|
'N
OFFER VIR DIE HERE - 10 Desember 2008
Ons het onlangs
gepraat oor die bring van offers, en wel in die konteks van versoening. Ek
bring 'n offer en die Here spreek my vry van my sondes. "Tit for
tat"… Dit het natuurlik verander toe Jesus die volmaakte, finale,
offer aan die kruis gebring het in ons plek. Vandag kyk ons bietjie na 'n
ander offer. 'n Ander tipe offer, een met 'n ander bedoeling. 'n Offer wat
niks met versoening te doen het nie, maar met gehoorsaamheid. Iets wat die
Here van jou en my vra, maar waarvoor daar nie 'n onmiddellike of logiese
voordeel is nie. Hierdie offer kan wees: opoffering, weerhouding, prysgee,
op die spel plaas. Dit geskied altyd in volle gehoorsaamheid en met volle
vertroue in God. D.w.s. jy bring die offer, en vertrou die Here dat dit
ten goede sal uitwerk, selfs al lyk dit op die oomblik onlogies. En nog
meer, al werk dit nie uit soos ons wil hê dit moet nie, te aanvaar dat
dit goed is.
Gen 22:1-14
1 'n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef
gestel en vir hom gesê: "Abraham!" Hy het geantwoord:
"Hier is ek!"
2 God het vir hom gesê: "Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy
liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as
brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys."
3 Vroeg die volgende môre het Abraham 'n donkie opgesaal en hout gekap
vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe
het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het.
4 Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien.
5 Toe sê hy vir sy slawe: "Wag hier met die donkie. Ek en die seun
gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe."
6 Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en
self vuur en 'n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop,
7 sê Isak vir sy pa: "Pa?" en Abraham antwoord: "Ja, my
seun?" Toe vra Isak: "Hier is vuur en hout, maar waar is die lam
om te offer?"
8 Abraham het geantwoord: "My seun, God sal sy eie offerlam
voorsien." Daarna het hulle twee saam verder gestap.
9 Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het
Abraham daar 'n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak
vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout.
10 Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag,
11 roep die Engel van die Here uit die hemel na hom: "Abraham,
Abraham!" Hy het geantwoord: "Hier is ek!"
12 Toe sê God: "Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet
Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan
My te offer nie."
13 Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom 'n skaapram wat aan sy horings
in 'n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy
seun as brandoffer geoffer.
14 Toe noem Abraham die plek: "Die Here voorsien." Daar word nou
nog gesê: "Op die berg van die Here word voorsien."
"Nou weet Ek dat jy my dien". Wow, my vriend, in Engels sou
hulle sê: dis nou 'n "tall order". Mense sê mos vandag
spottend dat Isak 'n tiener was, daarom dat sy pa nie omgegee het om hom
te offer nie. Ek dink nie so nie, want 'n tiener sou nie die hout wou dra
nie (ha-ha!) Op ernstiger noot: Die Here vra vir Abraham iets wat totaal
sinneloos en nutteloos vir ons lyk. Hulle reis drie dae lank. Sy seun vir
wie hy só lank gewag het … Sonder teëpraat, sonder teëstribbel.
Sonder om te weet wat die uitkoms gaan wees. Wat dink jy was in Abraham se
kop vir drie dae lank? …nogtans bly hy gehoorsaam.
Abraham was in so 'n noue kontak
met die Here, dat hy roekeloos op die Here vertrou het. Hoe dink jy het
Abraham se vaderhart te kere gegaan toe hy daardie mes lig? Dit was
verseker nie net soos om 'n appel te skil nie! Hy moes sy seun vermoor!!
Dit maak mos nie sin nie.
Nog 'n geval:
2 Sam 23:13-17
13 Op 'n keer het drie van die dertig leiers afgetrek en in die oestyd
by die Adullamgrot by Dawid aangekom. Die kamp van die Filistyne was in
die Spooklaagte.
14 Dawid was toe in 'n bergskuiling, en die Filistyne het Betlehem beset.
15 Dawid het baie dors geword en gesug: "Ag, as iemand my tog net
water uit die put in Betlehem se poort kon laat drink!"
16 Die drie helde het toe deur die Filistynse kamp geglip en water uit die
put in Betlehem se poort vir Dawid gebring, maar hy wou dit nie drink nie.
Hy het dit as 'n offer vir die Here uitgegiet
17 en gesê: "Mag die Here my daarvan bewaar dat ek dit sou drink. Is
dit nie so goed as die bloed van die manne wat met lewensgevaar gegaan het
nie?"
