DWAASHEID

Ek glo jy het seker ook gehoor dat Afrikaans in sy totaliteit vanaf 1 Desember hierdie jaar totaal van die TV gaan verdwyn. Niks, nul, geen woord sal in Afrikaans uitgesaai word nie. Dit word reeds in skole uitgefaseer en heel moontlik (indien alle partye hulle sin kry), sal alle radioprogramme ook in Engels wees. Dis erg nè? ... wat gaan nou deur jou kop? Woede? Aggressie? Moedeloosheid? Wel, wat sou deur jou kop gegaan het as dit vandag 1 April was? Dan sou jy seker so ’n oomblik diep gepeins het, dan so ’n glimlaggie gekry het en gesê het: Willem Botha, jou April-fool grappie sal my nie vang nie! En ja, wat ek jou nou vertel het, is sommer snert. Ons taal is hier om te bly!

Daar is ’n verhaaltjie van ’n ateïs wat ’n saak gemaak het oor Christene se publieke vakansiedae – Kersdag, Goeie Vrydag, ens. Die saak is voor ’n hof gebring omdat die ateïs gevoel het dat dit onregverdig is dat daar geen erkende vakansiedae is vir ongelowiges nie. Die regter het teen die persoon uitspraak gelewer want, het hy gesê: “The calendar says April 1 is April fool’s day, and Ps. 14:1 states: the fool says in his heart, there is no God. Thus, it is the opinion of this court, that if you say there is no God, you are a fool. Therefore, April 1st is your day.”

Ps. 14:1 & Ps. 53:2 Die dwaas dink daar is geen God nie.

Volgens die HAT is ’n dwaas baie dom, sonder verstand, bespotlik. ’n Persoon wat dom handel, onverstandig optree en gek is.

Verwysing na “dwaas” kom nogal baie voor in die Bybel. Om presies te wees, op die kop 100 keer in die 1983 vertaling en die woord “dwaasheid” nog 26 keer. “Dwase” nog ’n verdere 35 keer. Die Bybel noem dan ook hordes situasies waar mense as dwaas uitgewys word. Onthou jy Orkney Snorknie se Ouboet wat altyd sê: “Ok maar lekker stupid”? Nou giggel ek sommer as ek dink aan Ps. 14:1 wat sê die dwaas dink daar is geen God nie en ek dink: “Ook maar lekker stupid”! Soos die HAT sê: dom, sonder verstand, gek. Ek self ly ook maar partykeer aan ’n lekker skootjie domheid, of dwaasheid.

In Spreuke 7 lees ons van ’n onverstandige jong man:

Ek kyk uit by my huis, by die tralievenster uit en ek sien mense wat nog baie moet leer; ek merk onder hulle veral een onverstandige jongman wat oor die straathoek stap en die pad na 'n vrou se huis toe kies. Dit is skemeraand, die nag se donker slaan toe. Daar kom die vrou hom tegemoet; sy dra die klere van 'n prostituut, sy is 'n vrou met listige planne. Sy is luidrugtig en uitdagend, haar huis is te nou vir haar; sy maak haar ronde in die strate, op die stadspleine, sy staan op loer by elke hoek. Sy gryp die jongman en soen hom, onbeskaamd sê sy vir hom: “Ek moes maaltydoffers bring en ek het vandag juis my geloftes betaal. Daarom het ek jou kom soek, ek was op die uitkyk na jou en nou het ek jou gekry.

Ek het 'n deken oor my bed gegooi, 'n deken van bont Egiptiese linne; ek het my bed besprinkel met mirre, aalwyn en kaneel. Kom ons drink van die liefde tot die môre toe, ons gee ons oor aan die liefdeslus. My man is nie tuis nie, hy is op 'n lang reis; hy is weg met 'n vol beurs en kom eers met volmaan terug.” So laat sy die jongman swig vir haar listigheid, so verlei sy hom met haar gladde tong. Hy loop sonder weerstand agter haar aan soos 'n bees op pad slagpale toe. Soos 'n dwaas word hy in die strik gevang en netnou kloof 'n pyl sy lewer. Soos 'n voël wat reg in 'n net in vlieg, so is hy daarmee heen voor hy dit weet.

Soos ’n dwaas word hy in ’n strik gevang. Dom, gek, sonder verstand. In Spreuke alleen, kom die woord dwaas 45 keer voor en in Prediker nog 20 keer. Salomo het verseker veel te sê gehad oor dwaasheid.

