RIPPEL MANNEKAMPE
 

KAMP 6: 19-21 Aug
Manne wil nou maar eenmaal kamp.... en saam met Rippel het ons dit nou vir die 6de keer gedoenDit klink half ge-yk om weereens te sê dit was wonderlik, skitterend, en geseënd. Maar dit WAS! Hierdie keer was dit 'n kamp met 'n verskil - geen ge-saalsittery nie, dit was 'n avontuurkamp in die ware sin  van die woord. Al ons sessies was buite in die veld gehou en het gepaard gegaan met pret en aktiwiteite. Was dit 'n geestelike kamp? Verseker! Dit was egter gekombineer met hope pret. Ons was verstom oor die aantal inskrywings en met 86 persone was dit een van die grootste Rippel kampe nog. Kwaggasrus het weereens alles moontlik gedoen om dit 'n verrykende ervaring te maak en die fasiliteite verbeter elke jaar. Die kos was nogmaals beter as 5-ster en die weer was wonderlik. Elke man is deur die Here aangeraak en daar is ongetwyfeld groot lewensbesluite gemaak. Heelwat "bagasie" is op Kwaggasrus agtergelaat en manne het teruggekom met nuwe hoop en 'n vars uitkyk op die lewe. Hiermee 'n groot rippel vir Rippel, asook borge wat dit moontlik gemaak het! Ons sien met 'n verwagting uit na die volgende kamp. (kyk foto's en lees een van die manne se getuienis >>)

KAMP 5: 15-17 Oktober 2010
... nog 'n heerlike Rippel kamp met baie pret (kyk foto's >>) en mooi getuienisse ( lees meer >>)

KAMP 4: 16-18 Oktober 2009

As iets lekker is, gaan die tyd nou maar eenmaal vinnig om. Dis nou vir 'n gebeurtenis om aan te breek en dan weer net so vinnig verby te gaan. Dit voel soos nou die dag dat talle manne aangedui het dat hulle die vierde kamp gaan bywoon, toe is hy weer op ons.

Meneer my meneer, hier gaan ons alweer. En alweer. Vir die vierde keer. Natuurlik is Kwaggasrus en Rippel mannekampe nou al sinoniem. Mooiste natuurskoon, wonderlikste mense op die kamp, gasvryheid duisend en dan natuurlik die pad.... deur 'n man se maag!!! Mmm, wat sal ons met daardie ekstra kilo'tjies maak?

Dalk was dit die ekonomie wat die getalle bietjie afgedruk het, maar steeds 'n skaflike groep van sestig het opgeruk Kwaggasrus toe. Waarvan bykans die helfte reeds vorige kampe bygewoon het! Tienie en Johan (span uitgesluit), hou die rekord om tot nou toe al die kampe te kon bywoon. Soos belowe, het van die vorige kampers mense saamgebring om in die pret en Geestelike aktiwiteite te kom deelneem. Jy sien, die motto is hoeka:- “Jy hoef niks”, en daarom kon manne ander mense met vrymoedigheid saambring, omdat Rippel se mannekampe bekend is daarvoor dat ALMAL gemaklik en welkom voel.

Lekker diep Geestelike gesprekke, stiltetyd in die natuur, lofprysing tot laataand en manne wat eenkant gaan saambid het, is algemeen op so 'n naweek. Selfs twee jong bulletjies in matriek het gevoel dat hulle sommer van die eerste oomblik welkom was. Raymond se kwinkslae was natuurlik weereens treffers tydens sy sessies en almal is huistoe met sakke vol pitkos.

As gevolg van 'n gebrek aan reën was die kleilatgat droog. Gelukkig het die manne nie besluit om mekaar met kluite toe te takel nie!!! Die nat foefieslide het egter getrou “sy ding gedoen” en gesorg vir pret so reg uit die kinderdae. Die manne met die vierwielspeelgoed het die ego's op die proef gaan stel op die 4 x 4 baan, terwyl sommiges gaan afkoel het in die swembad.

