|
|
|
AS DIT VOEL OF GOD SY RUG GEDRAAI HET Hoe gaan dit vandag met jou? As ek die vraag sou vra, wat sou jy sê? Dalk die ge-ykte "goed dankie?" En as ek jou vra, "Waarvoor kan ek vir jou bid"? Wat sal jy dan sê? Nee, dit gaan nie altyd net goed nie. Ook nie met die kinders van die Here nie! Die afgelope week het twee mense my gekontak (Rippel luisteraars), wat op die oomblik in 'n drukgang in hulle lewens is, waarvoor hulle nie gevra het nie. Mense wat regtig pyn en hartseer en eensaamheid beleef. En dan op die koop toe kom die gevoel dat God nie meer hulle gebede hoor nie. Het jy ook al so gevoel? Of die Here so ver is, en so stil is, dat ons wonder of die Here besig is om ons te straf. Dis baie sleg, vernaam as vriende en familie dit ook nog moeiliker maak met stellings soos "ek het jou gewaarsku, en jy wou nie hoor nie", of iets soos "jy het dit net oor jouself gebring." Inderdaad, pyn is nie lekker nie, en eensaamheid is sleg. En om te wag op die Here, klink soms so oppervlakkig. Klaagliedere 3 : 1 - 13 Klink dit bekend? As dit voel of die Here sy rug gedraai het. Die vraag is "het die Here sy rug gedraai? Hoekom voel dit of my gebede net die plafon tref? Hoekom gaan dit soms so sleg met die Here se kinders?" Wel, slegte goed gebeur met goeie mense. Christene het nie net altyd 'n "raw deal" nie. En as ons sou vra, "hoekom straf die Here my so?" Dan kan ek net sê, ek glo nie dat dit altyd straf is nie. Want die dade en besluite en aksies van ander mense, be-invloed ons verseker. Ander se sondes, en oortredinge, en verkeerde besluite, het dikwels 'n reaksie. As jy deur egskeiding is, of 'n lewensmaat verloor het, sal dit verseker 'n invloed op jou lewe hê. En dis niks nuuts nie. Ps 79 : 1 - 5 En dan, hoeveel kan ons sê oor Job? Hoor sy woorde toe hy hoor dat hy alles verloor het, ook sy kinders. Job 1 : 21 - 22 Sjoe, kan dit wees? Prys die Naam van die Here. Prys die Naam van die Here. Jy sien, in moeilike tye kan ons maklik vir Job aanhaal as die grootste lyer (lang y) van alle tye. Maar, ons ken die uiteinde. Ons weet dat God vir hom baie meer gegee het as wat hy verloor het. Punt is, toe Job sê, "Prys die Naam van die Here", het hy ook nie die uiteinde geken nie. Hy het net vertrou. En nie vir God verwyt nie. En ons? Kan ons dit doen? Ek dink so, want ons ken Job se uiteinde. En dis dieselfde God waarmee Job te doen gehad het. Klaagliedere 3 : 21 - 33 Daar is hoop in die Here, want die God van Job, en die een van Jeremia (wat Klaagliedere geskryf het), is gister, vandag en more, presies dieselfde. Die God wat hoop gegee het vir mense in die ou en nuwe testament, is presies dieselfde God wat vandag vir ons die uitkoms bring. En is net so een stappie beter af. Ons het nog vir Jesus ook as die Voorspraak, die Een wat by God vir ons pleit en intree. En daarom is dit nie 'n moedswillige God wat ons met 'n stok bykom vir alles nie. Goddank. Nee, Sy Seun Jesus is aan ons kant, en Hy pleit by die Vader. En benewens dit, dink ek Jesus huil dikwels saam met ons as slegte goed oor ons pad kom. Al voel dit of hy soms so ver is, en of ons so alleen is. Hoe kom ons deur swaar tye? 1. Dink aan Job - al gehoor van Job se geduld?
Swaarkry gaan nie altyd vir ewig aan nie. Soek die silwer randjie om die donker wolk, of sien dit net raak, dis in elk geval daar. Hou aan die Here vas, Hy sien die hele prentjie. Hy is oneindig lief vir jou. Soos die Ds gisteraand sê: "God is oneindig lief vir jou - en daar is absoluut niks wat jy daaraan kan verander nie."
|