|
Terug
na HOOFBLAD
29000
kerse - 2 Junie 2010
Ps 90
Here, U was vir ons 'n toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge
gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot
ewigheid is U God! U laat die mens sterwe: U sê net: "Word weer stof!"
Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele
wagbeurt in die nag. U maak 'n einde aan 'n mens, hy gaan die doodslaap
in. Hy is soos gras wat in die môre afgesny word: in die môre is dit nog
groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en dit
verdroog. Ons vergaan onder u toorn, ons gaan te gronde onder u gramskap.
U sien ons oortredinge raak, U bring die sondes wat ons wou wegsteek, aan
die lig. Onder u toorn vlieg ons dae en skiet ons jare verby soos 'n
gedagte. Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en
dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe.
Wie ken die krag van u toorn beter as u dienaars? Wie ken u gramskap
beter? Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. Hoe lank nog,
Here, voordat U ons te hulp kom? Ontferm U tog oor ons. Skenk ons elke dag
u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees. Soveel
dae as dié waarin U ons verdruk het, soveel jare as dié waarin ons gely
het, gee ons soveel jare van blydskap. Laat u werk vir ons duidelik word
en u grootheid vir ons kinders. Laat ons die goedheid van die Here ons God
belewe: hou die werk van ons hande in stand, ja, die werk van ons hande,
hou dit in stand.
Vers 3 -
U laat die mens sterwe: U sê net: "Word weer stof!
Vers 10 - Ons
lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol
swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe.
Is dit nie so
ongelooflik waar nie? Ons sê mos gereeld: “Die kinders word groot en ons
word oud”.
En... “Sjoe, waar vlieg die tyd heen?” of... "Dit voel soos nou die dag
dat ek sus of so verjaarsdag gevier het".
Die mens lewe
tussen 25500 tot 29200 dae, aldus Psalm 90 (LW dit is die woorde van
Moses)
Hoe werk
hierdie lewenspad wat die Here vir ons uitlê? Dalk een van drie maniere:-
- Die Here steek dag vir dag een kersie aan, en die kersie se lewe is
beprek tot een enkele dag
- Die Here steek vooraf presies (sê nou maar) 26200 kersies aan, wat die
eksakte hoeveelheid dae verteenwoordig wat jy gaan lewe.
- Daar brand meer kersies as wat die mens kan lewe, sê nou maar 36500 dae,
wat 100 jaar verteenwoordig, en iewers deur jou lewe blaas Hy die
oorblywende kersies uit.
Ons weet nie
hoe die Here presies werk nie, maar weet verseker dat Hy die kersies aan
die brand steek en weer uitblaas.
Daar is egter
'n belangriker vraag as presies hoe dit werk. Eintlik twee vrae:-
- Wat maak jy met elke kersie wat brand? Leef jy 'n sinvolle lewe?
- Waarheen lei jou kersies se pad? Hemel toe, of nie?
Vraag 1: Wat
maak jy met elke kersie wat brand?
Ons gaan almal
deur fases in ons lewens...
- Kinders geniet die lewe, elke dag. Dink aan 'n kind van 5 jaar. Hy
hardloop die hele dag rond, speel met alles, speel met die hond, skop bal,
spring op en af. En baklei tot die dood as hy in die aand moet bed toe
gaan. Slaap is tog immers net 'n vreeslike mors van tyd, of hoe?
- Tieners gaan deur hierdie “slim” fase, waar niemand hulle niks kan
vertel nie. Hulle daag die lewe uit, maak hulle punt hard en duidelik en
staan vir niks terug nie.
- Jong volwassenes wil die wêreld oorwin, studeer om die hoogste sport te
bereik en sien uit daarna om die wêreld te verower. En om dit wat hulle
ouers opgemors het, reg te ruk.
- Jong getroudes klim die leer in hulle loopbane, kry kinders en maak
hulle groot vir die uitdagings van die lewe. Natuurlik op die mees moderne
metodes denkbaar, om die nuutste tegnologie goed te gebruik en dan in
hulle suksesvolle spore te volg. YUPPIES!!! En hulle mik om op 40 af te
tree!
- En dan, iewers in die middeljare, begin die loopbane, die druk van die
wêreld en die aanhoudende gejaag sy tol te eis. Spanning en uitbranding
maak dat die lewe sy glans verloor, sommiges mors hulle lewens totaal op,
ander drink al wat oor is weg en depressie tref mense by die duisende.
