AS GOD NEE Sê


Is daar iets spesifiek waarvoor jy nóú die Here vertrou? Iets waarvoor jy elke dag bid? Iets waaroor jy meer bid as enige iets anders? Iets waarvoor jy Hom vertrou met jou hele hart? Sien jy dalk al tekens dat dit gaan gebeur? Het jy al bevestiging van ander Christene gekry? Miskien ‘n visioen daaroor gehad? Glo jy dat jy so op die rand van ‘n deurbraak is? Dit gaan nou enige oomblik gebeur...  

Kom ek vra jou gou so paar moedswillige vrae: is hierdie gebed meesal tot jou eie voordeel? Voel jy dalk al bietjie teleurgesteld dat God nog nie gereageer het nie? Twyfel jy aan die Here? Het die Here al (volgens jou) die vervaldatum gemis? Twyfel jy aan die Here? Voel dit of jy teen die plafon vas bid? Wat sê die Bybel hiervan? 

Matt 7:8-9
Want elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry, en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy  vis vra?” 

Die Here sê dus: vra en jy sal kry. Ek lei hieruit af:

1)     Hy gee ons wat ons nodig het

2)     Hy wil hê ons moet op ons knieë bly

3)     Hy wil hê ons moet Hom vra

4)     Hy wil hê ons moet vertrou 

Wat is hierdie gebed van jou wat jy aanmekaar bid? Waarvoor vertrou jy tans die Here met jou hele hart? Ek dink elke mens het op enige gegewe tyd “iets’ wat jou gebedstye oorheers.  

Ek glo met my hele hart dat elke gebed wat die mens bid verhoor word, of miskien moet ek eerder sê GE-hoor word. Ek dink net nie dis altyd so maklik om God se antwoord te aanvaar nie. Ek dink die Here antwoord op een van drie maniere: ja, nee, wag. 

Ja – Ek sal jou gee wat jy vra.

Nee – Jy dink jy vra brood maar jy vra ‘n slang.

Wag – Nog nie nou nie, of dalk kan die Here ook sy “nee” uitstel. 

Kom ons veronderstel die Here sê vir jou “nee”, of “wag”, sal jy Hom steeds onvoorwaardelik vertrou? Steeds vir Hom lief wees? Steeds aanvaar dat Hy soewerein is?  

Sal jy bereid wees om te sê “Here, ek gaan ophou neul, ophou my eie planne maak, ophou spartel, en aanvaar dat U besluit staande en bindend is”. Nog meer, as God “nee” sê, hoe ver sal jy gaan om Sy arm te draai om jou “ja” af te dwing? Bedrog, diefstal, so baie ander dinge doen mense om net hulle sin te kry. Soms maak die Here net  deure toe, en dan is dit Sy antwoord. Partykeer skop ons die deur self weer oop, want ons wil hê dat ons wil moet geld.  

Sê nou God sê vir jou “nee” – hoe dan? Ek glo dalk sal jy een van twee reaksies hê: veg rebels voort, of sit terug en los alles in die Here se hand. 

Ek, jou Here, hoor jou gebed.....óf ja, óf nee, óf wag. 

As Hy JA sê: dalk voel Hy jou vraag is verdienstelik, en dis binne Sy wil. Of jy het lank genoeg gewag, dis nou tyd vir ‘n “ja” Miskien “verdien” jy ‘n onvoorwaardelike ja. Dis lekker as God ja sê. Dit voel of Hy jou bevoordeel, of Sy guns oor jou is. Mens voel nogal soos ‘n witbroodjie, of hoe? 

As Hy NEE sê: dis moeilik. Dalk sê die Here nee omdat jy ‘n slang vra, maar dink jy vra vir ‘n brood. Miskien moet ‘n klomp ander goed eers gebeur. Dis dalk gevaarlik, of sal op die langduur  vir jou nadelig wees. Miskien is jy besig om ander te benadeel, en daarom is dit nee. Miskien is die Here nog besig met jou oor iets, is jy op ‘n leerpad. Dalk is Hy nog besig met ander mense – jy beïnvloed in elk geval altyd baie om jou, selfs al besef jy dit nie. 

As Hy WAG sê: Jy sien, jy kan dalk “wag” verwar met “nee”. Dalk gaan jy verwerping voel, of dalk dat God nie omgee nie, of vir jou lief is nie. Of dalk dink jy die Here verstaan nie wat die konsekwensies van sy besluit vir jou inhou nie. 

Matt 26:36-45
Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword  en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” 'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.” Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie. Hy het hulle weer alleen laat bly en 'n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê. Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee.  

Jesus in Getsemané. Ek sien hier desperaatheid. Sy lewe was op die spel; Hy was beangs en bevrees, Hy neem ander saam met Hom om te bid. Hy het aangehou bid. Maar, Sy gebed het gelui: “moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil”. Bid ek en jy régtig daardie woorde “soos U wil”? En dan nog met die idee dat God enigiets kan antwoord, net soos Hy wil. 

Wat moet ons doen as God nee sê?

  • Bid totdat jy weet wat God se finale antwoord is.

  • Doen eers alles wat jy moet en kan doen. Mense raak soms passief terwyl hulle vir God wag om te antwoord.

  • Gebruik die wagtyd om te leer. Dra vrug, gaan aan met jou lewe, fokus op goeie goed, hou aan om te getuig.

  • Prys die Here ten spyte van Sy nee.

  • Verander wat jy kan, en aanvaar Sy besluit.

  • Aanvaar Sy soewereiniteit – Hy weet die beste.

  • Aanvaar dat die Here nie noodwendig gaan verduidelik hoekom sy antwoord nee was nie.

Jak 4:3 As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig. 

Harde woorde, maar waar.  

Ja, nee, wag – die Here antwoord altyd ‘n gebed. Vertrou Hom genoeg om te aanvaar dat Hy weet wat Hy doen.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)