Daaglikse Heuningdruppels 2018

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Lees gerus enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder .....

Kersfees 2018
Geseënde Kersfees, Christusfees, Happy Holidays, Seasons greetings, rustyd, familietyd, vakansietyd, mal winkels, natgeswete kamma Kersvaders in lawwe rooi pakkies, opgewonde kinders, hartseer kinders wat geen vreugde vind hierin nie, mense wat aanstoot neem as andere Kersfees vier, mense wat opreg Kersfees vier (verkeerde datum en al) omdat hulle bly is oor die geboorte van Jesus ons Verlosser, groot Kersetes, mense vir wie dit niks beteken nie, mense vir wie dit 'n hoogtepunt is, mense wat intense hartseer beleef omdat 'n geliefde intussen weggeval het. 
Dis Kersfees 2018 en elke mens in ons land beleef dit op een of ander manier. Ek self het al vele daarvan beleef, ek het al baie mense se opinies gehoor en ek respekteer elke enkele mens se mening, en ek hoop die meeste mense doen dit. Vir my en my gesin bly dit telkens 'n wonderlike viering van hoop en die liefde van God. Die gedagte dat 'n spesiale Persoon gekom het om my (van alle mense) te verlos van die ewige dood is elke jaar baie groot in my lewe. En ja, die lawwe goed wat daarmee geassosieer word in hierdie tyd sleur my effe mee, maar dit kan nooit die kern van die Christusfees oorheers nie. Dit bly steeds groter as wat my verstand kan verwerk. 
Daarom wens ek en Wilna vir jou 'n werklik geseënde Christusfees toe as jy kies om dit ook te vier. Mag alles wat jy en jou geliefdes hiervan maak, jou baie diep in jou hart aanraak en mag Jesus weereens vir jou nuwe betekenis kry. 
Dankie dat jy weer en weer kom saamkuier het op ons groepie hierdie jaar. Ons hervat ons boodskappe weer op 8 Januarie. 
Geseënde Kersfees! ~ Willem Botha, 21/12/2018

“Wat My betref, sê  die Here, dit is my verbond met die volk: my Gees wat op jou is en my woorde wat Ek in jou mond lê, sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, sê  die Here, nie nou nie en nooit nie.” (Jes. 59:21) Hier is God se ooreenkoms met ons in een enkele sin. ’n Ooreenkoms wat ewig en ewig vasstaan, ’n ooreenkoms van genade, ’n ooreenkoms waar Hy sy hand na my en jou én ons nageslag uitsteek. Kyk, Hy sê nie meer soos vroeër: ás julle dit en dan doen, dan sal Ek... nie. Hy sê slegs: wat Hom betref gee Hy sy Gees aan ons en sy woorde in ons hart en in ons mond. Hy gee Homself aan ons, Hy kom woon in ons deur Sy Gees. Hy verbind Homself aan ons sonder teenprestasie van ons kant af. Hy verbind Homself aan ons ten spyte van ons sonde. Die sonde-skeiding waarvan Hy vroeër in Jes. 59 praat is weg. Jesus het dit kom afbreek aan die kruis. Dink ’n bietjie hieroor na wanneer jy een van die dae Kersfees vier: Met die koms van Jesus het  hierdie ewige verbond van God vir ons ’n werklikheid geword. Jesus is die bewys! Mag die Gees dit in jou hart bevestig. ~ Wilna Botha, 19/12/2018

Tyd 
Pred. 3:1 "Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd..."
Ons ken hierdie gedeelte oor tyd baie goed en ons assosieer ook goed met dit. Daar is 'n tyd vir alles. So kan ons ook sê dat die meeste van ons nou 'n rustyd binnegaan. Hoe kosbaar is tyd nie, want elke oomblik wat verby is, is vir ewig verby. Tyd gaan soos 'n gedagte verby en daarmee saam gaan talle geleenthede ook verby. 
Maar hoe erg is dit nie, dat sommige mense geen respek het vir ander se tyd nie. Daar is mense wat om die dood nie betyds kan wees nie en wat niks daarvan dink om ander te laat wag nie. Dis regtig baie selfsugtig! 
Nou wonder ek hoe die Here daaroor voel. Jy sien, as ons in nood verkeer, of moeilikheid op ons pad gekom het, verwag ons van die Here om ONMIDDELLIK te reageer, terwyl ons self dit net nooit regkry nie. Voorts wonder ek hoekom ons nooit tyd het vir die dinge wat die Here van ons verwag nie, maar ons het tyd vir enigiets anders. Kom ek praat nou net namens myself as ek sê dat ek selde regtig tyd het vir die Here, tyd om net saam met Hom te spandeer en alles om my te laat wag. 
Dit vat partykeer so min tyd om 'n groot verskil aan iemand se lewe te maak, maar ons het nie tyd nie. Onthou jy die gedeelte wat Jesus sê jy het iets vir hom gedoen as jy dit vir die geringstes gedoen het? Matt. 25:34-40.
Ons is so belangrik vir die Here, dat Hy AL Sy tyd en aandag aan my en jou spandeer, dag en nag, en Hy is nooit te besig nie. Ons is inderdaad sy eerste priori(tyd). ~ Willem Botha, 18/12/2018

“Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie.” (Jes. 58:11) Watter mooi belofte van seën en versorging is hierdie nie. Kom ons hou daaraan vas. Die Here sal jou lei en vir jou sorg, selfs in moeilike tye (of dalk moet ons eerder sê: juis in moeilike tye). Hy sal jou vir jou krag en deursettingsvermoë gee vir elke dag – sy krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is, sê  2 Kor. 12:9. Sy genade sal oorvloedig wees, sy seën in jou lewe sal volop wees sodat daar ook genoeg sal wees om oor te stroom na ander mense. Die fontein van die Here se goedheid en guns sal nooit opdroog nie. Mag dit jou altyd verfris en voed en mag jou lewenstuin ’n oase van kleure en lieflike geure wees. ~ Wilna Botha, 13/12/2018

Woede 
Daar is ongelooflik baie woede in hierdie wêreld. Ek begin dink almal haat mekaar, want een skewe woord ontlok die ergste van woede waaraan jy kan dink. Broer teen broer, buurman teen buurman, man teen sy vrou, padwoede, politieke woede, rassehaat, noem dit maar op. Dit lyk my die wêreld is al soos 'n snaar gespan en kan enige oomblik breek. 
Sommer vroeg-vroeg het Kain vir Abel doodgeslaan, die Here se volk was konstant in oorloë betrokke. Hemel, waar is die vrede? Ek was nog nooit in my lewe so bang vir hierdie dinge as nou nie. Waar is die vrede? Is daar 'n land in die wêreld waar dit net goed gaan? 
Gal. 5:19 - 21a "Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge."
Daar is die hele probleem vasgevat, ons leef presies soos hierdie woorde sê. Ja ek ook. 
Kom ons almal (ja, ALMAL) vra vir die Here om vir ons die vrug van die Gees te gee. 
Gal. 5:22 - 23 "Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing."
Ai, watse wonderlike plek sou die wêreld nie wees nie... ~ Willem Botha, 13/12/2018

“Vrede vir dié wat ver is, vrede vir dié wat naby is.” (Jes. 57:19) Hierdie klink amper net soos die Engelekoor wat Jesus se geboorte aangekondig het met: “Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.” (Luk. 2:14) Christus ís ons vrede, sê  Ef. 2:14. Toe Jesus gekom het, het vrede gekom. Vrede vir almal. Vrede wat mens se verstand te bowe gaan, want dit is nie noodwendig die afwesigheid van vrede tussen mense en volke nie, dis nie noodwendig die afwesigheid van oorloë en onmin tussen mense nie, dit is die vrede wat daar tussen God en ons is omdat Jesus se dood versoening gebring het, dit is die volkome herstel van die verhouding tussen ons en God. Christus se vrede is die salige wete dat ons van ons sondes verlos is. Christus se vrede is die lig wat wat alle donker in ons harte verdryf. Christus se vrede is die verligte gevoel wat ons kan hê omdat Hy in beheer is van alles. Christus se vrede is die tevredenheid dat niks ons van Sy liefde kan skei nie, dat ons nooit alleen is nie, dat niks vir Hom onmoontlik is nie. Vrede vir julle almal!  ~ Wilna Botha, 11/12/2018

ONDRAAGLIKE LASTE
Christenskap word soms ‘n komplekse storie. Hoe meer mense, hoe meer opinies. So word ons as Christene dan ook soms belas met ander se gelowe en gebruike, tot op ‘n punt waar Christenskap net eenvoudig nie meer lekker is nie. Die laste word soms eenvoudig net te swaar. 
Lukas 11:37-39 "Net toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem. Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie. Maar die Here sê vir hom: “Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid. Daarop antwoord Hy: “Julle wetgeleerdes! Ellende wag vir julle ook, want julle laai ondraaglike laste op die mense, en self verroer julle geen vinger om die laste te dra nie".

Ek sien op Facebook 'n debat wat gevoer word oor tatoeëermerke, en of dit teen God se wil is, al dan nie. Natuurlik word tekste aangehaal, waarvan die volgende een baie gewild is. 
Lev. 19 : 27 - 28 "Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur die hare voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle liggame te maak nie. Ek is die Here." 
Ek sien toe dat die tweede deel graag aangehaal word, maar die eerste deel word totaal geïgnoreer. Jy mag nie tatoeëermerke aanbring nie, punt. So sê die Bybel, maar in dieselfde teks sê dit dat jy (seker dan net mans), nie die wangbaarde mag afskeer nie, punt. Nou wonder ek maar net, ek sien min mans met wangbaarde. (Terloops, nie ek of enige van my gesin het tattoos nie en ek redeneer ook nie daaroor nie).
Hoe meer ek toe in Levitikus lees, hoe meer besef ek hoe wreed daardie reëls is. Ek het egter ook besef dat Jesus ons vry moes kom maak het van hierdie wettiese en godsdienstige reëls. 
Paulus slaan die spyker op die kop met hierdie woorde:-
Gal. 4:9 "Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees?"
Goddank ons is vry van soveel dinge. ~ Willem Botha, 10/12/2018


Cul de sac... 
Doodloopstraat. As jy by so 'n padteken kom weet jy daar is nêrens heen om te gaan nie, dis net omdraai of niks. Maar soms kom ons in hierdie lewe in omstandighede wat maak dat daar nie links, regs, vorentoe of agtertoe gegaan kan word nie en dis uiters vreesaanjaend. Geldsake, werk verloor, huwelik op die rotse of sommer net omstandighede wat onhoudbaar geword het. 
Dis wat met die Israeliete gebeur het met die uittog uit Egipte toe hulle voor die Rooi see te staan kom. Daar staan in die Bybel hulle was bevrees, want die Egiptenare was kort op hulle hakke, maar die Here het reeds 'n plan gehad. 
Exodus 14 : 21 - 22 "Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met 'n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is. Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos 'n muur gestaan."
Dit wat totaal onmoontlik was, waaraan niemand kon dink nie en wat op sigself ook vreesaanjaend was, het die Here gedoen. Kan jy dink jy stap deur die see en die water staan soos mure aan weerskante? Wel, dit is hoe groot en "onmoontlik" die Here dinge doen. 
Dalk staan jy, of iemand wat jy ken so voor die spreekwoordelike Rooi see en jy weet nie watter kant toe nie, en omdraai is geen opsie nie. Dan moet jy maar vorentoe! Destyds met die Groot Trek het die boere net vorentoe gebeur, ten spyt van wat voorgelê het, maar hulle het heel anderkant uitgekom. Moses en die volk het ook hulle bestemming bereik. So sal ons ook, ons moet net vorentoe beur, altyd vorentoe. 
Die Here is daar, hy wag daar en Hy het reeds die wonderwerke in plek. Ons kan maar net soos Moses-hulle in geloof voortbeur en wag vir die see om oop te kloof. ~ Willem Botha, 06/12/2018

“... Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes.” (Jes. 57:15) Dis dwarsdeur die Bybel duidelik dat swakkes, armes, weduwees, verlorenes, sondaars, verwerptes, gestremdes vir die Here belangrik is. Kyk maar by wie het Jesus gaan stilstaan: siekes, tollenaars, prostitute, melaatses. Dis ook dié dat Hy in Matt. 25: 35-46  praat van die “geringstes” en Homself as’t ware gelykstel aan hulle: “Vir sovêr julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het , het julle dit aan My gedoen.” Hy laat die geringes uit die stof opstaan, Hy hef die armes op van die ashoop af om hulle by vername mense te laat sit; Hy skenk hulle 'n ereplek, só sê 1 Sam 2:8. So, ongeag van waar jy jou bevind in die sosiale spektrum  - die Here gee nuwe krag. Die Here herlaai jou binnekant. Die Here se helpende, reddende hand is dáár waar dinge donker en depressief is. Dáár waar uitbranding en radeloosheid en hopeloosheid en moedeloosheid ingetree het, waar uitkoms onmoontlik lyk. Mag jy vandag beleef hoedat die Here se arms onder jou is, hoedat Hy jou oplig en op ’n hoë Rots neersit. ~ Wilna Botha, 05/12/2018

Waarheid 
Wat is waarheid, die hele waarheid, die volle waarheid, en niks anders as die waarheid nie? Is die volle waarheid van elke saak moontlik om te meet? Hoekom hou ons nie altyd van die volle waarheid nie? Ja jitte, leuens is ’n lelike ding. Onwaarheid, lieg, verswyging van feite, jok, wit leuens. Wit leuentjie? Is dit lieg? Dis mos sommer so 'n onskuldige storietjie; dis darem nie te erg as ons dit kwytraak nie, of hoe? Las so vier duim by die vis aan wat ons gevang het. Sny so 'n paar honderd rand af van die geld wat ons gesteel het. Het jy ook onlangs gelieg? Hoeveel keer hierdie jaar? Gister, dalk vanoggend? Gelieg by die werk, vir die werk, oor die werk, op jou verlofvorm? Ek hoop jy voel nou saam met my skuldig! Wie van ons kan sê dat ons altyd, onomwonde in die waarheid wandel?
Spr. 6:12-13: "Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg, wat altyd reg is om te lieg, om te bedrieg deur met die oog te knik, met die voet te beduie, met die vingers tekens te gee."
Hoe wonderlik sou dit nie wees as elke mens op aarde aan die volle waarheid kon vashou en dit uitleef nie? Daar sou geen regstelsel nodig wees nie, en daar sou baie meer vrede wees as wat daar nou is. Maar o wee, toe besef ek iets anders. As ek vir vroulief sou vra of ek dik lyk, sou sy moes sê: Ja, maggies man, as jy jou kop intrek kan jy rol! Nou ja, ek weet nie wat om met daardie een te maak nie. 
Dit lyk my in sommige beroepe word die waarheid maar dun gesmeer, anders werk dinge nie mooi uit nie. Ek het eendag gewonder hoekom geen mans, jonk of oud, en geen jonger dames dan ooit motors besit nie, want elke tweedehandse motor wat jy wil aanskaf het aan 'n ou tannie behoort! En terloops, sy het saans die motor se deure oop gelos dat die rubbers nie hard word nie. Sê 'n advokaat eendag tong in die kies: Jy is onskuldig tot jou geld op is... 
Ja ons spot met sommige beroepe, maar daar is nie een enkele beroep wat vry van leuens is nie, want hoe op aarde kan 'n beroep jok? Dis die mens wat jok. 
Ongelukkig jok ons vir die Here ook. Ek dink ons (laat ek eerder net van myself praat), jok daagliks vir die Here, en dis maklik want niemand anders hoor dit nie. Mag Hy ons ook dit vergewe. ~Willem Botha, 04/12/2018

“’n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie ... Ek sal aan sulke mense ’n naam gee wat nie uitgewis sal word nie. Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om My te dien, om my Naam lief te hê en om my dienaars te wees ... na my heilige berg toe bring. Ek sal aan hulle vreugde gee ... hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees.”(Jes. 56:3-7) As jy dalk al ooit gewonder het of al die beloftes wat gemaak word aan Israel ook vir jou geld en of alles wat die Here oor sy volk sê op jou van toepassing kan wees, dan is die antwoord in hierdie Bybel gedeelte. Die “nuwe” Israel, is almal wat die Here dien en sy Naam lief het! Dis ek en jy ook! Ef. 1:11 sê dat ons deur Christus deel geword het van God se volk. Ons lees ook in Hand. 10:35 dat God mense uit enige volk, wat Hom vereer en doen wat reg is, aanneem as Sy volk.  Daar word vêrder in die Bybel gepraat van hoe ons as wilde olyf tussen die ander takke op die mak olyf ingeënt is. Omdat ons glo, is ons daar ingeënt en is ons deel van die ware Israel. (Lees Rom 11). “Deur hierdie geloof in Christus Jesus, is julle nou almal kinders van God ... nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.”(Gal 3:26 & 29) Ek hoop hierdie is vir jou ook goeie nuus! ~Wilna Botha, 03/12/2018

Ek is lief vir jou... 
Ek glo nie daar is vyf kragtiger woorde wat jy agtermekaar kan sit en uitspreek nie. Ek is ook in my hart oortuig dat daar GEEN mens op aarde is wat nie dit wil hoor nie. Daar is soveel krag, emosie, gevoel, waarde en streling in hierdie woorde, dat geen ander woorde dit kan vervang nie. Hierdie woorde moet elke enkele mens elke dag hoor, en uitspreek. ELKE DAG! Daar mag nie 'n dag verbygaan wat 'n kind (in besonder), dit nie hoor nie. 
Hierdie vyf woorde bring sekuriteit, dit werk diep in 'n hart, dit sê 'n miljoen keer meer as net dit wat dit sê en dit bring harte baie naby aan mekaar. Jy kan amper sê dis net so belangrik as kos, want dis voedsaam vir die siel. 
Ek wonder hoekom mense dit so moeilik sê, want die reaksie op daardie woorde is net so lekker as om dit te sê. Sommige mense sal sê jy sê dit net uit gewoonte, maar dis een van die beste gewoontes wat mens kan aanleer. Hoeveel huwelike sou nie net soveel sterker gewees het as hiedie paar woorde gereeld gesê is nie. 
Baie ouers is so afwesig, dat hulle makliker vyf ander woorde gebruik: "Hier is vir jou geld". Nee, geld kan dit nie koop nie. 'n Jong vrou sê nou die dag dat haar pa nooit vir haar sê hy is lief vir haar nie. Sy was so hartseer, en het gesê dat sy net geleer het om daarmee saam te leef. Dit klink amper soos 'n misdaad. 
Dis so maklik, doen dit net eenkeer, dan word dit toenemend makliker. Ek hoop regtig dat elkeen wat hier lees dit gereeld sê, en hoor. 'n SMS is makliker, maar ek glo die uitspreek van die woorde is kragtiger. 
1Kor. 13:13 "En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!" ~ Willem Botha, 29/11/2018

“So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” (Jes. 55:11) Só is dit! God se woord staan vas. God se woord is waar. God se woord is ’n lewende woord. God se woord bring verandering. God se woord gee hoop en krag. Of dit nou die woord is wat die profeet Jesaja verkondig het, of die woorde in enige vertaling van die Bybel, of die woorde van ’n preek of boodskapper van die Here, of die woorde wat die Here in jou hart en gedagtes plant – as dit deur die Gees van die Here geïnspireer is, sal dit doen waarvoor God dit gestuur het. Dit sal nie net leë woorde wees nie. Dit sal nie onbenullig wees nie. Dit sal nie in die wind wegwaai nie. Dit sal nie vernietig of uitgevee kan word nie. God se woord sal altyd vrug oplewer. God se woord sal altyd krag hê. Vers 10 sê God se woorde is soos reën wat die aarde deurweek en plante laat bot en vrugte dra, sodat daar weer saad is om te saai en kos is om te eet. Nou kan ek en jy ook met vrymoedigheid van God se woorde uitdeel en versprei, met die sekerheid dat God dit op sy tyd sal laat groei en vrug oplewer in mense se harte. ~ Wilna Botha, 28/11/2018

Daai strepie 
Op my grafsteen sal daar seker so iets staan: "RIP 1959 – 2039. Hier rus Willem". Dis nou as ek 80 haal. Wat maak jy met jou strepie? Dit is nou daardie strepie tussen die twee datums op jou grafsteen. Wat staan alles geskryf in daardie enkele ou strepie? Jy het absoluut geen invloed gehad op die eerste datum nie, maar jy het wel 'n invloed op die tweede datum, afhangende van hoe jy leef. Nou, die probleem lê by daardie strepie tussen die twee datums. Sommige mense werk naarstiglik daaraan om daardie strepie so lank en sinvol as moontlik te maak, ander leef weer so asof hulle hom so kort as moontlik wil hê, en baie gee net nie 'n blou duit om nie. Nou ja, die Bybel sê alles wat jy nodig het om te sorg dat daardie strepie so sinvol as moontlik sal wees, ongeag van sy lengte. 
Spr. 14:12 & Spr. 16:25 "Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood. " Die lewenswyse van party mense is duister. Mense leef roekeloos, het geen agting vir die dood nie, gee nie om wat hulle doen nie, tart selfs die dood. Vele tart sommer die Here ook. Ja, dit is inderdaad so dat die mens geskep is met die wete dat die dood kom. Gen 2 : 19b “Stof is jy, en jy sal weer stof word”. God het die mens met ‘n bepaalde lewensverwagting geskep. Daar staan geskrywe dat jy 70 jaar oud sal word, en as jy sterk is 80. Almal wat gebore is, sal weer ‘n aardse dood sterf. Maar wat verwag die Here van ons in hierdie relatiewe kort tyd van 70, 80 jaar? Die volgende bekende woorde kom onwillekeurig by my op: "Wat ek is, is net genade, wat ek het, is net geleen." So ook die volgende bekende lied: "Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet...". Ek het al so baie oor hierdie dinge gedink en ek vra myself die volgende dinge af:- Leef ek net vir myself? Maak ek 'n verskil aan ander? Wat is my nalatenskap? Wat sal my gesin sê van hoe ek tydens hierdie strepie geleef het? Het my lewe hier na die einde toe 'n stippellyn geword? Leef nog net so nou en dan.
Daardie strepie stop nie as ons hier op aarde sterf nie, hy hou aan tot in ewigheid. Maar die besluit waar daardie strepie sal aanhou voortleef word voor die laaste datum bepaal, op ons eie keuse. Dit gaan óf baie sleg, óf baie lekker wees. Ek weet presies waar ek wil wees! ~ Willem Botha

“Kom almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk ... Gee aandag en kom na My toe, luister en julle sal lewe” (Jes. 55:1-3) Hier is een van die Here se vele uitnodigings aan ons: kom, drink, eet en lewe! Almal. Verniet. Sonder dat ons dit verdien. |

Wie is uitgenooi? Dié wat dors en honger is vir die Here se teenwoordigheid in hulle lewe, dié wie se siel smag na die Here,  die wat weet dat hulle afhanklik is van die Here, dié wat weet dat hulle God se genade nie verdien nie, dié wat geestelik arm voel, dié wat soos Dawid sug: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in 'n dor en droë land, 'n land sonder water.” (Ps. 63:2)

Wat word vir ons aangebied in die uitnodiging? Water vir lewe, herstel en verfrissing, melk vir basiese voeding, wyn vir pret en plesier en om die lewe te geniet. By die Here is álles wat ons nodig het.

Wat moet ons doen om dit alles te ontvang? Kom, koop en eet. Kom soos jy is, koop sonder geld want Jesus het reeds betaal, eet en maak dit alles deel van jou bestaan, leef in oorwinning en in die Here se oorvloed van geestelike gawes en seëninge. ~ Wilna Botha, 26/11/2018


Elkeen wat die oorwinning behaal ...
Ons is almal in hierdie geestelike stryd gewikkel om "die oorwinning" te behaal, om deur hierdie moeilike wêreld met al sy boosheid en swaarkry te kom, om tog uiteindelik van aangesig tot aangesig met God te staan, en dan om ons plekkie in die hemel in te neem. Die Bybel se voorskrifte is duidelik en eenvoudig, as jy vir Jesus as jou Saligmaker aangeneem het, jou sondes voor Hom bely en glo dat Hy jou gered het, het jy die oorwinning behaal. Jy word nie eers gered as jy dood is nie, jy word gered as jy vir Jesus aangeneem het, daarna is die dood slegs die oorgang van hierdie lewe na die volgende lewe. Joh. 6:47 “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe."
Toe my pa oorlede is in 2004, het hy gesê hy is bang vir die oorgang, want hy weet nie hoe lyk dit aan die anderkant nie. Ek glo nie hy kon glo wat vir hom gewag het nie, want Hy het ook die oorwinning behaal. Hy het hierdie volgende dinge gekry. Lees hierdie volgende tekste oor diegene wat die oorwinning behaal in Openbaring:
Open, 2:7 "Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is."
Open. 2:17 "Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom 'n wit steentjie gee met 'n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry."
Open. 2:28 "Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee."
Open. 3:5 "Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort."
Open. 3:21 "Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het."
Besef jy hoe onbeskryflik groot hierdie beloning is? Is hierdie tekste nie 'n wonderlike beskrywing van dit wat op ons wag nie?
Hierdie is vir my so 'n wonderlike troos as ek dink aan 'n geliefde wat die Here aangeneem het, en tot sterwe kom. As iemand wat vir jou kosbaar was hierdie lewe agterlaat is dit vir jou vreeslik sleg, maar om al hierdie dinge as 'n beloning te kry, moet wonderlik wees. Dis iets om na uit te sien. ~ Willem Botha, 22/11/2018

“Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie ... sê die Here wat jou liefhet” (Jes  54:10) Hier is weer een van daai verse in Jesaja wat mens net weer en weer wil lees en diep in jou hart bêre vir daai dae wanneer dit voel of jy alleen staan, wanneer niks uitwerk nie, wanneer jy hartseer en verlore voel, wanneer die mat van sekuriteit en geluk onder jou uitgepluk is, wanneer dit voel of God vêr is. Moenie vergeet nie: niks kan jou van Sy liefde skei nie, sê Rom 8:35. Niks kan Sy liefde uitvee of verminder nie. Nie swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne, tekort aan enige iets, gevare of geweld nie. Geen gevoel wat jy het beïnvloed Sý liefde vir jou nie. Geen mening van die wêreld beïnvloed Sy liefde vir jou nie. Dis die waarheid: God is liefde.  ~ Wilna Botha, 21/11/2018

Kitskos
Daar is 'n lekker hamburgertjie daar by die groot M. Hy wag vir jou, hy is klaar gereed, dalk vanoggend al gemaak, of gister. Jy het skaars gestop en hy is reg vir die eerste happie, saam met daai lekker dun chippies. Jy vat die eerste hap voor jy in tweede rat is, en as jy by vyfde kom is hy geskiedenis. Hy proe na niks, hy ruik selfs na niks en hy doen ook vir jou niks, vernaam nie in terme van voedingswaarde nie. Maar dit maak nie saak nie, by die volgende dorp kry jy sommer nog enetjie. Partykeer is jy gelukkig dan kry jy sommer 'n speelgoedjie ook.
Jy kry sulke teologie ook, Kitskos-teologie. Gaan vanaand saam, daar praat 'n ou, hy is vol van die Here, en boeta hy gooi net Skrif! Alles reguit uit die Bybel uit. Kyk, as daai man met jou klaar is seën die Here jou bonatuurlik. Partykeer blaas hy net op jou dan seën die Here jou, eensklaps. Hy gooi net Skrif, daai ou. Hy verkoop mooi video's ook, jy moet sommer die reeks koop. Hy vertel nuwe goed, jy sal verbaas wees.
Dalk voel jy vandag bietjie arm en daar is nie deurbrake in jou besigheid nie. En voel jy boonop effe olik? Kom ons stap gou deur die huis. Mmm... Hey ou, hierdie houtbeeld uit Afrika wat daar op die stoep hang is jou probleem. Die een daar langs daai rolletjie wat aan die dak hang wat die vlieë vang! Dis daai ding man, hy maak jou arm! En siek. Hy kom uit Afrika uit, dinge uit Afrika is getoor, en hulle is baie sterk! Sterker as die Here! O koek, en daai stringetjie dingetjie uit die ooste ook. Dinge uit die ooste is boos! Maar moenie worry oor jou Toyota nie, en jou LG wasmasjien is ook okay. Nee wat, jy kan vergeet van seën, jy doen nie die regte dinge nie. Jy blok die seën, jy weet mos, die Here sê Sy volk gaan ten gronde weens 'n gebrek aan kennis!
Ai, hoe word ons nie meegesleur deur hierdie tipe goed nie. Wil jy iets beter eet? Lekker vaste kos, daardie bredie wat jou ma vir die hele dag op die stoof laat prut, daardie kossie met regte egte vleis in, as jy hom geëet het weet jy jy het geëet. Die geur hang die hele dag deur die huis, dit het smaak, dis voedsaam en dit versadig. Dis mos nou kos, maar dit het tyd gevat. Soos wanneer ons besig is met Geestelike groei, soos wanneer ons besig is met die Here , elke dag, besig met Sy Woord, besig om Sy stem te leer ken. Dit vat tyd, jy ontwikkel onderskeidingsvermoë, jy word gevorm, soos die Pottebakker besig is om jou te verander in 'n bruikbare artikel, en jy hoor self Sy stem, jy hoef nie dit tweedehands te hoor nie. Met die tyd besef jy dat seën nie noodwendig 'n klomp geld in die bank beteken nie, jy besef dat Geestelike deurbrake nie iets te doen het met materiële dinge nie. Met tyd begin jy dankbaar word vir die klein dingetjies in die lewe, en dat jou voorspoed nie die belangrikste ding in die lewe is nie , want die lewe hierna is baie belangriker.
Soek daardie vaste kos, wag vir dit, wees dankbaar vir elke happie want dit kom jou nie noodwendig toe nie. Maar wie sal Hom kan keer as Hy besluit om jou te seën?
1 Pet. 2:2 "Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry." ~ Willem Botha, 20/11/2018


“Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra ... oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel ...” (Jes. 53:4-5) As mens Jes. 53 lees kom jy sterk onder die indruk van die lyding wat Jesus moes verduur in die ure van sy kruisdood. Dan besef jy met verwondering en dankbaarheid dat Hy dít alles in óns plek gedoen het – óns lyding, óns siektes, óns sondes. Wat vandag vir my uitstaan in hierdie hoofstuk is woorde soos: Hy het nie skoonheid of prag gehad nie, Hy was verag, Hy het lyding en pyn geken, niemand wou eers vir Hom kyk nie, Hy was verag, misken, mishandel, onregverdig veroordeel en gestraf, as misdadiger beskou ens. En ek besef dat Hy dít ook alles deurgegaan het in óns plek. Voel jy verwerp, verstoot of verag, misken of mishandel, of is jy dalk onregverdig behandel, onnodig gestraf?  Jesus het ook hierdie lyding en emosies van jou op Hom geneem aan die kruis. Hy het al hierdie lyding namens jou gedra. Daarom kan jy vandag nie net jou sondes en foute nie, maar ook jou siekte en swaarkry en lyding op Hom kom afpak by die kruis in ruil vir vrede, vryheid, vergifnis, herstel en genesing. Mag dit vir ons almal ’n ware werklikheid wees. “Hy is doodgemaak omdat ons sonde gedoen het. Hy moes die prys betaal wat ons lewe kon herstel. Hy is stukkend geslaan sodat ons weer gesond kan word.” (Jes. 53:5, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 19/11/2018

Rus en vrede
Ons ken almal hierdie frase: Rus en vrede... 
Ek dink ons almal smag soms net na bietjie rus en vrede. Rus en vrede is nie iets wat natuurlik kom nie, die wêreld deel nie vir jou rus en vrede uit nie, jou werksomstandighede is nie bevorderlik daarvoor nie en die gejaagdheid van die lewe werk lynreg teen rus en vrede in. Spanning oorwin elke enkele dag, in hierdie stryd teen rus en vrede. 
Dit lyk egter vir my of hierdie frase reguit uit Ps 23 kom. 
PS. 23:2 "Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is." 
Hier is die geheimsinnige skuilplek van rus en vrede, dis by God en dis beskikbaar vir elkeen wat daarna smag. As jy dit vir Hom gaan vra, gaan Hy jou daarheen lei. Hy laat ons rus by groen weivelde, by waters waar daar vrede is. 
Het jy al in die Drakensberge gestap en by 'n kabbelende rivier rustig geraak? Ek dink jy weet presies hoe dit voel en wat dit aan jou doen. 
Gaan haal dit daar, dis daar in oorvloed, daar by die Here. Vlug net so bietjie weg van hierdie dinge wat so ondraaglik raak, en gaan sit bietjie rustig by Sy voete, daar by die groen weivelde waar die stroompie so rustig kabbel. Jy hoef niks te sê nie, gaan sit net daar. ~ Willem Botha, 15/11/2018

“Maar hy gaan baie nasies laat opspring van verbasing. Konings sal sprakeloos wees oor hom, want hulle sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie, hulle sal iets te wete kom wat hulle nog nooit gehoor het nie.” (Jes. 52:15) Hier aan die einde van Jes. 52 begin die groot profesie oor Jesus wat strek tot aan die einde van hoofstuk 53. Jesus is die “dienaar” van wie hier gepraat word. Hy het gekom vir almal – elke volk en stam en taal en nasie. Sy genade en vergifnis sluit niemand uit nie – baie nasies sal die boodskap hoor en opspring van verbasing. Die Bybel sê mos elke knie sal buig en elke mens sal erken dat Hy die Here is. Almal wat hoor en glo en Sy verlossing aanvaar sal verstom en verheug wees dat hy ingesluit is in God se koninkryk, dat hy ’n kind van God geword het – sonder dat hy dit verdien het. Onthou jy dalk ook dat jy daardie gevoel gehad het toe jy besef het dat Jesus ook vir jóú sondes aan die kruis gesterf het en dat jy skoon gewas, vol sekerheid en vol vrede en oorwinning kan lewe? Ek voel opnuut diep dankbaar (en verbaas!) dat die Here ook mý oë en hart oopgemaak het en my gered het, my foute vergewe het en my lewe nuutgemaak het. ~ Wilna Botha, 14/11/2018