Egskeidings, bankrotskap, slegte verhoudings en teleurstelling maak dat
die lewe net te veel raak. Dis ook op hierdie ouderdom wat selfoord na 'n
goeie opsie lyk, want die lewe het te swaar geword. Mense verwens elke dag
se kersie en wonder hoe lank dit nog gaan band.
- Eventueel breek die laaste jare aan en die mens begin liggaamlik regtig
swaar te kry. Soos wat die liggaam agteruitgaan, besef die mens hoeveel hy
self bygedra het om die Tempel van God te verniel en te verwaarloos.
Interessant genoeg begin die mens dan verbete vasklou aan elke dag se
kersie wat hom nog gegun word. Krampagtig hou die mens vas aan hierdie
kersie, sodat hy tog net nie een nag vanself uitblaas nie. Hoe swaar die
liggaam ookal kry, sal die mens voel dat daar hoop is solank daar lewe is.
Ongelukkig verval sommiges in verwoestende bitterheid en ongelukkigheid.
Dis min of meer
die siklus van die lewe, en ons sal dit almal min of meer in hierdie trant
ervaar.
Ps 90:10 som
dit goed op. “En dié is vol swaaarkry en leed”. Mense verleer om te lééf
en veg net om te bly bestaan.
Hoekom verloor
die lewe sy glans? Hoekom hou ons op met droom? Hoekom skep ons vir
onsself 'n lewe met 'n vervaldatum? Ons laat dit toe, tot die dag wat dit
lyk of die kersie al hoe korter brand, DAN wil ons die lewe skielik weer
omhels.
Miskien moet
ons onsself betyds begin programmeer om die beste van elke kersie te maak,
want ons kry dit in elk geval net uit genade.
Vers 14 “ Skenk ons elke dag U liefde in oorvloed, dat ons ons lewe
lank mag juig en bly wees”.
Kan jy dit
doen, of het jy die kuns om te LEEF verloor?
Vraag 2:
Waarheen lei jou kersies se pad? Hemel toe, of nie?
Openb 1 : 9-18
Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met
Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk
en aan die volharding. Ek was op die eiland Patmos, waarheen ek verban was
omdat ek die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het. Op
die dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer en ek het agter my, so
hard soos die geluid van 'n trompet, 'n stem hoor sê: "Skrywe wat jy sien
in 'n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes: Efese, Smirna,
Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea." Ek het omgedraai om te
sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe
goue staanlampe gesien en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die
mens. Hy het 'n lang kleed aangehad en 'n goue band om sy bors gedra. Die
hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur
gevlam. Sy voete was soos geelkoper wat in 'n smeltoond gloei, en sy stem
soos die gedruis van 'n groot watermassa. In sy regterhand het Hy sewe
sterre gehad, en 'n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit
gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn. Toe ek
Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy
het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: "Moenie bang wees
nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en,
kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en
die doderyk.
Ek wil graag
eendag sien wat Johannes hier gesien het, en ek wil ook graag eendag voor
die Seun van God staan, en ek wil in die volgende lewe (die ewigheid) by
Hom deurbring. Tot in alle ewigheid.
Is die hemel
vir jou 'n werklikheid? Glo jy dat dit vir jou beskore is? Weet jy dat
geloof in Christus die enigste sleutel is tot hierdie ontsagwekkende
tuiste wat vir jou en my wag? Toe Jesus sterf, het die voorhangsel
oopgeskeur, en nou het ek en jy volle toegang tot die troonkamer van God.
Die swaar van hierdie lewe kan hoegenaamd nie opweeg teen dit wat vir ons
daar voorle nie.
'n Paar punte
om aan te dink:-
- Die hemel is 'n werklikheid, of jy dit glo of nie. Die hel ook.
- Jesus wil jou by Hom he, of jy dit glo of nie.
- Dit is 'n ONGELOOFLIKE plek. “Out of this world”
- Geen pyn, geen smart, geen trane, geen hartseer en geen droefheid.
- Geen teleurstellings
As my laaste
kersie die dag op hierdie aarde uitdoof, sal ek graag twee vrae wil kan
antwoord, nl:-
- Het ek 'n sinvolle lewe gelei?
- Het ek die Here geken?
As ons as
mense positief op hierdie twee vrae kan antwoord, kan dag 29000 maar
aanbreek.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|