As die Heilige Gees werk


Die Heilige Gees van God, een van die drie-eenheid: Vader, Seun en Heilige Gees. Die Heilige Gees is 'n konsep waarmee ons as kinders nie juis mee grootgeword het nie, en nie mee gekonfronteer is nie. God die Vader het ons verstaan, Jesus Christus, Sy eniggebore Seun was maklik om te aanvaar, maar die Heilige Gees was vir my so 'n vae begrip. Ek het as kind geglo dat die Heilige Gees eers in die Nuwe Testament “geskep” is en gestalte gekry het. 

In die Bybel lees ons egter op baie plekke van die Gees van God wat in die ou Testament se tyd kragdadig gewerk het. Natuurlik, want net soos Jesus nie 'n Nuwe Testamentiese begrip is nie, is die Heilige Gees ook nie beperk tot die Nuwe Testament nie. Ek wonder net of ons weet watse ontsagwekkende rol die Heilige Gees in ons kan en moet lewens speel. Jy sal met my saamstem, hou Hom weg en jou Geestelike lewe is so dood soos 'n lap. Die Heilige Gees is 'n ontsagwekkende, aktiewe Persoon wat 'n spesifieke rol speel in elke wedergebore Christen se lewe. Dit is immers NET deur die werking van die Heilige Gees dat ek en jy tot bekering kan kom. Daarom kan geen mens wat nie deur die Heilige Gees vervul is, blywende verandering in sy Geestelike lewe ervaar nie. Maar... as hierdie Almagtige Mag van jou besit neem, dop Hy jou om en word jy nuut. 

Hand 2 : 1 – 21
Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar.  Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen. Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. Toe die mense die geluid hoor, het 'n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. Verras en verbaas sê hulle toe: "Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere - ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het." Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: "Wat kan dit tog beteken?" Maar party het gespot en gesê: "Hulle is dronk."  Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: "Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:  Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree. Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee: bloed en vuur en rookwolke. Die son sal pikdonker word en die maan bloedrooi voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom.  So sal dit dan wees: elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

‘n Kragtige, opspraakwekkende gedeelte in die Bybel. 'n Geluid soos dié van 'n stormwind en vuurtonge wat op elkeen gekom het. Mense begin in tale praat, wonderwerke gebeur, dinge wat vir die mense van die tyd totaal onverstaanbaar was. En vandag is dit nog net so.

Vers 17 sê: “Die seuns en dogters sal as profete optree, jongmense sal gesigte sien, ou mense sal drome droom, tekens bo in die lug, wonders op die aarde, bloed, vuur, rookwolke. Alles die werk van die Heilige Gees” 

Christenskap, sonder die werk van die Heilige Gees, is dood, nutteloos, sonder enige waarde of  verandering. Nie die moeite werd nie. By ander gelowe noem hulle dit “godsdiens”, en selfs binne Christelike kringe sou ons dit “Godsdiens” kan noem. Vormgodsdiens. Maar... as die Heilige Gees Sy intrek neem, gebeur groot goed, wat mens nie met jou brein kan verstaan of beredeneer nie. Vers 17 praat van “vuur”. Lyk my dan spat die vonke! Laat ons Hom egter toe om te werk? Gee ons die Heilige Gees die ruimte om in Sy volheid gestalte in ons te kry? 

Die enigste sonde wat die mens nie vergewe word nie, is die sonde teen die Heilige Gees. Daardie absolute verset en weersin in God, wat maak dat ons nie die Gees in ons lewens toelaat nie. 

Wat gebeur as Hy sy intrek neem?

Die eerste en grootste ding wat gebeur is dat die mens eensklaps die vermoë om te GLO verkry. Onmiddellik en onwrikbaar. Bo alle logika, vooropgestelde idees, ander invloede, ens. Sonder die Heilige Gees kan geen mens glo nie.

Die Heilige Gees openbaar goed aan die mens. Jy weet mos hoe dit is as iets op een goeie dag net sommer alles vir jou sin en betekenis kry. Dis hoe dit vir my is as 'n gedeelte in die Bybel vir my skielik sin maak, of dat jy dit verstaan op 'n manier wat jy dit nog nooit kon verstaan nie. Soms is dit hoe 'n mens 'n unieke opdrag van God ontvang, en jy weet sommer dis vir jou. Dis soos om skielik te besef daar is iets wat jy net WEET jy moet gaan doen.

Die Here praat met ons deur die Heilige Gees. Daai stil, sagte stem, daardie stukkie bemoediging, daardie vrede wat net skielik in mens posvat. In tye van kommer waar mens net skielik daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan, ervaar. Die Heilige Gees is ook nie net daardie “mag” wat soos 'n stormwind voortdryf nie, maar ook 'n sagte, “gentle”, vriendelike, liefdevolle gestalte van God. Net vir jou.

Nogal onverstaanbaar dat die Heilige Gees in hierdie magtige Gestalte duisende mense eensklaps kan omdop en verander, maar jou en my kan toelaat om Hom te weerstaan. Vervulling met die Heilige Gees is sekerlik die heel grootste gebeurtenis wat in enige wedergebore Christen se lewe kan gebeur. En wanneer hierdie gebeurtenis plaasvind, begin 'n onbeskryflike intieme, liefdevolle liefdesverhouding met die Here. 'n Verhouding wat groter en belangriker is as dit wat mens materieel daaruit kan put. Dan raak ondraaglike laste draaglik, pynlike ervarings raak hanteerbaar, armoede en sukkel raak aanvaarbaar. 

Hoe sal mens die Here dien sonder die aangename geur van die Heilige Gees? Ek dink dit is soos om 'n blinkgepoetste motor sonder 'n enjin te hê. Die Heilige Gees werk van binne af, sodat ons kan werk na buite toe. Sonder die Heilige Gees is ons 'n leë Godsdiensdop. Met die Gees verander ons in 'n kragtige entiteit, wat maak dat ons kan sê: “Ek is tot alles in staat...” Aan die een kant soos 'n geestelike oorlogsmasjien, aan die ander kant sag, soos Jesus was. 

Ons hoef net oop te maak... 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)