n klomp inkomste verloor en ek is bekommerd oor my besigheid.” Ek het vir hom twee dinge gesê: (1) moenie dink dat die slegte omstandighede vir altyd gaan aanhou nie, nuwe deure sal oopgaan en (2) onthou net een ding: terwyl dit sleg gaan is ek daar vir jou en sal jou help. Ek glo dat dít juis die wese van die Matt. 6 gedeelte is.

Dinge mag dalk nou sleg gaan, maar dit verander gewoonlik weer. Moenie dink as dit nou sleg gaan, dit sal vir altyd sleg gaan nie. En as dit nou goed gaan, moenie dink dat dit vir altyd net goed sal gaan nie. Die lewe is ’n vloeibare situasie. Voort sê Jesus: “Ek is daar vir jou, IN jou moeilike omstandighede.” Toe my seun ’n paar dae later vir my sê: “Pa, ek is nou regtig bekommerd,” het ek geensins gevoel dat hy ’n rebelse en opstandige kind is wat nou willens en wetens my opdragte geïgnoreer het nie en dat ek hom nou moet straf nie. Nee, ek het vir hom raad gegee omdat ek uit ondervinding kon praat. ’n Baie kort rukkie later het dinge vir hom weer reg gedraai. As die Here vra dat ons Hom moet vertrou vra Hy eintlik net bietjie geduld, want Hy is steeds in beheer.

Daar is beslis heelwat moeilike opdragte in die Bybel. Moeilik vir ons as mense om sommer net alles te doen omdat dit daar staan.

Matt. 5:21-24
“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur. “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”
 

Hoe maklik kry jy dít reg? Sjoe, ek kan darem maklik omgeklits raak oor dinge. Dit lyk vir my die kwaad word, is nie soseer die probleem nie, maar eerder die uitvloeisel van die kwaad word. Dit wat gesê word, die nydige woorde, die paar klappe wat dalk uitgedeel word. Ons as mense het mos maar humeurtjies, of hoe?

Rom 12:17-18
Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
 

Jy sien, die Here waarsku ernstig teen oordrewe woedebuie, maar dan kom gee Hy ’n wonderlike teenvoeter in Rom 13:10 Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet. Om vir iemand kwaad aan te doen, is dieselfde as om kwaad te word. Maar ek sukkel daarmee. Hierdie is maar net nog een van die tekste wat min mense kan navolg.
 

Matt. 5:43-46
“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê , en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie?
 

Wees lief vir jou vyand. Kry jy dit miskien reg, want ek sukkel baie daarmee. Nog een van daardie tekste wat bykans onmoontlik is om na te volg.  

So is daar baie tekste in die Bybel wat bokant my vuurmaakplek is. Maar Goddank, ons het ’n Leermeester in wie se spore ons kan loop. Hy het vir ons hierdie dinge kom wys. Maar weet jy, Hy was ook bekommerd en bang die aand voor sy kruisiging. Hy het ook kwaad geword en tafels in die tempel gaan omkeer. Maar ... vandag is Hy hier vir ons, ín hierdie omstandighede waarmee ons so sukkel.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)