Daardie Rots
Ek is seker daarvan dat jy ook al jou kleintoontjie in die aand in die donker teen 'n meubelstuk gestamp het. Daardie pyn is regtig onbeskryflik erg!
Ek lees hierdie volgende deel in 1 Petrus van Jesus wat as hierdie Rots beskryf word, waarteen mense hulleself dikwels vasloop. 
1 Pet. 2:6-8 "Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion 'n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.” Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword” en: “'n klip waaroor 'n mens struikel en 'n rots waarteen jy jou stamp.” Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem."
Ons was onlangs aan die Weskus met vakansie en het net weereens gesien hoeveel aanslae daardie rotse in die see kan verduur. Branders slaan dag na dag, vir duisende jare teen daardie rots, maar dit bly eenvoudig staan. Rotsvas!
So is Jesus hierdie Rots wat dag na dag voor mense te staan kom, en Hy staan nie 'n duim terug vir diegene wat Hom misken nie. Hierdie teks sê tereg dat Hy 'n klip is waaroor mense struikel en waarteen hulle stamp.
Hy is oral, Hy verskyn op die mees vreemde plekke, Hy kom staan voor mense enige tyd van die dag of nag, soms op plekke waar jy Hom glad nie sou verwag nie. Hy laat mense soms in verwondering, Hy maak sommige mense kwaad, selfs al beweer hulle dat hulle nie in Hom glo nie. Juis die ongelowiges maak soms op 'n harde manier met hierdie Klip kennis, Hy laat mense twyfel in hulle eie ongeloof en Sy teenwoordigheid raak vir baie mense te veel. Hulle stig selfs groepies en kom bymekaar om oor hulle ongeloof te redeneer. 
Vir die gelowiges is Hy die Rots wat die aanslae van die lewe afweer, Hy hou die branders en die tsunamis weg van Sy kinders af, hierdie Rots bied skuiling teen dinge wat Sy kinders kan benadeel, en Hy verweer glad nie.
Hierdie Rots is vir almal op hierdie planeet sigbaar, of jy Hom wil raaksien of nie; sommiges stamp teen Hom en raak kwaad en geïrriteerd , maar ander gaan skuil teen Hom en geniet Sy beskerming. Dis ons eie keuse wat ons met hierdie Rots maak. ~ Willem Botha, 13/11/2018

“Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig...” (Jes. 52:7) Dis mos wonderlik as die deurklokkie lui en daar staan iemand wat kom vrede maak, of die foon lui en die een aan die ander kant het vir jou ’n bemoedigende woord, of jy wag in jou hospitaalbed en die voetstappe draai by jou kamer in met goeie nuus, of jy hoor jou baas se voetstappe in die gang met goeie nuus van ’n nuwe kontrak of salarisverhoging. Goeie nuus is lekker, nè! Ai en partykeer wag ons vir goeie nuus, maar dit kom nie en ons kan niks daaraan doen nie. Waaraan ons wél iets kan doen, is om self die boodskapper met goeie nuus te wees. Miskien kan my voetstappe meer goeie nuus bring, nuus van vrede, ’n woord van aanmoediging of bemoediging, ’n goeie tyding oor die liefde en genade van die Here Jesus. Miskien kan my voetstappe ’n paar rand of iets te ete bring en só die uitkoms wees vir iemand in nood. Miskien kan my voetstappe belangstelling en geselskap bring en só die lig wees vir ’n eensame siel êrens. Miskien kan my voetstappe die evangelie van Christus bring en só die redding wees vir ’n soekende persoon.  Kom ons trek die skoene van bereidheid aan sodat ons voetstappe goeie nuus kan aankondig. ~ Wilna Botha, 12/11/2018

Facebook geloof...
Ag vergewe my as ek bietjie tong in die kies met die Bybel omgaan... Ek het lank gevat om die moed bymekaar te skraap om hierdie gedagte te deel, maar ek moes net, ek hoop nie jy word vies vir my nie. 
Luk. 17:6 "Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam." 
Ek het baie gewonder hoe groot (of klein) is geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie, waarmee kan ek dit vergelyk? Watse tipe geloof is dit? Is dit werklik amper "roekelose" geloof? Beteken dit dat jy daardie dinge waarin jy glo nie eers toets nie? Is jou geloof só groot dat jy bereid is om dit wêreldwyd te deel, onbeskaamd en sonder enige sweem van twyfel? 
Hoe wonderlik sou dit nie wees nie. Hoeveel mense sou nie gered kon word nie. Maar o wee, glo mense regtig nog byna "naïef"? Seker nie. 
Maar toe kom sosiale media, en ek sien hoe absoluut naïef, sonder enige sweempie van twyfel, mense die snaaksste dinge kan glo, en sonder om dit te toets of dit waar is, sonder om ondersoek in te stel, dit die wêreld vol te deel. Ai, deel hierdie en 'n kind met kanker gaan $1 kry, "like and share" en jy kan hierdie reuse bakkie wen! En nie eers te praat van dinge wat mense op geestelike vlak glo en deel nie! Hoekom? Sodat jy persoonlik baat kan vind, want dan gaan die Here jou vreeslik seën, dis nou as jy een van die 7% is, jy weet? O wee, dan kom daardie geestelike afpersing: Share if you are a child of God... Ek wonder wat die Here van hierdie geloof (en dade) dink. 
Nou ja, dit lyk my mense glo nog, dis nou as mens hierdie dinge geloof kan noem. Maar weet jy, die Bybel het deur eeue heen velle aanslae deurstaan, maar tog glo mense nie meer die Woord van God nie. Die waarhede van die Bybel word dag vir dag, oor en oor, korrek en relevant bewys, maar vele mense glo dit nie. Mens staan soms verstom oor waarmee mense hulleself besig hou, en met watter ywer hulle hulleself met snaakse dinge ophou. Mag ek dit sommer snert noem? 
Nee wat, lees maar liewer die Bybel, want dit wat die skrywers van die Bybel "like and share" is regtig waar, want dis getoets en oor en oor as die waarheid bewys. ~ Willem Botha, 29/10/2018

“Sy Naam is die Here die Almagtige!” (Jes. 51:15) Deesdae hoor mens nogal baie daarvan dat gelowiges ’n hele studie maak van God se verskillende name wat in die Bybel voorkom. Party gaan weer na die ander kant toe en sê daar is net een naam waarop God genoem mag word, die ander is net beskrywende titels. Ek het vandag dié prentjie êrens op Facebook raakgesien en my hart stem saam daarmee. God is groter as ’n naam of die uitspraak daarvan. As jy met jou hele hart na Hom uitroep, sal Hy hoor en sal Hy tot jou nader. Of jy Hom in ’n intieme oomblik aanspreek as Vader of Vriend, in afhanklikheid as Redder of Verlosser, in nood as Helper of Raadsman, in siekte as Geneesheer of Wonderwerker, in verwondering as Almagtige of Skepper, Hy kén jou en Hy kén jou stem en Hy reageer. “... Hy seën almal wat Hom aanroep ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Rom 10:13) ~ Wilna Botha, 25/10/2018


Omkyk
Ek kon nooit vinnig hardloop in die skool nie, en toe ek nou maar uiteindelik die 100 meter probeer met huissport, het ek maar beroerd gevaar. Ek het heeltyd omgekyk om te sien wie agter my is en by die wenpaal het die juffrou gesê ek moet ophou omkyk, want daar is in elk niemand agter my nie! Niks (en niemand) het my gejaag nie, behalwe my eie vrees.
Dit laat my dink aan Lot se vrou in Genesis, waar die engele vir Lot sê hulle moet vlug en die omkyk nie, maar sy vrou was ongehoorsaam.
Gen. 19:26 "Lot se vrou het omgekyk en sy het in 'n soutpilaar verander."
Het ons nie maar almal hierdie probleem om toe te laat dat die verlede so swaar weeg nie? Hoe erg is dit nie dat dit wat in die verlede soveel pyn veroorsaak het, steeds soveel pyn veroorsaak nie. Die verlede is soms soos 'n groot sleepwa wat saamkom waar al die ongelukkigheid en pyn ingepak is, en die ding word nie net gesleep nie, soms stoot hy. Boonop pak ons hom gereeld uit en werk deur al daardie gemors, en pak dit maar net weer knus terug en sleep hom verder. Ja ek weet daar is baie mense wat regtig sukkel met dinge van destyds en ek verwys nie ligtelik daarna nie. 
Die verlede het sekerlik 'n plek in ons lewens, want as ons terugkyk daarop kan ons leer daaruit, maar ons moet maar daardie sleepwa afhaak en aanbeweeg. 'n Motor se voorruit is van dik, versterkte glas gemaak, en hy is groot om goeie visie te hê en hy moet jou beskerm in 'n ongeluk. Die truspieëltjie in jou motor is egter van dun glas gemaak want dit wat jy daar sien is selde 'n bedreiging vir jou, behalwe natuurlik as jy hom gebruik om jou grimering aan te sit teen 120km/h! Hoekom kyk ons dan so baie in daardie truspieël en hoekom gee ons soveel plek vir die verlede?
Paulus het goeie raad vir hierdie sleepwa probleem.
Fil. 3:13 "Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is."
Sulke eenvoudige raad, los agter wat agter is en strek jou uit na wat voor is. Jy kan tog nie die verlede verander nie, moet dus nie toelaat dat die verlede jou konstant negatief beïnvloed nie. ~ Willem Botha, 24/10/2018


“Moenie bang wees vir die spot van mense nie, moenie skrik as hulle julle beledig nie. Hulle is soos lap wat deur motte gevreet word.” (Jes. 51:7-8) Die meeste goed wat ons doen, doen ons met ander mense in gedagte – wat sal die mense daarvan dink, wat sal hulle sê, sal hulle beïndruk wees met my en my goed, sal hulle opkyk na my, of sal hulle my dalk uitlag, neerkyk op my of my spot en beledig? Dis nou maar een maal ’n menslike eienskap om ingestel te wees op die mening van ander. Die Bybel sê egter ons moet wat ons doen, doen asof ons dit vir die Here doen en nie vir mense nie. Die Here se siening van ons behoort al te wees wat tel. Die Here se goedkeuring oor ons gedrag is veel belangriker as mense se goedkeuring.  Ons moet veral nie bang wees vir mense se spot en beledigings omdat ons Christene is nie, omdat dit vir ons belangrik is om die regte dinge te doen en goeie keuses te maak nie. Moenie bang wees om “uit” te wees oor jou beginsels nie. As mense jou spot is dit dalk juis om die aandag van hulle eie tekortkominge en slegte gewoontes af weg te trek. As iemand jou beledig oor jou Christelike standpunte is dit dalk juis omdat hy so leeg en nutteloos voel soos ’n lap wat deur motte gevreet is.  Moenie skaam wees dat jy “anders” is omdat jy die Here dien en Hom wil tevrede stel nie. ~ Wilna Botha, 23/10/2018

Klip
Ek het nou die dag op hierdie video afgekom en hierdie 30 sekondes het my regtig tussen die oë getref. Probeer om dit so 3 keer te kyk voor jy verder lees. Klik hier >>
Van alles wat deur my gedagtes gegaan het, was die feit dat my hart so hard soos klip geword het, die ergste. Hoeveel verskonings om nie veel te voel vir die swaarkry van die wêreld, het ek nie. Dis nie my skuld nie, hoekom kry mense wat niks het nie nog en nog kinders, hoe weet ek my bydrae word reg aangewend, ek het probleme van my eie, en soveel meer sinnelose redes. 
Hierdie dogtertjie het my kassie goed geskud! Is haar swaarkry haar eie skuld? Wat is die oplossing? Hoe maak ek 'n verskil? 
En weet jy, toe kom die volgende vraag: Waar is die Here? Hoe kan Hy dit toelaat? En onmiddellik kom die teenvraag: Waar is jy? Wat maak jy met jou oorvloed? Daardie onverdiende weelde wat Ek vir jou gee. Ek het 'n vreemde gedagte gekry. Is die Here se hande afgekap as ons nie ons opdragte uitvoer nie? Ek is te bang om so daaraan te dink. 
Sê nou maar net elkeen van ons maak net aan één mens (of kind) 'n verskil? Net één! 
MATTEUS 10:42 "Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”
MATTEUS 25:45 "En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’
Kan dit so maklik wees? Mag die Here vir ons wys wie daardie geringstes is. ~ Willem Botha, 22/10/2018


“... die verlossing wat Ek bewerk, sal vir altyd wees, die redding wat Ek bring, sal altyd bly.” (Jes. 51: 6) En só het God sy woord gehou, want die redding wat vir ons almal gekom het deur Jesus Christus geld vir altyd en ewig. Sy verlossing vir my en vir jou staan vas vir eens en vir altyd en vir almal. Sy bloed was die betaling vir alles in ons verlede, selfs nog voordat ons Hom geken en aanvaar en bely het. Sy bloed was die betaling vir alles wat ek vandag verkeerd gedoen het of versuim het om te doen – Hy hou nie boek of telling daarvan nie. Sy bloed was reeds die betaling vir wat ook al in die toekoms kan gebeur. Die verlossing en die redding het reeds aangebreek. As God ons vrygespreek het, dan is ons waarlik vry, dán kan jy nie uit sy hand geruk word nie – nooit nie. En as jy dit nog nie glo nie, of nog nie beleef het nie, dalk nog nie die Here aanvaar het in jou lewe of nog nie die deur van jou hart vir Jesus oopgemaak het nie ... lees vers 5:  ““Die redding wat Ek bring, kom baie gou, die verlossing wat Ek bewerk, is op pad ...” Dalk is vandag dié dag van jou redding en verlossing. “Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.” (2 Kor. 6:2) “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Heb. 4:16) ~ Wilna Botha, 18/10/2018

Wat kan jy koop met R100? Sommige mense sal sê jy kan niks koop nie, terwyl ander skatryk sal voel met R100. Vandag kan jy dalk 'n pakkie kouse koop, maar 41 jaar gelede toe ek begin werk het, was my salaris minder as twee van hierdie note.
Ek glo dat baie mense totaal waardeloos voel in vandag se lewe, en dit om uiteenlopende redes. Mense voel waardeloos teenoor ander mense, hulle eie familie en natuurlik teenoor die Here. As 'n man vandag sy werk verloor, is hierdie by verre die grootste probleem waarmee hy kan worstel, want as jy nie die versorger kan wees nie, voel jy totaal nutteloos.
Hier is 'n foto van 'n opgefrommelde R100 en my vraag is, hoeveel waarde het hy, ten spyte van hoe hy lyk? Natuurlik is die antwoord dat hy steeds R100 se waarde het, al is hy in die grond vertrap, in 'n bak olie gedruk, geskeur of bitter vuil.
Ons as mense voel egter soms dat ons nutteloos en waardeloos is voor die wêreld en voor die Here, en dit oor sinnelose redes. Mense voel so oor hulle uiterlike, hoe hulle liggame vertoon, oor hulle armoede, oor hulle falings en selfs oor hulle sondes. Nog erger, mense voel waardeloos agv wat ander mense van hulle dink! Dan voel hulle sommer die Here dink ook hulle is niks werd nie.
Dis egter so ver van die werklikheid af, want jou waarde word nie daardeur bepaal nie. Wanneer is hierdie opgefrommelde R100 steeds iets werd? Dis as hy steeds die regte watermerk dra. Net soos wat my en jou watermerk gewaarborg word deur Jesus Christus. As jy aan die Here behoort, is jou watermerk gegraveer in Sy handpalms. 
Jes. 49:15-16 "Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in My handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor my."
Dus kan jy maar gerus beter oor jouself voel. Moenie jou steur oor wat mense van jou dink nie, steur jou net aan die Here se opinie , en dis baie duidelik in die Bybel uitgespel. ~ Willem Botha, 17/10/2018

“Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op die Here vertrou, moet op sy God steun.” (Jes. 50:10) Soos wat ek deur Jesaja lees is dit vir my opvallend dat daar hope sulke bemoedigende verse vol belofte voorkom. Ek onderstreep hierdie verse helder in my Bybel, sodat ek op moeilike, moeë, moedelose dae nuwe hoop en nuwe versekering van die Here se hulp en teenwoordigheid hier kan kry. As jy dalk vandag op ’n donker en alleen pad is, onthou dat God se lig binne-in jou is en al voel dit of omstandighede die lig heeltemal uitgedoof het, sal daar altyd nog ’n straaltjie êrens deurbreek om jou pad te verlig. Donker kan nooit wen teen God se lig nie. Dalk is jou hartseer of jou las so swaar dat jy nie daai lig kan raaksien nie – steun nogtans op die Here. Hy is naby aan jou. Sy helpende hand is altyd uitgesteek na jou toe. Onthou ook dat God se lig binne-in medegelowiges is – vra en aanvaar hulp van die mense om jou. Dalk gee dit bietjie ekstra lig vir die pad. “O Here, U is die lig in my lewe. As U by my is, verdwyn die donker. Dan sien ek vir alles kans. Ek sal ’n hele bende storm. Niks sal my kan keer nie.” (Ps. 18:29) ~ Wilna Botha, 16/10/2018

Dankie 
Luk. 17: 11- 18 "Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan. Net toe Hy 'n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op 'n afstand staan en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!” Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.” Op pad daarheen het hulle gesond geword. En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was 'n Samaritaan. Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers 'n Jood is nie?”
Tien melaatses kom vra vir genesing en word gesond gemaak, net een sê dankie. Ai, hoeveel weerspieël dit nie my eie lewe nie. Ek onthou elke dag om te vra vir genesing, voorspoed en seën, maar vanaand vergeet ek om dankie te sê. 
More raak die lysie langer, want gister het die Here selfs meer gegee as wat ek gevra het. En hoe ironies is dit nie, die arm persoon in 'n plakkerskamp vra vir 'n brood, terwyl ek glo dis geregverdig om te vra vir 'n lekker vakansie of 'n nuwe motor. Daardie arm persoon is waarskynlik baie meer dankbaar as ek vir die weelde wat ek ontvang. 
Is hierdie gebede van my nie dalk net lippetaal nie? Sou ek nie makliker my oorvloed met die behoeftige deel as ek werklik dankbaar is nie? Hoeveel is genoeg? Wanneer gaan ek vir die Here sê Hy kan maar ophou om nog te verskaf want my lewens-spens loop nou oor? Gaan ek ooit besef dat ek maar kan begin weggee, want daar is nou meer as genoeg?
Dit lyk nie so nie. Dit lyk my ek bou maar net 'n groter spens as hierdie een vol is. En weet jy, daar is vele mense wat glo gelowiges behoort in weelde te leef. Daardie teologie het selfs 'n naam. Maar dis so vals. 
Mag ons maar net elkeen weer gaan voorraadopname doen in daardie spens en opreg dankbaar wees.~ Willem Botha, 15/10/2018

“Die Here my God help my, ek sal nie teleurgestel staan nie; ek sal my nie ontstel nie, ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie.” (Jes. 50:7) Met die Here aan jou kant kan jy kans sien vir enige moeilike pad en hoef jy geen struikelblokke te vrees nie. Ps. 18:30 sê mos ook dat mens kan kans sien om in enige moeilike situasie in te storm as God aan jou kant is, dat jy oor ’n hoë muur kan spring saam met God. Hy is ons Helper en sy belofte in Heb. 13:5 is dat Hy ons nooit sal los of ons in die steek sal laat nie. Die Here is aan jou kant, kind van God! Moenie ontsteld of onseker, rigtingloos of sonder selfvertroue wees nie. Die belofte in die teks is dat ons nie in verleentheid sal kom nie. Al kom ons onder druk, ons sal nie verpletter word nie, al voel ons verward, ons sal nie wanhopig raak nie, al word ons dalk platgeslaan deur omstandighede, ons sal nie vernietig word nie. “Wat is dan nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dit: God is vír ons.” (Rom 8:31) ~ Wilna Botha, 11/10/2018

Dit het sommer vroeg vroeg in die Tuin begin.
Gen. 2:6-7 "Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”
En toe eet hulle, tipies mens, steur hom nie aan opdragte en gesag nie, nie eers as dit direk van God af kom nie. As dit so lank terug begin het, kan ons seker verstaan hoekom dit vandag so erg is. Een van die grootste euwels van ons tyd is menseregte, want as die mens dit toepas, verdamp verantwoordelikheid soos mis voor die son. Jy mag nie 'n kind is die skool dissiplineer nie, want jy gaan dit verkeerd doen, en die "reg" is aan sy kant. Jy kan nie 'n swak werker dissiplineer nie, want dan diskrimineer jy, wat nog van ontslae raak! Dan word jy gestraf. 
Die ergste van alles, jy mag nie eers meer jou EIE KIND 'n pak slae gee nie, dis teen die wet. Die Bybel sê egter uitdruklik "spaar die roede nie". Dus word die landswette nou amptelik bo die gesag van die Woord van God gestel, of jy daarmee saamstem of nie. Die Bybel se gesag word soms selfs van die kansel af bevraagteken. 
Wat is die vrug van al hierdie dinge? Hou dit enigsins iets goed in? Sakemense koop eerder nog 'n masjien voor iemand aangestel word, onderwysers verdwyn uit die beroep uit want dit raak onuithoudbaar in die skool. In die hoogste posisies in die politiek word ons samelewing verwoes want korrupsie kom wyd voor.
Wanneer gaan die mensdom besef dat AL die antwoorde vir hierdie probleme is in die Woord van God te vind? Maak integriteit werklik nog saak, of word ons almal maar dieselfde? Tot op watse mate bly my eie integriteit staande? Waaraan gee ek ook toe en waaraan neem ek ook deel? 
Ek sien selfs dat soveel mense al glo dat hulle hulle plek in die hemel in kan "demand", sonder om aan die "voorwaardes" gehoor te gee. Selfs mense met dieselfde geloofsoortuigings as ons begin glo dat mense van ander gelowe die ewige lewe sal behaal, al glo hulle nie aan die Verlosser nie. 
So het die wêreld geword, en dis nie lekker om so daaraan te dink nie. Maar waar staan ek en jy? 
Ek sal tot met my dood aan die volgende teks vashou, al faal ek dag vir dag. Dit lyk vir my daar is net een van twee keuses.
Jos. 24:15 "Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”
Hier is my keuse; ons sal die Here dien. ~ Willem Botha, 10/10/2018

“Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.” (Jes. 50:4) Ons weet maar al te goed hoeveel moeë, moedelose, hopelose, depressiewe mense daar vandag is. Dalk is hulle by jou werk, in jou vriendekring of selfs in jou gesin. Hulle is negatief, hulle sien nie meer die silwer randjie om die donker wolk nie, hulle is pessimisties en kla oor alles. Te veel kere spring ons in en praat saam en mor saam en kort voor lank is ons almal moeg en op moedverloor se vlakte. Ons woorde kan só ’n groot invloed hê op mense en ook op onsself. Daarom bid ek dat die Here vir ons die regte woorde sal leer, soos die teks sê, sodat ons ’n kalmerende, opbouende, bemoedigende invloed kan hê. Kom ons help mekaar deur mekaar moed in te praat. “Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens” (Spr. 16:24) en “Kalmerende woorde bring lewe.” (Spr. 15:4) Mag ons woorde hoop en genesing bring. ~ Wilna Botha, 09/10/2018

Waar is God? 
Baie mense vra hierdie vraag, van die mees gelowige mense, tot die mees ongelowige mense. Hoekom sien ons Hom nie, hoekom het Hy nie 'n fisiese gestalte waaraan ons Hom kan uitken nie? Hoeveel meer mense sou nie in Hom geglo het as ons Hom kon sien nie? Maar tog, op een of ander ontsagwekkende manier glo Sy kinders sonder 'n sweem van twyfel in Sy bestaan. En in dieselfde asem kan ek sê dat ongelowiges, selfs volslae ateïste, ongelooflik baie spandeer om Sy bestaan te weerlê. Hoekom? "Why bother?" Wie is Hy, dat die hele wêreld van Hom bewus is, in een of ander vorm?
Vir ons as gelowiges is Hy oral, ons sien Hom in wonderwerke, ons sien Sy almag in die natuur, ons sien Sy wonders in 'n pasgebore baba en ons hoor Sy stem daagliks. Maar tog is daar baie wat soek en Hom net nie kry nie, en daar is vele wat Hom nie wil vind nie, nog ander het ophou soek. Die wonderlike hiervan is dat Hý nie ophou soek na ons nie, Hy los die 99 en gaan soek na daardie verdwaalde een, Hy los die een broer in veiligheid terwyl Hy die verlore seun uit die varkhok gaan haal. Hy gaan haal mense uit kroeë en bordele, Hy tref party met 'n verblindende lig, soos vir Paulus, en by vele klop Hy sag aan die deur van hulle harte soos beskryf in Open. 3:20 "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My." 
Maar die dag as jy Hom raaksien, kyk jy Hom nooit weer mis nie. As jy Sy liefdevolle hand op jou skouer gevoel het, rus jy vir altyd in Sy sagte teenwoordigheid. En al twyfel jy soms in Hom, raak Hy nie weg nie, Hy bly altyd dieselfde en as jy Hom aan die werk sien en jy neem Hom aan, word Hy JOU God! Vir altyd. 
Ps. 68:36 "God wek ontsag wanneer Hy uit sy heiligdom kom. Hy is die God van Israel, Hy gee krag en sterkte aan sy volk. Aan God kom die lof toe." Halleluja! ~ Willem Botha, 08/10/2018

“... wie op My vertrou word nie teleurgestel nie.” (Jes. 49:23) Hoe dikwels is ons nie ontnugter wanneer ons op mense staatgemaak het en hulle nie hulle beloftes nagekom het nie, hulle daag nie op nie, hulle verander van plan, hulle stel hulle eie belange eerste, om getrou en toegewyd te wees is nie vir hulle ’n prioriteit nie. Die Bybel sê mos ook elders dat ons nie op prinse moet vertrou nie, nie op mense nie, want hulle blaas so maklik hulle asem uit (jy ook, nè!). Plaas jou vertroue op die Here en jy sal nooit teleurgestel wees nie, sê  die teks. Maar wat beteken dit om die Here te vertrou? Ek dink in die eerste plek vra dit ’n persoonlike verhouding met Hom. Jy moet Hom regtig ken. Jy moet uit die Woord en deur ervaring  leer en weet wie Hy is, hoe Hy oor jou voel en wat Hy wil en sal en kan doen. Jy moet volle sekerheid hê van sy krag, sy betroubaarheid, sy goedheid en sy vermoëns. Dan moet jy bewustelik jouself in Sy hande plaas, jou oorgee aan Sy sorg en Sy leiding. Jy moet luister na die stem van die Heilige Gees in jou binneste, in jou gewete en in jou gedagtes. Om op die Here te vertrou beteken jy erken en aanvaar en berus dat Hy die beste weet, dat Hy die beste vir jou in gedagte het. Om die Here te vertrou is nie net ’n passiewe houding nie, dit beteken nie jy sit net agteroor en wag nie . Jy kan bv. nie met oogklappe op sê jy vertrou dat die Here vir jou sal sorg vir ’n inkomste, terwyl jy nie wil werk of planne maak nie. Jy kan bv. nie sê jy vertrou die Here vir  goeie gesondheid maar jy doen dinge wat sleg is vir jou liggaam nie. Jy kan bv. nie sê jy vertrou die Here vir jou veiligheid, maar jy sluit nie jou deure nie. Om die Here te vertrou beteken nie jy moet jou blind hou vir feite en realiteite nie, dit beteken jy glo en ervaar dat die Here teenwoordig is in elke situasie en dat Hy jou daardeur sal dra en lei. Vertroue vat bekommernis en vrees en angstigheid weg. Vertroue bring vrede wat alle verstand te bowe gaan. Jy sal nie teleurgestel word nie. ~ Wilna Botha, 04/10/2018

Christene maak my so seer...
Ek is seker jy het dit al baie gehoor. Ag, as ek dit hoor word ek is sommer moedeloos, want mense skuil agter dit om nie 'n verhouding met die Here te hê nie. Ja, ek bely dat ek al baie mense seergemaak het, en ek is nie trots daarop nie. 
Dan hoor jy gereeld: Christene is SO skynheilig, daar met hulle vroom gesiggies in die kerk, dis hoekom ek nie kerk toe gaan nie. En o ja, jy moet sien hoe ry hulle op die pad, en sjoe hulle kan skinder! Nie te praat van hoe hulle hulle vrouens behandel nie, behalwe natuurlik daar waar hulle die kerkbanke warm broei. En het ek jou gesê (ek wil nou nie skinder nie) maar daai dominee is ook besig met dinge wat ons nooit van hom sou verwag nie! En dan preek hy Sondae dat die spoeg spat! Ek wil nou vir jou sê, dis die kerk wat my uit die kerk hou!
Nou ja, jy hoor ook seker gereeld hierdie gesprekke. Nou wonder ek so by myself, hoe sou ek die Here leer ken het as ek net na ander mense gekyk het, en my aan hulle doen en late gesteur het? Waar is daardie perfekte kerk waar almal soos engeltjies optree? En waar is die perfekte leraar en prediker wat nie ook maar soms verkeerd trap nie? 
Ons woon nou maar eenmaal in 'n deurmekaar wêreld waar min dinge gebeur soos dit moet, maar ek sê vir jou, ek ken WONDERLIKE sondaars, wat 'n reuse impak op my lewe gemaak het. Ek het al vele mentors in my lewe gehad wat die Here voluit dien, ten spyte van hulle foute. Ek het ook al goeie mense gesien wat die pad byster geraak het, maar wat weer teruggekom het na die Here toe. 
As ander mense dus nou kies om na my en jou te kyk, eerder as om na Jesus te kyk, kan ek nie veel daaraan doen nie. Natuurlik is ons veronderstel om dit wat ons glo uit te leef, en ons moet streef na 'n goeie lewe, maar as 'n geredde sondaar is ek nie volmaak in die mens se oë nie. En laat ons ook nie wegbly van die Here af omdat ons bang is dat ons ander laat struikel nie. My gebed is egter steeds dat ek so sou leef dat ander die Here in my sien. ~ Willem Botha, 03/10/2018

“Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer.” (Jes. 49:15-16) Het jy ook al iets op jou hand geskryf sodat jy dit moet onthou? Jou hand is mos waar jy dit altyd kan sien, dis soos ’n notaboek wat nie verlê kan word nie. Só is jou naam permanent geskryf waar die Here dit altyd sien, naby aan Hom – in sy handpalms. Die spyker merke aan Jesus se hande is die herinnering dat Hy só lief is vir ons dat Hy sy lewe gegee het, sodat ons gered en vry kan wees. Ja, daar by die kruis is ons elkeen se naam op Sy handpalms met Sy eie bloed gegraveer. Hy sal jou nie vergeet nie, selfs al het jou eie ma of jou eie mense jou vergeet en verstoot. Hy sal jou nie vergeet nie, selfs al het jy dalk jou rug op Hom gedraai. Hy sal jou nie vergeet nie, selfs al het jy die grootste sonde gedoen. Niks sal jou naam kan uitvee nie – daarvoor sal Hy sélf sorg! ~ Wilna Botha, 02/10/2018

Ontsteltenis 
Die lewe in hierdie wêreld van ons raak darem maar baie kompleks, of hoe? Ongelukkig laat ek toe dat die nuus, en baie alledaagse dinge, my soms onnodig omkrap en dit steel mens se vreugde. Natuurlik is ek egter dikwels sommer self verantwoordelik vir my onvergenoegdheid!
In PS. 4 lees ek dat Dawid deur 'n tyd gaan waar dit lyk of dinge hom onderkry, maar dan besef hy dat die Here steeds in beheer is. 
In vers 4 sê hy: "As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby! Sela" 
Sulke eenvoudige raad as daar dinge gebeur wat jou so laat wroeg, dat jy dit nie meer kan hanteer nie!
En dan wend hy hom na die Here in vers 8: "U het my reeds groter vreugde laat belewe as wat daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het." 
Hoekom jou steur aan mense se opinies? Wat kan mense se woorde regtig aan jou doen? Hoekom moet jy vir mense probeer plesier gee? Wat maak dit saak as ander ryker, maerder, mooier of slimmer as jy is? Sal 'n ander se huis in 'n mooi woonbuurt regtig jou lewe omswaai? Hoekom dink jy jy sal eers gelukkig wees as jy soos ander is? Of sal jy eers gelukkig wees as jy by die groen gras anderkant die draad is? 
Die woord "vrede" kom voor in die woord "tevrede"; jaag eerder tevredenheid na, dan sal vrede kom.
Vers 9 vat alles baie mooi saam: "Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon." ~ Willem Botha, 01/10/2018

“Hulle sal versorg word terwyl hulle op pad is, selfs op kaal heuwels sal daar vir hulle genoeg wees. Hulle sal nie honger of dors kry nie, die woestynhitte en die son sal hulle nie brand nie, want Hy wat Hom oor hulle ontferm het, sal hulle onder sy sorg neem. Hy sal hulle by fonteine langs lei. Ek sal al my berge paaie maak, my grootpaaie sal sonder opdraandes wees.” (Jes. 49:9-12) Dís hoe die Here sy volk lei en help en versorg. Sal Hy dit vandag nog vir my en vir jou doen? Baie beslis. Op ons lewenspad kan ons reken op die Here se buitengewone versorging – waar daar oënskynlik niks hulpbronne oor is nie, sal Hy voorsien, waar daar nie ’n pad is nie, sal Hy een maak, waar daar opdraandes is, sal Hy dit gelyk en draaglik maak, waar daar lang tye in die woestyn is, sal Hy Sy skaduwee oor jou laat val, Hy sal jou altyd weer uitbring by fonteine met Sy lewende water wat verfris en lawe en krag gee, na waters waar daar rus is, sal Hy jou bring. Niks wat op die pad met jou gebeur sal jou permanent onderkry of jou breek of jou totaal moedeloos laat nie, want die Here is langs jou en Sy belofte is dat alles ten goede sal meewerk. En wanneer jy terugkyk en net een ry spore sien, sal jy weet Hy het jou nie alleen gelos nie, Hy het jou gedra! ~ Wilna Botha, 27/09/2018

Ek het in my lewe baie baie gesprekke met mense gehad oor bekering en om jou hart vir die Here te gee, uit hoofde daarvan dat jy Sy genade moet aanvaar. Een van die moeilikste elemente van 'n bekerings gesprek is juis die konsep van genade.
Ek het met die jare agtergekom ek kan dit maklik verduidelik aan die hand van Bybel tekste, maar as ek eerlik moet wees, het ek dit self al vele kere in my lewe bevraagteken en betwyfel. Hoe kan die Here regtig al my sondes net in 'n oogwink vryspreek? Nie eers te praat van dinge wat ander mense aanvang nie.
So kom daar toe nou die dag 'n gedagte by my op en ek wonder nogal of genade ook REGTIG in hierdie situasie sal geld. 
Sê nou maar daar is 'n persoon, 'n man of vrou, dalk selfs 'n pa of 'n ma, en hierdie persoon is in een of ander gesagsposisie waar hy (ons praat nou maar verder as 'n hy) invloed uitoefen op mense rondom hulle saligheid. Ek dink spesifiek aan mense wat byvoorbeeld op 'n tyd teoloë was maar hulle geloof verloor het. Hierdie persoon besluit om sy rug op Jesus as Saligmaker te draai en sleep in die proses baie mense (insluitende sy kinders) in die verderf in. 
Met die tyd kom van hierdie persone tot sterwe en word nie in die Hemel toegelaat deur God nie en gaan verlore as gevolg van hulle eie keuse, omdat hulle agter hierdie ongelowige persoon aangeloop het. (Ja, ongelukkig gebeur dit so dat ongelowiges in die verderf beland, al is dit deesdae nie meer 'n gewilde onderwerp nie.) Met die tyd begin hierdie ongelowige persoon egter twyfel in sy eie ongeloof en keer terug na God toe. Sal God hom dan weer aanvaar en vryspreek, al het hy vele mense na die verdoemenis gely?
Is dit moontlik dat God se genade so groot kan wees dat Hy hierdie persoon van alles kwytskeld, insluitende die feit dat vele mense in die hel beland het deur sy toedoen?
Kom ek wees baie eerlik met jou as ek sê NEE , dis nie reg nie! Kan God dit alles so toelaat? Is dit regverdig dat Sy genade so groot is? Die antwoord is natuurlik onomwonde JA!!!
Nou, dis presies wat genade is, dis daardie "onregverdige" genade wat God op mense uitstort, ongeag wat ek daarvan dink. As ek DIT kan aanvaar, moet ek noodgedwonge aanvaar dat die Here se guns op my ook is. Dis bo my verstand. 
In Matt. 20:1-16 lees ons van die arbeiders wat in 'n wingerd werk. Sommige mense het die hele dag gewerk en sommiges net 'n klein rukkie op die einde van die dag, maar hulle het dieselfde loon gekry, waaroor dié wat die hele dag gewerk het baie ongelukkig was.
Matt. 20:11-15 "Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’ “Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’
Hierdie gedagte maak nie dat ek genade totaal verstaan nie, maar dit laat my besef dat dit groter as my begrip is. ~ Willem Botha, 26/09/2018

