|Terug na Heuning Hoofblad|


 

Lees terugvoer van kampers / helpers  - klik hier>>

Nog 'n heerlike kamp is verby! Dit was gevul met wonderlike oomblikke van selfondersoek, diep oomblikke van verwondering oor die Here, ligte oomblikke van groot pret en skaterlag, heerlike oomblikke waarin nuwe vriendskappe gesluit is, liefdevolle oomblikke vol drukkies, en baie meer ... my hart voel so warm van almal wat daar ingekruip het ...
Hier onder volg 'n klompie van die foto's wat ietsie wys van al die pret wat ons gehad het. Verder af op die bladsy is daar foto's van almal wat op die kamp was - alfabeties geplaas.
Klik hier om 'n klompie van die kampers se terugvoer oor die kamp te lees >>

 



Pret met musical chairs - rolstoele en al

Sandkaartjies

Speletjies en pret

Konsert

Klik hier om na 'n video van die lawwe kenne-koor te kyk met Ian, Willem en Dennis >>

Dieper oomblikke
   

Anita

Anita het stil-stil saam met Willie en die Welmans opgedaag vir haar eerste kamp. Sy het die hele tyd met volle oorgawe deelgeneem aan elke aktiwiteit, speletjie en gesprek. Haar sagtheid en vriendelikheid maak van haar ’n pragtige mens.


Ansie

Ansie se liefde, geduld en deursettingsvermoë as ma van ’n gestremde seun dwing respek en bewondering af by ’n mens. Sy betoon dieselfde aanvaarding en meelewing aan menige van die kampers. Sy is ’n lieflike mens – innerlik en uiterlik en is ’n inspirasie vir ons almal.


Chané

As jongste persoon op die kamp, het Chané effe bang gelyk toe sy by Deo Volente aankom vir haar eerste kamp. Sy was egter gou tuis, veral nadat sy die “musical chair” ysbreker-speletjie loshande gewen het! Sy het nuwe maats gemaak en in ons almal se harte ingekruip. Sy het ons met buitengewone selfvertroue verras met haar sang tydens die gebruiklike konsert.


Cheryl

Dit was Cheryl se eerste kamp as helper en spanlid. Op haar stil en sagte manier het sy behoorlik raakgevat, die kampers bedien en oral gehelp. Haar meelewing was ’n groot aanwins vir ons almal. Sy is op ’n “high” weg Sondagmiddag!


Darlene

Liefdevolle Darlene, kon nie ophou om drukkies en briefies uit te deel nie. Giggel-kous wat sy is, het sy vir baie glimlagte gesorg. Sy sing ook graag en die konsert was vir haar ’n hoogtepunt waar sy, saam met Karin, Die Houtkruis opgevoer het.


David

David is so ’n inspirerende jong man, wie die kamp alleen en met baie moed aangedurf het. Hy het goed ingeskakel en aan al die aktiwiteite deelgeneem. Hy het ons veral verras met sy buitengewone sangtalent en ons vermaak met sy oulike, goed afgeronde optrede by die konsert – uitrustings en al!


Dennis

Dennis is van die begin afdeel van die kern-span wat die kampe moontlik maak en help aanbied. Sy humor en terggees sorg vir lekker tye op elke kamp. As deel van die lofprysinggroep is hy en sy baskitaar onmisbaar. Hy vorm deel van Kenne-koor en die “4-man Briel” – sanggroep wat laat waai het met die Saterdagaand konsert! Dennis het ook vir ons ’n insiggewende praatjie aangebied oor Bybelmense se lewensstories waarmee ons almal op die een of ander manier kon assosieer.


Essie

Essie is al baie tuis op ons kampe. Die feit dat sy in ’n rolstoel is, keer haar glad nie om deel te neem aan al die aktiwiteite nie – van musical chairs tot waterballon-gooi! Haar belangstelling in die tema en lesings wat aangebied word en meelewing met lofprysing het opgeval.


Genie

Genie het, ten spyte van ’n erge rugspasma en groot pyn, deurgedruk om vir Karen en Darlene na die kamp te vergesel. Haar liefde en insette in dié twee se lewens laat mens met ’n knop in die keel. Haar deelname aan die kreatiewe aktiwiteit het vir mooi kunswerke gesorg. Haar sterk en stabiele karaktereienskappe is iets om na op te kyk.


Harry

As jy ’n glimlag sien, dan weet jy dis Harry wat aankom. Vol liefde en pret en drukkies het hy beslis nóg  vriende gemaak en in almal se harte ingekruip. Sy danspassies het menige van die dames laat meedoen! Harry is blykbaar ook ’n kranige karate-ou en sy toewyding in dié verband dwing respek af.


Ian

As deel van ons span, sorg Ian vir baie pret en skaterlag op elke kamp. As jy in sy speletjie-span beland, kan jy seker wees jy is in die wenspan! ... ek wonder hoekom? Ian het die kenne-koor “afgerig” vir die konsert en gesorg dat ons lag tot die trane loop. Hy neem die Sondag-diens en nagmaal waar op elke kamp en het hierdie keer sy inspirerende lewensstorie met ons gedeel – weliswaar nie ’n maklike, gelyk pad nie, maar een waar die Here in beheer is en waarvan die getuienis Hom vereer.


Karen

Karen was die sterretjie van die kamp – mens kan nie anders as om sommer baie van haar te hou nie. Sy is so liefdevol, so meelewend, so “entertaining”, met so ’n mooi, sagte binnekant. Sy is lief vir die Here en dien Hom op haar uniek manier.  


