|
ANDERKANT
OF DUSKANT DIE VOORHANGSEL?
In 1989 vind een van die grootste
gebeurtenisse in die hedendaagse geskiedenis van die mens plaas. Iets wat
vir die mensdom 'n ongelooflike oorwinning teweeg bring. Die ystergordyn
val!!! Die Berlynse muur word afgebreek en die mens se beweging word nie
meer beperk nie. Die mensgemaakte skeiding word verwyder, en die mens se
toegang word nie meer beheer nie.
Maar, dit is nie die eerste keer in
die geskiedenis van die mensdom dat so 'n gebeurtenis plaasvind nie. Baie
lank gelede, in die paradys toe die sondeval plaasvind, kom daar skeiding
tussen God en mens. Dit wat God beplan vir die mens, word bederf deur die
hardnekkigheid van die mens, toe Adam en Eva besluit om van die enigste
verbode boom in die tuin te eet. Tipies mens, of hoe?
En so kom daar skeiding. Baie jare
later sou daardie skeiding in die vorm van 'n driedubbele gordyn in die
tempel, sigbaar word. Die plek waar die verbondsark staan, word die
Allerheiligste genoem, en slegs die hoëpriester word toegelaat om eenmaal
per jaar, namens die volk te kom offer vir hulle sondes. Daar is selfs 'n
tou om sy lyf vasgemaak, sodat die mense hom kon uitsleep as God sou
besluit om hom om die lewe te bring. Die mense het die profete nodig gehad
om namens hulle met God te kommunikeer, en niemand mag verby die
voorhangsel gegaan het nie. En so word Saligheid vir die mensdom
bewerkstellig. Die voorhangsel word die fisiese skeiding tussen God en
mens.
God se troonkamer is nie bestem vir
gewone mense nie, slegs die uitverkorenes kon ingaan, en dan om geen ander
rede as boetedoening nie. Die mens vind homself afgesonder, en so te sê
"Godloos".
Maar… toe kom die kruisiging van
Jesus Christus.
Mark 15 : 33 - 39
Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom
en dit het tot drie-uur geduur.
Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: "Eloï, Eloï, lema
sabagtani?" Dit beteken: My God, my God, waarom het U my verlaat?
Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle:
"Hoor daar, hy roep vir Elia"
Een van hulle het toe gehardloop, 'n spons in suur wyn gesteek en dit vir
Hom op 'n stok gehou om te drink. Hy het gesê: "Wag, kom ons kyk of
Elia hom van die kruis kom afhaal."
Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.
Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só
sien uitblaas het, het hy gesê: "Hierdie man was werklik die Seun
van God."
Die voorhangsel skeur middeldeur, van bo na onder! Nie weggeskuif, of
tydelik verwyder nie, dit skeur middeldeur, en word in die proses
vernietig. Die doel van die voorhangsel is uitgedien, die hoëpriester word vervang deur Jesus self (volgens die orde van
Melgisedek), Hy neem die mens se sonde op Homself, en die voorhangsel
word oorbodig. Selfs die profete word oorbodig, want nou het die mens nie
meer 'n ander mens nodig as middelaar nie. Die beperking van "een
maal per jaar" verval, en die mens kry direkte, vrye toegang tot God
in sy troonkamer. God verander die stelsel in 'n oop-deur beleid. Elkeen
van ons kan enige tyd, soveel as ons wil, in God se sitkamer gaan kuier.
Net daar waar ons ter eniger tyd is, is God. Want, toe die voorhangsel
skeur, word die hele aarde vervul met Sy heerlikheid. Nou moet die mens
self pa-staan vir sy optredes, en moet hy self gaan vergifnis vra, een tot
een met God. Die sonde bring nie meer skeiding nie.
Die vraag is:- Wat hou my en jou
nog duskant die voorhangsel?
· Sonde. Ons as mense sukkel om te verstaan dat God sonde nie goedkeur
nie. Maar aan die anderkant ook dat ons nie volmaak kan wees nie. Daarom
moet ons dit vir Jesus gee sodat Hy ons skoon kan was, en die voorhangsel
nie meer nodig is nie.
· Ongeloof. Gebrek aan geloof in die verlossingswerk van God, hou ons
duskant, en dus ongered.
· Onwilligheid / hardnekkigheid. Die mens wil nog steeds self probeer, en hou vas
aan die genietinge van hierdie wêreld.
· Gebrek aan kennis. Mense weet nie hoe God se genade werk nie, en glo nie
diegene wat dit verduidelik nie.
· Vrees. Ons vrees die teenwoordigheid van God, omdat ons nie sy rol as
Pa aanvaar nie.
· Wil nie oorgee. Sommige mense glo ons hoef net op nommer 99 in te gee,
en alles sal reg wees. So asof Christenskap 'n straf of 'n vloek is.
· Te goed om waar te wees. Kan dit dan regtig so eenvoudig wees?
· Leef in die verlede. Ons bly soms so verknog aan die
Ou-Testamentiese
gebruike, en wil alles verdien.
Duskant, of anderkant die
voorhangsel?
Waar staan jy op hierdie oomblik in jou lewe? Skei jy jouself nog
hardnekkig van God? Nogal deur 'n skeiding wat nie eers meer bestaan nie?
Dink bietjie aan hierdie paar punte:-
· Jy kan self, ongeag van wie jy is, by God gaan aanklop. Ryk, arm,
ongeleerd, kundige, jonk, oud, elkeen, kan by God in Sy troonkamer instap.
Enige tyd, dag of nag, is jy baie baie welkom. Jy het 'n Bybel, en al die
kennis wat nodig is om by God te gaan kuier. Jy het nie meer 'n profeet
nodig nie, of 'n ander hoëpriester as Jesus nodig nie. Jy het nie nodig om
te weet wat in die toekoms gaan gebeur nie, want jy kan vir God
onvoorwaardelik vertrou.
· Anderkant die voorhangsel is hoop, vertroosting, bemoediging en 'n
skuilplek by God. Jy kan Sy nabyheid ervaar, Sy asem in jou oor voel, Sy
sagte stem hoor praat, net met jou. Daar kan jy gaan wag op Hom.
Wat hou jou nog terug?
Los jou sondes duskant, en stap deur. Los jou twyfel, jou eie ek, jou
vrese, status, armoede, siektes en moeilike omstandighede, en gaan geniet
Sy teenwoordigheid.
Jy sien, anderkant die voorhangsel
is almal gelyk, daar is elkeen welkom. Stap in, fier, trots, regop en met
vrymoedigheid. Daar is lewe, hoop en genade.
Wat kies jy? Duskant, of anderkant?
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|