|
|
|
DANKIE - 6 Augustus 2008 Ons ouers het ons grootgemaak met goeie maniere, of hoe? As kinders is ons is geleer om veral twee woordjies te gebruik, en ons moes dit beslis gebruik het as ons by grootmense was. Onthou jy daardie twee "towerwoordjies"? Natuurlik, dis asseblief en dankie. Belangrike woorde. "Asseblief" vra vir iets, dit spreek 'n behoefte uit, dit beteken dat jy staatmaak op iemand anders se guns, dit wys afhanklikheid, dit sê dat jy eintlik verleë is oor dit wat iemand anders vir jou kan aanbied. Dit sê dat jy as't ware jouself onder 'n ander persoon stel. "Dankie" is 'n reaksie op wat die ander party vir jou gegee het, of gedoen het. Jou behoefte is bevredig, jou hart voel lekker daaroor. My ma het my geleer dat dankie belangriker is as asseblief, want dit is goeie maniere. Dis baie sleg as jy vat en nie bedank nie. Nou ja, hoeveel te meer moet ons leef in danksegging teenoor die Hemelse Vader. Ek is skuldig daaraan dat ek só baie "asseblief", maar so min "dankie" sê. Het jy ook hierdie probleem? Of het jy dalk al geleer om ten volle in danksegging te leef? Dankie vir alles, ten spyte van … Al is die uitkoms ook anders as wat jy gevra of gehoop het. Dis 'n moeilike een: om dankie te sê vir iets wat jy nie wou hê nie, of as dit die teenoorgestelde is van wat jy gevra het. Hoe voel jy as jy bv. jou baas vir 'n 12% verhoging vra, en hy gee net 8%? Kwaad, teleurgesteld, ongelukkig? En dan is jy nie eens dankbaar vir die 8% nie! Tot watter mate kan jý in dankbaarheid leef? 1 Tim 4:4 Sjoe, dis nogal 'n ingewikkelde teks. Tot watter mate kan ons in danksegging leef? Hoe gereeld sê ons dankie? Hoeveel dankies is nog in jou en my lewe uitstaande? Is jou rekening dalk soos myne, diep in die rooi? Waarvoor behoort ons vir die Here dankie te sê? Kom ons kyk eers na die moeilike goed. Kan jy dankie sê dat jy jou werk verloor het? Dat jy siek geword het? Of in die tronk beland het? Of dat jy niks geld het nie? Dit is verseker baie moeilik. Maar … as ons die wese van God so 'n bietjie verstaan en Sy soewereiniteit aanvaar, en glo dat Hy die beste vir ons wil, sal ons dalk verstaan dat Hy die groter prentjie sien. Dan kan ons dalk vooruit dankie sê omdat ons Hom genoeg vertrou dat daar 'n goeie uiteinde sal wees. 2 Kor 1:3-11 Pragtig! Dit begin in vers 3: "Aan God die Vader van onse Here Jesus, Christus, kom al die lof toe …." Dan beskryf Paulus al die swaar waardeur hy was. Maar dan sê hy dat ons mekaar moet bemoedig, want beter tye kom. Kan jy God dank in moeilike tye? Fil 4:4-7 Ongelukkig is ons dankies maar skaars, selfs as daar nog méér uit God se hand kom as wat ons gevra het. Ek dink ons is almal maar geneig om ons seëninge mis te kyk. Ek dink ook ons vergeet wat ons gevra het, en mis dan die dankie-geleentheid. Het jy al gesien hoe goor is 'n ondankbare kind? Nogal onaangenaam, of hoe? Nogal sleg as jy dink die kind sien niks raak nie, ten spyte van al jou opofferinge. Dit maak mens nogal hartseer. So dink ek moet die Here ook voel as ons so ongelooflik ondankbaar is. Dankie Here. Dankie Vader dat ons hierdie oggend kon wakker word uit 'n warm bed. Dankie Here dat ek iets het om net-nou te eet, al is dit nie 'n vyfster maaltyd nie. Dankie dat ek na 'n werk toe kan gaan, al voel ek soms ongelukkig - en dis dalk weens my eie onvergenoegdheid. Dankie Here, dat ons gratis suurstof kan inasem, dankie dat U in meer voorsien as wat geld kan koop. Dankie Here, dat ek kan lewe op hierdie oomblik, al is ek miskien siek. Dankie Here, dat ons in 'n ongelooflike land kan bly, al is ons soms bekommerd. Dankie Here, dat ons die beste klimaat in die wêreld het, dat ons nie in 'n oorlog gewikkel is soos baie ander lande nie. Dankie Here, dat U ons beskerm, maar ook by ons staan as iets verkeerd geloop het. Dankie Here, dat ons só baie geleenthede het in Suid-Afrika, en Here, bo alles, dankie dat ons herlewing in ons land sien, op 'n skaal wat ons nog nooit voorheen gesien het nie. Dankie Here, dat ons U hier openlik kan aanbid, rugbystadions kan volpak en uit volle bors U Naam uitsing en uitjubel. Dankie Here, dat U vir ons geliefdes gee aan wie ons verbind kan wees. Dankie Here, dat ons in 'n verhouding met U kan staan, en dat ons kan weet U is aan ons kant. Dankie Here, dat U die beste vir ons in gedagte het, en nie elke gebed verhoor wat ons uit onkunde en selfsug bid nie. Dankie Here, dat U die toekoms ken, en daarvolgens vir ons deure oop en toe maak. Dankie Here, dat U nie swig voor ons aardse, sondige begeertes nie, maar U soewereiniteit en integriteit laat geld. Dankie Vader, as ons soms tot die besef kom, dat dit baie, baie goed met ons gaan, al sien ons dit nie altyd raak nie. Ons dank U, in die Naam van Jesus.
|