AS SLEGTE GOED GEBEUR


'n Moeilike onderwerp - iets waarvoor almal van ons soms antwoorde soek en iets waarop ek definitief nie die antwoorde het nie. Maar ons gaan kyk wat die Woord hieroor sê.

Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense? Hoekom is die wêreld in die toestand waarin hy is? Hoekom laat God lyding toe? Waar is God as ons slagoffers is van misdaad? Is dit uniek in die wêreld deesdae, of kom dit al 'n lang pad? Is God kwaad vir my as iets sleg met my gebeur? Nou ja, nogal 'n tammeletjie. Ek is baie seker dat die meeste van ons baie dikwels met hierdie vrae worstel. Dalk is jy nou in 'n drukgang, dalk is jy op 'n punt dat jy voel jy kan nie meer nie, dan wil ek probeer om vir jou 'n bietjie hoop te gee.

Ek wil probeer om 'n bietjie perspektief te gee rondom die geskiedenis van swaarkry:

Gen 3 : 1 - 11 Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie? 2 Die vrou het die slang geantwoord: Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. 3 God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal beslis nie sterf nie, 5 maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken. 6 Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. 7 Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere. 8 Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. 9 Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: Waar is jy? 10 En die mens antwoord: Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip. 11 Die Here God vra toe: Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie? Die sondeval. Dan lees ons dat die Here vir die mens voorberei op swaarkry.

Gen 6 : 5 - 7 Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, 6 was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief. 7 Die Here het gesê: Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.

Die mens kom met verkeerde keuses en vernietig dit wat God vir die mens bedoel het, nl 'n Paradys lewe. Swaarkry en slegte dinge was van die begin af daar, toe die mens die verkeerde besluit geneem het. Nou die belangrike deel...  Die koms van Jesus het nie die uitvloeisel van die sonde weggeneem nie, dit het die weg na saligheid vir ons gebaan. Die effek van die sonde (verkeerde keuses) van ander mense en onsself, sal altyd 'n probleem bly. Slegte goed gebeur met goeie mense. Ek glo dat die Here dit soms wel oor ons pad bring om ons te louter. Dalk laat Hy dit soms net eenvoudig toe. In Job 1 : 12 lees ons van Job, 'n regverdige man. Job het niks verkeerd gedoen nie, maar kyk wat laat God toe. "Toe sê die Here vir die Satan:- alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan homself mag jy nie raak nie." En die Satan vat tot sy kinders! Hierdie ding kom van nog altyd af. Dis niks nuuts nie. Laat die Here soms dinge "aspris" met ons gebeur?

Klaagliedere 3 : 31 - 33 Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie; 32 as Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: 33 dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.

Mense verseker hulle motors met 'n Ps 91 plakkertjie. Ek wonder soms hoekom. Dalk om die Here so bietjie te manipuleer, sodat ek nie versekering hoef uit te neem nie? Ja, en dan gebeur iets wat sleg is, dan is daar mense wat sê dat dit gebeur het omdat jy nie genoeg glo nie. Dan wonder ek maar net: Is Paulus gegesel, mishandel, in die tronk gegooi weens 'n gebrek aan geloof? Nee, juis  die teendeel. En Stafanus, is hy gestenig weens 'n gebrek aan geloof? Is Johannes die doper onthoof en Petrus onderstebo gekruisig weens 'n gebrek aan geloof? Nee, ek glo dit nie!!

Kom ons kyk wat sê die Woord hieroor. 1 Pet 1 : 6 - "Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings, sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word."

Ps 66 : 10 - "U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer."

Job 36 : 15b - "Hy laat hulle op Hom ag gee in hulle verdrukking." Dit lyk of die Here soms ons aandag wil terugtrek na Hom toe.

1 Petr 4 : 12 - "Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemd wat met julle gebeur nie. Wees eerder bly wanneer julle in die lyding van Christus kan deel."

Om dus te sê dat kinders van die Here nooit aan swaarkry onderwerp sal word nie, lyk nie vir my Bybels korrek nie.

Ek verstaan nie hoekom 'n Louis Malherbe op die kruin van sy bediening doodgaan nie. Of 'n Ron Belcher, wat absoluut vir die Here geleef het. Ook nie hoekom onskuldige kinders die slagoffers van geweld en verkragting word nie. Ek weet nie hoekom dit nou met jou sleg gaan nie. Ek vra net, wil jy nie soos Habakuk sê: ten spyte van alles, sal ek in die Here jubel.

Wat maak ons as die swaar tye kom? Die Bybel praat meer van God se beskerming IN swáár tye, as dat God ons beskerm TEEN swaar tye.

Waar is God as dit met ons sleg gaan? Steeds op Sy troon. Waar was Hy 11 Sept 2001? Steeds op Sy troon. 

Wat moet ons reaksie wees?

· Bid. Die Here is altyd net een gebed ver. 
· Vertrou op die Here. Hy sien die groter prentjie. Niks is buite Sy beheer nie. 
· Weet dat Jesus steeds vir jou lief is. 
· Weet dat jy iets gaan leer oor God se wil. Ps 119 : 71 - "Dit is vir my goed dat ek swaar gekry het, want daardeur het ek U voorskrifte geleer". 
· Weet dat dit gaan stop. Jes. 60 : 20 - "Die Here sal vir jou 'n ewige lig wees, jou dae van smart is verby." 
· Jou karakter word gevorm, dit bring selfs hoop. Rom 5 : 3 - "Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, volharding kweek egtheid van geloof, egtheid van geloof kweek hoop en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy ons gegee het." 
· Dit leer ons om vas te byt. Jak 1 : 2 - 3.
"My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard."

Miskien kry jy die antwoorde nog in hierdie lewe. Ek het twee keer my werk verloor - Goddank. Ek glo nie my werksituasie kan beter wees as wat dit nou is nie, en daarom was dit nodig om my werk te verloor.

My vrou het 'n miskraam gehad. Dit was baie sleg. Maar as ons nou terugkyk, weet ons dit was goed, want die kinders wat ons nou het is BAIE spesiaal! Ons wil mos nie nou ander kinders hê as wat ons het nie.

Ek glo jy ken mense met wonderlike getuienisse van hoe die Here in krisisse daar was. Laat DIT die hoop wees waaruit ons lewe.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)