|
|
|
BAGASIE - 5 November 2008 Sondagaand vra die dominee in die kerk: "As jy kan kies, sou jy jou lewe wou oorhê?". Dus, as jy weet wat jy nou weet, sal jy jou lewe wil oorleef? Sommige mense het gesê ja, en ander was tevrede met hulle lewens soos wat hulle dit tot nou toe geleef het. Ek het gewonder wat maak dat die lewe vir mense só onaanvaarbaar is, dat hulle eerder reg van voor af sal wil begin. Is dit dalk slegte omstandighede? 'n Slegte verlede? 'n Slegte hede? Of die verwagting van 'n slegte toekoms? Baie mense gaan onder woeste ellende gebuk. Pred 6:1-12 Dis 'n feit: baie mense kry vandag baie swaar. Hoe gaan dit vandag met jóú? Voel jy dalk ook so effens in 'n put? Nou ja, as ek vir jou sou vra of jy jou lewe wil oorhê, wat sou jy sê? Die Engelsman praat van "hindsight". Wat sou jy wou verander? Wat verhoed jou om dit vorentoe te verander? Jy sien, dit is dalk so dat jy nie die verlede kan verander nie, en dit is so dat die verlede hierdie onbeskryflike mag op jou toekoms het, en natuurlik ook op jou hede. Maar … dalk is dit vandag die tyd vir nuwe besluite. Miskien net so bietjie voorraad opneem. Dalk 'n bietjie kaste skoonmaak. Nuut begin. Vandag se tema is "bagasie". Bagasie is seker dit grootste doodsteek denkbaar vir mense se geluk en vryheid. Ek glo elkeen van ons dra een of ander vorm van bagasie. Daar is in elkeen van ons se lewens iewers 'n plekkie waar hierdie dorings wegkruip. Party se bagasie is in 'n klein laaitjie êrens, ander het 'n hele tas vol. Sommiges sleep 'n opgehoopte sleepwa vol gemors van die verlede saam met hulle. Vir ander is 'n vraglorrie te klein. Ongelukkig erf party mense trokke vol gemors van voorgeslagte, wat geweldige letsels los. Die probleem met hierdie "geërfde" bagasie is dat mens dit gewoonlik weer vir jou kinders aanhak. Is dit nie so nie? Waar kom jou bagasie vandaan? Wie of wat het dit vir jou opgelaai? Slegte bagasie, baie bagasie, ongevraagde bagasie… seer, bitter, swaar, ondraaglik! Die probleem is, as hierdie goed begin oorneem, is elke enkele spasietjie naderhand vol daarvan. En ja, dit sou baie roekeloos wees om vir iemand te sê: "Kom, ruk jou reg, pak af, gaan aan". Dis gewoonlik nie só maklik nie. 'n Gebroke ouerhuis, byvoorbeeld, los jou met 'n ton bagasie wat jy nie wou hê nie. Is dit nie vreemd hoe hierdie goed werk nie? As die ouers skei, verhoog die kinders se kans om ook eendag te skei dramaties. Mens sou dink dat die teendeel waar moet wees… hoekom dieselfde fout as jou ouers maak? Maar tog is dit so. Hoe beïnvloed ek en jy vandag ons kinders se toekomstige huwelike? Watter bagasie dra jy vandag? Die vraag is nou: is dit nodig om hierdie bagasie nog verder te dra, nog verder saam te sleep? Of kan ons dalk sê: "Hoewel ek nie my lewe kan oorhê nie, kan ek dalk begin om af te pak". Bietjie vir bietjie. Eers die klein goedjies, dan die groter en groter bokse, totdat net dit oor is waarmee ek sinvol kan saamleef. Jy ken seker die verhaal van die albasters? As ons 80 jaar oud word, sal ons ongeveer 4000 weke geleef het. Hoeveel weke het jy oor? Verbeel jou dat jy 'n groot bottel vat en vir elke week wat jy nog oorhet om te leef sit jy 'n albaster in die bottel. Haal van nou af elke week een albaster uit die bottel uit en gooi dit weg. Soos wat jy nou die bottel sien leegword, weet jy dat die einde van jou lewe nader kom, en dit, my vriend, kan jy nie keer nie. Maar … onthou jy hét 'n invloed op jou lewenskwaliteit. Die lewe hoef nie swaarder te word nie, dit kan beter word. Moet ouderdom vir jou 'n straf wees, of kan jy die lewe end-uit geniet? What can we do to travel light? Pak af, gee oor, maak leeg en "travel light"!
|