N NUWE LIGGAAM


Wat sien jy as jy in die spieël kyk? Wie sien jy? ‘n Moeiliker vraag: as jy na ‘n foto van jouself kyk, wat sien jy eerste? Wat trek jou oog? Party van ons manne kyk dadelik of die hangkas nog so ‘n element van ‘n six-pack oorhet, party kyk na hulle neuse (wat dalk te lank of te kort of te plat is), vrouens loer onmiddellik of die plooitjies sigbaar is, en ja, ons het maar almal op een of ander manier ‘n stukkie onvergenoeglikheid oor ons gestaltes. Dis seker reg so, want die liggaam is die enigste sigbare deel van my menswees wat ek aan die wêreld, en aan myself, vertoon. Die liggaam is belangrik want dit huisves die gees. God het dit goedgedink dat ons op een of ander manier verskillend sal lyk. Maar ... dit is net waar vir die tydperk wat ons op aarde deurbring. Hoewel ons vir hierdie tydperk verknog sal wees (en moet wees) aan hierdie gestalte, moet ons besef dat hy hier sal agterbly wanneer ons aanbeweeg na ons finale geestelike tuiste. Iewers sal ons moet begin afskeid neem van die aardse liggaam en as’t ware losmaak van hom, want ons gaan hom nie meer nodig hê nie. Ons gaan ‘n opstanding liggaam kry, ‘n nuwe een, wat van ander goeters aanmekaar gesit sal wees. Die kruks van hierdie saak lê vir my daarin dat mens dit nie kan glo as Jesus se fisiese opstanding nie vir jou ‘n werklikheid is nie. 

1 Kor 15:12-19
Daar is tog geen twyfel oor die boodskap nie: Jesus was dood en is weer lewendig gemaak. Hoe is dit dan nog moontlik dat party van julle kan twyfel en sê dat God nie mense wat dood is lewendig sal maak nie? As God nie iemand wat dood is lewendig kan maak nie, sou Hy ook mos nie vir Jesus lewendig kon maak nie. As dit darem waar sou wees, beteken dit dat alles wat ons vir julle vertel het, net ‘n klomp leuens is en dat julle in net mooi niks glo wanneer julle sê julle glo in Christus nie. En dit is nie al nie. As Jesus nog dood is, beteken dit dat ons ‘n klomp leuens oor God ook vertel, want ons sê mos dat Hy Christus lewendig gemaak het. As God nie mense lewendig gaan maak nie, geld dieselfde mos vir Jesus – dan is Hy mos ook nie lewendig gemaak nie. En as God Hom nie lewendig gemaak het nie, is julle nog maar net soos julle altyd was, van kop tot tone in die sonde. Dan help dit niks meer dat julle glo nie. Dan is nie net ons nie, maar ook al die ander Christene wat al dood is, sonder enige hoop totaal verlore. As Christenskap net iets beteken terwyl ons nog op hierdie aarde is en daar vir ons niks meer oor is daarna nie, is ons ‘n hopelose spul mense vir wie ander net baie jammer kan voel.
 

Vers 16: as God nie mense lewendig gaan maak nie, geld dieselfde mos vir Jesus –dan is Hy mos ook nie lewendig gemaak nie.  

Hoewel ons nie te verknog moet raak aan hierdie aardse liggaam van ons nie, moet ons dit oppas, versorg, voed, nie skade aandoen nie; ons moet dit in stand hou vir goeie lewenskwaliteit. Maar... hy gaan agterbly.  

Baie mense vra steeds die vraag of ek myself kan laat veras. In hierdie gedeelte in 1 Kor. 15 sê die Bybel baie duidelik dat dit nie die materiële gestalte sal wees wat opstaan nie. Daar was al baie debat oor wat sal gebeur as die grafte opgaan. Kom ons dink vir ‘n oomblik oor hierdie grusame werklikheid: met verassing word die liggaam binne minder as 90 minute as/stof. Dan bly daar bykans niks oor nie. In ‘n graf neem dit so 10 to 15 jaar totdat net been oorbly wat dan baie lank neem om finaal te vergaan en stof te word. In albei gevalle is “stof tot stof” waar en die mens se aardse liggaam word weer deel van die natuur. In 1 Kor. 15 vanaf vers 35 sien ons duidelik dat hierdie liggaam onder die grond, of die 2kg as na verassing, nie meer nodig is vir die opstanding liggaam nie. Wat belangrik is, is om te weet dat hierdie liggaam vir hier se gebruik is, maar dit wat hierna kom is nie meer afhanklik daarvan nie. Die aardse tentwoning sal opgeslaan word en nie meer gebruik word nie. Net so was dit met Jesus. Hy was nog altyd in die hemel, Hy het afgekom aarde toe, en het vir 33 jaar ‘n menslike liggaam nodig gehad. Na Sy opstanding het hy weliswaar in Sy gewone aardse gestalte verkeer tot en met die hemelvaart. Maar ook Hy gebruik nou nie meer daardie aardse gestalte nie.

Hoe gaan ons lyk wanneer ons uit die dood opstaan?