“So sê die Here: Op ’n tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou gebede verhoor.” (Jes. 49:8) Op ’n tyd wat Ek goeddink ... Hierdie is mos nou nie woorde wat ons graag wil hoor nie, of hoe? Ons wil mos bid en dadelik ontvang. Ons wil nie graag wag vir die Here se tyd nie. Ons wil onmiddellike reaksie en uitkoms hê wanneer ons bid, anders sê ons mos ons bid teen die plafon vas, of ons wonder wat het ons verkeerd gedoen of dat ons dalk nie op die regte manier gebid het nie, of nog erger, dat die Here nie hoor nie, of nie bestaan nie, dat gebed nie “werk” nie. Hierdie teks herinner my maar net dat God wel hoor, maar dat Sy antwoord dikwels nie is wat en wanneer ons dit wil hê nie. Dit herinner my dat God besig is met ’n groter prentjie waarvan ons nie altyd bewus is nie. Moet ons aanhou bid? Ja, beslis, sonder ophou, sê  die Woord. Ons moet bid want dan sal die Here se vrede jou hart en jou gedagtes kom volmaak omdat jy sal weet Hy luister en dat Sy planne vir die verhoring van jou gebed alreeds in plek is. Hy weet immers wat jy nodig het nog voordat jy gevra het. Wees geduldig en op die regte tyd sal die Here jou gebed verhoor. ~ Wilna Botha, 25/09/2018


Ek dink ek ly soms aan erge vergeetagtigheid. Ek vergeet so maklik hoe die Here getrou was in die verlede (soms so onlangs as vanoggend) as ek vir Hom iets gevra het. Ek vergeet dat ek vir bestellings gevra het in stil tye, en Hy in oorvloed voorsien het. Die feit dat ek in 'n liefdevolle huis grootgeword het is lankal vergete en dit word aanvaar as 'n gegewe. Ek vergeet dikwels dat die Here my absoluut niks skuld nie, maar tog sien ek dat Hy uit genade en liefde vir my en my gesin sorg. Ek vergeet so maklik wat aan die kruis gebeur het toe Jesus vir my Saligheid gesterf het, en dikwels gaan ek so roekeloos daarmee om.
Ek vergeet dat die Here vir my vir twee jaar in die weermag byna bonatuurlik beskerm het. Hoeveel keer moes ek van Potchefstroom af ryloop huis toe in die nag, en dit was elke keer sonder voorval. Toe missiele oor ons koppe getrek het tydens 'n aanval op die grens, het dit ons rakelings gemis. Ek het dit eintlik al vergeet. Hoe het ons gebid vir volmaakte kinders, en ons het dit gekry. Ek onthou dit bykans nooit. Hoe maklik vergeet ek hoe geseënd ek is met 'n wonderlike lewensmaat, dis soms sommer net iets alledaags. Nie eers te praat van goeie gesondheid nie!
Hoe maklik vergeet ek van God se beloftes, beide dié wat Hy reeds nagekom het, én dit wat geld vir die toekoms. Hoe maklik vergeet ek om genoeg dankie te sê, ek dink dikwels nie eers daaraan nie. Dit lyk my die Here bewys maar net daagliks vir my dat ek op Hom kan vertrou maar ek vergeet dit.
En dan kwel ek my oor die toekoms! Bid jou dit aan. ~ Willem Botha, 20/09/2018

“Die Here het my ’n belangrike opdrag gee en my God gee my die krag om dit te doen.” (Jes. 49:5) Wat het die Here vir jou gegee om te doen? Dalk is dit om ’n preek te lewer voor ’n groot klomp mense, dalk moet jy jou getuienis in die kerk of by die werk gee, dalk moet jy ’n Bybelstudiegroep lei, ’n funksie vir jou gemeente reël, dalk moet jy gaan bid vir iemand, kos uitdeel of iemand gaan bemoedig. Dalk is dit iets gewoon soos om vir jou gesin ’n ete voor te berei, huis skoon te maak of jou gewone dagtaak te verrig. Die Here se opdragte kom altyd saam met toerusting. As jy moet praat, sal Hy vir jou die regte woorde gee en jou skaamheid en bangheid vervang met selfvertroue en moed. As jy iemand moet leer of bemoedig, sal die Here vir jou onderskeiding en wysheid gee om die regte aanslag te hê.  As jy moet bid, sal die Gees jou lei en sáám met jou bid. As jy iets moet doen, sal die Here jou hande sterk maak en jou genoeg energie gee om die taak te voltooi. Dis Hý wat ons gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer, sê  Fil. 2:13. Vra Hom daarvoor en vertrou Hom om dit te doen. Sodoende sal dít wat ons vir die Here wil doen ’n blywende resultaat oplewer en ’n ewige waarde hê. ~ Wilna Botha, 19/09/2018

Kwaad
Iemand sê nou die aand tereg dat ons in 'n samelewing woon waar almal deesdae kwaad is. Ons is kwaad vir die regering, ons is kwaad vir die buurman as sy hond blaf, ons is kwaad vir iemand omdat hy nie van my motor hou nie, ons is kwaad vir mense op Facebook omdat hulle 'n ander opinie as ons het. Ons is kwaad vir die kerk omdat dit nie daar gaan soos wat ons dit graag wil hê nie. Ons is natuurlik sommer al die pad op die snelweg kwaad vir die taxi's en ander mense wat snaaks ry, ons is kwaad vir die regering van 30 jaar gelede omdat ons nou in die donkerte gelaat is as gevolg van hulle besluite destyds. Ag tog, en dan is ek daagliks vir myself kwaad oor dom dinge wat ek aanvang. Party mense is kwaad vir hulle ouers oor verskeie dinge, terwyl hulle dalk alreeds oorlede is. En genade, kan families uitmekaarval omdat iemand kwaad is oor iets wat iemand anders gesê het! Lank gelede op 'n mannekamp vertel 'n man dat hy en sy suster vir jare nie meer met mekaar praat nie oor 'n twis wat uitgebreek het. Toe ek vir hom vra waaroor dit gegaan het, het hy eerlik geantwoord dat hy glad nie meer kan onthou nie! Hy het haar die volgende dag gebel en hulle het die verhouding herstel.
Ons word soms ook kwaad vir die Here omdat Hy dinge toelaat waarvan ons nie hou nie, en wanneer ons nie ons sin kry nie. Ons word sommer kwaad vir ander gelowiges wat net so effe anders as ons glo.
Wat maak hierdie woede aan ons? En wat help dit? Hoekom is ons velle so dun en hoekom is ons so kort van draad? Miskien moet ons net 'n oomblik dink voor ons op iets negatiefs reageer. Dalk sal dit help as ons nie meer nuus kyk nie, en dit sal verseker help as sosiale media 'n bietjie eenkant toe geskuif word.
Spr. 15:1 " ’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom."
Ai, ek wens so ek kan net daagliks volgens hierdie teks leef. Ek bid hierdie volgende teks vir jou en my toe.
Fil. 4:7 "En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus." ~ Willem Botha, 18/09/2018

“Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan.” (Jes. 48:17) Die Heilige Gees, die wet en die Woord van God is altyd daar om vir ons die pad aan te wys, om ons te stuur in God se rigting, om ons te lei in die keuses en besluite wat ons moet maak, om ons te help om ’n sinvolle lewe te lei, om ons op ’n pad van voorspoed en vrede te bring. Dit wat die Here ons leer uit sy Woord, dit wat ons leer deur die prediking waarna ons luister, deur die boeke wat ons lees, is natuurlik altyd tot ons beswil, tot ons persoonlike voordeel. Dit bring jou in die regte verhouding met die Here, dit bring jou by die kruis en Jesus se vergifnis en vryspraak. Dit versterk jou geloof, dit gee jou hoop. Dit beskerm jou teen verleiding, dit help jou in verhoudinge, dit gee wysheid vir elke lewenssituasie, dit maak jou ’n beter mens ... sien, dis tot jou beswil. Maar, die vraag is: is ons leerbaar? Onderwerp ons onsself aan God se onderrig? Luister en doen ons, of het jy gister se preek net aangehoor, sonder dat dit in jou hart gaan lê het en ’n verskil in vandag se optrede gemaak het? Wie ore het, moet luister, sê die Nuwe Testament herhaaldelik. “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.” (Matt. 7:24-25) – tot jou beswil! ~ Wilna Botha, 17/09/2018

So far so good... 
'n Vriend deel die volgende gedagte op Facebook:
"So far you've survived 100% of your worst days. You're doing great."
Toe besef ek net hoe genadig die Here is as Hy sê jy moet jou nie oor more bekommer nie. 
Matt. 6:25 "Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?"
Nou kyk, ons sal almal saamstem dat hierdie een van die moeilikste tekste in die Bybel is om te glo en te aanvaar, maar tot nou toe het die Here 'n 100% suksessyfer gehad in my en jou lewens. Ek sê nie dat jy nog nooit moeilikheid of bitter trauma beleef het nie, maar tot nou toe het jy dit oorleef.
Moeilikheid sal kom, dit wat jy bid sal nie altyd waar word nie, trauma mag ons dalk tref en dinge kan dalk onhoudbaar sleg wees by tye, maar solank jy bly lewe het die Here Sy hand oor jou. En ja, selfs die erge dinge gaan verby, al voel dit net soms of dit nou te lank neem.
Ek weet nie wat more vir my inhou nie, maar ek het besluit om die Here te vertrou om my te beskerm teen slegte goed, maar as iets my tref, sal ek Hom vertrou om my deur dit te dra.
Tot dusver was Hy 100% getrou daarmee, want ek leef nog. Ek is innig dankbaar daarvoor. ~ Willem Botha, 12/09/2018

“Vandat jy gebore is, het Ek vir jou gesorg. Toe jy ’n babatjie was, het Ek jou in my arms rondgedra. Selfs al word jy oud, sal Ek nog daar wees. Ek sal vir jou sorg tot jy grys is. Ek het julle gemaak. Ek sal vir julle sorg. Ek sal julle dra en julle versorg.” (Jes. 46:3-4, Die Boodskap) Ja, Hy het ons gemaak en Hy sal ons nooit los nie. Wanneer jy ouer en swak word, dalk nutteloos voel, dalk oorbodig voel, sal die Here jou dra. Sy arms bly altyd onder jou. Ek dink sommer onwillekeurig aan die teks in Prediker 12 wat sê: dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar tye kom. Kom naby aan die Here wanneer jou verstand en krag nog sterk is, sodat jy in jou ou-dag veilig en versorg en tevrede in Sy arms sal wees. “Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer”, sê  Luk. 1:50.  Van geslag tot geslag, van die begin tot die einde sal Hy daar wees en ons dra en versorg. Kyk terug en sien dat die Here jou deur swaarkry en storms, deur verlies en hartseer gedra het en weet dat Hy dit steeds sal doen totdat jy grys is en tot jou aardse pad ten einde loop. Behou enduit jou geloof en jou ywer vir die Here. Wees steeds bereid dat die Here jou kan gebruik. Span jou ervaring en lewenswysheid in om mense om jou te lei en te leer. Doen alles in jou vermoë om nie ’n verbitterde, onvergenoegde, knorrige en klaerige bejaarde te wees of te word nie. Spreuke sê dat ouderdom ’n sierlike kroon en ’n seën is – dra dit met trots en met die sekere wete dat die Here enduit saam met jou stap.  ~ Wilna Botha, 11/09/2018

Oom, kan ek asseblief net 'n drukkie kry...
Hierdie woorde sal waarskynlik vir die res van my lewe by my bly. 'n Klompie jaar gelede, tydens 'n diens wat ons by die vroue gevangenes gehou het, kom staan 'n jong meisie (ongeveer 16 jaar oud) voor my staan en sê hierdie woorde: Oom, kan ek asseblief net 'n drukkie kry? Sy was so klein dat sy in 'n laerskool rokkie sou pas. Ek het haar so inning jammer gekry en, hoewel ons nie veronderstel was om fisies die mense aan te raak nie, het ek gebuk en haar 'n stywe druk gegee. Dis al wat sy wou hê, net een oomblik van koestering en liefdevolle aanraking. Sy was verhoorafwagtend, waarskynlik oor dwelms.
Waar het sy vandaan gekom? Het sy 'n pa geken? Of dalk baie? Wat het ander ooms met haar gedoen toe sy dalk net liefdevolle aanraking wou hê? Het sy op daardie stadium op straat gebly en het sy dalk daardie brose liggaampie beskikbaar gestel aan gewetenlose mense vir nog 'n dag se oorlewing? Ek ken ongelukkig nie daardie antwoorde nie. Ek wens so ek kon weet wat van haar geword het, en of sy ooit uit hierdie ding kon breek. Ek twyfel.
Hierdie ding het lank in my lewe by my gespook, want ek het net besef hoe verdorwe ons samelewing geword het. Wie het haar versaak? Haar ouers? Die samelewing? Wie is die samelewing? Ek en jy? In die nege jaar wat ons daar bedien het, het geen ander situasie my so diep getref nie.
Nog 'n groot vraag wat by my opgekom het, is of Jesus Sy rug op haar sou draai oor haar lewe, of is Sy genade so groot dat Hy vergewe sonder dat daar dalk vergifnis gevra word, of dat sy daaruit kon loskom? Ek glo so. Moet ons as samelewing nie dalk ook vergifnis vra nie? 
Ek glo dat die Here saam met ons bedroef is oor die toestand van hierdie wêreld, maar dat Hy dalk meer van ons verwag, hoe en wat weet ek nie.
Ek vra jou vandag net twee dinge. Wees saam met my uiters dankbaar as jy, of jou kind nie in daardie toestand verval het nie. En tweedens, wees daar vir mense wat net 'n drukkie, of bietjie koestering nodig het. ~ Willem Botha, 10/09/2018


“Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op aarde.” (Jes. 45:22) Is dit nie die wonderlikste uitnodiging van die Here nie. Sy redding en bevryding, Sy genade en goedheid is vir almal bedoel. Oorvloedig en gratis. Joh. 3:16 sê mos: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Ek sien in beide hierdie verse ’n voorwaarde – ons moet kom, ons moet glo. Sy reddende hand is uitgesteek, dit berus by ons om dit te aanvaar. Waarvan verlang jy vandag bevryding? Dalk skuldgevoelens, geheime sondes of groot foute wat jy begaan het? Dalk hardkoppigheid en selfgerigtheid wat maak dat jy dink jy het nie die Here nodig nie? Dalk verwerping en mishandeling waaraan jy onderwerp is of was? Dalk verslawing van ’n aard? Dalk ’n diep hartseer en droefheid, of siekte? Die Here nooi jou uit om na Hom toe te kom sodat jy gered en bevry en gehelp kan word. Hy wil Sy vrede en rus in jou hart en gedagtes kom deponeer. Nader tot God en Hy sal tot jou nader – belofte! “Ek lê ’n eed af in my eie Naam, wat Ek sê, is betroubaar, dit is ’n woord wat nie onvervul sal bly nie.”(Jes. 45:23) ~ Wilna Botha, 06/09/2018


Lag
... en die wêreld lag saam, huil en jy huil alleen. Ons almal ken hierdie spreekwoord, maar ek dink nie dis meer waar nie. Die vet weet, sosiale media floreer absoluut op die negatiewe, veral as dit by politieke kwessies kom. Hoeveel negatiewe boodskappe kry jy bedags op verskillende platforms? Sommer sulke nuttelose kommunikasie wat net jou werktyd mors en jou afrem. Ek is sommige dae sommer lus en haal 'n klomp van hierdie "apps" van my foon af. Ons is nou maar eenmaal aanmekaargesit om eerder oor die negatiewe te tob as om die positiewe te fier.
Spr. 17:24 (1953 vertaling) "’n Vrolike hart bevorder die genesing, maar ’n verslae gees laat die gebeente uitdroog."
Hierdie vertaling druk dit nogal erg uit, "... 'n verslae gees laat die gebeente uitdroog."
Kom ek daag jou uit oor hierdie ding van negatiewe inligting. Ek is seker jy was ook al die afgelope tyd konstant gebombardeer met mense se negatiewe menings oor baie dinge, en dit het jou lekker opgeklits. My vraag is nou aan jou: het dit 'n blou duit verskil gemaak aan jou, om jou lewe positief te verander? Ek glo jy sal saamstem dat dit net mooi niks goeds teweeg gebring het nie. Dus, of jy hierdie goed gehoor het of nie, kwaad geword het of nie en of jy saam geskreeu het teen dit of nie, niks het verander nie. Ek het al op die nuus gesien hoe mense klippe gooi en toi-toi omdat hulle nie huise het nie. Het een enkele een van hulle 'n huis gekry a.g.v. hierdie optrede? Nee, hoegenaamd nie! Hierdie goed laat net ons gebeentes uitdroog. 
Dit lyk vir my dus of ons maar eerder onsself moet programmeer om met 'n vrolike hart te leef, want dit bring boonop genesing vir jou liggaam. Ja, letterlik genesing!
Dus, dis jou keuse, siek gestres oor goed wat jy nie kan verander nie, of vrolik omdat jy SOVEEL het om voor dankbaar te wees.~ Willem Botha, 05/09/2018


Hulle sal teenoor jou bely: ”Waarlik, God is by jou.” (Jes. 45:14) Sjoe, ek sal graag wil hê dat my lewe só sal wees dat mense dit van my kan sê. Dat hulle kan sien dat die Here deel is van my lewe. Dat hulle kan beleef dat ek anders is, dat ek nie kwaad word nie, dat ek nie ongeduldig is nie, dat ek almal kan liefhê en vrygewig is met my goed en my tyd, dat ek wysheid en raad het in moeilike situasies, dat ek as’t ware die geur van Christus versprei. Dat ek onverskrokke kan wees in my geloof en die Here blindelings vertrou. Dat Sy teenwoordigheid, Sy krag en Sy wonderdade só sigbaar sal wees, dat dit mense sal laat sê: “Waarlik, God is by jou en daar is geen ander nie, daar is nie nog ’n God nie.” Ongelukkig is dit baie keer die teendeel en moet ek bely dat my gedrag en wat ek kwytraak partykeer eerder die wenkbroue sal laat lig as wat dit eer aan die Here sal gee. Mens hoor mos baie keer dat mense sê: as dít is hoe ’n Christen optree, dan wil ek nie een wees nie. Ek bid dat dít nie waar sal wees van een van ons nie! Mag dit vir ons wees soos Daniel en sy vriende wat ten alle koste getrou gebly het, vasgestaan het in hulle geloof en vir wie die Here gered het uit die brandende vuur en beskerm het in die leeukuil. Kyk watter eerbetuiging het die heidense koning aan die Here gebring op grond daarvan: “Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie vernietig word nie, sy heerskappy sal nooit eindig nie. Hy red en bevry, Hy doen tekens en wonders.” (Daniël 6:28) Waarlik, God is by jou! ~ Wilna Botha, 04/09/2018


Bereken die koste 
Spr. 16:25 "Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood." 
Hierdie teks het al vreeslik hard met my gepraat, want hy het my al dikwels tussen die oë getref. Dit hou 'n geweldige waarskuwing in vir die lewenswyse wat ons kies. Verkeerde dinge kan so reg lyk, en ons rasionaliseer so maklik, dat ons naderhand nie meer kan onderskei tussen reg en verkeerd nie. 
Ek het al met vele mense te doen gekry wat vreeslik diep in die moeilikheid gekom het, omdat hulle dinge gedoen het wat hulle uiteindelik in absolute wanhoop en armoede gelaat het, en selfs die gevangenis in die oog staar. Van hierdie mense het vanuit weelde na 'n bankrot bestaan geval. Een van daardie persone het eendag hierdie woorde gesê: "As jy val, maak dit ten minste die moeite werd." Uiters gevaarlike woorde, want jy hou nooit op val nie. 
Hierdie gedagte is natuurlik nie net beperk tot dinge wat teen die wet is nie, maar ook in ons daaglikse handel en wandel. 'n Buite-egtelike verhouding is een van daardie dinge wat SOVEEL lewens vernietig, met ondenkbare gevolge. Om dinge van mense te sê wat nie waar is nie, bring skeiding wat nooit herstel kan word nie. Drankmisbruik kan lei tot 'n onskuldige persoon se dood. 
Dan wonder ek net by myself of ons nie maar altyd weer en weer die koste moet bereken voor ons iets aanvang nie. Soms gee iets vir ons 'n klein rukkie genot, maar die skade is dalk nimmereindigend. 
Ons moet maar so naby as wat ons kant aan Jesus se sy leef, dan behoort ons veilig te wees. Luister na Sy raad, en eerbiedig ten alle tye die wet. 
Pred. 8:5 "Wie 'n bevel gehoorsaam, beland nie in die moeilikheid nie. Wie wysheid het, weet wanneer en hoe hy moet handel~Willem Botha, 03/09/3018


“Ek maak lig en skep die donker; Ek gee voorspoed en skep rampspoed. Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge.” (Jes. 45:7) Hierdie is een van die verse in die Bybel wat só duidelik vir my sê dat die Here in beheer is van alles. Ja, selfs rampe en siektes en swaarkry en dood is nie buite Sy beheer nie. Vir party mense is dit moeilik om te aanvaar, want hulle redeneer dat ’n God van liefde nie swaarkry kan of sal toelaat nie. Vir my is dit egter ’n gerusstelling om te weet dat niks buite Sy wil en Sy wete en Sy teenwoordigheid is nie. Ek weet ook al vat die lewe watse draaie, die lig en die voorspoed sal óók weer seëvier, alles sal weer ten beste saamwerk en uitwerk, want die Woord sê alles sal ten goede meewerk vir die wat Hom lief het. (Rom 8:28) God is altyd besig met ’n groter prentjie as dit wat vir ons sigbaar is. Hy is altyd besig met vorm en vou en slyp en suiwer aan ons almal en dié rondom ons. “Durf die klei vir die een wat dit vorm sê: “Wat maak jy?” (Jes. 45:9) Nee, natuurlik nie! Vertrou Hom, want Hy is God! ~ Wilna Botha, 30/08/2018


Reën
Jy kan bid vir reën tot jy blou word in jou gesig, want as die weerpatrone nie reg is nie, sal daar nie 'n druppel reën val nie. Dan is jou gebed net 'n mors van tyd.
Ek is oortuig daarvan dat hierdie paar woorde jou sommer onmiddelik ontstel het! Hierdie woorde was baie jare gelede ge-uiter deur 'n persoon (nogal 'n ouderling) by 'n wyksbyeenkoms. Natuurlik het 'n paar mense heftig gereageer en hom herinner aan wat die Bybel sê. 
Ek dink elke enkele gelowige boer sal jou vertel van wonderwerke wat God gedoen het deur reën te gee op die regte tyd (al was dit na lang droogtes). Reën is een van die sigbare en tasbare dinge wat die Here gee om die mens en die natuur in stand te hou.
Ek glo elkeen van ons het ook al ervaar dat die Here ons gebede in ons droogte tye verhoor, selfs al het mens dit glad nie verwag nie, en dat Hy vir ons versorg op bonatuurlike maniere. Ons dien inderdaad 'n God van wonders, en wonderwerke is nie net iets wat in die "Bybelse tyd" gebeur het nie. Die Here doen elke enkele dag wonders wat bo die mans se verstand is. Ons elkeen kan daarvan getuig, en elkeen van ons kan ook getuig dat gebed "werk", want die Here hoor die hulpgeroep van Sy kinders, op die regte tyd, en Hy regeer daarop. 
Mal. 3:10 "Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie."
Sag.10:1 "Wanneer julle reën nodig het, maar dit reën nie, dan moet julle vir die Here reën vra. Dit is die Here wat die wolke vol water maak sodat dit hard kan reën. Dit is Hy wat reën gee vir die plante in die veld."
Lev. 26:3-4 "As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe, sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra."
Hierdie paar tekste sê baie duidelik dat die Here in beheer is van die natuur en van die mens, en dat ons ons versugtinge aan Hom moet bekend maak. Vra, en hou aan vra, totdat die Here weer "reën" in jou lewe gee. Hy IS 'n God van wonders! ~ Willem Botha, 29/08/2018


“Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie.” (Jes. 45:5) Hier rondom Jes. 43-46 hoor mense hierdie woorde oor en oor. Ek het so vinnig getel en by agt keer uitgekom. Dit kom soos ’n refrein: ... buiten My is daar geen God nie, daar is geen ander nie. Geen ander Redder nie. Geen ander Verlosser nie. Geen ander Helper nie. Geen ander Vader nie. Het die volk dit dan nie geglo nie? Was hulle doof vir hierdie aanspraak wat die Here gemaak het? Of het hulle hul laat verlei deur ander, dooie, nikswerd afgode? Het hulle gedink hulle kan meer as een god dien?  Het hulle dalk die Here se bestaan en betrokkenheid en medelye bevraagteken? Ek dink dit is ’n “ja” op elkeen van hierdie vrae. En hulle is nie alleen nie. Ek raai ons staan vandag maar net so skuldig en ek vra myself die vraag: is daar dalk iets wat vir my belangriker is as die Here, is daar iets (of iemand) wat meer van my aandag, liefde en bewondering ontvang as die Here self? Hy is ’n jaloerse God wat al ons aandag, lojaliteit en toewyding wil hê, Hy wil nie meeding met ander gode nie, nie tweede viool speel teenoor ons eie-ek, ons gejaag na kennis, roem, sukses en besittings nie. Die Here sê: “Ek gee die eer wat My toekom, aan niemand anders nie.” (Jes. 48:11) Mag hierdie refrein in ons harte en gedagtes bly sodat ons dit gló en uitleef: daar is géén ander God nie. ~ Wilna Botha, 28/08/2018


'n Gewone dag
Soos altyd, soos elke ander gewone dag, het hulle (soos gewoonlik), op 'n vaste tyd wakker geword. Waarskynlik het hulle oor die gewone dinge gepraat en soos gewoonlik die dag, die naweek en dalk 'n vakansie bespreek. Dalk het hulle, soos gewoonlik, saam gebid vir die Here se beskerming op hulle en hulle gesin. Soos gewoonlik het hy gegroet en gaan werk.
'n Paar ure later het die foon gelui en "gewoon" het onherroeplik verander en daardie definisie van "gewoon" sal NOOIT weer dieselfde wees nie. 'n Paar skrikwekkende woorde: Hy is oorlede aan 'n hartaanval. Hoekom Here, hoe is dit moontlik? Met wie gebeur dit? Hoe op aarde gaan mens aan met hierdie nuwe, aaklige lewe? Hierdie dag het so gewoon begin, maar die skok, trauma en hartseer het 'n gesin se lewens totaal uitmekaar geskeur. Niks sal ooit weer gewoon wees nie. Waar was U Here?
Dit het die Here behaag... Ons lees dit gereeld op 'n begrafnisbrief. Het dit? Is dit vir die Here behaaglik? Volgens die HAT verwys dit na "aangenaam" en "genotvol". Nee, ek hou glad nie van daardie frase nie. 
Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here. Selfs al gaan ek deur donker dieptes... In U hande is ek veilig. Waar anders sal daardie troos vandaan kom?
Die Here dra haar deur hierdie verskriklike nuwe "normaal" en deur Hom kom die troos en selfs genesing, al heel die wonde nooit weer ten volle nie. 
Hy was 'n predikant, 'n baie goeie, Godvresende predikant. ~ Willem Botha, 27/08/2018


“Ek stel die toekomsvoorspellers aan die kaak, Ek maak die waarsêers belaglik. Ek weerlê die geleerde mense, Ek ontmasker hulle kennis as dwaasheid.” (Jes. 44:25) Niemand, behalwe die Here, weet wat in die toekoms lê nie. Baie mense probeer vooruit kyk en voorspellings maak, maar hulle kan dit net doen met kennis en inligting wat hulle vandag het. Hulle voorspellings is niks meer as raaiskote nie. Daar is selfs mense wat die tyd van die wederkoms probeer voorspel, terwyl die Here sê dat nét Hy die dag en uur weet. Elders sê die Bybel dat God se eer lê in dit wat Hy verborge hou (Spr. 25:2) Hy is in beheer en Hy besluit wat sal gebeur en ons moet erkenning en eer aan Hom gee daarvoor. Jakobus sê mos ook dat ons nie sommer net kan sê ons sal môre dit of dat doen nie, want ons weet nie hoe ons lewe môre sal wees nie. Hy sê mense wat dit doen, is te seker van hulleself en praat groot. Wat ons moet doen, is om alle vertroue op die Here te plaas vir die toekoms, alle eer en erkenning aan Hom te gee as die enigste een wat regtig die toekoms ken. Ware wysheid is om oorgegee aan God te lewe en Hom te vertrou met jou toekoms. Vir my gee dit ’n kinderlike gerustheid, ’n gemaklike vrede om te erken dat God alles weet en in beheer is van alles. ~ Wilna Botha, 23/08/2018


Gaan dit regtig net sleg in hierdie lewe? Is daar regtig nie meer hoop nie? Is ons regtig net tot verval en verwoesting verdoem?
Daar is 'n pragtige lied met die naam "Outrageous grace" wat 'n bietjie balans gee, en toe ek vandag daaraan dink het ek net weer besef dat mens dalk net weer dinge uit 'n nuwe hoek moet bekyk. Die lirieke van hierdie lied gaan min of meer soos volg:-
Daar is baie pyn in hierdie wêreld, maar daar is baie meer genesing.
Daar is baie moeilikheid en swaarkry, maar daar is baie meer vrede.
Daar is baie haat, maar daar is baie meer liefde.
Daar is baie sonde, maar daar is baie meer genade.
Daar is baie vrees, maar daar is baie meer vryheid.
Daar is baie donkerte, maar daar is baie meer lig.
Daar is baie donker wolke, maar daar is baie meer visie.
Daar is baie dinge wat vergaan, maar daar is baie meer lewe.
Ek dink hierdie dinge is vir die meeste mense waar, maar nie vir almal nie. Daar is egter vele mense wat net nie meer die silwer randjie om die donker wolk kan sien nie, omdat die negatiewe invloede net eenvoudig te groot is.
Hier is die koor gedeelte van hierdie lied:-
"Oh outrageous grace, oh outrageous grace
Love unfurled by heaven's hand
Oh outrageous grace, oh outrageous grace
Through my Jesus I can stand"
Inderdaad, deur die genade van Jesus kan ons staande bly. ~ Willem Botha, 22/08/2018


“So sê die Here jou Verlosser wat jou in die moederskoot gevorm het: Ek is die Here, Ek het alles geskep.” (Jes.  44:24) Die Here wat alles uit niks geskep het, het jou en my ook geskep. Hy het jou in die baarmoeder gevorm. Hy was betrokke. Hy het dit sélf gedoen. Met Sy eie hand. Hy het jou beplan en voor jou geboorte alreeds ’n plan vir jou lewe gereed gemaak. Ps. 139 sê mos ook hoe die Here beplan, gevorm en geweef het aan jou waar niemand dit kon sien nie en terwyl jou ma dalk nog nie eens van jou geweet het nie. Daar in die baarmoeder het sy sorg en beskerming alreeds begin. “Reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm.” (Ps. 71:6) Toe jy nog nie ’n naam gehad nie, het God reeds jou naam geken - selfs voor iemand van jou bestaan geweet het!  “Toe ek nog in my moeder se liggaam was, het Hy my op my naam genoem.” (Jes. 49:1) Dalk is daar oor jou gesê dat jy ’n glips of ongewens was – weet egter dat die Here nie verras was nie, want van die eerste oomblik daar diep in die baarmoeder, was Hy daar en het Hy jou op jou naam genoem. Gen. 1:31 sê: “Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het en dit was baie goed.” So kyk Hy elke dag met tevredenheid na my en jou ook en sê: dit is baie goed! ~ Wilna Botha, 21/08/2018


Uitkoms 
Ek dink jy sal saamstem dat die dag tot dag uitdagings in die lewe by die dag toeneem. Ek is oortuig daarvan dat die lewe van 30 jaar gelede baie minder gekompliseerd was en dat mense makliker oor die weg gekom het. Vandag is straathoek bedelaars volop, mense verloor hulle werk in 'n oogwink en ons hoor baie meer gereeld van mense wat in wanhoop verval. 
Waar is die Here in hierdie tye? Is Hy minder daar vir ons? Het Sy hart verhard teenoor Sy kinders? Draai Hy makliker Sy gesig weg as in die verlede? Nee, gewis nie. Een ding waaraan ek egter glad nie glo nie, is dat dit nooit sleg gaan met Christene nie, en dat die Here se kinders nooit siek word nie, en nooit finansieel sukkel nie. Daardie "teologie" is 'n myl wyd, maar net 'n duim diep, en baie gevaarlik. 
Wat egter 'n bewese feit is, is dat die Here DAAR is, juis in moeilike tye, en ons beskerm en koester IN die slegte tye. Voorts is Hy die een wat uitkoms gee, al voel dit soms of dit te laat gaan wees. Die Here is altyd betyds, al begin ons magteloos en moedeloos voel. Hy gee ALTYD uitkoms, al is die uitkoms anders as waarvoor ons gehoop het. Hier is 'n paar tekste waaraan ons kan vashou. 
JOB 5:11 "Dit is Hy wat die vertraptes weer optel, wat uitkoms gee aan dié wat ly." 
Ps. 9:15 "Dan kan ek van al u roemryke dade vertel, in die poorte van Sion kan ek juig oor die uitkoms wat U gegee het."
Ps. 12:6 Maar die Here sê: “Die swakkes word mishandel en die armes kla. Daarom gryp Ek nou in en gee uitkoms aan dié wat daarna smag.”
Ps. 13:6 "Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het."
Ps. 21:6 "Omdat U uitkoms gegee het, is hy hoog in aansien, met roem en eer , het U hom oorlaai. "
Ps. 85:10 "Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien: Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar. ~ Willem Botha, 20/08/2018


“Julle is my getuies: daar is net eenvoudig geen ander god behalwe Ek nie.” (Jes. 44:8, Die Boodskap) Enige iemand wat oor ’n saak wil getuig moet self gesien, self gehoor en direk beleef het en dit dan met geloofwaardigheid oorvertel. Wat is dit wat jy al self gesien, gehoor en beleef het en glo oor die Here waaroor jy kan getuig? Het jy al self ondervind en kan jy met oortuiging sê: Hy is die enigste God, die Almagtige, die Koning, die Eerste en die Laaste, jou Verlosser  (soos Jes. 44:6 sê)? Ps. 34:9 praat ook van die eie, persoonlike ondervinding wat ons van die Here se goedheid kan hê. “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is.” Smaak en sien dat die Here goed is, sê  die ou Afrikaanse vertaling. As jy dít beleef het, kan jy daaroor getuig. Dit laat my ook dink aan Tomas vir wie Jesus gesê het om met sy vinger, sy hand en sy eie oë te ervaar dat Hy die ware God is: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig. En Tomas sê vir Hom: My Here en my God!” (Joh. 20:27-28) Na die persoonlike ervaring volg die belydenis en getuienis: My Here en my God!  ~ Wilna Botha, 16/08/2018

