|
BROOD
Is jy ook lief vir brood? Vars
gebakte brood met lekker botter. Een met so lekker krakerige korsie. Goed
uitgerys, nog so effens warm, pas uit die oond. Saam met koffie. Sjoe, sal
dit nie nou lekker wees nie? Brood, stapelvoedsel, word deur bykans elke
mens op aarde geëet, goedkoop kos. Voedsaam? Lekker. En word al vir eeue
en eeue deur die mens gebak en geniet. Volgens die Bybel konkordansie kom
die woord meer as 220 keer in die Bybel voor.
Ons lees in Gen 18 : 5 "U
is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek 'n stukkie brood
vir U gaan haal dat U weer nuwe krag kan kry". Dis Abraham wat
drie besoekers gekry het. Toe sê hy vir Sara om 16kg meel se brood te
bak. Klink my hulle was éérs lief vir brood. Hy het 'n jong kalf geslag
en dit saam met brood en botter vir sy gaste voorgesit om te eet. In Eks
12 lees ons van die instelling van die paasfees en daar word baie
duidelike voorskrifte gegee dat net ongesuurde brood geëet mag word. Dit
is pas voordat die volk uit Egipte begin trek het. Dit lyk of brood dus
nie net van die begindae stapelvoedsel was nie, maar dit het ook 'n baie
sterk simboliese waarde gehad. In Eks 25 lees ons van die tabernakel wat
ingerig word en dan hoe die tafel van doringhout gemaak moet word vir die
offerbrode. Brood kom 'n lang pad in die geskiedenis, en word vandag nog
net so geniet.
Die vermeerdering van brode was een
van die baie indrukwekkende wonderwerke wat Jesus gedoen het.
Joh 6 : 26 - 35
26 Jesus antwoord hulle: "Dít verseker Ek julle: Julle soek My,
nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die
brood geëet en versadig geword het.
27 Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die
voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van
die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe
verleen."
28 Hulle vra Hom toe: "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons
verlang?"
29 En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle
moet glo in Hom wat Hy gestuur het."
30 Hulle sê toe vir Hom: "Watter wonderteken kan u doen sodat ons
dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen?
31 Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe
staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.
32 Jesus het hulle geantwoord: "Dít verseker Ek julle: Dit is nie
Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my
Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee.
33 Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld
die lewe gee."
34 Hulle sê toe vir Hom: "Meneer, gee ons tog altyd hierdie
brood."
35 Maar Jesus sê vir hulle: "Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My
toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer
dors kry nie.
Jesus sê dat Hy die brood is.
Joh 6 : 47 - 59
47 "Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.
48 Ek is die brood wat lewe gee.
49 Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe.
50 Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat 'n mens daarvan kan
eet en nie sterwe nie.
51 Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van
hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my
liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe."
52 Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: "Hoe kan hy sy
liggaam vir ons gee om te eet?"
53 Maar Jesus sê vir hulle: "Dit verseker Ek julle: As julle nie die
liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie
die lewe in julle nie.
54 Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom
op die laaste dag uit die dood laat opstaan.
55 My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.
56 Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.
57 Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy
wat My eet, ook deur My lewe.
58 Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat
julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie
hierdie brood eet, sal ewig lewe."
59 Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum
geleer het.
Hier sien ons die absolute
uitvloeisel van die simboliek van brood. "Ek is die brood wat lewe
gee". "As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe".
Jesus vergelyk brood met Sy lewe. Wie Hom inneem soos brood ingeneem word,
sal nooit sterf nie. Jesus sê vir hulle "Julle voorouers het in die
woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die
hemel kom sodat 'n mens daarvan kan eet, en nie sterwe nie." Jesus is
die brood van die lewe. As ek en jy vandag ons toebroodjie eet, sal dit
ons inderdaad aan die lewe hou, maar nie vir ewig nie. As ons Jesus se
liggaam eet, sal ons nooit sterwe nie.
Jesus, die brood wat lewe gee. Ek
wil dit so bietjie verder vat waar Jesus die nagmaal instel.
Matt 26 : 26 - 30
26 En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra.
Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde:
"Neem, eet; dit is my liggaam."
27 Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy
dit vir hulle en sê: "Drink almal daaruit,
28 want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en
wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.
29 Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie
tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van
my Vader sal drink."
30 Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.
Weereens verwys Jesus na die brood
as Sy liggaam en na die wyn as Sy bloed. Ek het baie gewonder - toe Jesus
die nagmaal ingestel het, of die brood en wyn spesiaal saamgebring is vir
die doel van die nagmaal, en of dit die kos op die tafel was?
Ek lees die volgende kommentaar in die Bybel in Praktyk: "Tydens
hierdie laaste paasfees volgens die Ou Testament, het Jesus een van die
sakramente van die Nuwe Testament ingestel. Elke naam wat daarvoor gebruik
word, dui op 'n ander aspek van die gebeurtenis. Dit word nagmaal genoem
omdat Jesus en sy dissipels dit met die aandmaaltyd verbind het; dit is 'n
gemeenskapsmaal omdat ons daardeur gemeenskap het met God en ander
gelowiges; dit is 'n gedenkmaal omdat ons aan Jesus se lyding en dood vir
die gelowiges dink as ons die brood eet en die wyn drink; dit is 'n
danksegging omdat ons God daardeur dank vir die werk wat Christus vir ons
gedoen het en vir die wonderlike genade wat Hy aan ons bewys het".
Mooi nê?
Jesus, die brood wat lewe gee. As
jy soos ek is, eet jy omtrent elke dag brood. Ek het vroeër gesê ek weet
nie of dit net die gewone kos op die tafel was nie. Ek het 'n klomp mense
hieroor gevra en tog tot die slotsom gekom dat dit die gewone maaltyd van
die dag was. En Jesus kom gebruik aan tafel die brood en die wyn as
simboliek van Sy liggaam.
Brood is volop in omtrent elke
huis. Wat van 'n informele "Nagmaal", sommer so saam met
jouself, of jou gesin, volgende keer as julle brood eet. In 1 Kor 11 : 26
staan, "Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit hierdie
beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom."
Elke keer!! As jy nou weer 'n
stukkie brood eet, en dit breek, sê vir die Here dankie dat Sy liggaam
aan die kruis gebreek is vir jou. En as 'n teken van jou verbintenis met
Christus, eet die brood met die simboliek dat jy Sy liggaam eet. En as jy
iets daarmee saam drink, dank die Here daarvoor dat Hy jou skoongewas het
deur Sy bloed. En weet dat as jy Sy liggaam geëet het, sal jy nooit sterf
nie.
Hoe wonderlik is dit, dat ons
onsself elke dag etenstyd kan herinner wat Jesus gedoen het toe Hy gesterf
het aan die kruis. Jesus se liggaam is vir ons gebreek en Sy bloed het vir
ons gevloei. Kom ons herdenk dit die eerste keer as ons weer eet.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|