“JA" – MENSE

Spr. 3:27
Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.

Wat is die woord wat jy as kind die meeste gehoor het by jou ouers? As ek nou terugdink was dit waarskynlik die woord “nee”. Jy mag nie dit nie, jy mag nie dat nie, moenie, hou op, stop dit! Dit gaan seker maar oor ’n mens se willetjie wat nie altyd goed is vir jou nie. Dis nou maar hoe dit is, ’n kind moet nee hoor. As hulle dan grootword lyk dit my nee is so ingeprent, dat hulle sommer ook vir alles nee sê. Dan kry mens ja-broers. Hulle sê ja, maar dan doen hulle nee. My pa het baie nee gesê, maar daar was definitief ook ’n plek vir ja. As hy vir my ’n opdrag gegee het en ek sê: “Ek kan nie”, het ek gehoor: “Kannie is dood van kruiwa stoot.” Daarmee het hy eintlik bedoel: “Ja jy kan, ja jy het die vermoë, ja ek vertrou jou daarmee, ja dis goed vir jou.”

Soos wat mens ja-broers kry, kry jy nee-mense. Hulle is eintlik aan dieselfde kant van die draad as die ja-broers. Dit maak nie saak wat jy hulle vra nie, die antwoord is altyd nee. Nee, nie nou nie, nee, ek kan nie, nee, ek doen reeds te veel, nee, it’s not my cup of tea, nee, ek sal dink en terugkom na jou toe of ek sal eers daaroor bid en dan terugkom na jou toe. Natuurlik moet mens bid oor ’n saak, maar nog nooit het een enkele persoon wat so gesê het teruggekom na my toe en gesê: “Die Here het vir my gewys dit moet nee wees nie.” Miskien bid hulle nog steeds.

Nee-mense kry nie veel gedoen nie. Talente word onder die maatemmer gelos, daar word geen uitdagings aanvaar nie en sulke mense se lewens is nogal leeg en oninteressant. As Billy Graham, of Angus Buchan, of Moeder Theresa nee-mense was, sou die wêreld ’n arm plek gewees het. Nou ja, mens sê verseker ook nie vir alles net ja nie. Ons moet nee sê vir sonde, nee vir verkeerde verhoudinge, nee vir misdaad, nee vir die verleidinge van satan, nee as dinge nie in my beste belang is nie, nee as ek weet dit gaan my in die moeilikheid laat beland, nee vir skinderpraatjies en goor houdinkies. 

Die wêreld en die Here soek egter ja-mense. ’n Ja-mens werk onder Fil. 4:4 “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee”. Dis mos nou kragtig, man. Ja, ek sal, ja ek wil, ja ek gaan probeer, ja ek vat hierdie uitdaging. As die Here vir sê: “Ek het jou nodig vir ’n jobbie”, dan sê jy: “Ja, Here, ek vertrou dat U my sal toerus. Ja, Here, ek is regtig bang, maar met U kan ek enige iets doen”. Hulle sê mos: “God doesn’t call the equipped, He equips the called.” Ek vra eendag vir my vriend, Buks Moolman: “As jy dink jy hoor die Here se stem, wat doen jy?” Toe sê hy: “Ek doen dit dadelik en vra die vrae later.” Buks is ’n ja-mens. En boeta, hy move!

Ja-mense is mense wat uitdagings aanvaar, of dit jou klein is of groot. Weet jy waartoe jy in staat is? Dit hang af of jy dít oefen wat nodig is. Wat is die verskil tussen:

·        
My en Arnold Schwarzenegger? Hy oefen en ek nie.
·        
Piet Pompies Golfer en Earnie Els? Earnie Els oefen beslis meer.
·        
Mnr. Nee en my vriend, Buks? Buks doen en vra later vrae. Mnr. Nee is net eenvoudig te bang.

Ja-mense onderskat nie hulleself nie. ’n Ja-persoon sê nie: “Ek kan nie", hy sê dalk: “Ek het nog nie, maar watch my.” Ken jy die spreekwoord: “Rather aim for perfection and miss it, than to aim for failure and hit it?” Mense wat groot hoogtes behaal, spesifiek op geestelike vlak, is mense wat bereid is om foute te maak. Gaan preek êrens, al is jy nie ’n opgeleide prediker nie. Weet jy hoe doen jy dit? Jy gaan vertel net wat jy glo. Jy hoef nie eers die  versies uit jou kop uit te ken nie, vat sommer net jou Bybel saam.

Matt. 5:34-37
Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”

Matt. 21:28-31
“Wat sê julle hiervan? Daar was 'n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’ ‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan. Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?” Hulle sê: “Die eerste.” Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in.

Ja-mense is dáár vir ander mense. Spr. 3:27 Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.

Ja-mense kan voortgaan, al is daar nie meer lig in die tonnel nie. Hulle is dié wat ander se hande vat en hulle lei, al sukkel hulle dalk self om te sien.

Die voordele daarvan om ’n ja-mense te wees:
·        
Hulle leer elke dag meer en meer.
·        
Hulle leer hulle eie sterk punte ken en werk aan hulle swak punte.
·        
Hulle self-waarde neem by die dag toe en hulle oorkom minderwaardigheid.
·        
Hulle beweeg vorentoe in die lewe.
·        
Hulle is ’n bate vir ander, ’n bate vir die Here en ’n bate vir Sy Koninkryk hier op aarde.
·        
Hulle is goeie vriende vir ander en hulle is betroubaar.
·        
Hulle kan deur die Here gebruik word.
·        
Hulle maak die beste van elke situasie.
·        
Hulle maak ’n verskil.

Die nee-mens vs. die ja-mens:

Ek kan nie

Ek sal uitvind hoe

Ek het nie tyd nie

Gee my ’n minuut, dan is ek daar

Ek sal daaroor dink

Wanneer kan ek begin

Ek kan geen verskil maak nie

Ek sal my beste doen

Ek het my eie probleme

Ek sal jou help met ’n oplossing

Help my met my laste

Ek is daar vir jou

Ek kan nie op my eie voete staan nie

Twee vaar beter as een

Ek het die einde van die pad bereik

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee

Toets jouself bietjie hieraan:
·        
Kan jy ja sê vir iemand sonder om te aarsel?
·        
Kan jy ja sê vir die Here sonder om te wonder of jý die regte persoon is?
·        
Is jy bereid om nuwe waters te toets?

As jy vandag op die water wil loop, klim uit die boot uit! Hou op met verskonings sê: “Ja!”
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)