Seisoene
Gister roep vroulief my opgewonde om te kom kyk hoe die eerste bloeisels aan 'n boom in die tuin sit. My eerste emosie was een van opgewondenheid en vreugde, want dit dui die einde van die koue winter aan. Onthou jy die liedjie "Kyk dis September weer, lente is ons land, kom vier met ons 'n keer, feesvreugde by die strand..."? September is inderdaad nog 'n paar dae weg, maar die natuur is besig om die dor en droog van winter af te skud, om plek te maak vir die prag van lente. Ek het net weereens besef hoe ongelooflik die skepping is. Daar het nog nie reën geval nie en op die oog af is alles nog dieselfde as 'n paar dae gelede, maar tog, op 'n wonderbaarlike wyse, verander alles voor jou oë. God is aan die werk, en Hy verander dinge om presies te wees soos wat Hy dit geskep het.
GENESIS 1:14 "Toe het God gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui."
PSALMS 74:17 "U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hande." 
Twee pragtige tekste wat dinge presies beskryf soos wat ek en jy dit waarneem.
Ons gaan ook deur seisoene in ons lewens, ons beleef ook die dor en droog van "winter ", ons kry ook swaar en smag na "beter dae", daardie dae wanneer die bloeisels die einde van ons slegte omstandighede aandui. Soms glo ons ons gaan vir altyd in die wintertyd vassit, maar dis selde waar, die Here bring gewoonlik weer voorspoed, want die punt is, Hy is nie weg in ons wintertyd nie, dis Hy wat ons warm hou en versorg totdat die bloeisels kom.
As dit goed gaan met jou, moenie dink dit gaan vir altyd net goed gaan nie, maar as dit sleg gaan met jou, moenie glo dit gaan vir altyd net sleg gaan nie, dis maar net hoe seisoene werk. Ons moet maar net leer om geduldig te wag, en hou aan uitkyk vir die bloeisels , hulle kom soms totaal onverwags. ~ Willem Botha, 15/08/2018

“Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge ... Die een sal sê: “Ek behoort aan die Here,” ... die ander sal op sy hand skryf: Die Here s'n.” (Jes. 44:3-5) Hoe ongelooflik kosbaar is hierdie belofte oor ons kinders en kleinkinders nie. God het ’n verbond met ons én ons kinders, soos wat Gen. 17:7 sê en wat in Hand 2:39 bevestig word: “My beloftes aan jou is ook jou kinders s’n. Wat Ek beloof het, geld vir altyd. Ek sal ook hulle God wees soos Ek joune is.” God steek deur ons verbondenheid aan Hom sy hand uit na ons kinders. In moeilike tye wanneer dit dalk voel of jou kinders ’n ander pad kies, wanneer hulle opstandig raak en jy moedeloos en bekommerd is oor hulle kan jy met vrymoedigheid vasklou aan dié versekering dat die Here hulle nie sal los nie en dat Hy steeds Sy seën en Sy Gees op hulle sal uitgiet – ongeag hulle ouderdom. Deur ons voorbeeld, ons gebede en God se getrouheid aan Sy verbond sál daar ’n dag kom wat hulle gaan bely: Ek behoort aan die Here. Deur ons as ouers is hulle wortels in die Here en kan ons in ons geestesoog alreeds sien dat dié woorde op hulle geskryf is: Die Here s’n. ~ Wilna Botha, 14/08/2018


Restourasie 
Ongeveer 33 jaar gelede het ek hierdie sleepwaentjie by iemand gekoop, en jy kan op die foto sien dat hy absoluut gehawend was. Ek het besluit om hom te restoureer en na baie harde werk van roes uitsny en wegskuur, panele vervang en om hom te spuitverf, was hy so goed soos nuut. Min mense kon glo dat hy eens so sleg gelyk het en splinternuut was na sy "make-over". Mettertyd het hy egter weer agteruitgegaan en is nog twee keer weer gerestoureer en hy is vandag steeds padwaardig en gelisensieer. Glo dit of nie, maar dis 'n 1971 Venter waentjie en dus 47 jaar oud. Die vorige eienaar kon moed opgegee het en hom ashoop toe gesleep het, maar ek het die potensiaal in hom gesien en baie waarde uit hom gekry.
Nou ja, dalk voel jy vandag soos daardie gehawende sleepwa en voel jy jy is net reg vir die ashoop, en dalk sien mense net die roeskolle en die verwering in jou, en dalk het ander mense ook alle hoop laat vaar dat dinge beter sal gaan, maar dis nie waar nie. Die Here kan ENIGE mens, ongeag van jou "toestand", splinternuut maak. Daar is nie 'n enkele mens wat nie deur hierdie stadiums van verval gaan nie, daar is geen mens wie se kop altyd bo water bly nie, daar is nie een wat nie by tye wil opgee nie, maar een ding is seker, die Here gee NOOIT met Sy kinders op nie. Daar kan net nie te veel roeskolle in jou lewe wees wat die Here nie kan uitskuur nie. En ja, soms is dit baie seer as die Here daarmee besig is , en soms kan ons nie verstaan hoekom die Here so lank neem met ons restourasie nie, maar Hy weet presies waarnatoe Hy met ons werk. 
Klaagliedere 3:21 - 24 "Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom." ~ Willem Botha, 13/08/2018

“Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.” (Jes. 43:25) Getrou aan wie Hy ís, getrou aan sy karakter, ís die Here ’n barmhartige en genadige God. Hy vergewe sondes, Hy wis oortredinge uit, dit verdwyn soos miswolke ( lees Jes. 44:22), Hy vergeet daarvan, Hy hou nie boek daarvan nie, Hy verwyder dit so vêr soos die ooste van die weste is, Hy maak dit tot niet en gooi alles in die diepsee (lees Miga 7:19), Hy hou Hom blind en doof vir sondes van die verlede -  dis wie Hy is en Hy sal nooit anders optree nie, nooit van plan verander nie, nooit uitsonderings maak nie. Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons sondes, sê die Woord. Glo dit asb. eens en vir altyd. Jesus het betaal. Jy is vry. Die skuldlas is weg. “Wat gebeur het, kan ook so gestel word: ons elkeen het ’n rekening van al ons sonde en ’n rekening moet ’n mens mos betaal. Wat met ons moes gebeur oor al die skuld is uiters slegte nuus vir ons. God het egter hierdie rekening met al ons skuld uit ons hande kom vat. Nou staan die skuld nie meer teenoor ons naam nie. Ons rekening hang nou aan die kruis. Jesus wat ook aan die kruis gesterf het, het daardie skuld vir ons betaal.” (Kol 2:14, Die Boodskap) Mag hierdie woord vir jou, soos vir my, ’n groot las van jou hart en gedagtes afhaal en jou verlig en vry laat voel. ~ Wilna Botha, 08/08/2018

AfriKLAners is (ON)plesierig
Num. 11:1-2 "Dit het sleg gegaan met die volk, en hulle het die Here daaroor verwyt. Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword en vuur onder hulle in gestuur. Dit het 'n deel van die kamp verbrand. Die volk het hulle nood by Moses gekla, en hy het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan."
Hier lees ons van die Israeliete se gekla in die woestyn toe hulle verlang na die vleispotte van Egipte. Ai, klink eintlik of dit ons eie ou nasietjie is wat daar sit en murmureer. Of nee wag, eintlik skryf ek hierdie net vir myself, maar jy kan dit ook maar lees as jy wil. Ek ken daai kla-sessies baie goed, want ek oefen daagliks daaraan.
Maar ek dink nou nie ek is die enigste een nie. Ons hou mos daarvan om ons lot by ander te gaan bekla, of hoe? Kla oor alles en sien net niks meer goed in enigiets nie, en dan glo ons boonop ander mense is lus om daarna te luister! Ek besef nou net, dis eintlik AAKLIG!
Nou sien ek in hierdie deel in Numeri dat die Here Hom vererg het vir die mense en vuur onder hulle ingestuur het. Dit het nogal mooipraat van Moses geverg om die Here so ver te kry om die vuur te blus.
Dink ek toe so by myself: Sê nou maar die Here neem die dinge weg waaroor ons so kla? Kla oor jou werk en more sit jy op straat, kla oor jou lewensmaat en die Here neem hom/haar weg, kla oor jou kinders en die Here neem hulle weg, kla oor jou ou motor en more is jy op die agterpote, kla oor die huis wat nie so mooi soos die vriende se huis is nie en more slaap jy in die parkie. Kla oor jou liggaam wat nie meer na wense is nie en more verloor jy jou gesondheid. Jy sien, as jy teenoor iemand anders kla is die Here ook in die geselskap, en Hy hoor dalk net ons klagtes as ondankbaarheid.
Miskien moet ons net weer bietjie anders kyk na wat ons het. Bly so bietjie weg van sosiale media en die nuus af, en bly baie ver weg van klakouse wat jou vreugde steel.
Ja, dis nie ek wat die ekonomie totaal verwoes het nie, en ek ry nie met my taxi voor ander in nie, en ek werk vir alles wat ek het, en en betaal my belasting, en ek "demand" nie dinge wat my nie toekom nie. Maar weet jy wat? Dis ook nie oor my eie toedoen dat ek nie in armoede iewers in Afrika gebore is nie, en dis ook nie omdat ek so oulik is dat ek nie in 'n plakkershut grootgemaak is nie, en dis ook nie omdat ek so goed is dat ek met 'n totaal volmaakte liggaam gebore is nie. Dis alles net genade.
Toe dink ek so by myself: Sê nou net ek besit slegs dít wgoed aarvoor ek gisteraand dankie gesê het? ~ Willem Botha, 07/08/2018

“Jy het nie moeite gedoen om my te dien nie...” (Jes. 43:22) Sjoe, dis darem nie woorde wat ek wil hoor van die Here af nie. Die vraag kom by my op: hoe moet ons die Here dan dien dat Hy tevrede sal wees, dat Hy nie sal sê: omdat jy lou is, nie warm of koud nie, gaan Ek jou uit my mond uitspoeg (soos in Openb. 3:16)? Wel, Hy sê self dat ons Hom met ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en al ons krag moet dien – Hý moet die belangrikste wees, ons moet altyd eerste aan Hom dink en aan wat Hy verwag. Ons moet eerlik en opreg wees teenoor die Here – ons diens aan Hom moenie net lippetaal wees nie. Dit moet uit eerbied en met respek wees . Dit moet uiting vind in ons volle oorgawe aan Hom, in ons gehoorsaamheid, in ons alledaagse gesindheid, in ons diens aan ons medemens, in ons lofsange teenoor Hom. Ons moenie moeg word om te doen nie, nie verslap of lui word nie (aldus Gal 6:9), ons moet aandag gee aan die geringstes (soos Matt. 25:45 daarvan praat). Ons moenie uitgebrand en moeg raak vir ons godsdiensbeoefening nie. Ons moet gereeld stop en stilstaan en fokus op wie God is, ons moet volgemaak word met Sy karakter en veral met Sy liefde en Sy genade. Ons moet aanhou glo en aanhou hoop. “Moenie vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe.” (Rom 12:11, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 06/08/2018

Here moet asseblief nie met my opgee nie...
Ps. 25:7 "Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is."
Ek hoor hier 'n versugting by Dawid as Hy die Here se guns soek. So asof Hy wil sê: "Here, moet asseblief nie met my opgee nie."
In Romeine vertel Paulus van sy stryd teen die sonde en hy sê in Rom. 7:19 "Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek." Sien jy sy stryd?
Rom. 7:24 "Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?"
Ek dink Paulus roep ook eintlik uit: "Here, moet asseblief nie met my opgee nie!"
So dink ek jy voel dalk soms ook om saam met my uit te roep: "Here, moet asseblief nie met my opgee nie!" Ek wil so graag sê daar is niks meer wat tussen my en die Here staan nie, maar ek kan dit nie sê nie. En ja, al ken ek al die tekste oor genade en al glo ek in die algehele vergifnis van sonde, is daar soveel twyfel in my hart. Ek twyfel nie in God se bestaan nie (o ja ek het dít ook al gedoen), maar ek is nie seker of ek daardie allesoorheersende genade altyd vir my neem nie.
Gelukkig kan ek ook saam met jou uitroep: "Here, ons het ook nie opgegee in ons strewe na die oorwinning oor sonde nie". Dis 'n ewigdurende geveg tussen die goed en die kwaad in ons, maar ons weet, die Here gee nooit op met Sy kinders nie, en ons moet net nooit uit moedeloosheid opgee om te stoei teen dit wat in ons woed nie.
Rom. 4:8 "Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie." ~ Willem Botha, 02/08/2018

“Maar moenie net aan vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom ...” (Jes. 43:18-19) Die Here wil nie hê dat ons moet vashaak by die verliese, vernederings en verdriet van die verlede nie. Ons hoef nie onsself aan te hou verwyt en vas te bind aan dit wat agter ons lê nie. Ons hoef nie eens meer daaraan te dink nie, sê die teks. Die Here se genade maak alles nuut – ja, alles! In Hom is ons nuwe mense met nuwe hoop, nuwe krag, nuwe denke, nuwe drome, nuwe verwagtinge, nuwe waardes. Daarom is dit nou tyd om los te breek uit daai ou dinge en vorentoe te kyk en vorentoe te beweeg. Maak jou los van wat agter is en strek jou uit na wat voor is (soos wat Fil. 3:13 sê). Kyk, die Here sê die nuwe dinge wat Hy gaan doen, is in sig vir jou. Hou goeie moed en vestig jou oë op Hom. Hier is ’n paar van die nuwe dinge wat Hy vir jou kan doen: ’n drank- of dwelmverslaafde kan vrykom, ’n sondaar kan God se kind word, ’n dodelike siekte kan genees word, trane kan afgedroog word en hartseer kan plek maak vir hoop, donker kan lig word, bekommernis en angstigheid kan met vrede vervang word, as jy swak is, kan die Here jou sterk maak. “...dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom.” ~ Wilna Botha, 01/08/2018

Dit is wel met my siel
Ps. 121 (ou vertaling) "’n BEDEVAARTSLIED. Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand. Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie. Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid."
Hoe pragtig is hierdie Psalm nie! Ek het nou die dag dit weer in die ou vertaling gelees en die een sinnetjie het my hart baie sterk aangeraak: "... jou siel sal Hy bewaar".
Ek het die volgende beskrywing van die siel in 'n verduideliking van Dr Jimmy lê Roux gekry. "In die nouste samewerking met ons liggaam, spesifiek die werking van my brein, senuwees, sintuie en kliere, beleef ek 'n selfbewussyn, 'n ego, 'n EK".
Dis vir my meer as net die feit dat ek asemhaal en dus lewe, dis vir my die totaliteit van wie ek is. In Ps. 121: 7 sê dit: jou siel sal Hy bewaar.
Die Here het dus elke enkele deel en faset van jou lewe in Sy hand en Hy bewaar dit. Hy bewaar dit teen die bose, Hy bewaar dit teen elke aanval wat op jou mag wees.
Selfs al gaan jy deur die diepste donkerte, Hy sal jou siel bewaar. Selfs al kry jy hoe swaar, jou siel sal Hy bewaar. Selfs al val alles in jou lewe uitmekaar, jou siel sal Hy bewaar.
Selfs al twyfel jy in Sy bestaan, sal Hy jou siel bewaar. Al is jy sterwend, jou siel sal Hy bewaar. Al voel jy dat jy die stryd teen sonde verloor, sal Hy jou siel bewaar, want die dag toe jy jou lewe vir Hom gegee het, het jy ALLES - wie en wat jy is - aan Hom toevertrou. Daarom hoef jy met niks te spartel nie, want Hy bewaar jou siel.
Jy kan met oorgawe die pragtige lied "It is well with my soul" sing, juis in tye wat jy moedeloos en magteloos is. ~ Willem Botha, 31/07/2018

“As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God ... moenie bang wees nie, Ek is by jou.” (Jes. 43:2) Hierdie teks (en ander) trek beslis ’n streep deur die gedagte dat ’n kind van die Here nooit deur moeilike tye sal gaan nie, dat daar slegs mooi weer en gladde waters sal wees as jy ’n Christen is, dat jy nooit sal swaarkry, siek word of sukkel nie. Die Here sê nie in hierdie teks dat daar nié storms en gevare sal wees nie, Hy sê egter Hy stap sáám met jou daardeur, Hy sê die uitdagings van die lewe sal jou nie onderkry nie, dit sal jou nie oorweldig nie, jy sál weer anderkant uitkom. Ek sê nie rampe en swaarkry moet net afgelag word nie, natuurlik is dit traumaties en angswekkend en lewensveranderend. Wat wel waar is, is dat swaarkry-tye altyd ’n hoër geestelike doel het. Deur jou gesukkel groei jy, leer jy hoe sterk jy is en kom jy áltyd nader aan die Here. Dis in daai tye wat jy meer sal bid, meer selfondersoek sal doen, meer sal besef dat jy die Here nodig het, meer sal ervaar hoe goed Hy vir jou is, meer sal beleef hoe die mense om jou vir jou omgee. Ek het onlangs weer gesien hoedat iemand wat ’n groot operasie moes kry in elke stap die Here se krag en teenwoordigheid en voorsiening beleef het en met elke oorwinningstreetjie die Here se goedheid en wonderwerke besing het ... en die einde van die pad is nog nie eintlik in sig nie. Gisteraand het ek op TV ’n jong man gesien wat na ’n ongeluk ’n kwadrupleeg is. Hy sê hy het nie gevoel sy wêreld stort in duie nie, hy het dadelik gewéét dat hy oukei gaan wees en dat die Here hom deur sy lewe voorberei het vir daardie dag. Hy sê sy drome is nie verwoes deur die ongeluk nie, dit het net verander. Vandag is hy ’n ysterman-rekordhouer. Jóú storie sal ook goed eindig, want die Here sal alles ten goede laat meewerk.~ Wilna Botha, 30/07/2018


Ek lees nog steeds so vers vir vers deur Jesaja en het nou by hierdie stukkie goud uitgekom. Een van die mooiste beloftes. Een van die diepste trooswoorde. Een van die hoopvolste versekerings. “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep.” (Jes. 43:1) Waar jy jou ook al bevind – op of langs ’n siekbed, hand-in-die-hare omdat jy nie weet hoe om jou situasie te hanteer nie, moedeloos omdat te veel dinge skeef loop, hartseer omdat ’n geliefde weg is, bang omdat jy nie weet wat môre gaan inhou nie – weet vir seker dat die Here jou naam sê. Hy sê jou naam met deernis, met liefde, met meegevoel. Hoor dit en wees rustig. Al bevind jy jou dalk  op afgedwaalde paaie, op gevaarlike paaie, op ongehoorsame paaie – weet vir seker dat die Here jou naam sê. Hy sê jou naam met verwagting dat jy sal luister, dat jy sal terugdraai, dat jy Sy genade sal aanvaar. Hoor dit en kom terug na Hom toe. Ja, en selfs daai oomblik wanneer jy moet oorstap van hierdie lewe na die ewige lewe – weet vir seker dat die Here jou naam sal sê en jou by Hom verwelkom. ~ Wilna Botha, 26/07/2018


Spr. 4:23 (ou vertaling) "Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe." 
Wat 'n ongelooflike kragtige teks! Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word. Kom ons dink net vir 'n oomblik terug aan 2000 - 3000 jaar gelede toe die Bybel geskryf is. Wat het die mense van daardie tyd van die anatomie van die mens geweet? Hoekom staan hier nie: "Bewaak jou verstand" nie? Met jou verstand kan jy tog dink en redeneer, maar nie met jou hart nie. Hoe bewaak mens jou hart? Wel, vir my is die hart jou gevoel sentrum. Dis waar jy emosies ervaar soos 'n gevoel van liefde, of woede. Is dit toevallig dat te veel woede uitbarstings kan lei tot 'n hartaanval? 
Waarvan moet jy dan jou hart bewaak? Ek kan aan baie dinge dink. Moenie dat bitterheid in jou hart vashouplek kry nie. Oppas vir mense wat met negatiwiteit jou lewe versuur, want dit kry vastrapplek in jou hart. Moenie dat ander mense se probleme, wat hulle oor hulleself bring, jou vreugde steel nie. Moenie dat die probleme van die land jou onderkry nie. Dis dinge wat jou hart soms inmekaar laat trek. 
Nee, maak jou hart oop vir liefde vir jou mense, en hier praat ek van mense in jou direkte binnekring. Terloops, hoor jou kinders en gade gereeld dat jy lief is vir hulle? Maak jou hart oop vir die daaglikse vreugdes van die lewe. Ja, jy sal moet kies om dit raak te sien. Maak jou hart oop vir die Here, want dis eers as jy Hom in jou hart toelaat, dat daar werklike intimiteit plaasvind. 
Bewaak jou hart... want daaruit is die oorspronge van die lewe. ~ Willem Botha, 25/07/2015

“Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied, sing sy lof oor die hele aarde.” (Jes. 42:10) Sing ’n nuwe lied! Daar is voortdurend nuwe geestelike liedere wat geskryf word wat die Here se lof weer op ’n nuwe manier, met ander woorde en verskillende ritmes besing. Ons hoor dit op die radio, sien dit op YouTube, sing dit in die kerk, ens. Maar ons is nou nie almal digters en musikante wat ’n nuwe lied vir die Here kan komponeer nie, so hoe sal ons nou uiting gee aan hierdie teks? Ek dink wat dit dalk beteken is dat elke lofsang, oud of nuut, se woorde vir ons vars en nuut moet wees elke keer as ons dit sing. Moenie net daai liedjie uit gewoonte sing sonder om te luister na die woorde en dit met jou hele hart te sing nie. Fokus elke keer van nuuts af op die Here se grootheid, getrouheid, genade en almag, op wie Hy is en wat Hy kan doen. Sing die woorde asof dit die eerste keer is wat jy dit sing. Wees met elke loflied opnuut vervul met ontsag en verwondering oor die Here. Buig opnuut in eerbetoon voor Hom asof dit die eerste keer is wat jy bewus word van Sy heilige teenwoordigheid. En ja, probeer gerus ook maar om jou eie nuwe lied te sing. Dit hoef nie musikaal korrek te wees nie, glo wat jy sing en bedoel dit uit jou hart uit. Daar ís beslis elke dag iets nuuts waarvan ons kan getuig, waaroor ons kan sing, waarvoor ons die Here kan loof. ~ Wilna Botha, 24/07/2018

Gee Gee!!!!!
Spr. 30 : 15a "Die bloedsuier het twee dogters, hulle is "Gee" en Gee".
Ons almal weet van die dinge wat in die afgelope paar maande in die beleggings wêreld gebeur het toe miljarde rande in 'n enkele dag van die aandelebeurs uitgewis is, deur een persoon wat net eenvoudig nie genoeg kon kry nie. Op een of ander manier is jy wat hier lees ook daardeur beïnvloed. Hoe verskriklik is hierdie tendens nie, dat soveel mense wat SO baie besit, blatant en sonder enige gewete by armes en pensionarisse sal vat, net om hulleself verder te verryk. Ons het dit vir baie jare ook tot op die heel hoogste vlak in die regering gesien gebeur, waar dit wat beskikbaar is gewetenloos in 'n paar mense se sakke beland. Diegene wat deur die arm massas in die hoogste posisies geplaas word met hulle stemme, is die wat die ergste deurloop.
Dit lyk of geld en besittings net eenvoudig die oorhand oor mense kry. Die ergste van alles is dat soveel mense nie dink dat hulle hoegenaamd iets verkeerd gedoen het nie. Nou ja, soos jy weet het hierdie kalant wat mense se breine so benewel 'n naam, en hy word selfs 'n god genoem. Dis natuurlik Mnr. Mammon. 
Mnr. Mammon werk op verskeie maniere. Hy maak dat mense blatant ander mense uit hulle karige inkomste uit belieg en bedrieg. Hy werk op ander maniere ook, naamlik inhaligheid. Daar is 'n verskil tussen suinig en inhalig. Suinig beteken jy gee nie geld uit nie, om watter rede ook al. Inhalig is om dinge van ander te wil hê waarvoor jy veronderstel is om te betaal. Daar is slinkse maniere wat mense gebruik. 
Lank gelede vra iemand vir my dat ek vir hom moet bid omdat dit nie goed gaan in sy besigheid nie en hy sukkel om sy finansiële verpligtinge na te kom. Daar is niks verkeerd daarmee om dit vir iemand te vra nie, maar daardie persoon woon in 'n peperduur landgoed, in een van die grootste huise wat ek ooit my voete in gesit het, en die kinders is in 'n peperduur privaatskool. Ek het sommer lekker by myself gegiggel, want ek het nie geweet hoe om hierdie sakie met die Here aan te roer nie. My huis is maar net 'n gewone huis in 'n middelklas woonbuurt en my kinders in 'n gewone skool. Nou hoe op aarde moet ek nou hierdie gebed bid? Ek het dit maar liewer gelos.
Aan die ander kant kry jy mense wat my nog meer verstom. En dit is mense wat uit hulle eie armoede ander versorg terwyl hulleself onder geweldige finansiële druk verkeer. Mense wat hulle laaste bietjie uitdeel sodat ander ook kan eet. Ek het BAIE om te leer by daardie mense, want hulle verstaan wat liefde vir hulle medemens is. Mag hierdie volgende teks vir my ook waar word.
Spr. 30 : 7 - 9 "Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie." ~ Willem Botha, 23/07/2018

Ps. 117
Hierdie is die korste Psalm in die Bybel en strek oor 'n hele twee versies. Hierdie Psalm is so kort dat 'n klein kindjie dit kan memoriseer, soos wat ons dogter jare terug inderdaad gedoen het toe sy nog klein was. Toe ek vandag dink aan die Psalm het ek weer besef hoe kragtig hierdie 30 woorde is, en hoe ongelooflik mooi dit die Here se karakter opsom. 
Ps. 117:1-2 "Prys die Here, alle nasies, loof Hom, alle volke, want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie! Prys die Here!
Die woorde "... want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie" sê alles wat ek en jy nodig het om van die Here te weet. Hy is onbeskryflik lief vir jou, en Sy getrouheid ken geen einde nie. 
Lees dit weer "... want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie." 
En daarom is Hy ons lofprysing werd. Prys Hom elke dag, onder ALLE omstandighede, sien elke dag raak hoe lief Hy ons het en hoe getrou Hy is. Sien dit raak as jy in 'n warm bed geslaap het, sien Sy getrouheid raak as jy gesond is, besef dat dit wat jy geëet het, uit Sy hand kom, wees dankbaar vir gratis suurstof en doen jou werk met vreugde, want Hy is getrou deur dit alles vir jou te gee. Wees ook so lief vir ander as wat Hy vir jou is. Hy doen dit alles, want Sy liefde vir jou is sterk. Prys Hom!!! ~ Willem Botha, 19/07/2018

“Ek verander die donker voor hulle in lig en Ek maak die ongelyk plekke gelyk.” (Jes. 42:16) Die Here praat hier met blindes, mense wat geestelik blind is, mense wat Hom nie sien nie, Hom nie erken nie, nie van Hom weet nie, mense wat nie Sy genade verstaan en ervaar nie, mense wat nie gered is nie. Wanneer jy na die Here toe draai, Hom in jou lewe innooi, dan gebeur wonderlike dinge: die donker om jou en in jou verander in lig en die ongelyke, moeilike, rowwe paaie word gelyk, slaggate word opgevul, struikelblokke word weggerol. Dís Sy genade in praktyk! Jesus is die Lig vir die wêreld, sê die Nuwe Testament, niks kan Sy lig uitdoof nie. Wanneer Hy in jou lewe kom, val die skille van jou oë, word die lig aangeskakel en is jy vry. Jy sien nuwe dinge raak, die lewe het nuwe betekenis, jy het nuwe perspektief en sien die ongelyk paaie van die lewe in ’n nuwe lig. Kyk die versekering wat die Here vir ons in die laaste gedeelte van die teks gee: “Dit is wat Ek gaan doen, Ek gaan daar nie van afsien nie.” ~ Wilna Botha, 18/07/2018

Op soek na God... 
Elke mens op aarde soek na God, sommige kry Hom en ander nie. In elke enkele kultuur worstel mense daarmee en sommiges vind een of ander 'n god, of die ware God, op een of ander manier. 
Hand 17:23a "Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook 'n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan 'n onbekende god...."
Paulus stap deur Atene en kom op 'n altaar af waarop hierdie woorde staan. Dit lyk of die Ateners in hulle soeke dalk uit radeloosheid hierdie altaar opgerig het. As jy die hele hoofstuk lees sien jy dat Paulus dan van die ware God vir hulle vertel. 
Ek dink mense gaan soek God dikwels op verkeerde plekke. Hy is nie in die dikte van jou beursie te vinde nie, ook nie in volmaakte gesondheid nie en nie in totale voorspoed nie, hoewel Hy hierdie voorregte op jou uitstort wanneer Hy wil. 
God is egter ook nie weg as dit swaar gaan met jou nie, ook nie wanneer jou wêreld om jou in duie stort nie. Hy is ook nie weg as ons nie Sy stem hoor nie, want dalk hoor ons Hom nie omdat ons nie Sy stem ken nie. Hy is egter altyd te vinde in die Bybel, en ook in jou gebede, en dalk het ons net nodig om heeltemal stil te word om Sy stem te hoor. 
Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy uitgeroep "My God, my God, waarom het U my verlaat? Daarna het die voorhangsel geskeur sodat ons direk tot Hom toegang het. 
Daarom is Hy nie weg nie, Hy wag elke oomblik vir my en jou. ~ Willem Botha, 17/07/2018

“’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.” (Jes. 42:3) Hier word in Jesaja gepraat van Kores, die dienaar wat God aanstel om Sy volk te help en te lei en te red. Dit verwys natuurlik uiteindelik ook na Jesus , soos wat die vervulling daarvan in Matt. 12:20 beskryf word. Dit verwys na God se wonderbaarlike genade. Dit beskryf Jesus se oneindige liefde vir sy volgelinge.  Geen sondaar kan té sleg wees om God se genade te ontvang nie. Geen verlorene kan té vêr afgedwaal wees om deur God gered te word nie. Geen hart kan té hard wees om deur die Here vernuwe te word nie. Al is die riet geknak, die Here sal hom nie afbreek nie en Sy rug draai nie. Sy genade is altyd daar, Sy liefde wíl en kan en sal weer uitreik na die geknakte riet. Sy krag sal hom weer regop tel en nuwe lewe in hom bewerk. Al brand die lamppit van jou lewe hoe dof, die Here sal dit nie uitblaas nie. Hy sal deur sy omgee en medelye en barmhartigheid die vlam vertroetel en aanblaas totdat dit weer helder skyn. Kom pak jou onvolmaaktheid op Jesus af – jy sál vir seker genade op genade ontvang. ~ Wilna Botha, 16/07/2018

Luister wat sê die Here vir jou: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (Jes. 41:10) En dan sê Hy dit wéér in vers 13: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ek help jou. Moenie bang wees nie.” Drie keer sê Hy: moenie bang wees nie. So, wat maak jou bang? Waaroor lê jy en bekommer in die nag? Wat is dit wat jou keel toedruk en jou in koue sweet laat uitslaan? Wat is dit wat jou die gevoel gee dat alles buite beheer is, jy kan nie meer uithou nie en jou voete gly? Is jy bang vir die onbekende en dit waaroor jy geen beheer het nie? Is jy bang jy verloor jou werk of jou gesondheid of een van jou geliefdes? Is jy dalk bang om standpunt in te neem en stroomop te swem? Is jy bang vir ’n eksamen, werksonderhoud of ondervraging wat voor jou lê? Is daar iets wat jy nie kans sien om te doen nie? Is al jou hulpbronne uitgeput – geen krag, geen geld, geen raad en geen planne? Hoor vandag die rustige stem van jou Skepper wat sê: moenie bang en bekommerd wees nie. Kyk waarop kan jy reken: Hy maak jou sterk, Hy help jou, Hy hou jou vas, Hy vat jou hand, Hy red jou. Daar in jou stresvolle oomblik, probeer in jou geestesoog sien hoe die Here by jou is en jou aanmoedig om te doen wat jy moet doen. Die beste raad vir vrees en bekommernis is die wete dat jou God by jou is. Hy gee nie noodwendig die antwoorde nie, Hy gee Homself. Aanvaar dit in geloof.  ~ Wilna Botha, 12/07/2018

Ouderdom
Is daar 'n positiewe manier om na ouderdom te kyk? Wel, vir seker, hang net af van mens se gesindheid. 
In dieselfde deel uit Prediker 12 waar die proses van oudword beskryf word, kom baie goeie raad, en dit in hoofstuk 11.
Pred. 11:7-10 "Hoe mooi is lig nie, en hoe lekker die strale van die son. As iemand lank leef en oud word moet hy die lewe geniet. Hy moet egter ook aan die dood dink en onthou dat die tyd na die dood lank gaan duur. Alles is sinloos. Daar is niks om na uit te sien nie. Jongmens, geniet daarom jou lewe en wees altyd gelukkig. Gaan oral waar jou hart en jou oë jou lei. Leef altyd voluit. Doen waarvan jy hou. Maar onthou, God sal jou nog oordeel. Jy sal aan Hom rekenskap moet gee van alles wat jy doen. Jongmens, verban alle verdriet en pyn uit jou hart, 'n mens is nie vir altyd jonk nie."
Is dit nie waar nie? Ek hou baie van die woorde: "... verban alle verdriet en pyn uit jou hart." Ja natuurlik sal daar verdriet en pyn kom wat nie deur jou eie toedoen is nie, maar soms tob ons te veel oor onnodige dinge.
Ouer word help mens om verby 'n klomp nuttelose dinge te kyk.
Ek veg teen dinge wat in my kop kom nes skrop soos 'n plakker wat nie huur betaal nie. Mense se negatiewe opinies raak al hoe minder belangrik. Die mooiste en grootse huis in die buurt beteken niks meer nie. Om dinge te vergader wat mooier is as die "Jones's next door" se goed, het geen waarde meer nie. Inteendeel, dit staan in die pad. Daar is nou meer tyd (en dalk selfs 'n paar rand) as ooit tevore om lekker goedjies te doen, en ons doen dit. 'n Lekker eet dingetjie op sy tyd gaan my nie nou gouer doodmaak as wat die ouderdom in elk geval gaan doen nie. En die rotresies? Nee wat, ek het besef ek is g'n rot nie, en ons leef volgens die teks wat sê: "Woon en werk rustig voort". So is daar vele dinge wat net nie meer dieselfde waarde het as wat dit vroeër gehad het nie. 
Soveel vir die aardse goed. Op Geestelike vlak hardloop ons nie meer agter "nuwe" strominge aan nie en staan vas gewortel in ons geloof. Op ons ouderdom word ons nie meer deur ander se opinies meegesleur nie en draf nie meer agter mense met nuwe "insigte" aan nie. Ons Geestelik lewe is nou op 'n rustige en standvastige vlak.
Hoe lyk die toekoms? Mens kies self of die pad voor jou toemaak of oopmaak. Vandag is die dag wat jy die oudste is as wat jy nog ooit was, en die jongste van wat voor jou lê. Dit help nie om te leef in die toekoms nie, leef nou.
Elke dag se kersie word aan die einde van die dag doodgeblaas, en net die Here weet hoeveel is oor. Ek het geen begeerte om daardie kennis te hê nie.
Soos iemand tereg gesê het: "Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a blessing."
Mag die Here jou seën met vele "today's". ~ Willem Botha, 11/07/2018