En toe... die groot rugby. Vasgenael voor die TV (grootskerm), het een en elkeen verras gesien hoe die Cheeta's vir hulle 'n plekkie in die Curriebeker eindstryd teen die Bulle losveg. Wie het dit nou verwag? Inderdaad groot pret. Alles deel van 'n Rippel mannekamp karakter.

Saterdagaand was almal deur die Here gekonfronteer om te besluit waar hulle gaan wees as hulle “flatline”, en die einde van hierdie bedeling aanbreek. Baie het opnuut besluit dat hulle nie sonder Jesus hierdie lewe (en die een hierna), wil aanpak nie. Wat is dan tog beter as om 'n kind van Jesus te wees?

Die naweke van 22 Mei en 16 Oktober 2010 is reeds in die dagboek vasgepen om die Rippel tradisie voort te sit. Maak jou aantekeninge en sit elke maand so ietsie weg vir die volgende kamp. Maak sommer nou al daardie broer of vriende bymekaar en gan bederf hulle met 'n lekker naweek.

Die volgende kamp gaan 'n totaal ander karakter hê. Wag en sien ....

Lees gerus 'n paar manne se getuienis oor die kamp, en kyk na die foto's.

KAMP 3: 29-31 Mei 2009

... en so, met die tyd, raak “Rippel Mannekamp” toe ‘n huishoudelike term!  Die naweek van 29 – 31 Mei het die derde in ‘n reeks van vele Mannekampe plaasgevind, hierdie keer weereens by Kwaggasrus anderkant Brits. Talle manne wat een, of albei, van die vorige kampe bygewoon het, was weereens daar, omdat hulle teen dié tyd weet wat die woord “pret” en “Geestelike verdieping” beteken. 

Die kamp was bygewoon deur 78 manne van oral oor Pretoria, tot so ver as Ellisras en manne wat vorige kampe bygewoon het, het vriende saamgebring wat van ver kom. Lekker om so ‘n verskeidenheid ouens bymekaar te kry wat met een doel voor oë kom, en dit is om ‘n ontmoeting met die Here te beleef.

Hoewel die program nie oorvol in terme van tyd was nie, was daar baie tyd spandeer aan diep geestelike gesprekke, lofprysing, saambid en saampraat. Nogal verbasend hoe vinnig ‘n man sy hart oopmaak as hy besef dat ander mense met dieselfde uitdagings worstel. Dis ook dan wat manne by mekaar raad en troos soek, en so het die naweek dan sy doel ten volle bereik. Franna, Raymond, Kobus en Willem het weereens as fasiliteerders opgetree en die lofprysingspan was die keer 4 man sterk!!! 

Speeltyd het egter ook gebeur, en die ouens het foefieslide gery in elke denkbare posisie en styl. Vet pret!!! Om alles te kroon het die befaamde Super 14 eindstryd plaasgevind en die Bulls-koors het behoorlik hoog geloop tussen die kampers. Wat kan mens meer vra as so ‘n weghol oorwinning? Na die wedstryd is daar behoorlik gekuier om die kospotte.  

En so van kospotte gepraat, Michelle en haar span het weereens net die beste voorgesit, in OORVLOED. Die pad na ‘n man se hart loop mos hoeka deur sy maag!!! Soos die bekende advertensie tereg sê;- “Jou ma se kos”.

Eddy en Michelle se gasvryheid en ywer het gesorg dat almal welkom en goed versorg gevoel het. Vir meer oor Kwaggasrus kan jy gerus gaan loer op www.kwaggasrus.co.za

Elke man op die kamp het geleentheid gehad om diep in sy eie hart te kyk en die Here die kans te gee om beheer te neem van sy lewe. Saterdagaand was baie, baie diep, en talle manne het besluit om radikaal om te draai van sy ou weë en ‘n nuwe koers in te slaan saam met Koning Jesus. 

Lees getuienisse van die kampers, en kyk na foto's.

Natuurlik gaan ons weer so maak, en sommer gou ook. Die naweek van 16 – 18 Oktober is die volgende kamp, weereens by Kwaggasrus. Selfde plek, selfde styl, maar nuwe inhoud. En natuurlik ook die nat foefieslide… 

Hou jou oor styf teen jou draadlosie op 90.5 FM vir inligting, en sit solank ietsie ekstra in die spaarvarkie. Dis goedkoop, weet jy? Teen ongeveer R390 per persoon kan geen mens bekostig om tuis te bly nie. 

