|
|
||
Gen 6:9-22 Noag bou sy ark. Ek weet nie of Noag dalk 'n bootbouer van beroep was nie...? Hy was beslis nie vandag se kind nie - 600 jaar oud toe die groot vloed gekom het. Dalk het party ouens so verby sy werf geloop en hom gespot oor sy boot. Ek wonder nogal of Noag nie self ook so bietjie skepties was oor hierdie hele storie nie. Hoe op aarde sal 'n klomp diere sommer vanself aangestap kom vir 'n boot-trippie? Jy sien, Noag was 'n gelowige, en regverdige man, onberispelik en hy het naby aan God geleef. Daarom het hy sy projek aangepak. My vraag vandag aan jou (en aan my) is, wat is die ark wat ek en jy moet bou? Wat is daardie besondere, Goddelike opdrag wat dalk só sinneloos lyk, wat ons moet aanpak, deur nét in geloof na God te kyk? God se opdragte lyk soms groot, miskien onsinnig, uit verhouding, nie vir my nie, mens kan dalk selfs sê belaglik. Maar dalk sê die Here vandag vir jou: Gaan bou 'n ark! In geloof. Dink jy hierdie verhaal is bietjie absurd? Kom ons kyk na Anchus Buchan se ark: Die Here het vir hom gesê: "Ek soek duisende manne bymekaar. Gaan huur die grootste tent in die wêreld, en laat manne op jou plaas kom bly. En, o ja, gee vir hulle kos. En nog iets, moenie geld vra nie. Moenie bekommerd wees dat jy nie een sent begroting het nie." Weet jy wat sou ek doen? Ek sou vir my vroulief sê: "Bring die Eno's, my kop raas"! Toe Anchus in geloof sy ark bou, was die grootste tent in die wêreld te klein! … ek kan nogal Noag se verhaal glo, weet jy? Noag het in geloof opgetree. Miskien was die ark op daardie stadium die grootste skip in die wêreld - maar dis nie waarna die Here gesoek het nie. Het Hy nie dalk gesoek na die man met die grootste geloof in die wêreld nie? As die Here vir jou 'n opdrag gee en sê: "Gaan bou 'n ark", weet Hy verseker wat Hy doen. Ek dink daar is miljoene verhale oor die wêreld van ouens wat gedink het sy ark is bietjie van 'n "over kill", maar dan was dit presies wat God wou hê. Hoe lyk die ark wat JY moet bou? Noag het geglo. Punt. Hy moes bou sonder dat daar sprake was van reën of vloede. Dalk het die weerburo gesê hy lees die patrone bietjie verkeerd. Jy sien, Noag het nie die toekoms probeer sien nie, want hy het geweet dat God die toekoms sien. Ek wonder nogal of hy eers sogenaamde profete gaan raadpleeg het, saam met iemand met spesiale gawes om 'n tafel gaan sit het en gevra het: "Hoor hier, wat sê die Here vir jou - wat moet ek doen?" Nee, Noag het sélf by die Here gehoor. Noag het dalk self getwyfel, maar die voordeel van die twyfel vir die Here gegee. Hy het ook nie eers net 'n "dingy" gebou, en gesê hy gaan eers die water toets nie. Jy weet mos ons maak soms so: pak ons ark so bietjie op klein skaal aan, ons sit nie alles in nie. As Noag dit gedoen het, sou hy van waterloop by Petrus moes gaan leer het. Noag het waarskynlik ook nie eers 'n paar e-posse en sms'e aangestuur nie - jy weet mos: "Stuur vir 10 mense, moenie hierdie ketting breek nie, want dan versuip ek". As die Here 'n opdrag gee, en ons hoor sy stem duidelik, is dit tyd vir pik, planke en maste. Al is daar nie 'n wolkie so groot soos 'n man se hand nie. My vriend, Buks Moolman, het eendag vir my gesê: "As ek die Here se stem hoor, doen ek onmiddellik. Voor ek tyd kry om te dink". Bou jou ark - begin vandag! Wat is jou ark? Jy weet mos, daardie opdrag wat telkens weer opduik. Dalk is jou ark groot, dalk is dit 'n klein dingetjie, maar die Here wil ark-grootte dinge daardeur bereik. Miskien lyk dit vir jou of jou ark net oor jou gaan, maar Hy weet hoe die storm gaan lyk. Miskien moet jy in jou ark klim, en gaan vrede maak met jou familielid wat besig is om onder te gaan. Nie wanneer nie - vandag nog! Jy weet nie wat gaan gebeur as die waters eers gekom het nie. Dit sal te laat wees as die vloed verby is. Trane van spyt by 'n graf is só onnodig. Dalk is jou ark 'n gesprek met iemand wat jou laaankal pla. Jip, 'n geestelike gesprek. Dalk is jou ark iets wat geld kos. Weet nie of die wielebank, of te wel die seiljag-bank vir Noag finansiering gegee het nie. Ons weet wel dat Noag nie geskrik het vir die onmoontlike nie. Noag het roekeloos vertrou. En die uiteinde? Wel, was dit nie vir Noag se geloof nie, was die aarde weer soos daar in Genesis 1 - woes en leeg. Bou jou ark. As jy vir God
"ja" sê, gee Hy selfs die mates, elke stukkie detail, die
planne en middele. Alles. Hy vra net 'n ark-bouer. Wat sê jy? Soek jy al
jou hout? |