Jitte tog, klink dit nou nie
sinneloos nie? Dink jou in dat jy só dors word dat jou tong aan jou
verhemelte vasklou, en jy het niks om te drink nie. Soos jy in die laagte
kyk sien jy so 'n lugspieëling wat soos water lyk, en as jy daarheen
hardloop is daar niks. Vers 15: "Dawid het baie dors geword en gesug:
ag, as iemand my tog net water uit die put in Betlehem se poort kon laat
drink". Nou ja, toe glip drie helde deur die linies ... Hoe lank moes
dit gevat het? En toe bring hulle dit: yskoue, verfrissende water … wat
kon lekkerder wees? En toe gooi Dawid dit uit! Kan jy dit glo? Jy sien,
vir Dawid het dit om meer gegaan as net om sy dors te les - Dawid het dit
prysgegee as 'n offer vir die Here. Dawid was op daardie stadium báie
afhanklik van die Here vir oorwinning. Hierdie was nie 'n daad om die Here
om te koop nie, dit was iets anders. Hy stel hierdie water gelyk aan die
bloed van sy manskappe. Hy sê as't ware as julle julle bloed (lewens) op
die spel kon plaas, kan ek hierdie water laat verbygaan. Dit was
gehoorsaamheid.
'n Offer vir die Here - Abraham
verloor amper sy seun, maar toe tog nie, Dawid verloor sy verfrisssende
drankie, maar sterf nie van die dors nie.
Nog 'n geval: Daniël se drie
vriende, Sadrag, Mesag en Abednego sit nóg meer op die spel… hulle
lewens!
Dan 3:15-18
15 Nou kyk, dit sal in orde wees as julle bereid is om te buig en die
beeld te aanbid sodra julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter,
lier, harp, 'n ander blaas- of musiekinstrument. Maar as julle hom nie
aanbid nie, sal julle dadelik in 'n brandende oond gegooi word, en watter
god sal julle uit my mag kan red?"
16 Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: "Ons
hoef u nie hierop te antwoord nie.
17 Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die
brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag.
18 Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien
nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie."
Hulle aanvaar selfs dat hulle dit
dalk nie kan maak nie: "selfs as Hy dit nie doen nie…" Hoe
klink dit vir jou? Wat sou hulle vir die koninkryk van God werd wees as
hulle daardie dag sou sterf? Niks? Ek weet nie, maar vandag ken ons
hierdie stukkie getuienis van drie manne wat sê: "ons sal ons lewens
opoffer vir gehoorsaamheid" - en, toe sterf hulle nie.
Stefanus, egter, het opgeoffer EN
gesterf.
Hand 7:54-60
54 Toe die lede van die Joodse Raad dit hoor, het hulle van woede op
hulle tande gekners.
55 Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en
die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God
staan.
56 "Kyk," het hy gesê, "ek sien die hemel geopen en die
Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan."
57 Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het
hulle op hom afgestorm,
58 hom uit die stad uitgesleep en gestenig. Die getuies het hulle klere
neergesit by 'n jongman met die naam Saulus.
59 Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: "Here Jesus,
ontvang my gees!"
60 Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: "Here, moet
hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!" Met hierdie woorde het hy
gesterwe.
Stefanus verloor alles. In aardse
terme gesien, sy kosbaarste besitting, sy lewe. Want God het dit van hom
gevra. En toe bid hy sommer ook nog vir sy moordenaars. Dit maak nie sin
nie, maar hy doen dit.
Weet jy, vandag vra die Here dalk
ook vir my en jou 'n sogenaamde sinnelose offer. Iets wat ons glad nie
verstaan nie, wat hoegenaamd nie sin maak nie.
· Dalk moet jy jou vandag van iets
weerhou. Miskien moet jy vas, en kos en lekkernye laat verbygaan.
· Miskien is daar siekte op jou pad, maar dalk is dit juis die offer wat
die Here van jou vra.
· Dalk het jy teenspoed, dalk het jy jou werk verloor. Dalk is jy in
armoede of in swak verhoudings… dinge wat jy verduur, en wat nie sin
maak nie.
· Dalk moet jy vandag geld weggee as 'n offer. Dalk moet jy dit weggee
aan iemand wat vir jou lyk asof dit nie sin maak nie.
· Dalk beleef jy verguising of verwerping deur mense. Miskien is dit dalk
juis die offer wat die Here van jou vra - die weggee van jou regte.
· Miskien moet jy iets groots prysgee. Iets wat swaar en seer vir jou kan
wees.
Niks van hierdie goed maak vir my
sin nie, maar so ook het die opofferings van Abraham, Dawid, Daniël se
vriende en Stefanus ook nie sin gemaak nie. Maar dalk sê die Here
"byt vas, die beloning is véél groter as die offer". Eer die
Here vandag IN jou omstandighede, ten spyte VAN jou omstandighede - as 'n
offer vir hom. Mag Hy jou ryklik seën vir jou gehoorsaamheid.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|