'N OFFER VIR DIE HERE


Ons het onlangs gepraat oor die bring van offers, en wel in die konteks van versoening. Ek bring 'n offer en die Here spreek my vry van my sondes. "Tit for tat"… Dit het natuurlik verander toe Jesus die volmaakte, finale, offer aan die kruis gebring het in ons plek. Vandag kyk ons bietjie na 'n ander offer. 'n Ander tipe offer, een met 'n ander bedoeling. 'n Offer wat niks met versoening te doen het nie, maar met gehoorsaamheid. Iets wat die Here van jou en my vra, maar waarvoor daar nie 'n onmiddellike of logiese voordeel is nie. Hierdie offer kan wees: opoffering, weerhouding, prysgee, op die spel plaas, weggee ens. Dit geskied altyd in volle gehoorsaamheid en met volle vertroue in God. D.w.s. jy bring die offer, en vertrou die Here dat dit ten goede sal uitwerk, selfs al lyk dit op die oomblik onlogies. En nog meer, al werk dit nie uit soos ons wil hê dit moet nie, te aanvaar dat dit goed is.

Gen 22:1-14
1 'n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: "Abraham!" Hy het geantwoord: "Hier is ek!"
2 God het vir hom gesê: "Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys."
3 Vroeg die volgende môre het Abraham 'n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het.
4 Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien.
5 Toe sê hy vir sy slawe: "Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe."
6 Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en 'n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop,
7 sê Isak vir sy pa: "Pa?" en Abraham antwoord: "Ja, my seun?" Toe vra Isak: "Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?"
8 Abraham het geantwoord: "My seun, God sal sy eie offerlam voorsien." Daarna het hulle twee saam verder gestap.
9 Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout.
10 Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag,
11 roep die Engel van die Here uit die hemel na hom: "Abraham, Abraham!" Hy het geantwoord: "Hier is ek!"
12 Toe sê God: "Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie."
13 Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom 'n skaapram wat aan sy horings in 'n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer.
14 Toe noem Abraham die plek: "Die Here voorsien." Daar word nou nog gesê: "Op die berg van die Here word voorsien."


"Nou weet Ek dat jy my dien". Wow, my vriend, in Engels sou hulle sê: dis nou 'n "tall order". Mense sê mos vandag spottend dat Isak 'n tiener was, daarom dat sy pa nie omgegee het om hom te offer nie. Ek dink nie so nie, want 'n tiener sou nie die hout wou dra nie (ha-ha!) Op ernstiger noot: Die Here vra vir Abraham iets wat totaal sinneloos en nutteloos vir ons lyk. Hulle reis drie dae lank. Sy seun vir wie hy só lank gewag het, moet geoffer word. Hy is bereid om dit te doen sonder teëpraat, sonder teëstribbel, sonder om te weet wat die uitkoms gaan wees. Wat dink jy was in Abraham se kop vir drie dae lank? …nogtans bly hy gehoorsaam.

Abraham was in so 'n noue kontak met die Here, dat hy roekeloos op die Here vertrou het. Hoe dink jy het Abraham se vaderhart te kere gegaan toe hy daardie mes lig? Dit was verseker nie net soos om 'n appel te skil nie! Hy moes sy seun vermoor! Dit maak mos nie sin nie.

Hier is nog 'n geval:

2 Sam 23:13-17
13 Op 'n keer het drie van die dertig leiers afgetrek en in die oestyd by die Adullamgrot by Dawid aangekom. Die kamp van die Filistyne was in die Spooklaagte.
14 Dawid was toe in 'n bergskuiling, en die Filistyne het Betlehem beset.
15 Dawid het baie dors geword en gesug: "Ag, as iemand my tog net water uit die put in Betlehem se poort kon laat drink!"
16 Die drie helde het toe deur die Filistynse kamp geglip en water uit die put in Betlehem se poort vir Dawid gebring, maar hy wou dit nie drink nie. Hy het dit as 'n offer vir die Here uitgegiet
17 en gesê: "Mag die Here my daarvan bewaar dat ek dit sou drink. Is dit nie so goed as die bloed van die manne wat met lewensgevaar gegaan het nie?"