1Kor 15:35-58 (uit die Boodskap)
Iemand onder julle mag dalk wonder: “Hoe op aarde kan iemand wat dood is weer lewendig word en hoe sal sy liggaam daarna lyk?” Dis darem ‘n dom vraag. Julle weet mos dat ‘n saad wat jy in die grond saai ‘n ruk lank eers lyk of dit dood is en dan, na ‘n rukkie, kom die lewendige plantjie uit. En verder, as jy byvoorbeeld ‘n mielie plant, plant jy tog nie die groot plant met die mieliekop en al nie. Jy plant ‘n mieliepit. God besluit dan self hoe die plant moet lyk – elke soort saad gee mos ‘n ander soort plant. Die diere en mense verskil net so. ‘n Mens is mos anders gebou as ‘n dier of ‘n vis. Die sterre en die son lyk ook anders as die aarde. Die sterre en die son is op ‘n ander manier mooi as die dinge hier op aarde. Selfs die sterre verskil van mekaar en is elkeen op sy eie manier mooi. Die prag van die son is anders as die prag van die maan. Net so sal dit wees wanneer ons uit die dood lewendig word.
Die liggaam wat doodgaan, vergaan heeltemal, maar die liggaam waarmee ons weer lewendig sal word, sal nooit vergaan nie. Die liggaam wat begrawe word, is vol gebreke, maar oor ons nuwe liggaam sal ons maar net kan oorloop van trots. Die oue is swak, maar die nuwe is vol krag. Ons sterf as gewone aardse mense, maar ons gaan lewendig word in ‘n nuwe geestelike liggaam. Soos daar ‘n gewone aardse liggaam is, so is daar ook ‘n geestelike liggaam. In die Skrif staan daar dat die eerste mens, Adam, ‘n lewende mens geword het. Maar die laaste Adam, dit is Christus, is die Gees wat mense geestelik lewendig maak. Ons word dus eers met ons gewone aardse liggaam gebore. Die geestelike liggaam kry ons eers later. Die eerste mens, Adam, is mos uit die grond van die aarde gemaak; die tweede mens, Christus, het uit die hemel gekom. Die mense op aarde is almal soos Adam, maar die mense wat in die hemel is, is soos Christus. Aanvanklik was ons almal aards soos Adam, maar in die toekoms sal ons lyk soos Christus wat uit die hemel gekom het.
My liewe broers en susters, wat ek met ander woorde wil sê, is dit: ons, met ons aardse liggaam, kan tog nie in die nuwe wêreld van God ingaan nie. ‘n Liggaam wat doodgaan en vergaan, kan tog nie in die nuwe wêreld van God gaan bly waar alles vir altyd hou nie. Laat ek julle ‘n geheim vertel: nie almal sal doodgaan voor die Here kom nie. Dié wat nog in hulle aardse liggaam lewe wanneer Hy kom, sal in die plek daarvan ‘n nuwe geestelike liggaam kry. Wanneer daar aangekondig word dat die Here kom, sal dit vinniger gebeur as wat die oog kan sien. Dit sal so gebeur: die aankondiging sal kom dat die Here kom en dan sal die mense wat al dood is, lewendig gemaak word met hulle nuwe liggaam; dié wat in daardie stadium nog op aarde lewe, sal dadelik  ‘n nuwe liggaam kry. Hierdie liggaam wat ons nou het, gaan agteruit en is op pad na die dood toe. Die nuwe liggaam wat ons gaan kry, sal nie agteruitgaan nie en sal ook nooit doodgaan nie. Wanneer dit alles gebeur, sal dit presies wees soos die Skrif gesê het dit gaan wees: Die dood het nie meer enige krag of invloed nie. God het al die krag as oorwinnaar.
Daar is net mooi niks oor van die dood se mag nie. Sal die dood ons nog kan seermaak? Nee, vir seker nie. Sonde is die oorsaak dat ons doodgaan. En ons kan nie stry dat ons in sonde vasgevang is nie omdat die wet van God so duidelik daar is en dit vir ons wys. Maar ons is anders; ons het baie waarvoor ons vir God baie dankie kan sê. Jesus Christus het gewen en omdat Hy gewen het, het God ons saam met Hom wenners gemaak.
My liewe boers en susters, dit gee julle alle rede om julle nie ‘n duim te laat wegbeweeg van dit waarin julle glo nie. Staan vas. As daar iets is wat julle vir die Here kan doen, doen dit en nog meer, maar nie saak wanneer en waar nie. Julle twyfel mos nie een oomblik daaraan dat wat julle vir die Here doen die moeite werd is nie.
 

Vir ons is hier ‘n onbeskryflike klomp hoop in hierdie gedeelte opgeteken. Die swaarkry wat gepaard gaan met ons aardse lewens hier, moet nie ons totale menswees definieer nie. Ons aardse liggaam is die gereedskapstuk waarmee ons sonde doen. Jy het jou liggaam nodig om elke sonde te doen (en dit sluit jou gedagte wêreld in). Gelukkig bly hierdie liggaam agter en gaan nie saam na die hiernamaals nie.  

1 Kor 15:53(b) “Die nuwe liggaam wat ons gaan kry, sal nie agteruitgaan nie en sal ook nooit doodgaan nie”. God het ons aardse liggaam so geskep dat hy gemiddeld 80 jaar sal hou; maar Hy het ons opstanding liggaam so gemaak dat dit vir ewig en ewig sal hou. In daardie liggaam sal geen pyn betrokke wees nie, geen gestremdheid, geen onvolmaaktheid, geen sonde, geen swaarkry, geen agteruitgang, geen siekte, niks wat sleg is nie. Dit is iets om na uit te sien. Moenie té verknog wees aan hierdie aarde liggaam nie, en aanvaar dat jy iewers sal moet losmaak van hom.

1 Kor 15:19
As Christenskap net iets beteken terwyl ons nog op hierdie aarde is en daar vir ons niks meer oor is daarna nie, is ons ‘n hopelose spul mense vir wie ander net baie jammer kan voel

DIT is ons hoop!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)