|
BESLUIT
BETYDS - 13 Augustus 2008
Ek het eendag op 'n wildsplaas wat
binne-in die wildtuin geleë is, gehoor dat die groot jagters (wat onder
andere some leeus jag, of wat IN leeuwêreld jag), die volgende sê: As jy
onverwags op 'n leeu afkom, moet jy een ding weet … as jy 'n
moontlikheid het om weg te kom (soos bv om in 'n voertuig te spring) moet
jy wikkel, want jy gaan nooit, maar nooit vir hom weghardloop nie. En
boomklim help niks, want hy kom haal jou daaruit. Dus .. daar bly net een
ding oor: jy bly staan! En wat ookal daarmee gepaard gaan, soos bv om te
bid. Want dalk, net dalk, stop leeu se kind en draai om. As jy baie
gelukkig is! Die punt is, hierdie besluit moet jy laaaaank voor die tyd al
neem - nog daar by die huis al. As stinkasem in jou gesig brul, is daar
verseker nie tyd vir dink, of vir besluit nie. Dis te laat! Die besluit
moet lank voor die tyd afgehandel word, en in jou kop ingeprogrammeer
wees.
Net so is dit in ons lewens. Ek en
jy moet ons lewensbesluite maak lank voordat die moeilikheid kom.
Geestelike paraatheid vir tye wanneer daar nie tyd is vir dink nie. Jy
sien, ek en jy kan nie altyd voorspel wat op ons pad gaan kom nie, maar
ons lewenswyse moet voorspelbaar wees en so ook ons optrede. En dit alles
moet gebaseer wees op ons waardes. Die vraag is, het jy 'n beleid oor elke
moontlike ding wat dalk op jou pad mag kom? Is verskillende scenarios al
deurgedink? Is ek en jy paraat genoeg om enige ding te hanteer?
Besluit betyds. Salomo het gesê:
Spreuke 6:24-35
24 My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van 'n ander wat
jou met haar gladde tong wil verlei.
25 Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie, moenie dat sy jou vang
met haar oë nie.
26 Jy kan 'n prostituut kry vir 'n stuk brood, maar owerspel kan jou lewe
kos.
27 Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere
aan die brand raak?
28 Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand?
29 Net so min kan jy by 'n ander man se vrou slaap sonder om gestraf te
word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie.
30 'n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te stil,
31 en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig teruggee, selfs al kos dit
hom alles wat hy besit.
32 Maar 'n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, iemand
wat dit doen, verwoes sy lewe.
33 Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit
uitgewis word nie.
34 Die woede van die vrou se man is 'n gloeiende vuur, sy wraak ken nie
perke nie;
35 hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie.
Salomo leer sy seun, en waarsku hom
teen 'n klomp lewensgevare. Hy waarsku hom soos 'n pa wat al die effek van
verkeerde besluite gesien het. Eintlik sê hy: wees dit te wagte dat
hierdie goed oor jou pad gaan kom … soos die uitdrukking sê "the
cheque is in the mail". Dinge gaan oor jou pad kom, maar neem nou al
die besluit van hoe jy gaan optree. Hoe gaan jy staande bly as die leeu
storm?
Hier is 'n pragtige teks:
Spreuke 6:23
"Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal
jou hele lewe"
Sjoe, dis nogal diep. Dis seker die
kruks van die hele ding: wees versigtig met wat in jou hart omgaan. Kyk
maar as 'n getroude man roekelose opmerkings oor vroue maak, en verkeerde
gesprekke aanknoop, en onbetaamlike komplimente aan ander vrouens maak,
dan hoor jy iewers dat hy gevou het, dat hy ontrou was. Kyk bietjie as
iemand aanhoudend net oor geld praat. Geld, geld, geld … Dan is dit nie
verbasend as hy homself verkeerdelik iewers aan iemand anders se geld
gehelp het nie. As iemand aanhoudend rassisties, afbrekend praat kom hy
dalk iewers in die moeilikheid daaroor. Want, jy sien, wat die hart van
vol is loop die mond van oor. Wees versigtig met wat in jou hart omgaan
…..
Kyk na nog 'n skrifgedeelte:
Spreuke 4:10-14
10 Luister, my seun, en aanvaar wat ek jou sê; dit sal jou lewensjare
baie maak.
11 Ek sal jou leer wat die pad van die wysheid is en jou die regte koers
laat loop.
12 As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie, en as jy hardloop, sal
jy nie struikel nie.
13 Hou vas aan wat ek jou leer, moet dit nie laat los nie; bly daarby,
want dit is jou lewe.
14 Moenie agter die goddeloses aanloop nie, vermy die pad van slegte
mense.
Hoe neem ons dan ons lewensbesluite?
1. Ken die gevare van die lewe.
Salomo spreek sekerlik elke moontlike ding aan … so, lees Spreuke. As ek
en jy nie die gevare ken nie, sal ons blindelings in 'n gat trap, en baie
seer kry en seer maak.
2. Doen 'n risiko analise. Moenie na plekke toe gaan waar die risiko's
groot is nie. Veral as alles in jou lewe nie 100% in plek is nie. As mens
se finansies in die moeilikheid is, en jy werk met ander se geld, is die
risiko's baie groot wanneer die versoeking verbykom. As mens se huwelik so
'n bietjie in 'n drukgang is, bly jy ver weg van ander vrouens af, of van
situasies waar jy verlei kan word. Dek die risiko's af - bly weg!
3. Maak somme. Bereken die skade, en die potensiële skade. Een enkele
stomme foutjie kan vir dekades skade maak.
4. Moet niks doen, of sê, wat nie totaal deursigtig is nie. Weet dat die
Here alles sien.
5. Neem die besluite vandag … oor ander partye, geld, humeurigheid,
transaksies, omkopery, eerlikheid, drank, ens. Hierdie goed wat alles kan
vernietig. Besluit betyds, en maak jou besluit bekend, sodat ander jou tot
verantwoording kan roep.
Besluit betyds. Dis nooit te laat
om nuwe besluite te neem nie. Daar is 'n klomp voordele om betyds te
besluit:
1. Jy hoef nie bang te wees dat 'n
onverwagte situasie jou sal onderkry nie. As die leeu storm, vra jy:
"watter leeu?" … en kou rustig verder aan jou chappie.
2. Dit maak dat ander op jou integriteit kan staatmaak. 'n Man met
integriteit en 'n rotsvaste waardestelsel, sien jy op 'n myl raak. Niks
gebeur agter die deur nie, geen geraamtes in die kas nie.
3. Betyds besluit meen dat jy nooit in die moeilikheid sal kom nie.
4. Dit maak dat ons nooit hoef te wonder of iets sonde is nie. Jy hoef ook
nie te wonder wat die Here sal dink van jou optrede nie. Die spreekwoord
sê mos: as jy twyfel, moenie!
5. Betyds besluit vat onsekerheid oor mens se eie swakheid uit die pad
uit. Jy sien, as alkohol 'n probleem in jou ouerhuis was, is die risiko
miskien hoër vir jou. Dus, besluit om dit liewer te los.
6. Betyds besluit beteken dat mens die Here toelaat om die pad saam met
jou te stap. Want dan kan jy Hom vertrou om jou die krag te gee wat jy
nodig het.
7. Dit bring vrede vir my en jou en almal. En versoekinge sal outomaties
uit jou pad bly.
8. Leer ook jou kinders om betyds te besluit.
Ef 4:27 "Moenie die duiwel
'n vatkans gee nie" - besluit betyds!
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|