|
|
|
Ef 6:1-4 Kol 3:21 Mal 2:16 Matt 19:13-15 As ‘n kind net
kon praat. Natuurlik kan ‘n kind praat – van kleins af al. Maar wat
help dit ‘n kind kan praat, maar niemand luister nie? Is ‘n kind (of
liewer jóú kind) se stem en mening iets werd? Luister ons as ons kinders
praat? Ons gee hulle mos “kwaliteit-tyd”, of hoe? Sulke 5 minute
sarsies net voor hulle bed toe gaan. As ‘n kind maar
net kon praat EN gehoor word, sou hierdie wêreld ‘n baie beter plek
gewees het! Kom ek verduidelik …. Matt 2:16 Wreed, of hoe?
Wat sou hierdie kindertjies gesê het as hulle kon? “Oom, asseblief, ek
is onskuldig, moet my asseblief nie doodmaak nie” – vreeslik, of hoe?
Nou vra ek jou, as ‘n fetus kon praat wanneer ‘n aborsie uitgevoer
word, wat sou hy sê? “Dokter, asseblief, jy wat lewe moet beskerm en
bewaar, moet asseblief nie daardie instrumente naby my bring en my
liggaampie uitmekaar skeur nie. Ek verdien ‘n kans. As my ma my nie wil
hê nie, wil iemand anders dalk. Asseblief … ek verdien dit nie!”
Aborsie is brutale, wrede moord op die mees ondenkbare manier moontlik, en
dan word dit deur ‘n siek samelewing gewettig, beoefen en goedgepraat.
Hulle noem dit nogal “pro-choice”. Wie se “choice”? Wat sou gebeur
as ‘n kind maar net kon praat? Hierdie volgende stelling is nogal sensitief, maar ek wil dit nogtans sê: nie alle Mamma’s hoef te werk nie. Enkel-ma’s moet werk, verseker. Maar … baie Mamma’s sou nie alleen-mamma’s gewees het as ‘n kind net kon praat en gehoor word nie. Vergewe my as jy dink dat ek veralgemeen – maar ek dink nie ek doen dit nie. As ‘n kind sy huislike omstandighede kon kies, sou die meeste huishoudings anders gelyk het. Die Here bou ‘n sin vir volmaaktheid, vreugde, vrede, liefde, geluk outomaties in ‘n kind in. Ek het nog nooit gehoor van ‘n kind wat onbedaarlik begin lag as Ma en Pa soos barbare met mekaar aangaan nie. En ek het nog nooit gehoor van ‘n kind wat onbedaarlik begin huil omdat Ma en Pa saamlag en speel nie. Ek het gisteraand vir Raymond Dye (‘n berader) gevra hoeveel mense in sy spreekkamer beland a.g.v. probleme uit hulle kinderjare. Sonder om twee keer te dink het hy geantwoord: “95%”. As ‘n kind kon kies sou hy iets anders gekies het as wat hy mee opgesaal word. Party Mamma’s sê: “ek is nou maar eenmaal ‘n beroepsmens”. Izzit … en is jy trots daarop? Het jy gehoor van die “beroepsmens”-mamma wat onlangs op Oprah se program was? Sy moes haar slapende kind iewers gaan aflaai oppad werk toe. Toe vergeet sy van die kind, en los haar vir 8 ure in die motor. Die kind is dood! Beroepsmens, en nou ook nie eens meer ‘n ma nie. Wat sou die kind kies? “Mamma, ek soek jóú, en nie jou ontwerpersklere, duur motor, fancy huis en finansiële oorvloed nie”. Net miskien, sou dit anders kon wees vir jou. Hoe klink die volgende storie vir jou (uit ‘n kind se mond)? “Mamma het 21 jaar gelede ‘n geloofstap geneem om teen alle berekenings in nie weer in die formele arbeidsmark te staan nie. Haar motor is wel 19 jaar oud. Pappa het nog nooit in sy lewe ‘n nuwe motor besit nie. Ek en Sussie ken nie van trek nie, ons bly nog al die tyd in dieselfde huis. Ons dra nie “brand-name” T-hemde of broeke of skoene nie …. Maar, ons ouers KEN ons deur en deur. En ons vir hulle. Ons tuin kort bietjie werk, maar ons kan daar speel. Ons ken nie duur geskenke nie, of duur vakansies nie, maar Mamma was nog altyd dáár vir ons. Volgens Pappa het die begroting nog nooit op papier uitgewerk nie. Maar ons lééf!” Hierdie is toe nie fiksie nie – dit is die “true story” uit ons huishouding! Spreuke 23:29-35 Hoeveel hartseer, pyn, swaarkry, ellende, sou die mensdom gespaar gewees het as ‘n kind oor hierdie onderwerp kon praat, en gehoor word? Kan ‘n kind in woorde noem wat dit aan hom doen as ouers hierdie verwoestende probleem van drankmisbruik het? Geen kind het sekerlik nog ooit met trots vir sy vriende vertel hoe oulik sy pa was toe hy hom aan die bottel vergryp het nie, en toe iemand anders geword met slegte taalgebruik, irrasionele optrede, skandalige gedrag … en nog verder, geweld, mishandeling (emosionele en fisiese) en seksuele misdrywe. Watter Pa (of Ma) wat in hierdie ding vasgevang is, luister as sy kind sê: “Pa, asseblief, ek wil jou hê soos wat jy destyds was toe ek nog trots op jou was. Pa, besef jy dat jy my presies só maak soos wat jy is? Al haat ek nou elke oomblik daarvan?” Dan, laastens
moet ek jou vra: sien ons om na ons kinders se geestelike behoeftes? Hulle
smag daarna, weet jy? Elke kind het ‘n ingebore behoefte om Jesus te
leer ken. Dis mos hoekom Jesus gesê het: “wees soos ‘n kind”. Sal
ons vir ‘n kind luister as hy vra: “Pa en Ma, WYS my hoe dit is om
soos Jesus te wees. Leer my van God se genade. Vertel my hoe mens in die
hemel kan kom” Sal jy jou kind kan antwoord? Sal jy luister as jou kind
sê: “Pa en Ma, moet my asseblief nie net by die Sondagskool gaan aflaai
as julle self nie eens kerk toe gaan nie. Moet asseblief nie my geestelike
opvoeding op iemand anders afskuif nie. Ek wil Jesus (en Sy liefde) in
JULLE sien, en uit julle monde hoor.” |