DANKIE


Ons ouers het ons grootgemaak met goeie maniere, of hoe? As kinders is ons is geleer om veral twee woordjies te gebruik, en ons moes dit beslis gebruik het as ons by grootmense was. Onthou jy daardie twee "towerwoordjies"? Natuurlik, dis asseblief en dankie. Belangrike woorde. "Asseblief" vra vir iets, dit spreek 'n behoefte uit, dit beteken dat jy staatmaak op iemand anders se guns, dit wys afhanklikheid, dit sê dat jy eintlik verleë is oor dit wat iemand anders vir jou kan aanbied. Dit sê dat jy as't ware jouself onder 'n ander persoon stel. "Dankie" is 'n reaksie op wat die ander party vir jou gegee het, of gedoen het. Jou behoefte is bevredig, jou hart voel lekker daaroor. My ma het my geleer dat dankie belangriker is as asseblief, want dit is goeie maniere. Dis baie sleg as jy vat en nie bedank nie.

Nou ja, hoeveel te meer moet ons leef in danksegging teenoor die Hemelse Vader. Ek is skuldig daaraan dat ek só baie "asseblief", maar so min "dankie" sê. Het jy ook hierdie probleem? Of het jy dalk al geleer om ten volle in danksegging te leef? Dankie vir alles, ten spyte van … Al is die uitkoms ook anders as wat jy gevra of gehoop het.

Dis 'n moeilike een: om dankie te sê vir iets wat jy nie wou hê nie, of as dit die teenoorgestelde is van wat jy gevra het. Hoe voel jy as jy bv. jou baas vir 'n 12% verhoging vra, en hy gee net 8%? Kwaad, teleurgesteld, ongelukkig? En dan is jy nie eens dankbaar vir die 8% nie! Tot watter mate kan jý in dankbaarheid leef?

1 Tim 4:4
Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, want dit word deur die Woord van God en deur die gebed geheilig.

Sjoe, dis nogal 'n ingewikkelde teks. Tot watter mate kan ons in danksegging leef? Hoe gereeld sê ons dankie? Hoeveel dankies is nog in jou en my lewe uitstaande? Is jou rekening dalk soos myne, diep in die rooi?

Waarvoor behoort ons vir die Here dankie te sê? Kom ons kyk eers na die moeilike goed. Kan jy dankie sê dat jy jou werk verloor het? Dat jy siek geword het? Of in die tronk beland het? Of dat jy niks geld het nie? Dit is verseker baie moeilik. Maar … as ons die wese van God so 'n bietjie verstaan en Sy soewereiniteit aanvaar, en glo dat Hy die beste vir ons wil, sal ons dalk verstaan dat Hy die groter prentjie sien. Dan kan ons dalk vooruit dankie sê omdat ons Hom genoeg vertrou dat daar 'n goeie uiteinde sal wees.

2 Kor 1:3-11
3 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee.
4 In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,
5 want net soos daar vir ons 'n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons 'n oorvloed van bemoediging deur Christus.
6 As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur.
7 En wat julle betref, het ons 'n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het.
8 Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.
9 Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.
10 Dit is Hy wat ons uit so 'n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red.
11 Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie 'n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.

Pragtig! Dit begin in vers 3: "Aan God die Vader van onse Here Jesus, Christus, kom al die lof toe …." Dan beskryf Paulus al die swaar waardeur hy was. Maar dan sê hy dat ons mekaar moet bemoedig, want beter tye kom. Kan jy God dank in moeilike tye?

Fil 4:4-7
4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!
5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.
6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.


Maak julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. Hier staan nie die danksegging moet eers kom nadat God die smeking positief verhoor het nie. Nee, sommer wanneer ons vra, moet ons al dankie sê. Dit is vertroue - ons vertrou dat God die beste vir ons in gedagte het, en juis daarom gee Hy soms nie waarvoor ons vra nie. Dankie Here, vir dit wat kom, al is dit nie wat ek gevra het nie - dit is staatmaak op God se soewereiniteit.

Ongelukkig is ons dankies maar skaars, selfs as daar nog méér uit God se hand kom as wat ons gevra het. Ek dink ons is almal maar geneig om ons seëninge mis te kyk. Ek dink ook ons vergeet wat ons gevra het, en mis dan die dankie-geleentheid. Het jy al gesien hoe goor is 'n ondankbare kind? Nogal onaangenaam, of hoe? Nogal sleg as jy dink die kind sien niks raak nie, ten spyte van al jou opofferinge. Dit maak mens nogal hartseer. So dink ek moet die Here ook voel as ons so ongelooflik ondankbaar is.

Dankie Here. Dankie Vader dat ons hierdie oggend kon wakker word uit 'n warm bed. Dankie Here dat ek iets het om net-nou te eet, al is dit nie 'n vyfster maaltyd nie. Dankie dat ek na 'n werk toe kan gaan, al voel ek soms ongelukkig - en dis dalk weens my eie onvergenoegdheid. Dankie Here, dat ons gratis suurstof kan inasem, dankie dat U in meer voorsien as wat geld kan koop. Dankie Here, dat ek kan lewe op hierdie oomblik, al is ek miskien siek. Dankie Here, dat ons in 'n ongelooflike land kan bly, al is ons soms bekommerd. Dankie Here, dat ons die beste klimaat in die wêreld het, dat ons nie in 'n oorlog gewikkel is soos baie ander lande nie. Dankie Here, dat U ons beskerm, maar ook by ons staan as iets verkeerd geloop het. Dankie Here, dat ons só baie geleenthede het in Suid-Afrika, en Here, bo alles, dankie dat ons herlewing in ons land sien, op 'n skaal wat ons nog nooit voorheen gesien het nie. Dankie Here, dat ons U hier openlik kan aanbid, rugbystadions kan volpak en uit volle bors U Naam uitsing en uitjubel. Dankie Here, dat U vir ons geliefdes gee aan wie ons verbind kan wees. Dankie Here, dat ons in 'n verhouding met U kan staan, en dat ons kan weet U is aan ons kant. Dankie Here, dat U die beste vir ons in gedagte het, en nie elke gebed verhoor wat ons uit onkunde en selfsug bid nie. Dankie Here, dat U die toekoms ken, en daarvolgens vir ons deure oop en toe maak. Dankie Here, dat U nie swig voor ons aardse, sondige begeertes nie, maar U soewereiniteit en integriteit laat geld. Dankie Vader, as ons soms tot die besef kom, dat dit baie, baie goed met ons gaan, al sien ons dit nie altyd raak nie. Ons dank U, in die Naam van Jesus.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)