|
|
|
Is daar iets spesifiek waarvoor jy nóú die Here vertrou? Iets waarvoor jy elke dag bid? Iets waaroor jy meer bid as enige iets anders? Iets waarvoor jy Hom vertrou met jou hele hart? Sien jy dalk al tekens dat dit gaan gebeur? Het jy al bevestiging van ander Christene gekry? Miskien ‘n visioen daaroor gehad? Glo jy dat jy so op die rand van ‘n deurbraak is? Dit gaan nou enige oomblik gebeur... Kom ek vra jou gou so paar moedswillige vrae: is hierdie gebed meesal tot jou eie voordeel? Voel jy dalk al bietjie teleurgesteld dat God nog nie gereageer het nie? Twyfel jy aan die Here? Het die Here al (volgens jou) die vervaldatum gemis? Twyfel jy aan die Here? Voel dit of jy teen die plafon vasbid? Wat sê die Bybel hiervan? Matt 7:8-9 Die Here sê dus: vra en jy sal kry. Ek lei hieruit af: 1) Hy gee ons wat ons nodig het 2) Hy wil hê ons moet op ons knieë bly 3) Hy wil hê ons moet Hom vra 4) Hy wil hê ons moet vertrou Wat is hierdie gebed van jou wat jy aanmekaar bid? Waarvoor vertrou jy tans die Here met jou hele hart? Ek dink elke mens het op enige gegewe tyd “iets’ wat jou gebedstyd oorheers. Ek glo met my hele hart dat elke gebed wat die mens bid verhoor word, of miskien moet ek eerder sê GE-hoor word. Ek dink net nie dis altyd so maklik om God se antwoord te aanvaar nie. Ek dink die Here antwoord op een van drie maniere: ja, nee, wag. Ja – Ek sal jou gee wat jy vra. Nee – Jy dink jy vra brood maar jy vra ‘n slang. Wag – Nog nie nou nie, of dalk kan die Here ook sy “nee” uitstel. Kom ons veronderstel die Here sê vir jou “nee”, of “wag”, sal jy Hom steeds onvoorwaardelik vertrou? Steeds vir Hom lief wees? Steeds aanvaar dat Hy soewerein is? Sal jy bereid wees om te sê “Here, ek gaan ophou neul, ophou my eie planne maak, ophou spartel, en aanvaar dat U besluit staande en bindend is”. Nog meer, as God “nee” sê, hoe ver sal jy gaan om Sy arm te draai om jou “ja” af te dwing? Bedrog, diefstal, so baie ander dinge doen mense om net hulle sin te kry. Soms maak die Here net deure toe, en dan is dit Sy antwoord. Partykeer skop ons die deur self weer oop, want ons wil hê dat ons wil moet geld. Sê nou God sê vir jou “nee” – hoe dan? Ek glo dalk sal jy een van twee reaksies hê: veg rebels voort, of sit terug en los alles in die Here se hand. Ek, jou Here, hoor jou gebed.....óf ja, óf nee, óf wag. As Hy JA sê: dalk voel Hy jou vraag is verdienstelik, en dis binne Sy wil. Of jy het lank genoeg gewag, dis nou tyd vir ‘n “ja” Miskien “verdien” jy ‘n onvoorwaardelike ja. Dis lekker as God ja sê. Dit voel of Hy jou bevoordeel, of Sy guns oor jou is. Mens voel nogal soos ‘n witbroodjie, of hoe? As Hy NEE sê: dis moeilik. Dalk sê die Here nee omdat jy ‘n slang vra, maar dink jy vra vir ‘n brood. Miskien moet ‘n klomp ander goed eers gebeur. Dis dalk gevaarlik, of sal op die langduur vir jou nadelig wees. Miskien is jy besig om ander te benadeel, en daarom is dit nee. Miskien is die Here nog besig met jou oor iets, is jy op ‘n leerpad. Dalk is Hy nog besig met ander mense – jy beinvloed in elk geval altyd baie om jou, selfs al besef jy dit nie. As Hy WAG sê: Jy sien, jy kan dalk “wag” verwar met “nee”. Dalk gaan jy verwerping voel, of dalk dat God nie omgee nie, of vir jou lief is nie. Of dalk dink jy die Here verstaan nie wat die konsekwensies van sy besluit vir jou inhou nie. Matt 26:36-45 Jesus in Getsemané. Ek sien hier desperaatheid. Sy lewe was op die spel; Hy was beangs en bevrees, Hy neem ander saam met Hom om te bid. Hy het aangehou bid. Maar, Sy gebed het gelui: “moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil”. Bid ek en jy régtig daardie woorde “soos U wil”? En dan nog met die idee dat God enigiets kan antwoord, net soos Hy wil. Wat moet ons doen as God nee sê?
Jak 4:3 As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig. Harde woorde, maar waar. Ja, nee, wag – die Here antwoord altyd ‘n gebed. Vertrou Hom genoeg om te aanvaar dat Hy weet wat Hy doen. |