Lindie

Lindie is iemand wat enige iets sal opoffer om as helper en spanlid op die kamp te wees. Sy is altyd gewillig om te help met vervoer en mens kan enige tyd op haar knoppie druk. Sy gee haar hart vir die gestremdes en dien hulle op ’n besondere manier. Op elke kamp is sy ’n ware staatmaker.


Lorraine

Lorraine, oor die 70 jaar oud, het op ’n stil en sagte manier haar plek op die kamp ingeneem. Sy was die hele tyd tevrede en gelukkig en het deelgeneem sovêr dit vir haar moontlik was.


Louis

Louis is die dierbaarste jong man. Hy is altyd so eerlik en opreg en is reguit met wat hy sê. Hy dink diep oor geestelike sake en dien die Here opreg. Hy het altyd nuwe idees, maak altyd grappies en deel drukkies mildelik uit.


Mandie

Mandie het vir die eerste keer ’n kamp bygewoon, nadat sy en Ian in Januarie getroud is. Met haar vriendelikheid, liefde vir en aanvaarding van almal, helpende hand en meedoen aan al die aktiwiteite was dit ’n groot vreugde en seën om haar as spanlid en op die kamp te hê.


Marietjie

As spanlid is Marietjie ’n voorslag op ’n kamp en een van die pilare waarop die kampe staan. Sy sorg vir ysbreker speletjies wat almal laat ontspan, tuisvoel, saamspeel en skaterlag. Sy vat raak as dit kom by hulpverlening, moed inpraat, aanmoediging en voorbidding. Sy sing saam in die lofprysingsgroep en is ook een van die “huilende” Briels!


Martin

Martin is net sy eie, rustige self op ’n kamp. Hy luister aandagtig na praatjies, werk dinge vir homself uit en pas dit toe in sy lewe. Hy is altyd gereed met ’n kwinkslag of twee en neem deel aan al die aktiwiteite.


Noddy

Noddy is een van ons staatmaker helpers wat haar program en dagboek sal buig om elke kamp te kan bywoon. Sy sien mense se nood vinnig raak en is gou gereed om te help. Noddy werk hard om al die speletjies te koördineer en op prettige wyse vir ons aan te bied. Sy motiveer ons om mekaar te help, om planne te maak en leer ons dat om deel te neem belangriker is as om te wen.


Petro

Petro is een van die jong dames wat die kamp so stilweg geniet het. Sy neem deel, geniet die pret, hou van die ander jonges se geselskap en maak vriende. Haar rustige geaardheid en innemende glimlag maak dat almal van haar hou.


Ria

Ria se werk by Irene Homes, is nie net ’n werk nie, sy is passievol oor wat sy doen en is opreg lief vir elkeen met wie sy werk. Sy gee haar hele hart en onbetaalde tyd aan die inwoners wanneer sy elke keer ’n groepie dames vergesel op die kamp. Haar standvastigheid en deursettingsvermoë, haar liefdevolheid en openheid is vir almal ’n aansporing. Daarby is sy nog altyd 'n bok vir sports ook!


Riekie

Riekie is ’n pragtige en intelligente dame met ’n fyn sin vir humor. As sy aankom op haar rolstoel, moet jy koes want sy jaag soos ’n blits. Sy geniet al die aktiwiteite op die kamp en ondersteun en help haar bejaarde moeder op so ’n liefdevolle manier.


Rina

Tannie Rina is die oudste kamper en geniet alles terdeë. Sy neem deel aan enige iets, selfs die musical chairs het sy nie gemis nie! Tannie Rina dien die Here met groot toewyding en geniet die geestelike deel van die kampprogram. Sy is so vol liefde en waardering teenoor ons almal, dit roer ’n mens se hart.


Tineke

Tineke is ’n oulike meisie wat mens beïndruk deur haar mooi glimlag en goeie maniere. Sy het gou tuis gevoel en met oorgawe deelgeneem aan al die aktiwiteite van die kamp.


Willem

Willem is ons kamp-leier, kitaarspeler en sanger, kenne-koor deelnemer en Briel-omie in die konsert. Daarby sing hy Die Stem op allerlei lawwe wysies en selfs ook agterstevoor. Willem hanteer ’n paar van die geestelike sessies waarin hy vir ons op praktiese wyse gehelp het met ons lewensstories. Hy het o.a. die lewe vergelyk het met ’n kaartspel – dit maak nie saak watter kaarte vir jou gedeel is nie, dit maak saak hoe jy daai kaarte speel. Willem het ’n passie vir kampe en in besonder vir die gestremde persone wat op hierdie kampe bedien word.


Willie

Willie is ’n stil jongman. Hy luister aandagtig na die geestelike sessies en neem lekker deel aan die speletjies waar jy hom die hele tyd sien glimlag het ... miskien was dit omdat hy die mooi Anita aan sy sy gehad het?


Wilna

Wilna is die kamp-koördineerder, wat alles reël, inskrywings hanteer, kampprogram bymekaarsit en allerlei admin. en skakeling doen. Sy doen haar bes om die kamp vir almal ’n onvergeetlike ervaring te maak. Sy sit hart en siel in dié bediening in en is baie lief vir elkeen van die kampers.


Yolanda

Yolanda was soos ’n vars briesie op die kamp. Sy het in die oortreffende trap deelgeneem aan alles. Haar opgewektheid en opbouende geselskap was aansteeklik. Sy doen die beste wat sy kan vir haar dogter en is ’n inspirasie vir ander. Sy was sommer ook gereed met hulpverlening en raad aan die ander kampers waar sy die geleentheid gesien het.


Deo Volente - Span

Wally en Tina en hulle span helpers het die hele naweek so hard gewerk om ons te bederf met heerlike eetgoed en ons te oorlaai met hulle hartlikheid en liefde. Hulle gasvryheid is uit die boonste rakke!