‘N NUWE ERA


Die lewe is vol mylpale, of bakens, tydperke, siklusse, seisoene en era’s. ‘n Era is ‘n tydperk waar sekere reëls, regulasies, gewoontes en alledaagse dinge geld. Soms kom ‘n era tot ‘n einde weens wetgewing, bv. toe ek ‘n jong man was moes ek weermag toe gaan. Ek het nie ‘n keuse gehad nie want wetgewing het my verplig. Daardie era van diensplig het verbygegaan, en nou word jou seun nie meer gedwing om dit te doen nie. Soms bring tegnologie ‘n einde aan 'n era. Mense skryf nie meer briewe nie, want die rekenaar en selfoon het daardie era tot ‘n einde gebring. Dit lyk my kinders speel nie meer blikaspaai, kennetjie, bok-bok-staan-styf, wegkruipertjie, albasters en yo-yo nie. Dit is só “yesterday” – die era is verby. En so, op 28 November 1981 kom daar ‘n einde van ‘n era vir Willempie toe hy vrou vat. Weg is die ge-jollery, net vir jouself leef, spandeer jou geld op motors, hoëtroustelle, loop rond soos jy wil, doen verantwoording aan geen mens nie. Die era was verby. Vir altyd – till death do us part. ‘n Nuwe era breek aan, nuwe verantwoordelikheid, nuwe reëls, ‘n nuwe lewe. En dit was goed! Of liewer, IS goed. 

Die kruisiging van Jesus kondig die einde van ‘n era aan, en die begin van ‘n nuwe era, een met nuwe reëls, nuwe waarhede, nuwe uitkoms, nuwe hoop, nuwe verhoudinge, ‘n nuwe uitkyk op die lewe, en ook nuwe voorwaardes. 

Nou wonder ek by myself: wanneer het hierdie ou era tot stilstand gekom, en wanneer het die nuwe een aangebreek? Was dit met die skepping van die mens, of dalk die sondeval, was dit met Jesus se geboorte, of met sy sterwe, of met sy opstanding? Dalk met sy hemelvaart? Wel, ek glo die volgende:

Joh 19:28-30
Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe 'n spons vol suur wyn op 'n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

‘n Aangrypende oomblik toe Hy sê: “Dit is volbring”. Tetelestai. Finish en klaar. Die einde van ‘n era. Die begin van ‘n nuwe. Wat interessant is, is dat die meeste mense op daardie oomblik nie besef het wat gebeur het nie. Al die dissipels het weggehol, behalwe Johannes. Waarskynlik het hulle wel geglo dat daar ‘n einde aan ‘n era was; hulle het vir drie jaar saam met Jesus gewandel, wonderwerke gesien, self wonderwerke gedoen; hulle het gelewe in die hoop dat hulle ‘n nuwe Koning en leier het; hulle het uitgesien na ‘n nuwe lewe, en toe woep, weg is dit. Maar... hulle het nie rekening gehou met Jesus se beloftes nie. Die belofte dat Hy sou opstaan, die tempel afbreek en opbou in drie dae, die belofte van ‘n ereplek in die Koninkryk. Hulle het selfs gestry oor wie aan Sy linker en wie aan sy regterkant sou sit. Vir hulle was ‘n era van hoop aan skerwe toe Jesus sterf. Terug na die viswaters, hulle moes die mense weer in die oë kyk en druipstert weer teruggaan na hulle mense en in die gemeenskap opgeneem word. Maar intussen tyd, hét daar ‘n nuwe era aangebreek. Hulle sou so drie dae moes wag om dinge te sien wat hulle nie kon glo nie! ‘n Nuwe era – opwindend! 

Man, nie lank na die hemelvaart nie, gebeur dinge in hierdie nuwe era wat skrik vir niks: duisende kom tot bekering onder hulle prediking, die Evangelie versprei soos ‘n veldbrand, tot aan die uithoeke van die wêreld, ja selfs tot aan die Suidpunt van Suid-Afrika! Die verlossing is hier. WOW! Wat ‘n era.

Toe hierdie nuwe era aanbreek, begin ‘n nuwe stel reëls in werking kom. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Weg is die vloek van die sondeval, weg is verlossing deur die hoëpriesters wat namens die volk moes kom boete doen voor God, weg is die tyd waar die profete moes gaan hoor wat die Here vir die volk wil sê. Weg is die rol van die Fariseërs wat die wet in die mense se koppe moes kom indril. Weg is rituele en godsdiensbeoefening. En bo alles, weg is die vloek van die sonde. Weg is die slaafse navolging van die wet, en ander wat namens jou sondevergifnis by die Vader moes kom afpleit. 

Matt 27:51
Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur.

Wat ‘n wonderlike ding gebeur – die voorhangsel is weg, die allerheiligste is oop vir almal; ons het nou vrye toegang tot die Vader deur Jesus. ‘n Era van gebondenheid en afhanklikheid kom in ‘n oogwink tot ‘n einde, en ‘n nuwe era van vryheid en genade breek aan vir my en vir jou. 

Wat beteken die nuwe era vir jou en my? Moenie jouself in die ou era gevange hou nie. As die deur van jou hart nog toe is, is jy in die ou era vasgevang, maar boeta, as jy hom oopmaak.... 

-  dan skop die volle omvang van genade in. Dan kom hierdie ding in werking wat baie min van ons werklik verstaan. Hierdie toestand waar God sê: My genade is vir jou genoeg. Waar “hard probeer” nie meer die gewenste uitwerking het nie. Saam met God se genade en vergifnis kom egter ook ‘n opdrag, want as jy in die volle omvang van Sy vergifnis wil leef, moet jy ook gou wees om te vergewe. Vir wie moet jy dalk in hierdie Paastyd gaan vergewe? Komaan, begin jy ook ‘n nuwe era.

- sonde lei nie meer tot die dood nie. Wanneer sonde teen genade probeer opweeg, dan wen genade loshande. (dit staan in Romeine 5:20, kyk hoe sê die Message bybel dit:  All that passing laws against sin did was produce more lawbreakers. But sin didn't, and doesn't, have a chance in competition with the aggressive forgiveness we call grace. When it's sin versus grace, grace wins hands down.) Hier is daar egter ook ‘n opdrag: die Bybel sê by monde van Paulus ons moenie hierdie vryheid misbruik om sonde te doen nie.

- daar breek ‘n era van nuwe hoop aan. Dis nie meer nodig om hooploos en hopeloos in ‘n bondel te sit nie. Saam met Jesus kan jy enige bende stormloop, is geen muur vir jou te hoog nie en kan jy enige situasie hanteer. In hierdie nuwe era is Jesus direk daar as jou Vertrooster, Hy huil saam met jou langs ‘n graf, Hy hou jou vas as jy bang is, en Hy gee jou ‘n toekomsvisie as die tonnel donker lyk. Al wat Hy vra is: almal wat moeg en oorlaai is, kom na My toe.

- in hierdie nuwe era het jou saligheid reeds aangebreek. Dit gebeur nie eers wanneer jy eendag sterf nie. Joh 6:47
Dit verseker Ek julle, wie in My glo, HET die ewige lewe.

In watter era leef jy? Dis net een van die twee – voor, of na Jesus. Vier hierdie Paasfees in dankbaarheid jou nuwe era.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)