Mens sou kon vra of dwaasheid die teenpool van wysheid is. Dit lyk nogal vir my so.

Salomo verwys na dwase mense in verskillende situasies. Soms as hulle ervaringskennis of insig kortkom, soos bv.
Spr. 10:14
Wyse mense loop nie te koop met hulle kennis nie; as ’n dwaas sy mond oopmaak, is sy ondergang naby.

Spr. 12:15 In die dwaas se oë is sy eie pad die regter, wie wysheid het, luister na raad.

Spr. 15:14 ’n Verstandige mens is op soek na kennis, ’n dwaas voed homself met dwaasheid.

Spr. 17:7 Verstandige woorde soek jy nie by ’n dwaas nie, nog minder leuens by ’n man van aansien.

Spr. 17:12 ’n Mens kan liewer ’n beerwyfie raakloop wat van haar kleintjie beroof is, as ’n dwaas met sy sotheid.

Spr. 17:24 ’n Verstandige mense hou hom besig met wysheid, maar ’n dwaas se gedagtes dwaal doelloos rond.

Spr. 18:2 Die dwaas stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak.

Hierdie klompie tekste verwys nie per definisie na dwase dinge wat mense aanvang nie, maar na ’n lewenswyse, ’n lewensuitkyk. Dit gaan oor mense wie se hele lewensuitkyk spreek van ’n gebrek aan begrip. Mense wat só slim is, wat hulle altyd so slim hou en net nooit na raad luister nie. Opinies van dinge, vreemde opvattings en sommer net “vlak” wees. Hierdie gedeeltes  tref my toe soos ’n hamer tussen die oë, sodat ek myself moet afvra of ek nie ook maar hierdie selfde dinge doen nie. Het ek nie ook al mense se geloof en sieninge verwerp net om later te besef dat hulle dalk net reg was nie? Is my gekwetter nie maar soms net so dwaas nie? Lief vir praat (soos ek J) is baie keer ’n teken van bietjie dwaasheid. Spr. 17:28 As ’n dwaas nie praat nie, kan selfs hy aangesien word vir ’n wyse en as hy sy mond hou, vir ’n verstandige mens”. Kan jy glo!?

Maar dan praat Salomo ook van dinge wat dwase doen. Soos die gedeelte oor die onverstandige jong man wat hom deur ’n vrou laat bedwelm. Hier is nog tekste wat oor dwase dinge handel:

Spr. 10:23 Die dwaas geniet dit om hom skandalig te gedra, maar die mens met insig geniet die wysheid.

Spr. 15:5 ’n Dwaas verag wat sy vader hom leer, wie hom laat teregwys, is verstandig.

Spr. 17:16 Watter nut het dit as ’n dwaas geld in die hand het om wysheid te koop en hy het nie verstand nie?

Spr. 18:6 ’n Dwaas praat hom in ’n rusie in, hy soek slae met wat hy sê.

Hoor wat doen dwase ouens:

Spr. 18:3 Wie antwoord voor hy ’n vraag gehoor het, is dwaas en kom in die skande.

Spr. 20:3 Dit is eerbaar om ’n rusie te vermy; enige dwaas kan ’n rusie begin.

Spr. 24:9 ’n Dwaas se geknoei loop op niks uit nie, mense verafsku ’n ligsinnige mens.

Spr. 26:3 ’n Sweep vir ’n perd, ’n toom vir ’n donkie en ’n lat vir ’n dwaas.

Maar hoe moet ek en jy nou iemand hanteer wat ’n meestersgraad in dwaasheid het? Wel, Spreuke gee twee agtereenvolgende tekste met raad wat my lekker laat glimlag.

Spr. 26:4 Moenie ’n dwaas se vraag op net so ’n dwase manier beantwoord nie, hy sal dink jy is soos hy.

Hierdie teks se: “Man, stap weg en ignoreer die vent”. Maar dit lyk vir my of dit nie altyd sal geld nie, want net in die volgende vers staan eintlik die heel teenoorgestelde:

Spr. 26:5 Beantwoord ’n dwaas se vraag op net so ’n dwase manier, anders dink hy hy het wysheid.

Nou ja, ons moet seker maar onderskei wanneer om stil te bly en wanneer om te antwoord!

As mens so na al hierdie skrifgedeeltes kyk, dan maak Ps. 14:1 vir my sin dat dit ’n dwaas is wat dink dat daar nie ’n God is nie.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)