Is
jou kaste ook so oorvol soos myne? Na so 20 jaar in een huis begin
jy naderhand uit pakplek hardloop, en dan kry jy maar net nog méér kaste.
Uiteindelik gaan jou kinders uit die huis uit en jy dink: “Aha, hier
ek ek nou bietjie ekstra pakplek,” net om te sien dat jou krosie ‘n
klomp gemors in die kas gelos het met die opdrag: “Los asseblief my
goed uit, dis vir my kosbaar.”Dan begin jy uit pure frustrasie dinge
uithaal om ashoop toe te ry, maar vroulief (of manlief) weier
volstrek. Selfs al vra jy of die goed die afgelope tien jaar gebruik
is, hoor jy steeds net: “Los uit, dis my goed en dis kosbaar vir
my.” Dieselfde gebeur mos in jou klerekas, daai broekie wat al 5
jaar te klein is, word gehou, net vir ingeval jy weer genoeg
verslank om in hom te pas.
Eintlik is dit dieselfde in ons
Geestelike lewens. Ek kan dink aan ‘n paar goed wat oud raak en plek
opneem, waar ons denke vassteek en afgestomp word, of ons weier om
nuut te dink, en ons hou vas aan ideologieë en konsepte en ons sê
net eenvoudig: “Dis hoe my pa my geleer het en basta!” Maar ek het
besef ons moet dalk ons Geestelike kaste ook so bietjie reg pak en
dalk aanbeweeg. Jy sien, as jy ‘n kas reg pak, weet jy weer waar
alles is, dinge word nuut ge-orden. ’n Paar ou goed word uitgegooi
en daar is weer plek vir nuwe goed. Soms moet mens aanbeweeg in
dinge waaraan jy vroeër vasgehou het, maar soms moet jy dalk weer
terugkeer na wat werklik goed en waar en reg is.
Die kern van die Evangelie, die
dinge wat gaan oor ons redding, sal altyd vas staan. Jesus se
maagdelike geboorte, Sy kruisdood, Sy opstanding en Sy hemelvaart,
ons redding deur geloof, staan altyd sentraal en vas. Maar ons
Godsdiens beoefening is ‘n ander storie, want godsdiens kan nogal
gevaarlik wees. En dis daardie kas wat ons dalk soms moet reg pak.
Rom. 12:2 Julle moenie aan
hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander
deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die
wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
Inderdaad ‘n hele mondvol! Jy
sien, met tyd – dink ek – het die mens meer en meer van genade begin
verstaan, die feit dat Jesus gesterf het vir ons sondes, juis omdat
ons nie die vermoë het om om skoon te leef nie. Genade wat so
onbeskryflik groot is, dat niks ons uit God se hand kan ruk nie, en
dat die duiwel finaal oorwin en verslaan is. Dis natuurlik waar,
100% waar, maar dis nie al wat waar is nie. As ons hierdie kas van
Rom. 12 bietjie uitpak en reg pak, sal ons agterkom dat genade nie
God se wil vir ons vir ‘n skoon lewe oorskadu nie. In die eerste
plek wil die Here steeds hê dat ons nie aan die sondige wêreld gelyk
sal word nie, maar dat ons Hom sal toelaat om ons denke te vernuwe,
sodat ons kan onderskei wat die wil van God is en dat ons sal doen
wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. In ons jong dae het
ons ‘n dominee daar in die Moot gehad wat net verdoemenis gepreek
het, en in die proses het hy dikwels die kansel kaalhand probeer
vermorsel. Dit het in vandag se tyd plek gemaak van ‘n kansel wat
drup van die stroop van genade. Punt is, albei kante is reg. Genade
is verniet, maar verseker nie “cheap” nie!
Kom ons pak die kaste verder
reg. Weet jy wat gebeur nog in ons Geestelike kaste? Ons laat toe
dat ander mense goed in ons kaste kom inpak. Soms heeltemal
ongevraag, soms word ons gestoomroller, soms heeltemal oordonder, en
dan juis met woorde soos: “Dit staan alles in die Bybel!” Hierdie
mense kom hamer op skuldgevoelens en vrees, en pak jou kaste vol
goed wat jy nie daarin wil hê nie en gooi in die proses goeie goed
uit. Dit sit ondraaglike laste op mense, saai verwarring en bring
skeuring en konflik tussen mense.
Daar is bv. ‘n beweging wat sê
jy mag nie ‘n kruis in jou huis of in jou kerk hê nie, want die
kruis is ‘n vloekhout. Toe sien ek ‘n video op YouTube van Neville
Norden (vir wie ek baie respek het) met die naam “Die duiwel in jou
huis” en hy slaan hierdie ideologie summier plat in die grond in. Jy
sien, ek besluit self wie goed in my Geestelike kas kom pak, ek vra
vir die Here vir leiding daaroor, ek lees wat die Woord sê (in
konteks natuurlik!) voordat ek net op ‘n wa spring. En ja, ek
luister verseker na mentors, en ek maak graag vir my goeie mentors
bymekaar, maar dis mentors wat ‘n lang en intieme verhouding met God
het, wat vol wysheid en insig is en wat ‘n groot verskil in die
wêreld gemaak het. Hulle kan maar kom pak en krap in my kaste. Maar
nie sommer enigiemand wat kwansuis ‘n “nuwe” openbaring het wat g’n
ander mens nog ooit van gehoor het nie. Ek hoor jy mag deesdae ook
nie meer ‘n hartjie in jou huis hê nie. Goeiste!
Soos wat ek ouer geword het,
het die impak wat my ouers op my lewe gehad het net meer en meer en
dieper op my lewe ingewerk. As jy self ‘n ouer is, verstaan jy ook
jou ouers se motiewe beter en wat hulle waardestelsel en
geloofswortels gevorm het, en ook hoe hulle hulle godsdiens beoefen
het. Met tyd moes ek egter ook van daardie goed uit my Geestelike
kas pak en my gedagtes daaroor heroorweeg, daaroor besin en nuut
daaroor dink. Eers toe ek sonder skuldgevoelens daaroor kon dink,
het ek vrede gekry en kon ek met nuwe oë na alles kyk en aanbeweeg.
Verandering en vernuwende denke kon dus plaasvind sonder om van die
basiese fondasie af weg te beweeg. En my kinders? Hulle is klaar nie
meer in dieselfde boksie as ek nie en hulle dink ook weer nuut en
vars, want hulle hou nie noodwendig van die manier wat my Geestelike
kas gepak is nie.
Ek het besef dat dit wat ek in
my Geestelike kas toelaat, nie dieselfde is as ander nie, en dan
begin ek mense veroordeel, beoordeel en sommer verdoem in die proses.
Ek moes nuut leer dink oor baie dinge, soos die doop, die skeppings
verhaal, watter Bybel vertaling die regte een is, hoe die Sabbat
onderhou moet word, kerkbywoning en ‘n rits ander goed.
Maar, die basis van my geloof
in Jesus Christus staan vas en dis nie debatteerbaar nie. Kom ons
pak bietjie ons Geestelike kaste weer ‘n slag reg en aanvaar dat
almal nie hulle kaste op dieselfde manier pak nie. Solank daardie
kas net van kruishout gemaak is. Dis DIE belangrikste!