Ouderdom
Ek het al so baie gewonder hoekom oudword en doodgaan met soveel swaar gepaard moet gaan. Hoe ouer ons word, hoe moeiliker raak die lewe en die een wat agterbly in 'n huwelik gaan deur intense verdriet en eensaamheid. Ek dink soos die jare aanstap begin vrees vir "eendag" aan ons almal kou. As ons 80 jaar oud word leef ons so 29200 dae, en as jy verby die eerste 20000 dae trek, raak dit nogal moeilik.
Ek het met 'n vorige stukkie 'n teks uit Prediker 12 aangehaal en wil nou graag die hele deel uit Die Boodskap vir jou gee om te lees.
Pred 12 : 1 - 8 "Dink aan God wat jou geskep het terwyl jy nog jonk is. Voordat die swaar dae kom en jy sal sê: "Die lewe is nie meer lekker nie." Dit is daardie tyd in 'n mens se lewe wanneer die son se strale vir jou dof begin word en jy die maan se lig en die sterre se geflikker in die aand skaars nog kan sien. Dit is wanneer jou hande begin bewe, die bene moeilik loop , die tande moeilik kou omdat hulle so min is, en die oë sleg sien, die ore nie meer die straat se geraas hoor nie, die stem sagter en dowwer word. En as die voëls vroegoggend begin koer, staan jy op sonder dat jy hulle eens hoor. Dit is wanneer jy vir steil opdraendes en baie ander dinge bang word omdat jy te swak geword het. En terwyl die amandelboom bloei, die sprinkaan hom vol eet en die kapperkruid blom, sterf die mens. In die strate sal hulle die doodsberig vertel. Dan sal hulle saamkom om hom te begrawe. Dit is soos 'n silwertou wat afbreek by 'n put, soos die goue skepemmer wat breek, soos die drinkbeker wat stukkend breek en soos die wiel wat by die put inval. Dan word die mens weer stof soos vroeër , en sy lewensasem gaan terug na God toe waar dit vandaan gekom het. Die lewe is sinloos. Absoluut sinloos, so sê die Prediker."
Sjoe, dit klink darem vreeslik neerdrukkend of hoe? Maar ongelukkig is dit 'n realiteit waarmee ons almal sal worstel. 
Met my volgende dagstukkie kyk ons op 'n meer positiewe noot hierna. ~ Willem Botha, 10/07/2018

“Hy gee vermoeides krag, hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” (Jes. 40:29-31) Hierdie is ook een van daai goue verse in Jesaja wat seker in almal se Bybels onderstreep is. Wanneer ons aan die einde van ons krag en vermoëns, ons beskikbare energie en dryf, ons eie wysheid en raad gekom het, dán raak mens bewus van die bomenslike krag en herstel wat intree, daai volgende rat wat inskop. En jy weet dit kom net van die Here af. Dis Hy wat jou voete weer lig maak soos ’n ribbok en jou op hoë plekke laat loop. En ja, soos die teks sê gebeur dit selfs met jongmense. Veral in vandag se tye is die druk op jongmense om te presteer en die leer van die lewe te klim groot. Wanneer jy uitgeput en uitgebrand voel, draai na die Here - sy juk is sag en sy las is lig. Vertrou op Hom, raak stil by Hom, vra Hom en Hy sál weer vir jou nuwe krag en arendsvlerke gee.  ~ Wilna Botha, 09/07/2018

"Liewe Jesus het my man kom haal..." 
Dis 'n boodskap wat ek vanoggend gekry het nadat 'n vriend verlede nag oorlede is aan kanker. Dit het my laat terugdink aan 2004 toe my pa oorlede is. Ons as familie het langs sy sterfbed gestaan toe hy sy laaste asem uitblaas. 
Onmiddellik het my nuuskierige tegniese brein probeer om te verstaan hoe die Here 'n mens kom haal. Wat het Hy kom haal? Was Hy daar? Die hele tyd? Hoe verlaat die gees die liggaam en hoe word die gees in die hemel opgeneem? Is jy onmiddellik daar of is daar 'n wagtydperk totdat Jesus weer kom? Daar is baie argumente daaroor en ek raak glad nie daarby betrokke nie. Maande het egter verbygegaan en ek kon geen antwoord kry nie. 
En toe, een oggend baie vroeg ry ek in my motor en ek weet ek het nie eers aan my pa, of die dood gedink nie. Skielik, soos 'n kort video wat in my kop afspeel kom die volgende "beeld" by my op waar ons almal by my pa staan, en skielik is daar 'n engel tussen ons wat sy hand na my pa uitsteek en sê: "Kom Roelf, dit is tyd." 
Net dit. En so vinnig as wat die gedagte kom was dit weer weg. Ek onthou dat ek net geglimlag het en gesê het: Dankie Here. Dit was die antwoord wat die Here vir my gegee het en dit was genoeg en ek het totaal vrede gekry oor my vraag. Ek beweer nie dat dit is hoe dit regtig in praktyk werk nie, maar dit is al wat ek nodig gehad het. 
Liewe Jesus het gisteraand my vriend kom haal, en dis al wat ons nodig het om te weet. Sy saak met die Here was reg en ek weet hy is nou by Hom. Waar, of hoe dit ook al werk. 
Pred 12:6-7 "... die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val, die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het." ~ Willem Botha, 05/07/2018

“Waarom kla jy... die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby?” (Jes. 40:27) Die meeste van ons kom die een of ander tyd in daai situasie waar jy die Here bevraagteken – dinge gaan nie soos jy gehoop het nie, dit lyk of die Here nie sy belofte gehou het nie, of Hy nie omgee vir jou noodroep nie, of Hy van jou vergeet het, of Hy onregverdig optree. Wees maar versigtig, want soos met Job, kan die Here dalk vir jou sê: “Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My.... waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het ... wie het die aarde afgemeet ... wie het die see opgedam ...” ens. (lees Job 39) Of soos hier in Jes. 40:28 : “Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.”  Onthou maar net dat al lyk dinge erg buite beheer en heeltemal hopeloos, God is God en Hy is in beheer en Hy weet wat Hy doen. Sy gedagtes is nie ons gedagtes nie, Sy tyd is nie ons tyd nie.  Hy weet wat die beste vir ons is en sál alles ten goede laat meewerk. Hy ken die toekoms en is altyd besig  om ons harte en gedagtes te vorm en te vernuwe om in Sý planne te pas. As jy dít kan glo en jou daaraan kan onderwerp, sal dit makliker wees om geloof te behou en die lig aan die einde van die tonnel raak te sien. Dan kan jy soos Job antwoord: “Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.” (Job 42:2) ~ Wilna Botha, 04/07/2018

Ek het vandag net weer besef dat lewe op hierdie aarde nie altyd maanskyn en rose is nie en dat mense (ja ook kinders van die Here) bitter swaar kry. 
'n Vriend is in 'n geweldige stryd met siekte gewikkel, 'n bekende Gospel sanger sterf ná 'n kort siekbed en laat sy familie agter, misdaad tref onskuldige mense en 'n gebrek aan geld veroorsaak beproewing by mense. En intussen gaan dit met my en my gesin net goed. 
Ek het vandag gewonder of dit nie beter sal wees as die Here swaarkry eweredig kan verdeel tussen alle mense nie, want as ons elkeen 'n bietjie van hierdie laste dra sal dit steeds oorwegend goed gaan met almal. Dit staan tog so in die Bybel. 
Gal. 6:2 "Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus." 
Maar wat beteken hierdie teks? Moet elkeen dan 'n bietjie siek wees? Moet ek my huis verkoop sodat iemand anders syne kan behou? Gaan iemand anders se huweliksprobleme effe beter wees as ek my huwelik afskeep? 
Nee, dis nie wat dit beteken nie. Om iemand se laste te dra beteken nie dat ek sy juk van hom afhaal en op my sit nie. Dit beteken nie dat ek namens iemand anders sy pad stap nie. Dis in elk geval iets wat net Jesus kon doen. Die tweede deel van die teks sê:... "en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus." 
Die wet sê jy moet die Here liefhê en jy moet ook jou naaste liefhê. Dus, loop saam met iemand sy pad, loop langs hom, bemoedig hom, bid vir hom en wees daar vir hom. Wees 'n oor wat luister, maar vermaan ook waar nodig want soms laai mense ondraaglike laste op hulleself agv verkeerde besluite en dade. Juis dan kan jy nie daardie las namens iemand dra nie. Soms is daardie bietjie aanmoediging en bemoediging al wat iemand nodig het om sy las te verlig. ~ Willem Botha, 04/07/2018

“Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige.” (Jes. 40:25) Natuurlik wil ons antwoord: met niemand nie, daar is niemand soos U nie! Ons weet, ons het gehoor, ons het gesien, ons het beleef hoe groot en hoe wonderlik en hoe almagtig ons God is. Hy het die waters in die holte van sy hand afgemeet. Hy het met die breedte van sy hand die hemel bepaal. Hy kan sê hoe swaar die berge weeg. Hy kan sê hoeveel grond daar op die aarde is ... niemand anders kan nie! En dis met daardie einste hand wat Hy jóú red. Dis daardie einste hand wat altyd onder jou is om jou te vang as jy val, wat altyd bo jou is om jou te seën, wat rondom jou is om jou te beskerm, wat jou vashou in onseker tye, wat jou aanraak om jou te genees of te troos of jou trane af te vee. Daar is niemand soos Hy nie, niks om Hom mee te vergelyk nie! Mag jy ook weer vandag, soos ek, vol verwondering Sy lof besing. ~ Wilna Botha, 02/07/2018

Hoor God se stem 
Het jy al God se stem gehoor? Het jy al ervaar dat God met jou praat? Om vir jou 'n spesifieke woord, of opdrag, of 'n woord van bemoediging te gee? Ek is seker dat ons almal sekerlik smag om op een of ander manier God se stem te hoor. En ek is seker ons almal smag daarna dat die Here spesifiek met ons praat.
Ek dink baie mense het 'n idee oor hoe en wanneer God met ons praat. En voorts het ons die probleem dat ons dink God moet net presies sê wat ons wil hoor. Mense dink ook dis net spesiaal as God op 'n bonatuurlike manier manier praat, soos met Moses by die brandende braambos. 
God praat op heel gewone maniere. Lees jy die Bybel praat God mos direk, in gewone woorde jou. As ons bid praat Hy soms met jou deur die gedagtes wat by jou opkom. Soms praat Hy deur situasies en soms self deur ander mense, maar hier moet mens uiters versigtig wees. 
Nie almal wat beweer dat hulle 'n woord van God vir jou ontvang het, spreek regtig God se woorde nie. En nie al die "profetiese" woorde wat mense uitspreek kom van God nie. 
Jer. 23 : 16 "So sê die Here die Almagtige: Julle moenie luister na wat die profete sê nie, die profete wat vir julle as profete optree. Hulle wek vals verwagtings by julle, hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink, nie oor wat die Here sê nie." 
Soms moet ons geduldig wees om God se stem te hoor. 
Onthou:
1. Soms moet ons wag! Wees geduldig om God se stem te hoor!
2. Mens kan die beste hoor as jy doodstil bly. Wag dikwels in stilte op die Here.
3. Wees bereid om God se antwoord op 'n versoek te aanvaar. Soms sê Hy nee!
4. Gaan doen wat Hy sê jy moet doen! ~ Willem Botha, 28/06/2018

“Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors. Hy sorg vir die lammerooie.” (Jes. 40:11) Ai, hierdie is darem maar net die mooiste beeld van die Here se liefdevolle versorging vir sy kinders. In sy arms, teen sy bors – so dra Hy jou, so bewys Hy genade en liefde aan jou, so troos Hy jou, so hou Hy jou vas – ja, selfs al gaan jy deur ’n  dal van doodskaduwee. Hy sal 99 skape los om die een verlore een terug te bring. Hy soek dié wat weggeraak het, gaan haal dié wat verdwaal het, Hy versorg die wonde van dié wat seergekry het, Hy help die swakkes (sien Eseg. 34:16) Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit (Joh. 10:3). Hy lei hulle na groen weivelde waar hy vir hulle die beste versorging, rus en vrede in oorvloed gee. Die Herder is nooit ver nie. Die Herder is heeltyd betrokke by sy kudde. “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” (Joh. 10:11) ~ Wilna Botha, 27/06/2018

Wierook 
Wierook het 'n besondere geur wat 'n kamer vul as jy daaraan blootgestel word. As jy iewers kom waar wierook brand, kan jy dit nie mis nie. Lees hierdie teks 'n paar keer deur en kyk watse waarheid hier aangespreek word. 
2Kor 2:15 "Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan."
Hoe pragtig is die nie? Ons, ek en jy wat gered is, word soos wierook deur Christus vir God gebrand om 'n wonderlike geur af te gee wat Hom sekerlik geweldig behaag. Maar dis nie al nie, daardie geur bereik die hele wêreld, die gereddes sowel as die ongereddes. Jy weet sommer as jy in die geselskap van 'n kind van God is, want daardie geur bereik jou onmiddellik. Maar daardie selfde geur bereik ook diegene wat nog nie by God uitgekom het nie. Vele mense se lewens word daagliks aangeraak deur kinders van God wie se wierook gebrand word. 
Daarom moet ons daardie geur orals versprei waar ons kom, want ons weet nie of hulle ook wierook gaan word wat deur Christus vir God gebrand gaan word nie. En wat ook ander gaan bereik, wat 'n kettingreaksie tot gevolg sal hê. ~ Willem Botha, 27/06/2018

“Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.” (Jes. 40:8) Geen tyd wat verloop, geen nuwe idees, geen geleerdheid, geen verdagmakery kan die Woord van die Here vernietig of oud-modies en uitgedien verklaar nie. Die hele Skrif is deur God geïnspireer sê 2 Tim. 3:16 – daarom aanvaar ek die Bybel as God se woorde en ek glo dit met my hele hart. Ek glo in die krag van die Woord. Ek weet dis ’n tweesnydende swaard wat die brandpyle van die bose kan afweer. Ek weet dis saad wat honderdvoudige vrug kan oplewer. Ek weet ek kan dit oor en oor lees en altyd iets nuuts hoor, want dit is woorde wat deur die Gees lewendig gemaak word vir vandag. Ek weet dis ’n rigtingwyser want dit gee praktiese raad vir die alledaagse lewe. Ek weet dit bevat honderde beloftes van troos en bemoediging wat my kan oplig in donker tye. “So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” (Jes. 55:11) ~ Wilna Botha, 25/06/2018

Almal van ons gaan soms deur swaar tye waar dinge net te veel word. Dalk het jy ook al gewens jy kan net iewers in 'n grot inkruip waar niemand naby jou kan kom nie en waar jy net kan wegkruip van hierdie wêreld. In Ps 5 lees ons dat Dawid so effe beswaard is oor mense se onreg teenoor hom. Dan kom hy met hierdie woorde vorendag. 
Ps. 5:12 "Maar laat almal wat by U skuil, bly wees, laat hulle altyd jubel. U beskerm dié wat u Naam liefhet, en hulle juig oor U." Dawid kom hier tot die slotsom dat God die Een is wat hom beskerm, vashou en die enigste skuiling is wat hy nodig het. 
Dus, as jy voel jy wil vlug, vlug in God se arms in, want daar is jy veilig. ~ Willem Botha, 22/06/2018

“Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier.” (Jes. 35:3-4) Jy weet seker net so goed soos ek hoeveel ellende en swaarkry en moedeloosheid daar in ons wêreld is. Mens voel dikwels so hulpeloos as jy nie almal kan help nie of as jy nie weet wat om vir só iemand te sê nie. Onthou jou belangstelling en gewillige oor, jou stilstaan en meegevoel kan vir so ’n persoon alreeds die wêreld beteken. Dinge wat jy al  beleef het of waardeur jy al moes werk, is ervaring wat jy in aksie kan stel om iemand anders te bemoedig en hulle hande sterk te maak. Ons kan nie almal se probleme oplos nie, maar ons kan hulle moed inpraat met die woorde van die teks: Wees sterk, moenie bang wees nie, jou God is hier. Moenie twyfel dat dit ’n invloed sal hê nie. Dit sál, want dit is God se woorde. ~ Wilna Botha, 20/06/2018

Fort genade
As ons sondig, sondig ons teen God, en dis nie wat Hy in gedagte gehad het met die skepping nie. Die mens se keuse het vir hom die deure na 'n volmaakte lewe toegemaak. Dis vir my altyd so asof my sondes 'n direkte aanval op die Here is en dis alles behalwe 'n lekker gedagte.
Ek kry 'n beeld in my kop van 'n reuse weermag wat dag vir dag die fort aanval waar die Koning gehuisves word, maar die pantser rondom hierdie reuse fort is absoluut ondeurdringbaar. Hoe hard hierdie bose weermag ook al probeer om die Koning te benadeel is daar net absoluut geen sukses nie. So is dit met ons sondes wat net eenvoudig geen hond haaraf maak teen die skanse van hierdie fort nie. Die Koning het self hierdie skanse ontwerp en dis net eenvoudig een te veel vir ons sondes. Daardie skans se naam is GENADE, wat opgerig is deur Jesus Christus, die Seun van die Koning. 
Rom 5:20 (The message) "But sin didn’t, and doesn’t, have a chance in competition with the aggressive forgiveness we call grace. When it’s sin versus grace, grace wins hands down."
Kan jy sien dat sonde net eenvoudig geen kans staan teen genade nie? Dis 'n begrip wat vir my totaal onverstaanbaar is, maar ek moet dit glo want die Here sê so. Miskien is dit so moeilik om te aanvaar omdat dit gratis is. Aangesien daar dus geen koopmiddel beskikbaar is om dit te verkry nie, moet ek maar net staatmaak op my geloof daarin. ~ Willem Botha, 19/06/2018

“Die woestyn, die dor land sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille, hy sal in volle bloei staan, hy sal juig en sing.” (Jes. 35:1-2) Sjoe, hierdie bly vir my een van die mooiste tekste in Jesaja. Mens sien mos baie keer hoedat iemand begin blom en oorloop van vreugde as die Here in hulle lewens kom. Klip harte word sag. Fronse verdwyn. Sleepvoete word lig. Oë straal. Het jy ook al beleef dat iemand baie siek is, of ’n groot verlies gehad het, maar as hulle van die Here praat dan straal hulle gesigte en verhelder hulle oë. Mens sien sommer daai affodille geil staan te midde van die pyn en vernedering. In die Here is daar altyd nuwe hoop en moed. In die Here het jou lewe altyd sin en betekenis. Dit laat my ook dink aan die woorde van Jes. 61:3: “He sent me to give them flowers in place of their sorrow.” Ek hoop as jy jouself dalk vandag in die een of ander woestyn bevind dat jy verby die dorheid en droogheid sal kan kyk en in jou geestesoog alreeds die mooiste affodille sal sien blom. Ek hoop dít sal jou rede gee om te juig en sing. ~ Wilna Botha, 18/06/2018

Ek kan nie meer nie... 
Iemand het 'n ruk terug hierdie woorde vir my gesê. Ek dink daar is baie mense wat op 'n punt kom waar daar net geen lig in die tonnel oorgebly het nie, geen hoop en geen vooruitsig vir beter dae nie. 
Ek lees hierdie teks in Jeremia. 
Jer. 20:14-15 "Vervloek is die dag waarop ek gebore is, die dag waarop my ma my in die wêreld gebring het; mag dié dag altyd sonder seën wees. Vervloek is die man wat vir my pa die berig gebring het: “Jy het 'n seun,” 'n berig wat hom baie bly gemaak het."

Wat sê jy vir so iemand? Was jy ook al in die situasie wat jy nie eers meer weet wat om te bid nie? Het jy ook al gewonder hoekom die Here se uitkoms net wegbly? Woorde van troos is so maklik om te spreek, dis so maklik om tekste vir so 'n desperate persoon voor te hou en dis so maklik om te probeer troos as jy nie self in moeilik omstandighede is nie. 
Maar wat bly oor? Menslike woorde het tog geen krag nie en daar is tog niks wat die mens het om aan te bied nie. Dis dan wat jy besef dat om maar net weer terug te draai na God toe, die enigste alternatief is. En om dan te wag vir uitkoms. Wag, wat so bitter moeilik is en minute soos jare voel. Hoeveel kan die mens hanteer? Niks! Of liewer niks sonder God nie. Gryp Hom weer vas en moenie Hom los nie, want al voel dit nie so nie, het Hy ons nooit gelos nie 
· Jos. 1:5 "Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie." 
· Ps. 91:15 "Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor, in sy nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in sy eer herstel". 
· Jes. 41:10 "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou. Ek help jou, Ek hou jou vas, met My eie hand red Ek jou"
· Deut. 33:26-27 "Die ewige God is 'n skuilplek, Sy arms is altyd onder jou". ~ Willem Botha, 14/06/2018


“Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van nood.” (Jes. 33:2) Elke nuwe dag wat jy jou oë oopmaak lê onbekend en onseker voor jou. Jy kan jou dagboek-planne hê, jou drome en spertye vir die dag, maar jy weet glad nie wat regtig in die volgende uur kan gebeur wat alles kan deurmekaar krap nie. Ons weet mos slegte nuus kan enige tyd aangekondig word, dinge kan skeef loop en groot besluite kan vinnig geneem moet word en dan moet ons gereed wees om dit te hanteer. Daarom dink ek ’n gebed soos in Jes. 33:2 moet elke môre ons versugting wees. Wat die dag ook al kan oplewer, die Here se krag en genade sal dáár wees en genoeg wees vir jou. Watter slegte hobbel of storm daar ook al kan wag in die volgende 24 uur, die Here is vóór jou daar en Hy sál jou daardeur dra. “Wees ons genadig, Here, ons vestig ons hoop op U.” ~ Wilna Botha, 13/06/2018

Onsin!!!
Ek is seker jy was ook half moedeloos as mense nie verstaan hoekom jy in God glo en die Bybel vir soetkoek opeet nie. Hoe meer jy verduidelik hoe minder impak maak dit. Wel, uit die aard van die saak het die Bybel ook daarop 'n klinkklare antwoord.
1 Kor. 1 : 18 "Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God."
Dis so eenvoudig, as jy nie die Gees van God het nie is dit onsin en onmoontlik om dit te verstaan. Ek voel 'n mens is heeltemal van sy sinne beroof as hy met 'n valskerm uit 'n vliegtuig spring, maar dis net omdat ek dit nog nooit probeer het nie en daarom kan ek dit nie verstaan nie. Maar dit lyk my ek is dalk verkeerd.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoekom jy kan bid tot 'n God wat jy nie kan sien nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoe jy kan bid vir genesing terwyl daar geen hoop meer oor is nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoekom mense gestremd gebore word, en dan boonop die Here dien met hulle hele harte nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, verstaan nie hoe jy kan dankbaar wees teenoor die Here vir dinge wat in elk geval waar sou word nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoe boere bid vir reën, terwyl die weerpatrone wys dat dit totaal onmoontlik is. 
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan dat jy dinge vir ander doen wat net totaal onlogies is, en wat vir jou geen voordeel bring nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan dat jy dankbaar kan wees as slegte dinge op jou pad kom nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, verstaan nie hoe jy kan uitsien na 'n hiernamaals wat onsigbaar is nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan dat jy kan glo in die Woord van God, wat eeue gelede geskryf is deur gewone mense, en boonop glo dat dit alles vandag nog steeds van toepassing is.
Jy sien, as daardie reuse voorwaarde van Gees vervulling nog nie gekom het nie, is geloof net totaal onmoontlik. Maar moet tog nie die fout maak om mense af te skryf wat dit nie het nie, want Paulus het ook nie geweet dat hy een goeie dag op pad Damaskus toe die Gees ongevraag gaan ontvang nie. ~ Willem Botha, 13/06/2018


“So sal dit wees totdat die Gees van Bo af op ons uitgestort word.” (Jes. 32:15) Daar word in Jes. 32 beskryf hoe sleg dit met die volk gaan. Vers 15 kondig egter die draaipunt aan na nuwe, beter, wonderbaarlike dinge wat gaan volg wanneer die Gees van God uitgestort word. Die woestyn sal ’n digte vrugteboord word, die volk sal in vrede woon en veilig wees, sonder sorge, dit sal goed gaan al is daar steeds storms. Dís wie die Heilige Gees is. Die Trooster, die Helper, die Rigtingwyser, die Leermeester, die Vredegewer, die Lewegewer. Joh. 7:38 sê strome lewende water sal uit ons binneste vloei – dis die Heilige Gees! Ons moenie die krag van die Gees in ons lewens miskyk nie. Ons moenie die borreling van die Gees in ons onderdruk of ontken nie. Ons moet nooit twyfel dat ons wel die Gees ontvang het nie! Kyk, Joh. 7:39 sê: “... die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang.” As jy twyfel of jy die Gees het, bid en vra die Here om jou te vervul met Sy Gees. Hy sál dit doen. “Vra en vir julle sal gegee word... Elkeen wat vra, ontvang ... Hy sál die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Luk. 11:9-13) ~ Wilna Botha, 11/06/2018


Klippe
Gaan haal 'n klip in jou tuin en sit hom op jou lessenaar by die werk neer. Iemand gaan verseker vir jou vra hoekom die klip daar is. Vra dan vir die persoon of hy iemand ken wat so 'n klip kan maak (of self kan maak), met sy eie basiese grondstowwe, nie dié in die natuur nie. Natuurlik is die antwoord nee. Sê dan vir die persoon dat jy die Persoon ken wat daardie klip gemaak het. Nie net een soos daardie nie, daardie spesifieke een, met Sy eie hande. Jy ken daardie Persoon, en Hy ken jou by jou eie naam. 
Die klip kon tog nie net self daar gekom het of ontwikkel nie, net so min as wat jou Bic pen sommer vanself op jou lessenaar beland het en vanself (sonder 'n skepper en ontwerper) gevorm het.
Hoe eenvoudig en waar is hierdie volgende teks in Lukas nie. 
LUKAS 19:38 - 40 Hulle het gesing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” 'n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: “Meneer, maak stil u volgelinge!” Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep."
Die klippe sal dit uitroep en roep dit elke dag uit. Mense stamp daarteen en val daaroor, dit word gebruik om strukture mee te bou en selfs om mekaar mee te gooi, maar tog besef die mens nie dat hierdie eenvoudige klip die bestaan en grootheid van God uitskree nie. Die mens is so nuuskierig om te weet wat in ons heelal aangaan en mense soek God op die mees vreemde plekke, maar intussen roep die klippe dit uit. Hulle is volop in die natuur, op jou erf en dalk op jou tafel, maar mense hoor nie die uitroep van die klippe nie, want hulle wil nie hoor nie. Maar die klippe hou nie op om te getuig nie. Ons moet ook nie. ~ Willem Botha, 07/06/2018


“Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jes. 30:21) Ja, ons ken daai stem. Die stem van die Heilige Gees wat in jou gewete praat en jou hart roer wanneer jy die regte koers verlaat. Die stem van die Woord wat vir jou rigting gee wanneer jy na die verkeerde kant toe neig. Die stem van jou vriende en huismense wat saggies waarsku wanneer jy verkeerde besluite maak. Die stem van die onvrede in jou binneste wanneer jy die verkeerde afdraai gevat het. Dit alles is die Here se stem wat jou subtiel die regte pad wil wys. Dit gee my soveel gemoedsrus om te weet dat die Here my nie op my afgedwaalde paaie sal los nie, my nie sal los om sélf weer die pad te vind nie. Nee, Hy is dáár langs my op my pad waar ek elke dag loop. Sy hand, Sy krag, Sy wysheid lei my op die regte weë. Ek bid net dat ek altyd duidelik sal hoor en gehoorsaam sal wees wanneer Hy sê:  Hier is die pad, loop hierlangs. ~ Wilna Botha, 06/06/2018

Die Here sal sorg
Luk. 17:22 - 25 "Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng?"
'n Pragtige teksgedeelte en uiters gewild. As ek nou hier gestop het was daar baie positiewe reaksie op hierdie boodskap en mense sou met groot verwagting daaraan vasgeklou het. En ja, natuurlik is dit waar en ek dink ons elkeen kan getuig dat dit al in sy lewe waar geword het. Die Bybel sê immers so.
Maar, daar is nog ander teksgedeeltes wat ons nie graag saam met dit wil lees nie, want dit is nie so gewild nie en haal ons bietjie uit ons gemaksone uit.
1 Tim. 6 : 8 "As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees."
Geen luukshede nie, geen privaat mediese sorg, of 'n motor, of vakansies, selfs nie 'n eie huis nie, niks geld in die bank nie geen pensioen om mee af te tree nie, geen huishulp nie en geen vermaak nie. Wel, as ek so na hierdie teks kyk, beteken die Here se versorging regtig die mees basiese waaraan jy kan dink.
Dus, as ons staatmaak op die Here se belofte rondom versorging moet ons nie meer verwag as dit nie. Maar... dit beteken nie dat ons nie hierdie dinge kan hê nie, want as die Here vir jou gesondheid gee, is die verpligting op jouself om vir hierdie dinge te werk. As die Here vir jou krag gee om voorsiening te maak vir die toekoms, is Hy mos besig om jou te versorg sodat jy nie 'n las vir ander moet wees nie. Ek sien so baie dat mense voel dat die Here vir hulle luukshede skuld, selfs al moet dit uit ander se sakke kom.
Nee, die Here se belofte maak voorsiening vir kos en klere, en Sy genade wat Hy gee vir goeie gesondheid, is al wat ons nodig het vir die ekstras wat ons graag wil hê. Ons klou graag vas aan voorspoed teologie want dis mos lekker om dit te glo en te hoop op oorvloed, maar die realiteit is effe anders.
Die vraag is, waarmee is ons tevrede? ~ Willem Botha, 05/06/2018


“Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor.” (Jes. 30:19) Ja, die Here luister as ons na Hom roep. Hy gee ag op ons smeekgebede en ons skietgebede. Hy verhoor ons gebede. Maar kyk wat word bygevoeg in hierdie teks: sodra Hy dit hoor. Ons móét bid, al sê die Bybel die Here weet wat ons nodig het nog voordat ons vra. Hy wil ons gebede hóór! Bid, al is die sinne skeef en die woorde stamelend. Bid, al het jy nie mooi woorde nie. Bid, al voel jy jou gebed gaan nie vêrder as die plafon nie. Bid, al twyfel jy of die Here gaan help. Jesus sê in Luk. 18 ons moet altyd aanhou bid en nie moedeloos word nie. Op ander plekke sê die Woord: bid gedurig, volhard in gebed. Bid sélf en moenie net staatmaak op die gebede van ander nie. “Vra en vir julle sal gegee word ... elkeen wat vra, ontvang.” (Luk. 11:9) ~ Wilna Botha, 04/06/2018

As iemand vir jou goeie nuus gee sê ons mos graag: "Ek is bly". So 'n snaakse kort woordjie - bly. Kom van blydskap af. 'n Woord wat genoegdoening aandui, 'n aangename gevoel wat in jou opwel, vreugde, vrede, dankbaarheid, lekkerte. 
Fil. 4:4 "Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!" 
As jy nou vir my vra waarvoor ek bly is, kan ek jou vir die res van die dag besig hou. Ek is bly dat dit vandag bietjie gereën het, ek is bly dat ek met 'n wonderlike vrou getroud is en dat ons twee wonderlike kinders het. Ek is bly dat die Here ons so seën in ons werksomstandighede en ek is bly dat ek vanaand 'n heerlike bord kos gaan eet. En in 'n heerlike warm bed met 'n elektriese onder kombers gaan inkruip na 'n warm bad. Ek kan lank hiermee aangaan, maar hierdie teks het die bron van blydskap raakgevat. WEES BLY IN DIE HERE! 
Niks van die dinge wat my bly maak kom van myself af nie en dis 'n groot seën om te besef dat dit ALLES die Here se genade is. 
Ongelukkig laat ek egter dikwels toe dat aardse dinge hierdie blydskap by my steel. Dis die tye wat ek my oë van God af wegvat en in ondankbaarheid verval. Maar vandag wil ek myself maar net weer herinner dat ek net bly kan wees in die Here en in Hom alleen. Daar is tog niemand anders om voor dankie te sê nie.
Dankie Here! ~ Willem Botha, 31/05/2018

“Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm.” (Jes. 30:18) ’n Teks soos hierdie slaan omtrent my asem weg. Ten spyte van alles, ten spyte van wie ek is, ten spyte van al my afdwaal, wegdwaal en verdwaal, ten spyte van al my ongehoorsaamheid, onwilligheid en onbedagsaamheid sal die Here my nooit los nie. Hy wíl Sy goedheid oor my uitstort. Hy wíl Sy genade betoon. Hy sál my liefhê. Kyk hoe reguit sê Rom. 5:20 dit: “But sin didn't, and doesn't, have a chance in competition with the aggressive forgiveness we call grace. When it's sin versus grace, grace wins hands down.” Elke môre as jy wakker word, kan jy weet die Here se genade en ontferming is opnuut weer beskikbaar vir jou – verniet en onverdiend. Aanvaar en ontvang dit! Amazing grace ... ~ Wilna Botha, 30/05/2018

Woorde ontbreek
Ek het al met mense te doen gehad wat in die uiterste van slegte omstandighede vasgevang was, en ek dink jy ook, of jy is ook al self deur of in dit. Daar is mense in my vriendekring wat ernstig worstel met gesondheid, mense wat dringend werk nodig het en mense wat deur erge finansiële krisis gaan. Daar is natuurlik baie dinge wat so skeef loop in mense se lewens dat hulle net alle vorme van hoop verloor.
Was jy ook al dan in die situasie dat jy net nie meer weet wat om vir so persoon te sê of te doen nie? Wanneer woorde van troos totaal ontbreek en dat self teksverse leeg klink. Iemand het al eenkeer vir my gesê dat ek maar die gebede kan los want hy het nie my gebed nodig nie, hy het my (finansiële ) hulp nodig. Nog iemand het eendag gesê dat dit so sleg gaan omdat hy nie werk kry nie, dat dit voel of 'n olifant op homself sit.
Ek het net besef dat ek as mens dalk nie veel kan doen om iemand se omstandighede te verbeter nie, maar dat dit baie werd is om net daar te wees saam met iemand. Al is daar nie meer woorde nie omdat 'n hart stukkend is, of wanneer daar net eenvoudig nie meer hoop is nie, is dit die tyd om net daar te wees vir iemand. Ek dink dis nogal erg as iemand eensaam voel en daar is niemand by jou nie, dalk juis omdat mense wegskram omdat hulle nie weet wat om te sê nie. Dan is dit die tyd om selfs net in stilte by iemand te wees en net die basiese dinge vir so 'n persoon te doen.
Ek dink onwillekeurig aan hierdie gedeelte in die Bybel.
Matt 25:37 - 40 Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’  ~ Willem Botha, 29/05/2018

