HEUNING BEDIENINGE
 

| Terug na Hoofblad >> |

KAMPE VIR GESTREMDES
 
Foto's & Terugvoer:

Klik hier om foto's en terugvoer van vorige kampe te geniet >>
 


ONS PERSOONLIKE AGTERGROND
My naam is Willem Botha en vroulief se naam is Wilna. Ek was vanaf 2004 tot 2013 by ‘n plaaslike radiostasie, genaamd Radio Rippel 90.5 betrokke met die aanbieding van Geestelike programme. (Rippel 90.5 is Aug 2013 oorgeneem deur GrootFM 90.5)

Ons is lidmate van NG gemeente Moreletapark waar ons beide in verskillende bedieninge betrokke was, onder andere met die aanbied van Mannekampe wat gestrek het oor ‘n tydperk van meer as tien jaar.

KAMPE VIR GESTREMDES
In 2009 het ons besef dat daar ‘n groot leemte onder gestremde persone bestaan in terme van kampe en ander aktiwiteite en het ons in 2009 die eerste kamp aangebied. Om so ‘n kamp aan te bied hou natuurlike groot uitdagings in omdat dit moeilik is om ‘n gestremde persoon te versorg in terme van persoonlike- en ander behoeftes. Die oplossing het daarin gelê dat die gestremde persoon ‘n helper saambring om daardie rol te vervul, asook om vervoer moontlik te maak.

HELPERS
Ons het voorts onmiddellik reaksie gekry van persone wat aangebied het om deel van die aanbiedingspan te wees om alles te fasiliteer en ons het tans ‘n span van 10 ywerige mense bymekaargekry wat onbaatsugtig deelneem aan die projek.

FINANSIES
Ons volgende uitdaging was om finansiële hulp te kry, omdat die meeste huise waar gestremdheid voorkom, onder geweldige finansiële druk gebuk gaan. Boonop moet daar twee persone uit een huishouding gehuisves word wat dit bykans onmoontlik maak om die kampe bekostigbaar aan te bied. Ons het met die tyd skenkings uit verskeie oorde ontvang en het tot op datum 13 kampe gratis aangebied. Keer op keer is ons verstom oor die wonderwerke wat gebeur en elke kamp is meer geseënd as die vorige een. 

Die gemiddelde totale koste van so ’n kamp beloop tans R17 000, wat alles insluit, van kos en verblyf, tot ander bederfies wat dit lekker maak vir die kampers; dit sluit egter nie vervoer in nie.

GESTREMDES
Die kampers word beperk tot persone bo 18 wat die kamp sinvol kan ervaar, ongeag die aard van die gestremdheid en het ons tot op hede persone met bykans enige vorm van gestremdheid op die kampe gehad, o.a. blindes, dowes, mense met Downs sindroom, verstandelik gestremdes, hemipleë, kwadrupleë, ens.  

INHOUD VAN KAMPE
Die inhoud van die kampe is Geestelik en interkerklik, sodat enige persoon van enige denominasie tuis behoort te voel. Elke kamp het ’n spesifieke tema en al die praatjies en aktiwiteite word hiervolgens beplan en aangebied. Elke kamp is ook volgepak met baie pret en speel en buitelug aktiwiteite, wat gewoonlik die hoogtepunte van die naweek is. Die kamp strek oor twee dae, van Saterdag oggend tot Sondag middag en is altyd ‘n hoogtepunt in hierdie persone se lewe.

KAMPTERREIN
Die kampe word aangebied by Deo Volente Bush Adventures en die span by Deo Volente gaan uit hulle pad om die kamp so probleemvry as moontlik te hanteer en het al menige verbeteringe aangebring om die geriewe rolstoel vriendelik te maak. Die maksimum aantal persone wat gehuisves kan word is veertig.  

HEUNING BEDIENINGE
Ons het ‘n vrywillige assosiasie gestig, nl. Heuning Bedieninge waaronder ons tans die kampe aanbied. Heuning Bedieninge bestaan uit drie bestuurslede: Willem Botha, Dennis Engelbrecht en Advokaat Matthew Klein. Willem en Dennis is deel van die bedieningspan, terwyl Matthew as ‘n onafhanklike persoon deel is van die bestuur.
Daar is en was uit die aard van die saak geen persoonlike of finansieële voordeel vir enige van die aanbieders of organiseerders nie.

FOTO’s EN GETUIENISSE
Klik hier om getuienisse en foto's te sien van die vorige 15 kampe wat aangebied is >>
 

KONTAKBESONDERHEDE
Indien enige persoon of instansie voel om deel te wees van hierdie projek, kan ons gekontak word by 
wilna@heuning.co.za

Ons glo dat die kampe ‘n verskil maak in mense se lewens en sal graag wil sien dat hierdie inisiatief voortgaan.

 ~ Willem & Wilna

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)