Jitte tog, klink dit nou nie sinneloos nie? Dink jou in dat jy só dors word dat jou tong aan jou verhemelte vasklou, en jy het niks om te drink nie. Soos jy in die laagte kyk sien jy so 'n lugspieëling wat soos water lyk, en as jy daarheen hardloop is daar niks. Vers 15: "Dawid het baie dors geword en gesug: ag, as iemand my tog net water uit die put in Betlehem se poort kon laat drink". Nou ja, toe glip drie helde deur die linies - hoe lank moes dit gevat het? En toe bring hulle dit: yskoue, verfrissende water … wat kon lekkerder wees? Wat maak Dawid daarmee? Hy gooi dit uit! Kan jy dit glo? Jy sien, vir Dawid het dit om meer gegaan as net om sy dors te les - Dawid het dit prysgegee as 'n offer vir die Here. Dawid was op daardie stadium báie afhanklik van die Here vir oorwinning. Hierdie was nie 'n daad om die Here om te koop nie, dit was iets anders. Hy stel hierdie water gelyk aan die bloed van sy manskappe. Hy sê as't ware as julle julle bloed (lewens) op die spel kon plaas, kan ek hierdie water laat verbygaan. Dit was gehoorsaamheid.

'n Offer vir die Here - Abraham verloor amper sy seun, maar toe tog nie, Dawid verloor sy verfrissende drankie, maar sterf nie van die dors nie.

Nog 'n geval: Daniël se drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednego sit nóg meer op die spel… hulle lewens!

Dan 3:15-18
15 Nou kyk, dit sal in orde wees as julle bereid is om te buig en die beeld te aanbid sodra julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, 'n ander blaas- of musiekinstrument. Maar as julle hom nie aanbid nie, sal julle dadelik in 'n brandende oond gegooi word, en watter god sal julle uit my mag kan red?"
16 Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: "Ons hoef u nie hierop te antwoord nie.
17 Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag.
18 Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie."

Hulle aanvaar selfs dat hulle dit dalk nie kan maak nie: "selfs as Hy dit nie doen nie…" Hoe klink dit vir jou? Wat sou hulle vir die koninkryk van God werd wees as hulle daardie dag sou sterf? Niks? Ek weet nie, maar vandag ken ons hierdie stukkie getuienis van drie manne wat sê: "ons sal ons lewens opoffer vir gehoorsaamheid" - en, toe sterf hulle nie.

Stefanus, egter, het opgeoffer EN gesterf.

Hand 7:54-60
54 Toe die lede van die Joodse Raad dit hoor, het hulle van woede op hulle tande gekners.
55 Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.
56 "Kyk," het hy gesê, "ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan."
57 Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het hulle op hom afgestorm,
58 hom uit die stad uitgesleep en gestenig. Die getuies het hulle klere neergesit by 'n jongman met die naam Saulus.
59 Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: "Here Jesus, ontvang my gees!"
60 Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: "Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!" Met hierdie woorde het hy gesterwe.

Stefanus verloor alles. In aardse terme gesien, sy kosbaarste besitting, sy lewe, want God het dit van hom gevra. En toe bid hy sommer ook nog vir sy moordenaars. Dit maak nie sin nie, maar hy doen dit.

Weet jy, vandag vra die Here dalk ook vir my en jou 'n sogenaamde sinnelose offer. Iets wat ons glad nie verstaan nie, wat hoegenaamd nie sin maak nie.

· Dalk moet jy jou vandag van iets weerhou. Miskien moet jy vas, en kos en lekkernye laat verbygaan.
· Miskien is daar siekte op jou pad, maar dalk is dit juis die offer wat die Here van jou vra.
· Dalk het jy teenspoed, dalk het jy jou werk verloor. Dalk is jy in armoede of in swak verhoudings… dinge wat jy verduur, en wat nie sin maak nie.
· Dalk moet jy vandag geld weggee as 'n offer. Dalk moet jy dit weggee aan iemand wat vir jou lyk asof dit nie sin maak nie.
· Dalk beleef jy verguising of verwerping deur mense. Miskien is dit dalk juis die offer wat die Here van jou vra - die weggee van jou regte.
· Miskien moet jy iets groots prysgee. Iets wat swaar en seer vir jou kan wees.

Niks van hierdie goed maak vir my sin nie, maar so ook het die opofferings van Abraham, Dawid, Daniël se vriende en Stefanus ook nie sin gemaak nie. Maar dalk sê die Here "byt vas, die beloning is véél groter as die offer". Eer die Here vandag IN jou omstandighede, ten spyte VAN jou omstandighede - as 'n offer vir hom. Mag Hy jou ryklik seën vir jou gehoorsaamheid.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)