“Vertrou altyd op die Here,” sê Jes. 26:4 (én vele ander tekste in die Bybel). As mens bv. sê dat jy vertroue het in medisyne, dan veronderstel dit dat jy kennis het daarvan, weet waarvoor dit goed is en dat jy dit al gebruik het. Om vertroue in die Here te hê veronderstel dat Ek Hom ken, dat ek weet wie Hy is en wat Hy kan doen. Ek kan die Here vertrou omdat ek  in ’n verhouding met Hom is. Ek kan die Here vertrou omdat ek weet dat niks vir Hom onmoontlik is nie, dat ek altyd  veilig by Hom sal wees, dat Hy in beheer is, dat Hy die beste weet. Vir my gaan vertroue en geloof hand aan hand – mens kan hulle as’t ware as sinonieme gebruik. Vertroue kom in aksie wanneer my eie krag en my eie kennis en my eie insig opgeraak het.  Vertroue is werklik vertroue wanneer jy nog nie die uitkoms kan sien nie, maar steeds hoop en glo. Ons aansporing: “Dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.” (Jes. 30:18). Ons beloning: “Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.” (Jes. 26:3) ~ Wilna Botha, 28/05/2018

Jou Pa is die Koning 
Ek glo jy ken hierdie liedjie van Leon Ferreira waar hy sing dat sy Pa (die Here), die Koning is, en dit maak van hom 'n prins. 
In Engeland is daar onlangs "Royal wedding" gehou en dit was 'n groot affêre. Daar is ook onlangs in daardie familie 'n nuwe baba gebore wat maak dat daardie baba in 'n status in gebore word wat geen mens kan wegneem nie. Prins Charles is die troonopvolger as die koningin tot sterwe kom en hy hoef absoluut niks te doen om die volgende koning te wees nie. Dit is net eenvoudig sy status as 1ste troonopvolger. 
Net so is ek en jy (op ons eie keuse nogal) volledige erfgename van God, en geen mens kan dit van jou wegneem nie. Jy is 'n prins of prinses en dis dit! 
Rom 8:16-17 "Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid." 
Besef jy wat dit beteken in jou lewe? Weet jy hoe min mense op aarde op hierdie status kan aanspraak maak? Baie min! Ek en jy kan staan op hierdie status sonder om dit te probeer verdien, sonder om daarvoor te werk en sonder vrees dat ons dit gaan verloor, behalwe as jy so kies. As ek so daaraan dink is dit soms vir my een te veel. EK, nietige mens (boonop 'n sondaar), wat niks het om aan te bied nie, kan aanspraak maak op die titel van 'n prins. Kyk, in wêreldse terme is 'n prins nou nie sommer 'n hierjy nie, maar ons posisie as prinse en prinsesse is BAIE meer werd as dié van ons aardse eweknieë. Hulle s'n gaan verby, joune is vir ewig en ewig in plek, en al besit jy absoluut niks op aarde nie, is hierdie jou grootste besitting. Geniet dit voluit. ~ Willem Botha, 24/05/2018

“Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.” (Jes. 30:15) Miskien wag jy al lank vir ’n deurbraak in die een of ander aspek van jou lewe – gesondheid, werk, finansies, verhoudings of dalk bediening. Jy maak planne, jy raadpleeg mense, jy baklei en smeek en spartel om dinge te laat werk. Jou krag het al opgeraak en jy is dalk al op die punt om sonder hoop op te gee. Nee! Neem hierdie teks vandag ter harte. Bedaar. Wees stil. t Wag rustig op die Here. Vertrou Hom met alles wat in jou is – in stilte. Fokus op God se krag – in afhanklikheid. Beleef hoedat Hy by jou is – in tevredenheid. Ervaar hoe jy gevul word met Sy wysheid – in verwondering. Voel hoe Sy krag in jou werk – in oorwinning. ~ Wilna Botha, 23/05/2018

Sê nou maar net... 
Luk. 11:9-10 "Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word." 
Sê nou maar net die Here het elke gebed wat ek met hierdie belofte in gedagte gehad het, verhoor soos ek dit wou hê? Sê nou maar net Hy het toegegee aan al my grille en menslike begeertes? Sê nou maar net Hy het my bo ander bevoordeel toe ek daarvoor gevra het? En ja ek het, bv. met vele werksonderhoude waarvoor ek gegaan het daarvoor gevra. Sê nou maar net die Here het dinge gedoen presies hoe en wanneer ek daarvoor gevra het? 
Ja, ek het al snaakse goed vir die Here gevra, maar Goddank Hy het dinge dikwels anders laat uitwerk, en ek was dikwels SO teleurgesteld in Sy besluite. Sommige dinge moes nooit gebeur het nie en dit het nie, en vandag verstaan ek dit. Ek moes dikwels lank wag vir 'n antwoord, ek moes dikwels ervaar dat Hy anders besluit het, ek moes dikwels sien hoe dinge totaal anders uitdraai as wat ek graag wou hê en dit het dikwels net nie sin gemaak nie. 
Ek kan egter vandag vir jou sê dat ek die Here se hand BAIE gesien het in "Nee, ek gaan dit nie toelaat nie...". Ek besef vele dinge sou vernietigend wees. Ek het dikwels gesien dat die Here my gebed baie later verhoor het as wat ek dit wou hê. Ek besef ook dat die Here se tyd is nie my tyd nie, en Sy antwoorde is nie altyd die antwoord op my vraag nie. 
Het Hy my egter OOIT in my lewe teleurgestel? Nee, verseker nie! Moet ek ophou bid en vra? Nee, verseker nie! 
Soms sê Hy ja, soms is dit nee en soms moet ek wag. Hoe wonderlik om te weet dat die soewereine God elke oomblik met my "saak" besig is. 
"Here, leer vir my asseblief geduld. " ~ Willem Botha, 22/05/2018

“Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien my soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie.” (Jes. 29:13) Niemand van ons hou daarvan dat mense een ding sê en ’n ander doen nie. Dit laat mens voel hulle het nie respek vir jou nie, of hulle ag jou nie belangrik nie, of hulle dink hulle mooipraatjies gaan jou goed laat voel. Sulke dubbelhartigheid steek ook baie keer kop uit in ons verhouding met die Here. Weet dit nou: Hy het ’n afkeur daarin. Om net mooi woorde te praat, ’n  geestelike slagspreuk op jou mure te skryf, dalk geld vir armes te gee en elke Sondag kerk toe te gaan, kan miskien mooi rituele wees wat mense beïndruk, maar as jou hart en jou lewe ver van die Here af is, is dit nutteloos. Jesus haal self ook hierdie teks aan in Mark 7:6 en noem sulke mense huigelaars en skynheiliges. Kyk ook hoe ernstig spreek Hy die Fariseërs aan oor hulle skynheiligheid wanneer Hy hulle witgeverfde grafte noem – mooi van buite, maar binne vol doodsbene en onsuiwerheid. “Julle is soos grafte wat bo-op netjies versorg is. Die grafsteen is mooi en die blomme op die graf is te pragtig. Maar binne-in die graf self is daar net ’n klomp dooie bene. Wat ’n kontras! Grafte laat my aan julle dink. As ’n mens na julle kyk, lyk julle soos engeltjies. Maar as mens bietjie dieper kyk, lyk die prentjie anders: dan sien jy huigelaars en mense wat hulle glad nie aan God se wil steur nie.”(Lees Matt. 23:27-28, Die Boodskap) Mag die Here ons help dat ons Christenskap nie net ’n vertoning vir ander mense is nie, maar dat ons harte en ons lewens in alle opregtheid net op Hóm gefokus sal wees. ~ Wilna Botha, 21/05/2018

Van swaard na ploegskaar
Dis verstommend hoe veglustig die mensdom is. Verskil net van my oor enigiets dan pluk ek my swaard uit. Verskille oor politiek, godsdiens of enigiets waar my keuse anders as joune is. Jip, selfs jou keuse oor 'n tipe motor jaag mense die hoenders in. Ek onthou hoe dit in die weermag was destyds met diensplig. Mense uit totaal verskillende agtergronde het geleer om saam te werk teen 'n gemeenskaplike vyand, ongeag van wie jy is of wat jou agtergrond was, omdat jou lewe op die spel is. 
Kyk wat staan hier in Miga 4:2-3 "Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here. Hy sal oordeel tussen baie volke, regspreek oor sterk nasies wat ver weg woon. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie. 
Jitte hierdie is 'n verstommende teks: " Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre." 
Kan jy dink hoe ons land sal verander as almal hulle "wapens" omskep in werktuie? Die woorde "Eendrag maak mag" kom van ver in ons verlede af en dis sulke waar woorde. 
As ons darem maar net die energie wat ons gebruik om met mekaar te baklei kan inspan om saam te werk, sal dit SO 'n groot verskil maak. Ons moenie die strydbyl begrawe nie, ons moet hom smelt en 'n werktuig van hom maak. ~ Willem Botha, 17/05/2018

“Julle is agterstevoor met alles, asof die pottebakker die klei is ... die kleipot kan mos nie van die pottebakker sê: Hy weet nie wat hy doen nie.” (Jes. 29:16) Ai hierdie agterstevoor-geit is darem maar baie keer waar van ons ook. Ons wil vir ons Pottebakker voorskryf hoe Hy met ons moet werk. Of as die pot nou nie lyk soos wat ons dit wil hê nie, dan verwyt ons die Pottebakker. Of as die vorm-en-vou-werk bietjie pynlik is, dan neem ons Hom kwalik. Ken jy daai liedjie: Doen slegs U wil Heer, U wil met my, U Pottebakker met my die klei, vorm my en maak my, net soos U wil, op U bly wag ek, nederig en stil. As ons dit sing, dan gee ons oor aan die werk wat die Pottebakker met ons wil doen – in vertroue en afhanklikheid en stilte. Ja, ons kan dit met vrymoedigheid doen, want Hy is in beheer. Hy ken die toekoms. Hy is God wat die beste weet en wie se tydsberekening perfek is. Kan ’n byl grootpraat teen die een wat met hom kap? Of kan ’n saag hom groot hou teen die een wat met hom saag? Kan ’n stok die een swaai wat hom optel? (Jes. 10:15) Een ding wat die klei en die byl en die saag en die stok in gemeen het, is dat hulle in die hand van die Meester is. As ons dit besef, kan ons met vertroue verder sing: Hou my gewillig onder U hand....  ~ Wilna Botha, 16/05/2018

Die lewe is te kort vir slegte koffie 
Jy ken seker hierdie lawwe stelling. En eintlik is dit so waar van so baie dinge, want in hierdie paar duisend dae wat ons leef op aarde (so ongeveer 29000) laat ons toe dat net te veel dinge ons onderkry. 
Hier is so paar dinge waaraan ek nou kan dink, maar daar is natuurlik vele meer. 
* Die lewe is te kort vir slegte verhoudings. Weet jy wat is "high maintenance" mense? Dis mense wat jou afrem en moedeloos maak, mense wat alles van jou verwag en niks teruggee nie. Die lewe is te kort hiervoor, en almal hoef nie jou vriend te wees nie. Aan die ander kant kan ek egter ook sê dat slegte verhoudings tussen broers en susters of ouers en kinders baie erg en onnodig is. Ek het in my eie familie gesien dat iemand ('n ma) moes sterf voordat die dogters kon vrede maak. 
* Die lewe is te kort vir werksomstandighede wat jou lewensvreugde opvreet. Jy spandeer 30% van jou dag by die werk en as dit onaangenaam is vermors jy net 'n te groot deel van jou lewe. Daar is twee keuses, of om iets mooi daarin te soek, of om groener weivelde te gaan soek. Ek dink sommige mense voel egter heel gemaklik in slegte omstandighede, want dit is beter as die vrees vir die onbekende. Lees gerus die boekie "Who moved my cheese", dit verander mens nogal. Eintlik is hierdie boekie verpligtend! 
* Die lewe is te kort om voortydig op te hou lewe, terwyl jy nog springlewendig is. Mense laat toe dat die omstandighede in die land elke stukkie vreugde uit hulle lewe haal, dan doen hulle niks meer wat lekker is nie, want hulle kan niks wat mooi is raaksien nie. Dis so jammer. 
* Die lewe is te kort vir 'n pad sonder die Here. Want die toekoms na hierdie lewe sonder die Here is skrikwekkend! Lyk my sommige mense wil net net betyds tot bekering kom om darem die lewe hierna "op die regte plek" deur te bring. Intussen is 'n pad in hierdie lewe saam met die Here net so aangenaam as die lewe hierna. 
My vrou deel gister hierdie gedagte met my: "And in the end, it's not the years in your life that count. It's the life in your years". 
En Prediker stem saam in Pred 3 : 12 "Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet." ~ Willem Botha, 15/05/2018

“God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder.” (Jes. 12:2) Hierdie is nóg een van daai tekste in Jesaja wat helder onderstreep is in my Bybel. Ek herinner myself altyd daaraan dat die veiligste plek by die Here is. Dáár kan jy rus en ontspan en verkwik word. Dáár kan vrede jou gemoed volmaak en kan jou bekommernisse en spanning en pyn en trauma en trane verlig word. Skuil onder Sy vleuels, sê  ’n ander teks. Hy is letterlik ’n wegkruipplek vir ons, waar die probleme en die storms van die dag, die eise en die stress van die lewe buite sal bly. “Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou.” (Deut. 33:27) Sy uitnodiging is vir nóú: Kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is … (en almal wat bang, eensaam, siek, verstote is) – Hy gee beskerming en nuwe krag. ~ Wilna Botha, 14/05/2018

Hemelvaart 
Die maagdelike geboorte van Jesus, en Sy hemelvaart is van die grootste wonderwerke wat Hy gedoen het. Ons hoor gereeld van wonderwerke in ons daaglikse lewe wat reeds uit die Bybelse tyd kom, soos bonatuurlike genesing. Ek glo elkeen van ons het al iemand ontmoet wat daarvan kan getuig, maar geeneen van ons ken iemand wat uit 'n maagd gebore is nie, en geeneen van ons ken iemand wat kan opvaar hemel toe nie. 
Hierdie twee ongelooflike kosbare dinge onderskei ons geloof van enige ander geloof. Die kruisiging en moord van Jesus is 'n historiese feit wat selfs deur vele ateïste aanvaar word, maar die maagdelike geboorte en die hemelvaart is vir vele 'n taai toffie. 
Ons vier vandag die hemelvaart van Jesus en ek dink ons almal wat dit glo, is intens dankbaar dat ons Messias se aankoms en vertrek so 'n onbeskryflike wonderwerk was. 
Luk. 24 : 49 -53 "En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.” Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys."
Dit is WERKLIK aangrypend en ek prys God vandag ook met groot dankbaarheid vir hierdie gebeurtenis, want daardie dag het Hy vertrek om ook vir my 'n plek te gaan voorberei. 
Joh. 16 : 7 "Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.”
Geseënd is diegene wat hierdie dinge kan glo en ter harte neem. ~ Willem Botha, 10/05/2018


“Die Gees van die Here sal op hom rus; die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.” (Jes. 11:2) Hierdie teks verwys na ’n redder wat sou kom vir die volk , ’n afstammeling van Dawid, ’n takkie wat sal uitspruit en vrugte dra. Natuurlik word dit volbring in die koms van Jesus, dié een op wie die volle Gees van God rus. Na my mening is dit natuurlik ook waar van elkeen van ons wat ’n kind van God is, want ons hét die Heilige Gees ontvang.  Die Gees gee vir ons wysheid, insig, raad, sterkte, kennis en eerbied vir die Here. Die Gees laat ons vrugte dra. Die Gees stel ons in staat om God se wil te doen. Dié Gees woon in ons! Dink net hoeveel krag daar in jou beskikbaar is. “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê  die Here die Almagtige” (Sag 4:6). “Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen.” (Eks. 31:3) Ja, my vriend, só is die Gees ook in jou aan die werk – nie net om groot geestelike werke te doen nie, maar om sommer ook net jou gewone dagtaak met vaardigheid en insig te doen. Besef dit. Laat die Gees toe om beheer te neem. ~ Wilna Botha, 09/05/2018

1 Kor. 13 : 4 - 7 "Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles."
Sê nou maar net hierdie was waar vir ons samelewing? En voor ek voortgaan, kom ek vra sommer: sê nou maar net hierdie was waar vir myself? Ons woon in 'n samelewing waar die liefde werklik skoonveld is. Weg, onopspoorbaar, onsigbaar en eintlik geskiedenis. Natuurlik is dit hier en daar sigbaar, maar ek sien dit regtig nie genoeg in selfs my eie lewe nie. Bykans elke film, storieboek, sepie of verhoogstuk handel daaroor en dit word so mooi aangebied, maar intussen word ongelooflik baie kinders in gebroke huishoudings groot, misdaad gedy en ons mensdom roei mekaar uit. Soos ek hier sit en skryf voel ek ongelooflik hartseer as ek dink hoe ons die enigste medisyne vir hierdie gebroke wêreld, in die sand laat wegsyfer. Ek lees vandag dat 'n hawelose man homself bokant 'n snelweg op 'n brug opgehang het. Waar is die liefde? Sommige kinders se lewens word deur hulle eie ouers verwoes. Waar is die liefde? Mense sterf in miljoene aan hongersnood. Waar is die liefde? Mense moor mekaar uit in burgeroorloë, op hierdie oomblik wat jy hierdie lees. Waar is die liefde? Miljoene kinders word deur aborsies vermoor. Waar is die liefde? 
Lees weer die vers in die begin van hierdie boodskap, dan sien jy die volgende dinge wat tekens is van liefdeloosheid. 
Ongeduldig, onvriendelik, afguns, grootpraat, verwaandheid, onwelvoeglikheid, eie belang, liggeraaktheid, hou boek van die kwaad, verbly hom oor onreg, en verheug hom nie oor die waarheid nie.
Ons wêreld vergaan hieroor. Lees / leef ons dan nie die Bybel nie? ~ Willem Botha, 08/05/2018

“Hier is ek en die kinders wat die Here vir my gegee het. Ons is in Israel lewende getuies van die Here die Almagtige wat op Sionsberg woon.” (Jes. 8:18) Dié teks laat my ook dink aan wat Josua gesê het: “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” Ek het juis nou die dag vir my ’n klip gekoop met hierdie teks op en as ek dit nou sien is dit vir my ’n herinnering en aansporing dat ons getuies van die Here moet wees in ons “Israel” – daar waar ons woon en werk en kuier en koop. Ons kan getuig van Sy goedheid, Sy genade, Sy redding. Ons kan vertel van ons verhouding met die Here, dat Hy ons gebede verhoor, dat Hy persoonlik by ons betrokke is. Ons kan maar ook vertel van dié kere wat ons swak is in ons geloof en sukkel om getrou te bly en voel dat die Here ver is. Ons kan getuig hoedat Sy genade en liefde ons regop hou in moeilike tye. Ons hoef nie te preek en Bybelverse uit ons kop te sê nie – ons hoef maar net eerlik en opreg te vertel van dit wat ons self beleef het. Ek dink nie Jesaja praat hier nét van sy eie kinders nie – ek dink hy verwys ook na sy volgelinge en medegelowiges. Só kan ons ook saam met ons gemeente of selgroep aanmeld as lewende getuies van die Here. My gebed is dat ons al hoe meer vrymoedigheid sal hê om met oortuiging te vertel! ~ Wilna Botha, 07/05/2018

Dieng dieng...
Ek dink jy kry seker net so gereeld 'n WhatsApp boodskap soos ek, en die gewoonte is maar om dadelik te kyk wat wie vir jou wil sê. Die goed beheer nou maar eenmaal ons lewens tot so 'n mate dat jy nie meer sonder dit kan klaarkom nie. 
So vertel 'n vriend vir my dat hy en sy vrou 'n gesprek het hieroor toe hulle wonder hoe dit sou wees as die Here heeltyd met ons deur tegnologie sou kommunikeer. 
Jy sê iets verkeerd vir iemand en "dieng dieng" kom die boodskap van die Here af: "My kind, Ek hou nie hiervan nie, vra asb vir die persoon om verskoning."
Jy versuim om iets vir iemand te doen of gee en die boodskap kom: "Vriend ek het jou geseën met genoeg om met ander te deel, doen dit asseblief nou." 
In 'n slegte oomblik jak jy jou vrou af en die boodskap kom: "Hierdie is jou lewensmaat, het jy nie belowe om haar lief te hê nie?" 
Daardie aanvallige kollega by die werk kry jou aandag so bietjie te veel en die boodskap sê: "Onthou jy jou huweliksbelofte? Deur dik en dun..." 
Ek wonder hoe my "inbox" elke dag sal lyk, en of ek dalk liewer nie alles sal lees nie, of dalk daardie boodskappe eerder heeltemal sal blok. 
Dis nou alles effe negatief. Maar wat van daardie boodskappe wat kom as jy deur erge tye van bekommernis gaan: "My kind, Ek het belowe ek sal vir jou sorg, want jy is vir my kosbaar. Byt vas en vertrou op My."
Of in tye waar skuldgevoelens oor verkeerde dinge wat jy gedoen het jou verteer en die boodskap sê: " Ek het my Seun ook vir hierdie oortreding laat sterf, vir JOU. Ek vergewe jou, jy kan nou maar jouself ook vergewe." 
Jy sien, al hierdie "boodskappe" van die Here is reeds vir my en jou geskryf, in die Bybel, en ons moet dit net gaan lees. Nou wonder ek, sal ek graag daardie Whatsapp boodskappe daagliks wil kry? Ek weet nie so mooi nie. 
Wat sê jy? ~ Willem Botha, 04/05/2018

Ek lees op die oomblik so stukkie vir stukkie deur Jesaja. Moet sê daar is maar heelwat dingetjies wat ek nie verstaan nie, ek weet nie heeltyd waar pas wat in nie en sukkel soms om sin te maak uit al die profesieë. En dan kom ek af op stukkies goud soos Jes. 7:14. “’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.” Die profesie wat vervul is. Die gebeurtenis wat alles verander het. Nie sommer net ’n geskiedkundige gebeurtenis nie. Nie net ’n onvervulde verwagting en leë droom nie. Dit het werklik gebeur. Jesus ís  gebore. God hét mens geword, vlees en bloed, en by ons kom bly. Hy ís  Immanuel, God met ons -  nie net vir sy uitverkore volk nie, maar vir elkeen van ons wat plek maak in ons harte en lewens vir Hom. Ek omhels vandag hierdie gedagte en ervaar opnuut dat die Here by my is. ~ Wilna Botha, 02/05/2018

Moeg gewag
Kyk, in die weermag het jy leer wag. Jou haastigheid het daar absoluut niks beteken nie. Dalk het jy al lank vir 'n bus gewag of gewag dat daar oor 'n bepaalde ding 'n uitslag bekend gemaak word. Dan voel minute soos weke. 
Maar dalk wag jy nou vir die Here vir iets waarvoor jy Hom gevra het. Die groot fout wat ons maak, is dat ons soms dink God het sy beloftes vergeet. Maar die Here vergeet nie en Hy is daar tydens ons sukkel en swaarkry, al voel dit soms of Hy weg is. Het jy dalk krag om nog te wag? 
Matt 11:18 (Die Boodskap): "Daarom wil Ek julle uitnooi: voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek. Kom luister na wat Ek jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie."
Klaagl. 3:21-27 "Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir 'n mens om sy las in sy jeug te dra."
Wat maak mense wat nie in die Here glo nie? Op wie wag en hoop hulle? Ons weet ons kan nie juis op mense vertrou nie, daarom is daar net Een oor op wie ons kan hoop. Saam met Hom hoef ons nooit hooploos of hopeloos te voel nie. Dit vra soms net bomenslike geduld. ~ Willem Botha, 25/04/2018

“Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur?” ... Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”” (Jes. 6:8) Net soos in Jesaja se tyd, het die Here vandag nog gewillige hande en voete en stemme nodig. Hy is op soek na mense wat beskikbaar en bereid is. Mense met oop harte en sagte woorde. Mense wat sy verteenwoordigers van liefde en genade sal wees. Nie noodwendig bekwame mense nie. Enige iemand, ongeag stand, ouderdom, posisie of geleerdheid kan aanmeld as die Here vra: wie kan ek stuur? Baie keer is ons gereed en gewillig net totdat ons sien waarheen of vir watter taak die Here ons wil stuur. Ons wil mos graag belangrike en groot take vir die Here doen, nie sommer geringe goedjies wat niemand gaan raaksien nie, of hoe? Ons kyk gou anderkant toe as die taak is om ’n beker koue water te gee, of as ons dalk ons hande moet vuilmaak, of as dit so bietjie benede ons waardigheid en kwalifikasies en status is. Onthou wat Jesus in Matt. 25  gesê het van die geringstes – dalk stuur Hy jou vandag om vir iemand ’n stukkie brood te gee, dalk ’n sieke of eensame of gevangene te besoek, dalk ’n bemoedigende hand na iemand uit te steek of dalk ’n woord van vermaning te gee. Sy opdrag kan wees om voor duisende te gaan preek – dan moet ons gewillig wees. Sy opdrag kan wees om ’n geringe daad van liefde te betoon – dan moet ons gewillig wees. Niks hiervan hoef uit jou eie krag te gebeur nie – “Die Here het my ’n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te doen.” (Jes. 49:5); “... want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (Fil. 2:13). Waag dit om te sê: Hier is ek, stuur my! ~ Wilna Botha, 24/04/2018

Rolmodel 
Ek glo die grootste geskenk wat 'n pa vir 'n kind kan gee is om 'n goeie rolmodel te wees, op so 'n manier dat die kind 'n goeie gebalanseerde volwasse mens sal wees, om ook sodoende self eendag 'n goeie rolmodel te wees. 
Ons elkeen het 'n pa-storie, maar elkeen se pa-storie is ongelukkig nie ewe mooi nie. My hart gaan uit na mense wat swaarkry in hulle volwasse lewe a.g.v. 'n gebrek aan 'n goeie rolmodel. 
In die Bybel lees ons egter van 'n wonderlike verhouding tussen Jesus en Sy Vader, waar God die Vader die volmaakte Rolmodel vir sy Seun Jesus Christus was. 
Joh 5 : 18 "Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so." 
Gaan lees daardie gedeelte in Johannes om die konteks te verstaan. Jesus kon met vrymoedigheid alles doen wat Hy sy Vader sien doen het, en ons kan weer alles probeer doen wat ons Jesus sien doen het. As ons in Sy voetspore volg, kan ons geen fout maak nie, as ons ander behandel soos ons gesien het Hy doen en as ons dieselfde liefde vir ander uitleef as wat Hy het, is Hy vir ons die volmaakte Rolmodel, en sal ons dus ook 'n goeie rolmodel vir ons kinders wees. 
Mag die Here daardie leemte vul wat 'n negatiewe rolmodel in ons lewens gelos het. ~ Willem Botha, 23/04/2018

“Hy het op ’n baie hoë troon gesit en die soom van sy kleed het die tempel gevul. Om Hom was daar serafs... hulle het oor en weer vir mekaar geroep: Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Sy magtige teenwoordigheid sprei oor die aarde soos ’n doek. Hulle het so hard gesing dat die deure van die tempel in hulle kosyne gerammel het en die hele tempel het vol rook geword.” (Jes. 6:1-4) Baie keer in die kerk as ons sing of bid, dan kom hierdie visioen van Jesaja by my op en raak ek diep bewus van die heilige, grootse teenwoordigheid van die Here wat alles oorheers en bedek en wat die hele gebou en die mense daarbinne vul met Sy teenwoordigheid. Dan sing ek eerbiedig, bewend, maar uit volle bors saam: heilig, heilig, heilig. Dan ervaar ek, soos Jes. 6:6 sê: “... en nou het ek met my eie oë die Koning gesien, die Here die Almagtige!” ~ Wilna Botha,  19/04/2018

Tyd
In Pred. 3 is daardie bekende gedeelte oor tyd. Daar is 'n tyd vir dit en 'n tyd vir dat, dinge wat teenoor mekaar staan. 
Pred. 3 : 1 – 2(a) "Daar is ’n regte tyd vir alles, elke ding in hierdie wêreld gebeur op die regte tyd. Daar is ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterf..."
Ek sien hier dat die Here wat tyd geskep het, elke ding wat gebeur in die lewe in spesifieke tyd zones ingepas het. Lank voordat ek en jy in hierdie wêreld ingekom het, het die Here reeds bepaal wanneer jy gebore sal word en wanneer jy tot sterwe sal kom. Hy het vir jou 'n klompie talente en gawes gegee wat jy binne hierdie tydperk waarin jy lewe, moet gebruik omdat jou insette in hierdie lewe nou nodig is. 
As jy 80 jaar oud word brand jou lewenskersie ongeveer 29200 dae. Dit is deur die Here bepaal, maar dit kan korter of langer wees en die spesifieke dag en datum is nie vir jou bekend nie. Goddank! Die plek waar ons gebore is was Sy keuse, so ook die omstandighede in die land waar jy gebore is, is deur Hom bepaal. Die feit dat ons nie in 'n oorloggeteisterde land, of 'n land van erge hongersnood leef nie, het niks met ons eie keuse of vermoëns te doen nie. Daarvoor kan ons maar net dankbaar wees. 
Die Here is in beheer van alles, Hy het die tyd volkome in Sy beheer. Ek het al gewonder of ek sal wil weet wat die tyd (dag en datum) van my laaste asem sal wees, maar ek het blitsvinnig besluit dat ek nie wil hê dat Sy weë vir my bekend moet wees nie. 
Ek besef maar net dat Sy tyd nie my tyd is nie, Sy weë is nie my weë nie, en Sy wil is nie my wil nie, ek gee alles maar net aan Hom oor. ~ Willem Botha, 18/04/2018

“Wat kan Ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie? Wat is dan die rede dat dit suur druiwe voortgebring het terwyl Ek verwag het dat dit goeie druiwe sou dra?” (Jes. 5:4) Die Here het álles gedoen vir sy volk (en vir ons) – die wingerd is op ’n vrugbare heuwel, die grond is omgespit, klippe is verwyder, dis geplant met veredelde wingerdstokke, daar is ’n wagtoring – so sê vers 2. En tóg lewer dit nie goeie vrugte nie. Die druiwe is suur. Wat is die rede vir die suur druiwe... dalk ’n harde hart, miskien het geloofsake nie uitgedraai soos jy gehoop het nie of die Here het nie na jou pype gedans nie, jy het jou rug op God gedraai, dalk gevoel dis nie die moeite werd om die Here te dien nie en moeg geraak vir hierdie geestelike dinge. Miskien het jy vasgedraai geraak in die alledaagse geswoeg en soeke om eie begeertes te bevredig en toe het jy jou eie pad begin stap. Suur druiwe is dalk die gevolg van ons hoogmoedigheid, ons liefdeloosheid, ons eiegeregtigheid. Die Here se wil vir ons is om goeie vrugte te dra. Matt. 3:18 sê ons moet vrugte dra wat pas by ons bekering. Jesus sê in Joh. 15 vir ons hoe om baie vrugte te dra – “Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte.” Hy gee ook die Heilige Gees aan ons om daai soet druiwe in ons voort te bring (Gal 5:22). Boon-op sê Jesus: “... vra dan net wat julle wil hê en julle sal dit kry.” (Joh. 15:7) – dit wat ons nodig het om soet druiwe te dra, kan ons van Hom vra en Hy sál dit vir ons gee. Mag die Here weer genade betoon, nóg bemesting gee, nóg snoeiwerk doen sodat ons volop lewensvrugte kan voortbring wat Hom kan eer. ~ Wilna Botha, 17/04/2018

DIS nou liefde
Ons het Sondag SO 'n kosbare boodskap by die kerk gehoor. Stefan Joubert was aan die woord en hy het gepraat van Markus wat vir Jesus 'n paar keer teleurgestel het (in menslike terme) en hy het dinge genoem wat ek nooit geweet het of raakgelees het nie. 
Hy het egter een ding gesê wat my vir altyd sal bybly, naamlik: "Die Here is baie liewer vir jou as wat jy vir Hom is".
Dieselfde Markus wat lekker drooggemaak het, is later op 'n besondere manier deur die Here gebruik. Iemand het ook eendag gesê dat die Here oneindig lief is vir jou, en jy kan niks doen om dit te verander nie. Hoor jy? NIKS! Ons probleem is dat ons dink dat die Here op dieselfde manier met ons omgaan as wat ons medemens met ons omgaan. Ek het al baie mense in my lewe teleurgestel, ook mense naby aan my, en ek weet ek stel die Here elke enkele dag van my lewe teleur. Ek dink baie mense skram om daardie rede van my af weg, maar die Here doen dit nie. Hy is 'n God van tweede kanse, en derdes en vierdes en en en... 
Ek hou hierdie volgende teks nogal styf teen my bors vas. 
Sef 3 : 17 "Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou..." ~ Willem Botha, 16/04/2018


“Sy magtige teenwoordigheid sal alles beskut. Daar sal ’n skuiling wees, ’n skaduwee teen die hitte bedags, ’n skuilplek en toevlug teen stortbuie en reën.” (Jes. 4:6) Gisteraand beland ons in ’n erge reënstorm. Dis donker, dit blits, die reën stort neer en die pad lyk soos ’n rivier. Ons is skoon benoud, maar besef ons moet deurdruk. By ons bestemming aangekom sug ons verligting – ons voel weer rustig, veilig, warm, versorg en ontspanne ... terwyl dit steeds buite storm. Toe dink ek sommer net weer wat hierdie teks in Jesaja sê oor die Here as ons “skuilplek en toevlug teen stortbuie en reën”. Ons weet maar te goed dat ons op ons lewenspad die een of ander tyd in ’n storm of stortbui gaan beland. Ons gaan benoud wees, ons gaan voel ons wil wegvlug, ons gaan voel ons kan nie vorentoe nie, ons kan nie sien waar die pad loop nie. Die bemoedigende waarheid is dat die Here weet van jou storm, dat Hy saam met jou daar is – Sy teenwoordigheid in jou lewe ís die beskutting. Jy kan die versekering hê  dat Hy jou veilig deur lei en dat Hy sélf vir jou ’n veilige, rustige, vreedsame skuilplek is, selfs al het die storm buite nie opgehou nie. ~ Wilna Botha, 12/04/2018

Ken Hom in alles 
Spr. 3 : 6 "Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop." 
So 'n eenvoudige teks, met soveel waarheid, soveel goeie raad en soveel wysheid. Ek het die gewoonte om telkens in die dag oor die mees eenvoudige dinge 'n skietgebedjie te bid, soms sommer net as 'n versugting. Dis 'n gewoonte wat van kleins af kom, maar as die nie gebeur waarvoor ek bid nie, aanvaar ek dit maar net gelate en weet dinge moes anders wees. 
Maar sê nou maar ek, en elkeen anders, sal hierdie teks getrou navolg, glo ek ons gaan minder dom dinge aanvang, minder in die moeilikheid kom en minder ongelukkig wees. 
As mens die Here ken in elke handeling wat jy wil uitvoer, sal jy soms twee keer dink voor jy dit doen. Om Hom te ken in alles wat jy doen, beteken tog dat jy Hom elke keer moet vra of hierdie die regte handeling is. En dit my vriend, klink sommer baie moeilik. 
Die beloning is egter baie groot, want die teks sê tereg: "... en Hy sal jou die regte pad laat loop." ~ Willem Botha, 11/04/2018

“Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is min werd.” (Jes. 2:22) Jammer as dit dalk ’n bietjie negatief klink, maar ek dink baie van ons het ’n storie oor hoedat iemand jou al teleurgestel het, nie sy kant gebring het nie, nie sy beloftes nagekom het, nie lojaal gebly het nie, nie vir jou opgekom het nie, nie jou belange enduit op die hart gedra het nie. Dan vang mens jouself tóg weer dat jy op iemand vertrou – iemand wat magtig en belangrik en hooggeplaas is, maar helaas, selfs húlle sal jou die een of ander tyd teleurstel met hulle voete van klei. Ja, al is hulle Christene, al is hulle ’n voorbeeld van stabiliteit en opregtheid. Ek sê nie ons moet elkeen alleen op ons eie eiland wees nie. Natuurlik het ons ander mense nodig. Natuurlik moet ons glo in ons naaste se integriteit. Natuurlik is ons afhanklik van ander se insette in jou lewe. Mens moet egter nie nét op hulle staatmaak vir jou welstand, versorging en sekuriteit nie en bewus bly van hulle menslikheid en feilbaarheid. Die Here alleen moet die fokuspunt van ons vertroue en hoop wees. Dis nét Hy wat gister, vandag en môre dieselfde is. Dis nét Hy wat onwankelbaar en ewig is. Dis nét Hy wat nie van plan kan verander nie. Dis nét Hy wat sy beloftes enduit kan en sal hou. “Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ’n mens nie .... sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen ... Dit gaan goed met die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.”(Ps. 146:3-5) ~ Wilna Botha, 10/04/2018

In Job 38 en 39 lees ek 'n aangrypende gesprek tussen God en Job. Dit is regtig die moeite werd om dit alles te gaan deurlees. 
Job 38 : 1 - 13 "Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit: “Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My. Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit, daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het? Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het? Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit. Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’ “Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom? Weet jy waar die daeraad vandaan kom? Die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie?"
Hierdie volgende woorde van die Here spreek boekdele! “Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?”
Is dit nie skokkend hoe die mens - dit sluit my in - die Here tot verantwoording wil roep nie? Ons wil soms in 'n regstryd met Hom gaan, en dan moet Hy verduidelik hoekom Hy doen wat Hy doen. En ons kan ons nogal vererg vir Hom as ons nie ons sin kry nie. 
Maar in hoofstuk 39 blaas Job die aftog. 
Job 39 : 36 - 38 "Job het toe vir die Here gesê: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly. Ek het gepraat, maar ek kon nie 'n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.”
Ek het al menigmaal in my lewe eintlik dieselfde gedoen, maar ek het net besef Hy is soewerein en Hy weet die beste. Ek volstaan ook maar eerder met Job se woorde:- "... maar nou sal ek stilbly" ~ Willem Botha, 09/04/2018


“Daar kom ’n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, ’n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Al die nasies sal daarheen stroom, baie volke sal daarnatoe gaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe.” (Jes. 2:2-3) As ek hierdie teks lees dan dink ek dís hoe die Here sy huis - ons kerke en gemeentes - wil sien. ’n Tuiste, ’n plek wat uitstaan, ’n plek waarheen mense wíl kom, waar hulle verwelkom word, waar hulle kan leer en toegerus word vir die lewe. ’n Plek van aanvaarding, waar mense sal sê: ”... ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” En onthou tog maar dat die kerk uit mense bestaan. Onvolmaakte mense. Mense wat hulle beste pogings insit. Mense wat God se mense wil dien. Moenie wegbly nie. Moenie kritiseer en foutvind nie. Maak jouself tuis in ’n gemeente, neem deel en maak ’n verskil. “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan.” (Heb. 10:25) ~ Wilna Botha, 05/04/2018

Pilatus Pilatus
Ons het pas Paasfees gevier. Die aand toe Jesus gevange geneem is nadat Hy doodsbenoud gebid het, Sy verhoor, Sy kruisiging en toe die opstanding. Hy het toe aan honderde mense verskyn en eventueel opgevaar hemel toe. 
Ek bly egter steeds dink aan Pilatus en sy lafhartige optrede toe hy self verklaar het dat Jesus onskuldig was, maar Hom tog oorgegee het om gekruisig te word. Nou wonder ek, wat het hy van hierdie hele ding gemaak? Hoe het hy gevoel toe Jesus opstaan? Was hy dalk bang en bevrees dat Jesus sou terugkom vir hom? In Joh 18 : 28 - 40 speel die verhaal af waar hy vir Jesus "verhoor" het. Hy het vir Jesus 'n paar vrae gevra :-
1) Is jy die Koning van die Jode? 
2) Wat is waarheid? 
3) Dan is Jy tog 'n koning? 
Gaan lees gerus hierdie stukkie in die Bybel. In hierdie gesprek was Jesus se antwoorde eenvoudig een te veel vir hom. Nou wonder ek: het Pilatus weer teruggedink aan hierdie gesprek na die opstanding? Het hy dalk tot ander insigte gekom toe hy hierdie wonderwerke sien afspeel? Is dit moontlik dat hy dalk ook tot bekering gekom het en sy lewe omgedraai het, of het hy net soos altyd voortgegaan in sy lewe? Ons sal nooit weet wat sy uiteinde is in die hiernamaals nie. 
Maar Pilatus, jy het die regte vrae gevra. Hier is die antwoorde: 
1) Hy IS die Koning van die Jode, en van almal anders. 
2) Hy IS die waarheid. Die weg, die waarheid en die lewe. 
3) Hy IS inderdaad 'n Koning, die enigste Koning, wat op die troon sit aan die regterkant van die Vader, en heers oor die heelal, en al wat leef. ~ Willem Botha, 04/04/2018

“Kom volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom.”(Jes. 2:5) Toe Jesus aan die kruis gesterf het, was daar drie ure duisternis – die laaste duisternis, want die Lig het finaal oorwin. Jesus, die Lig, het afgereken met alle duisternis en deur Sy genade het Hy ook die lig in elkeen van ons kom aanskakel. Só praat Joh. 3:19 ook van die Lig wat na die wêreld toe gekom het, maar dat daar mense is wat steeds eerder die duisternis lief het as die lig, omdat hulle dade sleg is en hulle bang is God se lig ontbloot dit. Wie hulle is en wat hulle doen word in die donker weggesteek. As daar ’n vuil kol op jou gesig of op jou klere is, sal niemand daarvan weet terwyl dit donker is nie, maar soos wat daar meer lig val sal die vuil kol al meer sigbaar word. As jy dalk, soos ek, skaam is oor die vuil kolle van jou lewe en dit in die skemerte probeer wegsteek, kan jy met vrymoedigheid na die Lig toe kom. Geen vuil kolle, geen van die slegste dade is té groot en té  vuil vir Christus se lig  nie. Kom ons was opnuut weer ons klere in die bloed van die Lam, sodat ons silwerskoon kan staan en waarlik kan léwe in die lig wat van die Here af kom. ~ Wilna Botha, 03/04/2018

'n Hartklop 
Die Vrydag is Jesus gekruisig en Hy was dood. Sy lewelose liggaam is in doeke toegedraai en Hy is in 'n graf neergelê. 'n Groot klip is voor die graf gerol en dis bewaak deur wagte. In daardie graf was 'n dooie liggaam, totaal leweloos, morsdood. 
Maar in die doderyk het iets verskriklik gebeur. In ons geloofsbelydenis praat ons van "ter helle neergedaal", waar Jesus met bonatuurlike kragte gemaai het onder Satan en sy trawante, en alles oorwin het wat tussen ons en die ewige lewe staan. Maar steeds, op daardie Saterdag, het die lewelose liggaam in daardie graf gelê. 
En dan, die Sondag oggend gebeur iets wat totaal onmoontlik is. 'n Hartklop, dan nog een, bloed wat begin pomp deur daardie lewelose liggaam, 'n eerste asemteug, die borskas wat begin beweeg soos Hy asemhaal en lewe wat terugkeer. Ek dink onwillekeurig aan die dag toe Adam geskape is en God lewensasem in daardie liggaam ingeblaas het. Dit was dieselfde toe die lewe terugkeer in Jesus se liggaam. Sy oë gaan oop en Hy kom regop en Hy het van die doeke opgerol. Die wonde van twee dae tevore is genees, maar die letsels het oorgebly wat vir Thomas tot geloof gebring het. 
Ons lees in Matt 28 : 2 "Skielik was daar 'n geweldige aardbewing. 'n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit." 
Dan kom Jesus uit die graf uit. Ek sien in my geestesoog die beeld van Jesus wat uitkom en sê "Goeie more wêreld, julle het geen idee wat op julle wag nie!" Wanneer Maria Magdalena en die ander Maria (volgens Matt 28 : 1) daar kom, kry hulle 'n engel by die graf wat die volgende sê:-
Matt 28 : 6 "Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het." Hy het opgestaan, net soos wat Hy gesê het. 
Jy sien, om in die historiese Jesus se bestaan te glo vra niks, want selfs vele ateïste glo dit ook, en selfs Sy kruisiging word maklik geglo. Maar dit wat daardie Sondagoggend gebeur het is die groot skeiding tussen die gereddes en die ongereddes. DIT is wat jou toekoms in die hiernamaals bepaal:- Die opstanding, die dag toe die bande van die wet verbreek is en geloof jou uiteinde bepaal. DIT is iets om te vier! 
HY HET OPGESTAAN, HY HET WAARLIK OPGESTAAN! ~ Willem Botha, 02/04/2018

Doodsbenoud
Dis die aand voor die kruisiging van Jesus. Hy weet presies wat kom, Hy weet wat dat Hy die volgende dag gaan sterf, Hy weet ook hoe Hy gaan sterf en Hy weet beslis hoekom Hy gaan sterf. En, hoewel Hy die Seun van God is, beleef Hy angs en benoudheid soos wat ek en jy waarskynlik nooit sal ken nie. 
Hy neem drie dissipels saam met Hom Getsémané toe om saam met Hom te bid. 
Matt 26 : 36 - 38 Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsémané, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”
Maar hulle het telkens aan die slaap geraak. En dan lees ons in vers 42: 'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”
Hierdie is 'n ongelooflike treffende gebed. Hierdie ongelooflike vrees vir more, vir dit wat gaan kom, vir die pyn en vernedering, maar tog aanvaar Hy Sy lot. 
Ons vier weer Goeie Vrydag, daardie ongelooflik slegte dag wat vir ons ongelooflike goeie gevolge gehad het. Daardie dag wat God se wil geskied het. Ons weet dis goed want ons weet van die opstanding, waarsonder alles totaal sinneloos sou wees. 
Mag dit vir jou 'n vreugdevolle Paastyd wees! ~ Willem Botha, 29/03/2018

In die aanloop tot Goeie Vrydag is ek weereens aangegryp deur Jesaja 53. Dit is vir my een van die mooiste profesieë oor Jesus se lydingspad, sy versoeningswerk, sy instaan vir ons, sy voltooiing van sy aardse roeping. Dit praat van die verwerping, mishandeling, spot, straf, lyding, pyn en seer wat Hy moes deurmaak sodat ons dit kan vryspring. Dit sê hoedat Hy as die volmaakte, die sondelose in ons plek gestraf is, sodat ons vry kan uitstap. Dit sê hoedat Hy gehoorsaam en gewillig, geduldig, stil en sonder om te kla dié pad gestap het, ter wille van óns. Dit sê hoedat sý pyn vir ons genesing bring, hoedat Hý gewond, verbrysel en deurboor is, sodat ons kan lewe. “Oor óns oortredings is Hy deurboor, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur Sý  wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5) ~ Wilna Botha, 28/03/2018

Kruisig Hom! 
Ons is in die aanloop na Paastyd toe, toe Jesus gekruisig is, en hier in Matt 27 lees ons hoe Jesus voor Pilatus gebring is en die mense moes kies tussen Barabbas en Jesus se vrylating. 
Mat 27:20 - 23 "Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood. Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?” “Barabbas!” antwoord hulle. Pilatus sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?” “Kruisig hom!” skreeu hulle almal. Hy vra: “Watter kwaad het hy dan gedoen?” Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

Dit klink of die mense soos diere geword het toe hulle hierdie woorde uitskree: " KRUISIG HOM KRUISIG HOM!!" 
Ons lees van Pilatus, die lafaard wat sy hande in onskuld was, die mense wat die wonderwerke van Jesus gesien het, en gehoop het op iemand om hulle te kom verlos van die Romeinse owerhede, maar skielik omswaai teen Jesus, die soldate wat moordlustig wag om hierdie wreedaardige moord te pleeg op Golgota en Jesus wat gedwee hierdie lydingspad stap. 
Dit klink totaal onwerklik dat dit so kon wees, maar dit het gebeur. Was hierdie mense slagoffers van God se plan om hierdie hele ding tot uitvoer te laat kom? Jesus moes tog sterf, Hy het dit tog self vir Sy dissipels voorspel, daar is selfs profesieë daaroor in die Ou Testament en dit MOES net gebeur. Maar tog skok dit my steeds. 
Dit los my maar net met die wete dat genade verniet is, maar dis verseker nie "cheap" nie, dit het met 'n ontsettende prys gekom. ~ Willem Botha, 27/03/2018


“Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê  die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi julle sal wit word soos wol.” (Jes. 1:18) As mens Jesaja 1 lees tot hier voor vers 18, klink dit of die Here nogal baie kwaad is vir sy volk. Hy praat van hulle opstandigheid, Hy noem hulle ’n sondige nasie, Sodomsleiers, Gomorrasvolk. Hulle het hulle rug op Hom gedraai, hulle ken en erken Hom nie meer nie. Maar, getrou aan wie Hy ís – genadige, barmhartige God, nooi Hy hulle weereens uit na Hom toe om hulle saak met Hom reg te maak. Hy doen dit vir ons ook. Hy het dit tot die uiterste gedoen toe Hy sy Seun gestuur het om eens en vir altyd te betaal vir ons hardkoppigheid, ons eiesinnigheid, ons opstandigheid, vir elke liewe sondige begeerte en gedagte en daad. Hy het dit gedoen toe ons nog sondaars was. Toe ons nog skarlakenrooi en purperrooi was. Hy het die eerste skuif gemaak, eerste sy hand uitgesteek.  Dís wat ons nou met trane van verligting en blydskap kan vier hierdie Paastyd. Jesus het gekom. Hy het betaal. Ons saak met God is uitgemaak. Ons is skoon. Ons is vergewe. Ons het die lewe in oorvloed ontvang. ~ Wilna Botha, 26/03/2018

Ek, die skelm 
Daar is 'n paar dinge wat jy nooit in jou lewe uit iemand se mond sal hoor nie.
Eerstens die skelm vennoot. Het jy al ooit gehoor dat iemand vir jou vertel hoe hy sy vennoot verneuk het? Iets soos:- "Jitte ek het hierdie vennoot van my rot en kaal besteel. Toe hy weer kyk het ek al die geld uit die rekening getrek en padgegee. En voorts het ek die heeltyd net lyf weggesteek en al die werk vir hom gelos." Nee jy sal dit nie hoor nie, die skelm vennoot is nog nooit gebore nie. 
Tweedens, die vark in die huweliksverhaal. "Ek het darem maar my huweliksmaat lekker onderdeur geloop. Ek het alles wat ek in die hande kon kry geblaas op myself, haar lekker verkul met ander vroue, en haar op die koop toe net totaal geïgnoreer. En voorts flirt ek by die werk met al wat rok dra en kuier tot laatnag rond saam met die pêlle." Nog nooit gesien nie! Die huwelik wat verbrokkel is altyd die ander party se skuld.
So kan ek aangaan, daar is net eenvoudig mense wat nooit skuldig is in hulle eie oë nie. Hierdie volgende twee tekste beskryf so ietsie van hierdie ding. 
Spreuke 12:15 "In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het, luister na raad." 
Spreuke 21:2 "In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg, maar die Here toets die gesindheid." 
Ek dink ek is ook so. Van kleins af geleer om te sê: "Dis nie ek nie..." Hierdie siekte van ons tyd veroorsaak dat daar so baie slegte verhoudings in die wêreld is. En ja, ons doen dit met die Here ook. ~ Willem Botha, 22/03/2018

“Telkens wanneer die boosaardige gees in Saul was, het Dawid die lier gevat en daarop gespeel. Dan het Saul bedaar en die boosaardige gees het van hom af padgegee.” (1 Sam 16:23) Toe ek dié teks vandag gelees het, het ek eers gedink hoe kragtig geesvervulde musiek is. Salwend en kalmerend vir ’n onstuimige binnekant. Dit bring jou in die teenwoordigheid van die Here. Dit laat jou weer perspektief kry. Dit help jou om te fokus op God en nie op jou probleme nie.  Ek besef toe later dat dit egter vir Saul net vir ’n kort rukkie ’n terapie was. Die oorsaak van sy ontsteltenis was dat God se Gees van hom onttrek het vanweë sy ongehoorsaamheid, hoogmoedigheid, weerbarstigheid, valsheid en gebrek aan berou voor God. Die musiek het hom vir ’n rukkie laat beter voel, maar nie die “probleem” opgelos nie. Ek sien en hoor deesdae ook hoedat mense in allerlei “ervaringe” en rituele genesing en vrede soek en dat dit nie permanent verligting en bevrediging gee nie. Gou-gou is hulle op soek na die volgende foefie. Ons harte kan nie verander word met goetertjies van buiteaf nie – dit moet binne-in onsself gebeur. Dit moet aangevuur wees deur die Heilige Gees. Die antwoord lê in ’n heelhartige terugdraai na die Here, om Hóm te erken as koning van jou lewe, om totaal oorgegee aan Hom te lewe, gehoorsaam te wees, sterk te staan in jou geloof, om Sy Gees toe te laat om elke aspek van jou lewe te vul en te beheer. ~ Wilna Botha, 21/03/2018

Grondsake 
Spr. 13:23 "Grond wat die eerste keer geploeg is, lewer genoeg kos vir die armes, maar waar daar nie wet en orde is nie, word die kos van hulle af weggevat." 
Ek is seker dat hierdie teks by jou presies dieselfde emosie opwek as by my. Ek glo nie eers ek hoef iets van hierdie teks te probeer verduidelik nie, want die afgelope paar weke is ons almal vasgevang in vrees en onsekerheid oor besluite van die regering. Hierdie regering aan wie ons getrou behoort te bly en aan wie ons moet "gee wat die keiser toekom." Soos jy weet raak dit by die dag moeiliker. 
Maar tog het ek vandag goed geëet, tog het ek baie werk om te doen in ons onderneming, tog het ek die voorreg om mooi plekke in hierdie land te sien en tog kan ek veilig iets wegsit vir ons oudag. Ek sien steeds baie goeie verhoudinge tussen die meeste mense op straat en ten spyte van vrese oor misdaad, leef ons nie totaal in wanhoop nie. Voorts is ek en jy (teen die massas gemeet) regtig welaf, eintlik skatryk. 
Vir my bly ons mooi land steeds die land van melk en heuning en hier floreer ek. 
Die een ou stukkie grondjie wat niemand egter van my en jou kan wegneem nie, is die plekkie wat Jesus vir ons gaan voorberei het in die hiernamaals. Ek en jy het reeds kaart en transport van daardie plek, en dis goed genoeg vir my. Ek gaan in elk geval niks van hierdie aardse goedere daarheen kan saamneem nie. Ek dink nogal ek kan met hierdie gedagte saamleef. ~ Willem Botha, 21/03/2018

Ek weet die Bybel sê ons moenie oordeel nie. Oordeel is God se werk. Maar tog lees ek in 1 Kor. 5:12-13 dat ons oor ons "eie mense" moet oordeel. Ons eie mense kan van toepassing wees op 'n gesin, familie, omgeegroep, gemeente ens. As ek fouteer sal ek dit waardeer as 'n medegelowige my reghelp, eerder as wat ek voortploeter en dalk 'n swak voorbeeld stel, of selfs iemand anders laat struikel. Ek sal graag tereggewys word, sodat my geloof gesond kan wees (soos Tit. 1:13 sê) Ons het 'n verantwoordelikheid om mekaar reg te help en mekaar te leer en mekaar aan te moedig om op die regte pad te bly. Dit moet natuurlik versigtig en met liefde gedoen word, nooit uit 'n hoogmoedige, hoogheilige, meerderwaardige posisie nie. Ek weet hierdie is seker een van die moeilikste goed om te doen. Dis nooit lekker om 'n teregwysing te ontvang nie. Self is ek versigtig om iemand anders op 'n foutiewe gedrag of oortuiging te wys want ek is bang vir sy reaksie. Bang hy is kwaad vir my, bang hy sê: dink jy jý is heilig? Gal. 6:1 sê mooi vir ons dat reghelp in sagmoedigheid moet geskied én dat ons altyd ook moet let op die vingers wat terugwys na onsself toe. "Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom." (Gal. 6:1) ~ Wilna Botha, 15/03/2018

Waarvoor swoeg jy? 
Pred 2:22 "Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?" 
Toe ek hierdie teks raaklees het ek besef dis 'n vraag waarmee bykans elke mens by tye worstel. Gaan slaap saans net sodat jy kan uitrus om more te gaan werk. Kom van die werk af en storm deur die aand roetine net om uit te rus sodat jy more weer kan gaan werk. Nimmereindigend.
Vir wat? Of nog meer, vir wie? Vir 'n salaris wat veels te klein is, by 'n werksplek wat dalk glad nie lekker is nie, vir 'n baas wat jou nie waardeer nie en kollegas wat die wêreld vir jou onaangenaam maak? Goeiste maar dit klink nou vir jou neerdrukkend! Maar dis hoe dit is. 
Iemand sê eendag dat mense hoofsaaklik vir twee redes werk, en dis uit vrees of gierigheid. Vrees dat jy jou werk (hoe miserabel ook al) sal verloor, of gierigheid wat veroorsaak dat jy net nie genoeg geld kan inpalm nie, ten koste van wat ook al. Daar is 'n derde opsie, maar dis vir min mense waar, nl dat jy werklik jou werk, en werksomstandighede geniet. Daar is min sulkes. Wel, werk moet jy werk, of dit lekker is of nie. 
Nou goed, ek is seker jy wag nou vir 'n "magic" oplossing wat ek flink uit die Bybel gaan uitpluk en dan is almal gelukkig. En deur 'n teks of twee gaan jou lewe verander. 
Slegte nuus is, ek gaan nie eers probeer nie! En iemand het voorts tereg gesê: A slower day comes............. never!
Dus, jy moet maar vir jouself hierdie ding uitmaak en vir jouself vra wat jou laat voortstrompel deur hierdie moeilike lewe. 
Gen 3:19 (1953 vertaling) "In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer."

Ek self werk om die volgende redes:-
Eet moet ek eet. 
Ek moet IETS doen deur die dag, so ek kan net sowel werk. 
Ek vind plesier in die feit dat my kennis en vermoëns 'n verskil maak. 
Ek voel goed oor die gedagte dat ek 'n verskil maak in die samelewing. 
Dis vir my 'n voorreg om myself en my gade te onderhou. Ek hoef in niemand anders se oë te kyk nie. 
Ek is dankbaar dat die Here vir my die krag en gesondheid gee om dit te kan doen. 
Ek is dankbaar dat daar so bietjie "jam" op die brood is wat ek kan geniet. 
Ek doen my werk met vreugde omdat dit 'n opdrag van God is. 
Hoekom werk jy? ~ Willem Botha, 13/03/2018


Daar word gesê: Of all the things you wear, your expression is the most important. Watter gesigsuitdrukking het jy vandag “aangetrek”, of opgesit saam met jou grimering? ’n Kil, afsydige kyk in jou oë, of ’n sagte, vriendelike kyk? ’n Neus-in-die-lug hooghartigheid, onverbiddelike stywe lippe of nederige diensbaarheid? ’n Frons of ’n glimlag? Jou gesigsuitdrukking kan mense nadertrek en ’n uitnodiging tot ’n gesprek wees of dit kan mense summier wegstoot. Jou gesigsuitdrukking is baie keer die spieëlbeeld van wat in jou hart aan die gang is. ’n Negatiewe ingesteldheid, pessimisme en vreesagtigheid sal ’n groot frons en ’n donker kyk in jou oë gee. Hoop, tevredenheid en vergenoegdheid sal met ’n glimlag bevestig word. “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig”, sê die Bybel in Ef. 4:2 en ek dink ons gesigte moet dít beaam. ~ Wilna Botha, 12/03/2018

Van Gogh
Daar is 'n lekker aktiwiteit wat ons dikwels op ons kampe vir gestremdes gedoen het, naamlik gesigverf, maar jy verf nie jou eie gesig nie, iemand anders verf jou gesig vir jou, soos wat hy/sy jou wil laat lyk. Die beste van als is, jy weet nie hoe jy lyk nie, want jy kan nie jou eie gesig sonder 'n hulpmiddel sien nie. Jy vertoon dus iets wat iemand anders vir jou aangebring het. Terwyl die persoon besig is om aan jou kunswerk te werk, weet jy nie wat besig is om met jou te gebeur nie. Nou ja, elke oggend verf vele dames hulle gesiggies presies soos wat hulle dit wil hê, soms sommer op die snelweg teen 120km/h! Maar hulle maak dit soos wat hulle daarvan hou.
Maar o wee, soms wil mense nie jou gesiggie uitlos nie, want met lelike woorde en slegte verhoudings verf ons mekaar se gesigte om soos monsters (Van Goggas) te lyk, sonder dat ons weet hoe ons vir ander lyk. Hulle noem dit skinder.
Jy sien, dikwels sien mense jou soos wat ander jou geverf het, en wat nie die ware jy weerspieël nie. Ek was al dikwels verras as ek mense ontmoet, en besef hulle lyk (is) totaal anders as wat ander mense hulle vir my geskilder het. En wat nogal erg is, as mense vir jou vertel hoe koddig ander mense is, vertel hulle dieselfde van jou agter jou rug.
Hierdie aksies word net deur woorde gepleeg. Ses en twintig (eintlik minder) letters van die alfabet word ingespan om kwetsende woorde te vorm, wat iemand se identiteit en aansien verwoes. 
SPREUKE 16:28 "Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende." ~ Willem Botha, 08/03/2018

In die Psalms is daar ’n klompie hoofstukke wat as klaagpsalms bekend staan. Lyk my daar word oor die algemeen gesê dat dit Ps. 44, 60, 74, 79, 80, 85 en 90 is. Hierdie Psalms is ’n uitstort van die bekommerde hart voor die Here, ’n biddende uitroep in pyn en lyding en eensaamheid, ’n hulpkreet onder vals beskuldiging en vervolging. Wanneer ek dit lees, besef ek maar net ons en ons swaarkry en probleme en bekommernis is nie uniek nie. Dwarsdeur die eeue het Christene tye van swaarkry beleef. Wat ons leer uit die klaagpsalms is dat dit nooit net by kla en kerm en mor bly nie. Dwarsdeur spring daar ’n geloofsbelydenis en ’n verklaring van vertroue in die Here op. Mag ons ook in ons diepste nood en beproewing na die Here uitroep, en nooit ons geloof verloor of ons rug op die Here draai nie. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Heb. 13:5) Gewoonlik eindig die klaagpsalm met ’n danksegging, met ’n lofprysing, met ’n bevestiging van God se hulp en seën. Hy ís God. Hy bly getrou. Hy gee uitkoms en oorwinning. Mag elkeen van jou persoonlike klaagliedere ook só eindig. “Maar wat my aangaan, dit is  vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug.” (Ps. 73:28) ~ Wilna Botha, 07/03/2018

Ek ken jou nie
Ek maak onlangs weer die fout om te gaan rondsnuffel op 'n Facebook groep van sogenaamde "andersdenkendes", waarvan 'n klomp lede daar openlik verklaar dat hulle nou ateïste is. Van die lede is teoloë en eks-leraars. Dis uiters ontstellend hoe godslastering openlik gepleeg word, en Christene (en die Here) bespot en verguis word. Ek het gelukkig gou ophou om daar te lees.
Toe wonder ek nou net, sê nou so 'n persoon kom in traumatiese omstandighede (terminale siekte wat op hulle pad kom, hulle of iemand baie naby), en hulle besluit in daardie absolute verwoestende omstandighede om na God uit te roep, wat verwag hulle van Hom? Sou jy verwag dat God net eenvoudig in Sy nimmereindigende liefde Sy helpende hand uitsteek? Kan jy verwag om God se guns te verkry as jy Hom verwerp en bespot het? Sou dit nie 'n wrede God wees wat Sy rug draai nie?
Wel, ek kan nie sê nie, want hoekom moet Hy my enigsins genadig wees? Ek kry egter tog in Matteus 'n teks wat vir my sê dat God baie baie ernstig is oor ons verhouding met Hom. Dit kom voor in die gelykenis van die 10 meisies, 5 dwases en 5 wyses. 
Matt 25 : 11-12 “Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’
Ek wil nie daardie woorde hoor as ek my heil by God gaan soek nie, en ook nie wanneer my oordeelsdag aangebreek het nie. Die Here is baie ernstig daaroor dat ons saak met Hom reg moet wees.
Matt 7 :13-14 “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”
Ek wens dit vir geen mens toe nie. ~ Willem Botha, 06/03/2018

Ek lees hierdie aanhaling in gister se dagboek-blokkie: “An eye for an eye only ends up making the whole world blind.” In Lev. 24:19-20 en Ex 21:24 vind ons hierdie Ou-Testamentiese wet dat as iemand iets verkeerd aan ’n ander gedoen het, moet presies dieselfde aan hom terug gedoen word. Oog vir ’n oog, tand vir ’n tand! As dit uitgevoer sou moes word sou ons almal lankal blind gewees het (of haasbek!) want een of ander tyd hét ons al almal vir iemand anders pyn of seer veroorsaak.  Ek is só bly dat Jesus vergifnis en vryspraak gebring het, nie net tussen ons en God nie, maar ook vir ons teenoor ons medemens. Jesus het as’t wat hierdie oog-vir-’n-oog-wet kom ophef, en ‘n nuwe genade-wet ingestel in Matt. 5:38-42. ’n Wet wat staan vir sagte harte teenoor mekaar,  vir toegee, vir inskiklikheid, vir mededeelsaamheid, vir genade en liefde, vir draai die ander wang, vir loop die ekstra myl,  i.p.v. vergelding, i.p.v.  boekhou van kwaad, i.p.v. wraak neem, i.p.v. veroordeel. Dis nie altyd so maklik om dié reël na te kom nie. Ons kan egter die Here vra om ons daarmee te help en Hy sál. Die blydskap en vrede wat dit gaan meebring, sal beslis ‘n groot beloning wees! ~ Wilna Botha, 05/03/2018

I'll walk with God
... tot die dag wat ek sterf. Ek kry vanmiddag hierdie liedjie in my kop (Mario Lanza het dit gesing) en dit het sommer net nuwe betekenis vir my gekry. 
"I'll walk with God from this day on 
His helping hand I'll lean upon 
This is my prayer my humble plea 
May the Lord be ever with me 
There is no death though eyes grow dim 
There is no fear when I'm near to Him 
I'll lean on Him forever 
And He'll forsake me never..."