Sien jou daar. 

KAMP 2: 14-16 November 2008

Wat maak 'n kamp besonders? Hoekom gaan mense weer en weer op mannekampe? Ons weet tog almal dat die geestelike 'high" weer verbygaan en dat die daaglikse gestoei van die lewe maar weer die oorhand kry. Dis seker waar, maar een en almal het 'n ervaring gehad wat nie in woorde beskryf kan word nie. Op hierdie kamp het die Here manne diep aangeraak en baie harte van klip uitgeruk en vervang met harte van vlees.

Baie, maar baie manne het met groot hartseer en groot probleme by die kamp aangekom. Miskien was die meeste nie eintlik lus daarvoor nie, want probleme maak mense depressief. Wie is dan nou lus vir 'n klomp "hoogheilige" manne as jou lewe vol moeilikheid is? Wel, almal het baie gou besef dat niemand se lewens volmaak is nie, en dat ons almal maar in dieselfde bootjie sit. Miskien was dit juis dit wat die kamp besonders gemaak het, want manne het gou met mekaar begin gesels en probleme bespreek. 

Die grootste deurbrake het egter op diep Geestelike vlak gebeur, waar die Here een en almal aangeraak het. Die temas was gemik op die hart van die man, die stiltetyd het almal aangeraak, en die vergifnis gedeelte het ouens groot besluite laat neem. Wie sou wegry by Kwaggasrus sonder nuwe besluite? Wie sou onaangeraak vir vroulief (en kinders) vasdruk by die huis?

Soveel vir die ernstige sy.... Miskien was die kleilatgooi en "foefieslide" net wat die manne nodig gehad het om weer kind te wees. Jy sien, niemand kan kleilatgooi én bekommerd wees nie. As jy nie konsentreer nie, kan dit seer wees!!! Nuwe vriendskappe is gesmee rondom speeltyd en die ontspanne atmosfeer was net wat die dokter bestel het.

Almal wil weer gaan kamp, en almal was dit eens dat die plek weer Kwaggasrus sal wees. Wie sal Eddie en Michelle se gasvryheid vergeet? Om nie eers te praat van die oorvloed kos nie!!!

Lees getuienisse van die kampers, en kyk na foto's.

KAMP 1: 30 Mei - 1 Junie 2008

Die tema was "Manne van die Woord", en aktuele onderwerpe is bespreek, nl:- lofprysing, stiltetyd, manne se emosionele pyn, pa-kind verhoudinge, die huwelik, en die man in die huis. Hoewel die program redelik besig was, was daar genoeg tyd om vriendskappe te bou, en manne hulle probleme, maar ook genietinge, met mekaar kon bespreek.

Hoe kan 'n mens die sukses van so 'n kamp beoordeel? Wel, as manne hulle harte vir die Here gegee het, is daar 'n siele-oes. Dit het gebeur. As manne nuwe besluite geneem het, is daar verandering in hulle lewens. Dit het gebeur. As manne besluit het om dinge by die huis te gaan regmaak, en manne van die Woord te word, is daar gesinnne wat 'n nuwe pa en man terugkry. Dit het ook gebeur.

Hierdie kamp was gekenmerk deur 'n soek na God, na 'n hunkering om in 'n nuwe verhouding met Jesus Christus te staan, en om te weet dat Jesus dié een is waar ons oplossings vir ons probleme kan gaan soek. Almal het versterk huistoe gegaan, en almal het net weereens besef dat Christenskap 'n integrale deel van ons lewensmondering moet wees. Wie sal weet wat in elke huis gebeur het na die naweek? En wie sal weet hoe manne se denke oor God verander, as die Heilige Gees sy intrek geneem het? Ons gebed is dat die Here iets blywend in elkeen van ons kom doen het. 

Lees getuienisse van die kampers, en kyk na foto's.

~Willem