HOU DIE BLINK KANT BO

Hou die blink kant bo. Jy ken sekerlik hierdie idioom baie goed. Dit beteken iets soos: bly positief, wys jou beste kant, moenie dat enige iets jou onderkry nie, wys vir die wêreld waarvan jy gemaak is. 

Nou vra ek jou: watter kant is jou beste kant? Watter kant sien die wêreld van jou, en is jy regtig dit wat jy wys? Ek doen lank gelede aansoek om ’n betrekking en hulle laat my ’n vorm met so 20 verspotte vrae invul wat niks met die pos te doen het nie. Sommer sulke “random” vrae wat op die oogaf nie eintlik sinvol lyk nie. Na ’n ruk kom die dame terug met ’n hele verslag van so 5 bladsye wat my haarfyn beskryf. Ek was geskok! Dit was ’n verkorte weergawe van ’n psigometriese  toets, die sg. Thomas toets. Ek kon nie glo dat 20 lawwe antwoorde my só akkuraat kon beskryf nie. Die positiewe punte wat uitgekom het, was: vriendelik, positief, aangenaam, vrolik, gesellig. Maar weet jy, dis net die een kant, want dié kant wat ek nie vir die wêreld wys nie, het ’n paar uiters onaangename skerp kante. Kante wat ek nie wil hê mense moet sien nie en wat ek vanoggend net kan bely omdat jy nie vir my gesig kan kyk nie. Goeters waaroor ek verseker nie trots is nie. Hierdie is die kante wat sekerlik nie die Here se bedoeling is vir my lewe nie en wat verseker nie Sy hart lekker laat klop nie. Ongelukkig is dit die kante wat ek self sien, maar nie net ek nie, die mense wat die naaste aan my is, sien dit die meeste daarvan en loop deur daaronder. Dis nie lekker nie en ek wens so dit was anders. 

Hou die blink kant bo. Ek ken mense wat werklik goed doen hiermee en wie ek glo regtig blink gepoets is. Die  spreekwoord: “you wear Jesus well”, is op hulle van toepassing. Dis mense “Who walk the talk”, mense wie se binnekant regtig aan die buitekant weerspieël word, mense wat met groot integriteit deur die lewe gaan. Mense wie se ja ja is en nee nee is, wie jy werklik kan vertrou en op wie jy regtig kan staatmaak. Maar jy kry die teendeel ook. Ongelukkig. En dan soek ek myself iewers tussenin en weet nie hoe goed ek aldag vaar nie. Is ek dalk skynheilig of ’n huigelaar? 

Ek hoor een Sondagaand ’n preek oor die liefde en dis toe dat ek begin het met hierdie selfondersoek. Kyk wat sê die Bybel oor die liefde:

1 Kor 13:1-7
Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks. Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
 

Geduldig, vriendelik, nie afgunstig, of grootpraterig, nie verwaand, nie onwelvoeglik, nie liggeraak, is ’n pragtige opsomming van ware liefde. Onvoorwaardelike liefde teenoor alle mense, in alle omstandighede, ten spyte van wat hulle doen of sélfs aan mý gedoen het, of my te nagekom  het. Dit is ’n baie groot toets wat ek daagliks faal. Jy sien, die liefde van 1 Kor. 13 vra vir my twee goed:

1.       Hoe goed vaar ek self? D.w.s. hoe lyk die kant van wat ek werklik uitleef?

2.       Hoe gaan ek met ander mense om wat ook ’n skerp kant het? Veroordeel ek, of aanvaar en vergewe ek? 

Hoe goed vaar ek? Weet jy wat is die probleem met so ’n skerp kant? Ek het reeds gesê dat die mense wat naaste aan my is die meeste daarvan sien. Die probleem is, die mense wat die kosbaarste in my lewe is, kry die meeste seer as gevolg van my serp kant. Hulle is ook die mense wat dit die minste verdien. En as jy my vra: “Hoekom”, dan sê ek ek weet nie. Die ergste van alles is, die Here weet van elke enkele faset, elke skerp deeltjie, elke plekkie wat so donker en weggesteek is. Vind jy dit ook soms moeilik om vir die Here te sê dat jy vir Hom lief is met jou hele hart, siel, verstand en al jou kragte? Ek ken dít baie goed, want dis die skuldgevoel oor my dowwe, skerp kante wat die moeilik maak. 

Hoe gaan ek om met ander mense se skerp kante? Dikwels soek ek na ander mense se skerp kante, want dan het ek ’n verskoning om nie met hulle om te gaan nie, dan kan ek kritiseer en slegpraat van hulle en myself lekker verontskuldig oor my eie skerp kante, dan kan ek afkyk op hulle en hulle veroordeel. Dan trek jy sommer nog hulle Saligheid of geestelikheid ook in twyfel.

Maar, dan lees ek weer 1 Kor. 13:4-7 en pluk ’n toets! Weet jy, daar is nie een mens op aarde wat nét sleg is nie, of wat nét skerp kante het nie en wat álmal om hulle wil verwoes nie. Elke mens het iets goeds in hom. Dis maklik om mis te kyk, maar soek daarna en jy sal dit sien.  

Wat verwag die Here dan van jou en my?
Ef. 4:22-24
Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.
1 Pet. 1:16
Wees heilig, want Ek is heilig.

Ek sien so in my geestesoog dat die Here ons soos ’n perfekte ronde koper bal poleer, blink soos ’n spieël, maak nie saak van watter kant af jy kyk nie, dis orals ewe mooi, dit reflekteer van alle kante presies dieselfde beeld, geen skerp snykante en geen lelike, dowwe kante nie.  

Jy het mos ook al ’n “What would Jesus do”- bandjie gedra en jou voorgeneem om meer en meer soos Jesus te wees. Wel, Jesus het 1 Kor. 13 in sy volheid uitgeleef en as ons poog om meer en meer aan Hom gelykvormig te wees sal ons hierdie liefde moet nastreef. Dan sal ons toeneem in daardie “heiligheid” waarvan Paulus praat.  

Ons moet mekaar in liefde help. Spr. 24:26 “Wie eerlik antwoord, is ’n ware vriend”. Ek sien dit nie net vir wanneer mens iets antwoord nie, maar ook wanneer ons mekaar bystaan in hierdie proses van skerp kante saggies wegskuur. 

Dit sal vir my ongelooflik wees om ten alle tye te wees wie ek graag wil wees. Ek het al baie vir die Here gevra dat ek die persoon sal wees wat Hy my gemaak het en nie die persoon wat ek geword het nie. 

Kry die blink kant bo; word meer en meer soos Jesus; betoon meer en meer onvoorwaardelike liefde.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)