Ek wil saam met die Here stap as enigiets wat sleg is op my pad kom
Ek wil nie sonder die Here stap wanneer 'n geliefde naby aan my sterf nie
Ek wil nie sonder die Here stap as daar aardse probleme op my pad kom nie
Ek wil nie sonder die Here stap as erge siekte my pad kruis nie
Ek wil nie sonder die Here stap as vrees, kommer en depressie oor my pad sou kom nie
Ek wil verseker nie sonder die Here stap as selfs ongeloof my oorval nie
Ek wil langs Hom wees as dit voel of ek deur doodskaduwees gaan
Maar, ek wil ook by Hom wees wanneer daar groot onverwagse voorspoed op my pad kom
Ek wil naby Hom wees om vir Hom te kan dankie sê as slegte nuus verander in goeie nuus
Ek wil Hom langs my hê as daar tye van hooploosheid was en onverwagse wonderwerke gebeur
Laastens, ek wil onder geen omstandighede sonder Hom wees wanneer ek hierdie wêreld verruil vir die volgende Lewe nie!
Jy sien, as ek saam met Hom stap, hoef ek niks voor my te sien nie, want Hy sien en ek stap saam, in volle geloof en volle vertroue op Hom.
2 Cor 5:7 "For we walk by faith, not by sight" ~ Willem Botha, 01/03/2018


Die laaste G-woord van my 18 G’s vir 2018 is groei. Ek wil nie graag in sentimeters of kilogramme groei nie, maar ek wil beslis aan die einde van dié jaar terugkyk op ’n groeipad waar ek geestelik en emosioneel ’n paar sentimeters gevorder het. Ek wil nie aan die einde van die jaar geweeg word en te lig bevind word nie. Ek hoop om soos ’n gesonde boom met sterk wortels, bietjie vir bietjie te groei en my takke verder en verder uit te sprei. Ek hoop om soos ’n vrugbare boom mooi, lekkerruik blomme of goeie, bruikbare vrugte op te lewer. Ek wil groei in toewyding aan die Here, ek wil groei in Woordkennis en Geesvervulling, ek wil groei in gehoorsaamheid, ek wil groei in diensbaarheid en verdraagsaamheid en geduld, ek wil groei in vergenoegdheid en tevredenheid. “Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid,” sê 1 Tim 6:11.  Nou ja, die jaar het al met 2 maande gevorder, ek dink dis tyd vir ’n meet en weeg sessie. ~ Wilna Botha, 28/02/2018

Jy ken sekerlik hierdie masjiene, hulle staan in winkelsentrums, hospitale en ander plekke rond. Hy werk eenvoudig: hy is gepak met koeldrank, sjokolade, lekkergoed en aartappelskyfies (sommige selfs met sigarette) en al wat jy doen is om jou geldjie in te sit, die regte nommertjie te kies en siedaar! Dan buk jy af, staan bakhand en hy gooi jou lekkernytjie flink vir jou uit. Dis nou as hy reg werk.
Maar o wee, soms is hy so steeks soos 'n donkie. Hy vat jou geld maar gee niks terug nie, of die meganisme wat die lekkerny moet uitgooi steek vas en dan begin die pret. Eers skud jy die masjien so liggies, en as hy nie werk nie kyk jy rond of niemand jou sien nie en skud hom minder liggies terwyl jy in (onaanvaarbare) tale spreek, en dan begin die groot geveg! Wat jy gewoonlik verloor.
So maak ons soms met gebed. Ons gaan staan voor die Here, spreek ons probleem uit, gee vir die Here die beste moontlik oplossing wat perfek gaan werk, saam met die ideale tydskaal en wag bakhand. Ongeduldig natuurlik , want as ons nou vir Hom gesê het wat sal werk en hoe gou dit moet gebeur is daar mos geen rede hoekom dit nie NOU moet wees nie! Dan gaan ons soort van deur dieselfde stappe as met die stomme masjien. Skud, skreeu en raak sommer lekker aggressief.
More vertel ons vir diegene wat dit wil hoor (en die wat dit nie wil hoor nie) dat God nie met ons praat nie, en dat ons gebede teen die plafon vasslaan.
Nee vriend, dit werk nie so nie. Die Here se tyd is nie ons tyd nie en Sy uitkomste is nie soos wat ons dit voorskryf nie. Soms is dit ook nie so ideaal soos wat ons dit wil hê nie, maar wees verseker, dis altyd die beste vir ons, hoewel dit nie altyd die lekkerste is nie. Soms vra ons 'n sjokolade maar kry 'n wortel, omdat dit dalk net die beste vir jou is. ~ Willem Botha, 27/02/2018

Die voorlaaste G van my 18 G’s vir 2018 is “geluk”. As iemand verjaar sê ons mos: geluk met jou verjaarsdag. So is ek ook van daai geluk toegewens toe ek nou die dag verjaar het. Ek het toe by myself gewonder watter soort geluk ek verwag vir my nuwe lewensjaar. Ek weet maar al te goed dat my geluk nie werklik bepaal kan word deur goeters en omstandighede nie, want dit is dinge wat enige tyd kan verander. Ek weet ook dat ek nie van mense afhanklik moet wees om my gelukkig te maak nie. Ek kan ook nie wag vir geluk om na my toe te kom nie. Ek kan dit ook nie êrens gaan soek nie. Dit kan nie deur ’n glimlag of ’n giggel aangeplak word nie. Ek lees anderdag hierdie waar aanhaling: “Happiness is not determined by what’s happening around you, but rather what’s happening inside you” en die Bybel beaam dit ook met Matt. 5:8 (Die Boodskap): “Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het.”  Dis mos iets wat jy nét by die Here kan kry. Ware geluk is dit wat jou hart en gedagtes vul as jy die Here dien. ’n Tevredenheid, ’n gerustheid, ’n sekerheid omdat jy weet daar is dinge wat belangriker is as die hier en nou, dinge wat ’n ewigheidswaarde het, Goddelike dinge! Vind jou vreugde in die Here, sê  Ps. 37:4. Ja, dis dié soort geluk waarna ek wil streef. ~ Wilna Botha, 26/02/2018

'n Sierlike kroon 
Spr 16:31 "Ouderdom is 'n sierlike kroon; dit word bereik deur dié wat reg lewe." 
Is hierdie nie 'n pragtige teks met vreeslik baie betekenis nie? Ek dink ons almal rem teen hierdie genadelose ding wat ons tyd noem, amper soos iemand wat deur 'n worshond vir 'n stappie gevat word (nee dis nie verkeerd-om gestel nie, daai brak sleep jou net waar hy jou wil hê). En dan maak mense die volgende belaglike stelling: "Ek wil tog nie eendag 90 jaar oud word en sukkel nie." Nee, ouderdom is inderdaad 'n sierlike kroon en diegene wat dit bereik moet uiters dankbaar wees. Weet jy wie wil 100 jaar oud wees? Die persoon wat 99 is... 
Saam met ouderdom kom wysheid en sagtheid, geduld (meesal, maar ek wonder oor ons manne) en vreedsaamheid. 
Dus, as jy moedeloos raak omdat jy nie meer kan doen wat jy eens op 'n tyd kon doen nie, wees dankbaar vir n hoë ouderdom, nie baie mense het daai voorreg nie! ~ Willem Botha, 22/02/2018


Nóg 'n G-woord wat my toegewens is vir my nuwe lewensjaar is genade. Mag dit ’n genadejaar wees! Vol van God se genade, daai wat ek nie verdien nie, maar verniet en in oorvloed kry. Sy genade wat my vryspreek en oorsien en wat vergewe en vergeet. Sy genade wat voorsiening maak vir nuwe kanse en vir oor begin. Sy genade wat vars en nuut is elke dag van elke jaar. Sy genade wat gestalte gevind het in ons Verlosser, Jesus Christus. Hy sê self in Luk. 4:19 dat Hy gekom het om die genadejaar aan te kondig. Die nuwe era, die nuwe lewe, die nuwe verhouding met God. Nie net vir ’n jaar of vir dié tydperk wat Hy op aarde was nie, maar vir ewig. Genade op genade op genade. Geen wonder dat Hy sê: My genade is vir jou genoeg. ~ Wilna Botha, 21/02/2018

Dit was Hy of ek... 
Hierdie stelling klink amper soos iemand wat uit selfverdediging iemand anders gedood het. Kyk na hierdie toneel wat lank gelede op Golgota afgespeel het. 
Luk 23:37 "... “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”
Luk 23:39 "Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”
Hierdie toneel speel natuurlik tydens die kruisiging van Jesus Christus af, waar eers die soldate, en dan een van die misdadigers langs hom spottend sê: As jy dan die Seun van God is, red jouself, en sommer vir ons ook. 
Jy sien, dit was Hy of hulle! Dit was ook Hy of ek. As Hy nie gesterf het nie, het hulle gesterf aan die ewige dood. As Hy homself sou red, en weggestap het van daardie kruis af, het almal alles verloor, ook ek en jy. En so ook die misdadiger wat gevra het om saam met Jesus in die paradys te wees. As dit gebeur het, was ek en jy totaal vasgevang in die Wet, en hoewel die wet goed is, is dit onmoontlik om dit na te volg. 
Jesus moes dus nie "gered" word nie, anders het ek en jy die Ewige lewe gemis en is ons ook nie gered nie. So swaar as wat daardie pad moes wees, het Jesus besluit dat Sy "redding" ons verdoemenis sou wees en daarom moes Hy eenvoudig sterf. 
Dis eenvoudig, dit was Hy of ek, en as jy onwrikbaar DAARAAN kan vashou, begin jy so ietsie van genade verstaan. Ek weet net nie of ek dankbaar genoeg is vir Sy keuse nie. ~ Willem Botha, 20/02/2018

Nog ’n paar “lekker” G’s wat ek vir my gevat het vir 2018 is gelyk, glad en gematig. Jip, dis seker hoe ons almal droom ons jaar moet lyk. Niks hobbels en opdraandes wat ons moet oor nie. Niks hindernisse en hekkies wat ons kan stuit nie. Niks afgronde wat ons kan bangmaak nie. Niks probleme, niks vrees, niks teleurstellings, niks trane, niks verlies. Maar helaas, ons weet maar al te goed dat daar geen waarborg is vir so ’n gladde en gematigde lewenspad nie. Terwyl ons hoop en glo en vertrou dat niks slegs op ons wag nie, moet ons egter gereed wees om die trauma en teleurstellings van die lewe te hanteer. Ons moet op die gladde paaie oefen om op die Here te vertrou, ons moet in die gematigde tye leer om aan die Here vas te hou, ons moet op die gelyk vlaktes ons oë oefen om die Here raak te sien sodat ons in die moeilike tye sal wéét waar ons hulp vandaan sal kom, sodat ons in die gevaarsones sal wéét dat die Here ons sal deurdra, sodat ons in die swaarkry sal wéét Sy arms is onder ons, sodat ons in die hartseer sal wéét Hy sal die trane afdroog. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.” (Ps. 23:4) ~ Wilna Botha, 19/02/2018

Ek het niks verkeerd gedoen nie 
Nou ja, niemand kan sê ons het nie die afgelope paar dae opwindende tye beleef in die politiek nie! Een frase wat seker baie lank in ons gedagtes sal wees is: "Ek het niks verkeerd gedoen.... Rêrig? Sjoe. Dit het my nogal met verwondering vervul! Totaal onskuldig! Maar soos jy weet is daar 'n teks in die Bybel vir elke moontlike scenario in hierdie lewe, en toe ek hierdie pure onskuld hoor, het ek lekker gegiggel en aan hierdie teks gedink.

Spr 30:20 Die ontroue vrou het haar eie manier: sy eet en vee haar mond af en sê: “Ek het niks verkeerds gedoen nie.”
Is dit nie SO waar in die lewe nie? Lieg 'n paar keer oor 'n saak en dit word jou waarheid. As jy eenkeer oor iets drooggemaak het en jy kom daarmee weg, word dit 'n gewoonte. Naderhand weet jy nie eers meer waaroor jy vergifnis moet vra vir die Here nie want jy raak totaal afgestomp vir wat reg en wat verkeerd is. En ja ek praat van myself. 
Miskien moet ons maar net weer gaan dink oor ons lewe en goeie introspeksie hou, anders sê ons ook soos die ontugtige vrou: Ek het niks verkeerd gedoen nie... ~ Willem Botha, 15/02/2018


Twee groot en belangrike en heerlike G’s is goedheid en guns. Hulle kom natuurlik uit Ps. 23:6 wat sê: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe.” Ek glo en verwag dat die Here se goedheid en guns my elke dag sal inwag én dat dit my sal volg. Ek kan nooit daarvan ontsnap nie! Dis soos wanneer daai frats golf in die see mens partykeer van voor en van agter tref! Sy goedheid, Sy liefde, Sy genade-golf is daar vir jou ook! Dit maak ’n pad oop voor jou en as jy omkyk sal jy sien dat dit jou agtervolg. Hierdie twee G’s moedig my ook aan om nie net aan die ontvangkant daarvan te wees nie, maar om vrygewig te wees met goedheid en guns. So baie mense is arm aan liefde, genade en deernis. Kom ons deel bietjie van hierdie twee G’s uit – met woorde én dade. ~ Wilna Botha, 14/02/2018

Moenie tot bekering kom nie... 
Okay okay, moet my nou nie verwurg nie. Natuurlik moet jy tot bekering kom, en om te glo in Jesus as Saligmaker is al wat nodig is. Daar is vele tekste wat dit vir jou duidelik uitspel. Hier is net een van baie. 
Joh 6:35 "Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie." 
As jy daardie "Brood" aanneem is jy gered, maar daar is natuurlik ander voorwaardes waarop ons nie nou sal ingaan nie.

Maar, ek sê weer, moenie tot bekering kom as-
* Jy dink die Here gaan skielik al jou probleme oplos nie
* Jy dink dat geen trauma op jou pad gaan kom nie 
* Jou finansies buite beheer geraak het en jy dringend hulp soek nie 
* Jy net tydelik 'n reddingsboei nodig het nie
* Jy bang is vir die hel nie, dis wonderlik om nou reeds 'n pad met die Here te stap
* Mense jou bang praat oor die eindtyd nie 
* Omdat jy bang is vir die bose nie. Jy hoef nie in vrees te lewe nie
* Jy dink dis 'n nuwe mode nie 
Die Here wil jou by Hom in die paradys hê en dit gaan WONDERLIK wees, maar dis nou reeds wonderlik om 'n pad met die Here te stap. Bekering het niks te doen met materiële voorspoed, of die gebrek aan slegte dinge hier en nou nie. Daar sal steeds net soveel uitdagings op jou pad kom, maar dis baie makliker om dit saam met Hom te stap. ~ Willem Botha, 13/02/2018


Hier is nog ’n klompie van my 2018 G’s: genotvol, grappig en gewaagd. Daarsy! Ek wil beslis sorg dat ek die lewe geniet, dat ek baie lag en so nou en dan ietsie buitengewoon en anders doen. Kyk, die Bybel praat tog ook daarvan: “Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg tydens die lewe wat God hom in hierdie wêreld gee.” (Pred. 8:15) Elders in Prediker sê dit ook dat dit ’n gawe van die Here is dat ons goeie dinge mag geniet. Ja, ek weet ons moet werk. Ja, ek weet die daaglikse roetine is sieldodend. Ja, ek weet lekker dinge is duur. Ja, ek weet ons verpligtinge rus swaar op ons. Raak egter bietjie kreatief, waag dit om iets nuuts te doen. Geniet klein en eenvoudige dingetjies, kyk ’n fliek, lees ’n grappie boek, kuier saam met iemand wat jou laat ontspan en by wie jy jouself kan wees, geniet iets in die natuur. Doen vir ’n slag iets anders, doen gewone dinge maar op ’n nuwe plek, draai die roetine bietjie om. Ek lees nou die dag dié vraag wat iemand vra: “Wanneer laas het jy iets vir die eerste keer gedoen?” Daai is nou vir jou ’n toets vir genotvol, grappig en gewaagd! Waag bietjie om iets vir die eerste keer te doen. Lag en geniet dit! ~ Wilna Botha, 12/02/2018

Op die regte tyd
Soms lees jy 'n teks raak wat jou so aanraak, en soveel sin maak, dat jy nie kan glo dat hy nog altyd vir jou wegkruip nie.
2 Kor 6:2 Hy sê: “Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.

Ongelooflik! Op die regte tyd... Nie op my tyd nie, op God se tyd, bring hy redding en uitkoms. En kyk mooi wat sê Hy: "Op die regte tyd het ek jou gebede verhoor". Word jy ook soos ek verskriklik ongeduldig en selfs moedeloos as die uitkoms nie dadelik kom nie? Daai "gebede wat teen die plafon vasslaan" gevoel. Of, die Here hoor my nie! 
Nee, ek lees hier dat die Here ons gebede hoor, maar die tyd is nog nie reg vir uitkoms nie. Dalk moet daar eers ander dinge in plek val wat 'n invloed op hierdie uitkoms het. Dalk is ons self nog nie gereed vir uitkoms nie. Ek dink dit wys juis hoe goed die Here in beheer is, en dat Hy elke oomblik aan jou dink tydens Projek Uitkoms. Ons moet net leer om geduldig te wag. 
En dan kom daardie wonderlike laaste woorde van hierdie teks: "Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding." Uiteindelik! Wonderlik! Hallelujah! Het jy dit ook al ervaar? Die Here is altyd betyds! Soms ook maar net, maar dis steeds betyds. Sterkte as jy nog bietjie moet wag! ~ Willem Botha, 08/02/2018


Dwaasheid 
Kyk, as daar nie 'n God is nie, is ons die grootste dwase denkbaar. Hier spandeer jy nou 'n paar minute om hierdie stukkie te lees, jy lees die Bybel, gaan kerk toe, praat in jou binnekamer met iemand wat nie bestaan nie, bid as iemand siek is (en dan sterf die persoon boonop), gee van jou inkomste vir 'n dwase instansie en glo jy gaan na jou afsterwe na een of ander hemelse hotel toe. Net om te sterf soos 'n hond. Dis nou die siening van die ongelowige. 
Aan die ander kant sê ons die ongelowige is dwaas. Het niks om aan vas te hou nie, sien geensins wonderwerke raak nie, leef vir die aardse plesier, net om dan vir ewig en ewig in 'n aaklige plek deur te bring. Ons glo hulle mis uit op die heerlikheid van God se teenwoordigheid, weet nie teenoor wie om dankbaar te wees nie, het geen anker as die stormwinde waai nie en dwaal eintlik maar doelloos rond. Hulle glo ook alles het toevallig ontstaan en dat daar niks verstommend is aan lewe, of selfs sterwe nie. 
Weet jy, ek en jy sal hulle moeilik oortuig, en daarom noem ons hulle dwase. God self doen dit ook. 
Ps 14 : 1 "Vir die koorleier. Van Dawid. Die dwaas dink daar is geen God nie. Dwase mense vernietig alles; wat hulle doen, is 'n gruwel vir die Here. Daar is nie een wat goed doen nie." ~ Willem Botha, 07/02/2018


Hier is nog ’n “G” vir 2018: Genoeg. “Mag jy genoeg hê “ – so het iemand my toegewens op my verjaardag. Genoeg geld? Genoeg tyd? Genoeg energie? Genoeg werk? So toe wonder ek:  hoeveel sal nou eintlik genoeg wees? Wil ons nie maar altyd meer van alles hê nie? Nul in die bankrekening  word dikwels ’n ander, hoër bedrag,. Gelykbreek word elke maand verder gedruk. Genoeg kos in die yskas is eers wanneer die tweede yskas óók vol is. Genoeg klere is as die spaarkamer kas ook vol is. Genoeg vakansie is as ek nou alreeds  volgende Desember s’n bespreek en betaal het. Ek weet nie wanneer is genoeg genoeg nie. Kyk, Prediker praat ook daaroor: “Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie. Ook hier kom dit tot niks.” (Pred. 5:9) Ek is bang ons oorvloed en ons gejaag na meer laat uiteindelik ’n bitter, onvergenoegde smaak in die mond wanneer belangrike dinge afgeskeep word, wanneer prioriteite skeefgetrek word, wanneer ons nie elke dag dankbaar is vir die daaglikse brood nie, wanneer ons nie afhanklik is van die  Here vir elke dag se vars porsie genade en goedheid nie. Spreuke sê so mooi: “Laat my nie ryk of arm wees nie. Gee U my net wat ek elke dag nodig het, sodat ek nie ryk word en ophou om U lief te hê nie, of arm word en begin steel en so u wet oortree nie.” (Spreuke 30:9) Ek gaan liewer streef na genoeg  liefde, vrede, geduld, genade; genoeg dankbaarheid vir wat ek is en wat ek het; genoeg  tevredenheid met my omstandighede.  “Gratitude unlocks the fullness of life. It turns what we have into enough, and more. It turns denial into acceptance, chaos to order, confusion to clarity. It can turn a meal into a feast, a house into a home, a stranger into a friend.” ~ Wilna Botha, 06/02/2018

Vuisvoos 
Ek is seker jy voel ook soos ek soms voel. Absoluut vuisvoos geslaan deur die korrupsie, misdaad en algemene onregverdigheid in ons land. Vuisvoos belasting betaal, moedeloos geslaan deur die wette wat jou totaal onderdruk. Jy mag eintlik nie werk hê nie, jy mag nie grond besit nie, jy mag nie meer dit besit waarvoor jy so hard gewerk het nie. Jy mag net belasting betaal. Hopeloos en hooploos. 
Maar is dit al wat waar is? Toe ek my gedagtes bymekaar gesit het om hierdie stukkie te skryf, het ek besluit ek skryf vandag prontuit die Klaaglied van Willem. Ek gaan presies sê wat ek voel en basta! 
Maar ai, hoe vinnig werk die Here met my gal toe ek besef dat ek onder die rykste 10% van die wêreldbevolking tel. Ja jy ook, as jy vanaand onder 'n dak slaap (al is dit nie jou eie dak nie), in 'n badkamer bad of stort, en nog boonop 'n ryding of drie besit. Nie te praat van kos vir 'n paar dae nie! 
Maar tog pla hierdie ander goed my, en daarom wil ek ook bid vir nuwe deurbrake, nuwe leiers wat nie ons land verwoes nie, misdadigers wat hulle bose bedrywighede los en vir voorspoed vir ALMAL in ons land! 
Maar die Here is nie klaar met my gedagtes nie. Hy herinner my toe sommer dat ek moet waak om nie ook deel te neem aan verkeerde dinge nie en nie self verval in praktyke wat teen die wet is nie. Jy weet mos, ons kom weg met daardie klein, onbenullige goedjies, maar dis net so verkeerd! 
"Here maak asb ons land skoon van al hierdie dinge wat ons soveel skade berokken, en help my om te sorg dat ek presies so leef as wat ek van ander verwag". ~ Willem Botha, 05/02/2018

Die volgende “G” wat van groot belang is vir 2018 is “geloof”. Ek is só bly dat iemand my ’n jaar van groot geloof toegewens het op Nuwejaarsdag. Ek hoop vir groter geloof. Ek bid vir dieper geloof. Meer van dié reddende geloof in Jesus Christus se vryspraak en verlossing. Ek wil glad nie twyfel aan die waarheid van die evangelie en die egtheid van God se Woord nie. Mag daai geloof elke oomblik soos ’n skild in my hand wees (so Ef. 6:16 sê), soos ’n borsharnas oor my hart om my lewe te beskerm (soos 1 Tess. 5:8 sê). Ek hoop egter ook vir meer vertrou-geloof in wie God is en vaste sekerheid dat Hy sal doen wat Hy belowe; groter geloof dat Hy in beheer is, dat Hy by my is, dat Hy alles ten goede sal laat meewerk; sterker vertroue dat Sy krag my sal regop hou, dat Sy arms altyd onder my sal wees. Dat my geloof nie op die wysheid van mense gegrond sal wees nie, maar op God se krag (1 Kor. 2:5). Ek hoop dat my geloof nie bepaal sal word deur dit wat sigbaar en logies voor my is nie, maar deur my vertroue in en hoop op die Almagtige God. Ek wil ook graag hoor dat die Here vir my sê: “... wat jy geglo het, sal gebeur” (Matt. 8:13) of “... jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” (Matt. 15:28). Ek is egter ook maar al te bewus van die feit dat daar geloof-toetse oor my pad kan kom. Ek bid dat ek sal deurdruk en sterker ander kant sal uitkom. My versugting tot die Here is altyd: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (Mark 9:24) ~ Wilna Botha, 01/02/2018

So bang soos die duiwels vir 'n slypsteen...
Hierdie is 'n bekende uitdrukking wat nie juis sin maak nie. Hoekom op aarde sal die duiwel bang wees vir 'n slypsteen? Natuurlik het oom Google toe 'n verduideliking gegee wat daarop neerkom dat die spreekwoord iewers uit die Middeleeue kom, maar dis 'n snaakse storie wat die liewe oom maar self vir jou moet verduidelik. Wat net vir my vreemd is, is dat so baie mense SO bang vir die duiwel is, as - wel - "die duiwel vir 'n slypsteen". En dit terwyl Jesus hom totaal verslaan het aan die kruis. Die duiwel word om elke hoek en draai gesoek (en blykbaar soms gekry), hy kry die skuld vir baie dinge wat ek dink maar ons eie skuld is, en sy krag en mag word wyd verkondig! Ek het al selfs gehoor hoe mense hom bestraf terwyl hulle besig is met 'n gebed tot God. Ek verstaan nie daai een nie.
Nee wat, sy tande is getrek. O skuus, hoe sê jy nou? Ooooo, daai teks wat sê dat hy rondloop soos 'n brullende leeu? Natuurlik! Ja dis waar, maar het jy die woord "soos" gesien in die teks? Soos 'n leeu? Wel, ek ken die Leeu van Juda, en hy is baie sterker en groter en magtiger as daardie na-aper! Dis die regte egte LEEU, en Hy is aan jou kant.
Terug na die slypsteen. Ek dink die duiwel sidder nogal oor hierdie teks:- 
HEBREËRS 4:12 "Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg." 
Ek dink as die Here daardie swaard skerpmaak op Sy slypsteen, kan ek nogal dink die duiwel is so bang vir die Here soos "die duiwel vir 'n slypsteen".
So, jy het daardie swaard in jou hand as jy die Bybel opneem en jy hoef niks te vrees nie! En as jy dit lees, is jou slypsteen kliphard aan die werk, en dan is die duiwel nogal bang, soos..... jy weet wat. ~ Willem Botha, 31/01/2018

Nog ’n belangrike “G” vir 2018 is “gesin”. My gebed is dat ons almal gesonde gesinne sal hê en dat dít die kern sal vorm van ’n gesonde gemeenskap. Ek bid dat die Here ons gesinne sal seën, dat ons elke dag sal hande vat en saam bely: “Wat my en my gesin betref, ons het ons keuse klaar gemaak, ons gaan die Here dien.” (Jos. 24:15) Die intieme kringetjie van ’n  gesin is bedoel om  die veilige hawe te wees teen die aanslae en eise van die wêreld en sy dinge. Dis veronderstel om  ’n rusplek te wees waar jy net jouself kan wees, sonder enige voordoen, sonder enige kompetisie. Dis ’n oefenplek vir die lewe, waar jy jou gedagtes kan toets, jou drome kan bekend maak, jou vrese kan ontbloot sonder enige vrees vir veroordeling. Die sekuriteitsgebied van ’n  gesin is waar ons vir mekaar opkom, mekaar beskerm, waar ons ’n span is wat saamstaan. Die gesin is ’n  heilige plek waar ons vir mekaar bid as een swak is, waar ons mekaar ophelp as een geval het. Die gesin is daai driedubbele tou waarvan Pred. 4:12 praat: “Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie.” ~ Wilna Botha, 30/01/2018

Here, streel net my hare
Ons is besig met 'n bediening by 'n ouetehuis in die stad, en na 'n boodskap sê 'n dame (in trane) vir Wilna dat sy nie hierdie ingewikkelde goed in die Bybel verstaan nie. Sy sê dat sy net 'n prentjie sien van hoe sy langs Jesus sit en Hy haar hare streel. En sy vra: Is dit genoeg?
Sjoe, is dit genoeg? Ja, duisend maal ja! Wat my toe laat dink aan die verhaal in Lukas van Marta en Maria, twee susters by wie Jesus aan huis gekom het. 
Luk 10: 38 - 42 "Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!” Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”
Is dit nie 'n kosbare insident wat hier afspeel nie? Dis presies wat hierdie dame in die ouetehuis ervaar, en die Here sal dit nie van haar wegneem nie. Net so is ons ook so aan die woel en werskaf, dat ons nie by Jesus se voete uitkom nie. Ons stoei en stry so oor die dinge van die Here, dat ons daardie eenvoudige aanraking van Hom mis. 
Laat Hom net toe om jou hare te streel, en luister na Sy woorde, soos Maria. Dis waarskynlik die naaste wat jy aan Hom kan kom. En ja, dis heeltemal genoeg! ~ Willem Botha, 29/01/2018

Die volgende “G” in my 2018 lysie is gesondheid. Terwyl ek die afgelope paar dae olik is en gestrem word deur pyn en nie kan beweeg soos altyd nie en bietjie afhanklik is van ander om basiese goedjies gedoen te kry, is ek sommer baie bewus van die belangrikheid van hierdie “G”. Ek besef ek waardeer nie gesonde dae genoeg nie. Ek besef ek waardeer nie dokters en toegang tot mediese sorg genoeg nie. Ek besef ek het nie genoeg simpatie met mense wat siek is nie. Ek besef ons is almal ewe kwesbaar en ons gesondheidstoestand kan in ’n oogwink verander. Die sekerheid wat ek egter het, is dat ons kan uitroep na die Here uit ons siekbed, dat ons kan pleit vir sy aanraking en genesing, dat Hy elke stukkie van ons liggaam ken en dat niks vir Hom verborge is nie, dat niks vir Hom onmoontlik is om te genees nie. Hoekom hy toelaat dat ons siek word, hoekom almal nie gesond word nie ... daai antwoorde het ek nie. Wat ek wel weet is dat Hy daar by jou is in jou siekekamer. Ek sien in my geestesoog dat hierdie teks waar word: “Whenever we’re sick and in bed, God becomes our nurse, nurses us back to health.” (Ps. 41:3, The Message) en ek kan Hom maar net hoor sê: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor. 12:9) ~ Wilna Botha, 25/01/2018

Wie se land is dit die? 
Wel, as jy vir verskillende mense hierdie vraag vra, gaan jy verskillende antwoorde kry. Almal van ons (ja ek en jy ook), wil hierdie land vir onsself toe-eien en niemand anders 'n plekkie gun nie. Ek is hier gebore, ek werk hier en betaal my belasting hier (ek bely dat dit met 'n swaar hart is), en so ook my pa en nog agt geslagte voor hom. 
So kan meer as 50 miljoen mense sê en daarom moet ons vir almal 'n plekkie gun. In Spreuke is daar 'n teks wat dit anders benader. 
Spr 2:20-21 "Loop jy liewer die pad van die goeie mense, bly op die paaie van die regverdiges, want die opregtes sal die land bly bewoon, dié wat onberispelik leef, sal ongehinderd gelaat word". 
Hoe wonderlik sou dit wees as ons almal hierdie reguit pad kon loop? Hoe ongelooflik sou hierdie land nie wees nie? Hoeveel welvaart sou hier nie wees nie? Hoe lekker as daar nie misdaad was nie? 
"... die opregtes sal die land bly bewoon."
Ek wil elke dag daarna streef om in alle opsigte opreg op te tree en te leef, want dan is hierdie belofte van God vir my ook waar. ~ Willem Botha
, 25/01/2018

My volgende “G” wat vriende my toegewens het vir 2018 is “geseënd”. Mag jy geseënd wees. Nou ja, hierdie wens vat ek met ’n oop hart en oop arms vir myself en vra die Here dat Hy my elke dag sal seën. Nie met dié dinge wat ek as seëninge tel nie, nie met seëninge wat ek in ander se lewens sien nie, maar dié wat Hy vir my persoonlik in sy stoorkamer gereed het. In die Here se hand is alles wat ek nodig het, alles wat my staande kan laat bly, alles wat my geluk, hoop en vrede kan gee. Vriend, weet vir seker dat die Here ons vandag wíl seën.  Hy sal Sy hand oopmaak en goedheid en genade oor jou en oor my uitstort.  “Die Here dink aan ons: Hy seën ... Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot” (Ps. 115:12) Mag ons elke dag Sy seëninge raaksien en waardeer en Hom daarvoor eer. ~ Wilna Botha, 23/01/2018

Die ongelowiges
Die ongelowiges vra my maklik vas. Ek was al in vele gesprekke waar mense hamer op 'n sensitiewe onderwerp, die vraag: Waar was die Here toe daar moeilikheid gekom het? Hoekom laat 'n liefdevolle God trauma toe? Hoekom beskerm Hy nie Sy kinders nie? Hoekom gebeur natuurrampe? Hoekom gebeur niks sleg met die slegte mense nie, maar Sy kinders wat Hom getrou volg kry dikwels swaar.
Daar struikel ek maar bietjie want ek het min antwoorde en die ongelowige kry maklik die oorhand in sulke gesprekke. Ek moet dan maar net erken dat ons in 'n gebroke wêreld bly.
Maar daar is 'n paar plekke waar die ongelowige geen antwoorde het nie. Hoekom vlug SOVEEL mense wat platgeslaan word in die lewe, juis in die arms van die Here in? Hoekom vind soveel mense vertroosting by die Here wanneer die medemens net geen antwoorde het nie? Hoekom is dit so lekker wanneer daai vrede wat alle verstand te bowe gaan (volgens Fil 4:7), oor jou kom? Daardie tyd wat jy sterker is as wat jy ooit gedink het jy kan wees. Wie kan verklaar hoekom jy soveel vrede ervaar as jy besef dat God se vergifnis groter is as jou sondes.
En laastens, vir wie sê die ongelowige dankie wanneer daar bonatuurlike uitkoms gekom het, of genesing gekom het, of finansiële deurbrake gekom het?
Dit lyk my ons wat aan die Here bly vashou, maak maar net eenvoudig die beste keuse. Ek kan net eenvoudig nie deur die lewe gaan - en die storms trotseer - sonder die Here nie. ~ Willem Botha, 23/01/2018

Weer terug by my 18 G’s vir 2018: As mens “G’s” sê, dan sê jy “Gees”. Iemand het my ’n Geesvervulde jaar toegewens en dis waarvoor ek ook bid en vra en wens en hoop. Mens kan nie ’n nuwe jaar of ’n nuwe dag of ’n nuwe taak aanpak sonder die leiding van die Gees binne-in jou nie. Oomblik vir oomblik wil ek bewus wees van die Here wat hier binne-in my teenwoordig is, wat hier naby my is. Ek wil met elke asemteug, met elke keuse, met elke besluit Hom binne-in my ervaar en raadpleeg en gehoorsaam. Ek wil my krag, my leiding, my vrede en vreugde, my geloof dááruit put. Ek wil voortdurend en bewustelik vol word en vol bly van die Heilige Gees sodat Sy vrug en Sy gawes sigbaar en bruikbaar sal wees in my alledaagse lewe. “... let the Spirit fill your life.” (Ef. 5:18) ~ Wilna Botha, 17/01/2018


Raak Hom aan
Ons almal smag na die Here se aanraking , daardie tye wat jy voel dat die Here baie naby aan jou kom en dat Sy nabyheid amper tasbaar is. Ek dink ons almal het dit al op een of ander manier ervaar.
Maar in Luk 8 lees ons dat die rolle omgedraai word wanneer iemand vir Jesus aanraak, en 'n onbegryplike ding gebeur. 
Luk 8:43-46 "Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie. Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe: “Wie het My aangeraak?” Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U. ”Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.”
Die woorde wat vir my hier bokant my begrip is, is "...Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het". Dan lees ons verder dat Jesus haar in 'n oomblik genees. Net so kan ons Hom ook daagliks aanraak deur uit te reik na Hom toe, deur spreekwoordelik aan die soom van Sy kleed te raak. En ja, dit sal ook so kragtig wees dat daar krag van Hom uitgaan.
Raak Hom aan in tye waar jy moedeloos is en nie meer weet watter kant toe nie. Raak Hom aan as jy smag na genesing, dalk fisies of dalk op Geestelike vlak. Raak Hom aan as jy eensaam is en niemand anders het om mee te praat nie. Raak Hom aan as jy wag op deurbrake en dit lyk of net niks gebeur nie.
Maar raak Hom ook aan as jy tye van intense dankbaarheid beleef. Raak Hom aan wanneer jy in stilte by Sy voete sit en net rustig teen Hom aanleun. Raak Hom aan in tye wat jy voel dat Hy Al is wat jy nodig het. Die vrou wat siek was het haar boeglam geskrik toe Hy wou weet wie aan Hom geraak het, maar sy het nie verstaan dat Hy gewag het dat sy na Hom toe moes uitreik nie. Hy het soveel "krag" tot Sy beskikking wat Hy na jou toe wil laat vloei, Hy wag dalk nou dat jy aan Hom moet raak. Dis net 'n gebed ver. ~ Willem Botha, 16/01/2017


Nou ja, daar is die derde Maandag van die jaar al amper verby. Op die eerste Maandag het ons almal vir mekaar allerhande mooi seëninge toegewens vir die nuwe jaar. Ek het ook ’n klomp wonderlike woorde ontvang van oraloor. Op die tweede Maandag het ek verjaar en toe is dit wéér ’n stroom seëninge en gebede wat oor my uitgespreek word. Dit het my opgeval dat ’n klomp van dié woorde met ’n “G” begin, soos bv. geseënd, gesond, gelukkig, genade, groots, goedheid, guns, genot, Geesvervuld, ens.! Toe besluit ek net daar en dan dat 2018 ’n “G” jaar gaan wees en skryf toe so 18 G’s neer vir my jaar! As mens “G” sê, dan sê jy “gee”.  Om te gee, moet dan seker my eerste G vir die jaar wees. Ek moet bely dat ek nie altyd ewe geneë is om van my geld of goed of tyd of aandag weg te gee nie, maar ek neem die besluit om tóg meer vrygewig daarmee te wees – nie net vir dié wat ek voel dit verdien nie, nie net vir dié wat ek dink vir my óók iets gaan teruggee nie. Ek sal ook meer vrygewig probeer wees met moeiliker dinge soos om vriendelikheid, geduld en genade te gee. Om iemand anders die voordeel van die twyfel te gee. Om iemand sy plekkie in die son te gee. Om meer van myself te gee as van my geld of goed. Die Bybel sê mos: Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang. (Hand 20:35) Die Bybel sê ook: God het die blymoedige gewer lief. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het. (2 Kor. 9:7) ~ Wilna Botha, 15/01/2018

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)