|
|
|
DIE ANDER SEUN - 22 Oktober 2008 Luk 15:11-32 Kom ons kyk na die verskillende
partye: 1) Die seun sit sy erfporsie om in geld en bing dit met slegte vriende en prostitute deur. Nogal verstommend hoe hierdie partye in vandag se lewe iemand se verlorenheid kan vier, en daaraan deelneem, of hoe? Mooiweersvriende. Mense wat niks voel vir iemand wat weggedwaal het se sielskade nie. Vriende, solank die geld hou. Vriende, solank jy teen die Here kies. Mense wat jou aanvaar solank jy net nie te "heilig" raak nie. Daar is baie van hulle - of moet ek sê baie van ons. Miskien is ek self een van hulle? Daardie vriendskappe waar die Here nie heeltemal welkom is nie. 2) Die varkhok-element: Toe die seun in die varkhok land, was alles verby. Die varke was heel gelukkig om hom toe te laat in 'n wêreld van totale verval, in 'n lewe van dag tot dag-oorlewing, waar die lewe niks meer inhou as peule eet nie. Jy sien, daar is 'n toestand waarin mens kan verval waar niks meer saakmaak nie. Waar die lewe niks meer inhou wat enige uitdaging is, of bied nie. Waar niks meer saakmaak nie, waar die silwerrandjie om die wolk verdwyn het, en niemand meer enigsins vir mekaar omgee nie. So is dit daar in die varkhok. Die wonderlike is, die seun het sélf besluit om uit te stap! Van verlore na gered, van nutteloos na oorvloed… deur 'n KEUSE te maak. 3) Die volgende party is die vetgemaakte kalf. Die kalf wat die slagoffer word vir ander se voorspoed. Wat sy lewe gee omdat iemand terugkeer. Miskien klink hierdie heeltemal uit verband uit, maar dit laat my tog dink aan Jesus se kruisdood. Die volmaakte Lam wat Sy lewe gee sodat ons tot redding kan kom, sodat ons kan terugdraai. Die vetgemaakte kalf was lankal voorberei …. Weet jy, Jesus was van altyd af daar. Volgens Joh 1 was Hy van die begin af daar en is alles deur Hom en vir Hom geskep. Vir baie lank is Hy voorberei vir 'n taak wat bitter swaar geïndig het. Dat ek en jy na die Vader toe kan terugkeer het Sy lewe gekos. In die gelykenis is die kalf natuurlik maar net 'n lekkerny om mee partytjie te hou, en het niks te doen met die element van bekering nie. Maar tog het hy 'n "raw deal" gekry. Maar weet jy wat? As ons die Here se uitnodiging van die hand wys, was Jesus se kruisdood eintlik maar dieselfde as die kalf wat geslag is. Dan het dit gelei tot niks. Jesus, die volmaakte Lam, geslag vir my en jou. Het jy al jou redding, hierdie onverdiende genade gevier? 4) Dan is daar nog die ander seun, die oudste seun. Hy was kwaad omdat sy broer teruggekom het. Hoekom sou hy kwaad gewees het? Miskien omdat hy nie sy pa se hart verstaan het nie. Hy het nie geweet wat verlang beteken nie. Hy het geglo dat sy beloning groot moes wees omdat hy vasgebyt het, omdat hy niks verkeerd gedoen het nie. En dan het hy dalk ook gedink dat hy sy erfporsie weer sou moes deel. Het jy ook al gedink dat dit onregverdig is dat dit so goed gaan met die goddeloses? Geldgierigheid, wellus, misdaad, vernietig die samelewing - en dan - hier op nommer 99 kom hulle "woeps" tot bekering, en deel in AL die heerlikheid van God. En dan voel ons dis onregverdig dat ons al ons lewe so eng gelewe het, op die regte pad probeer bly het, onsself dinge ontneem het … en dan kry ons dieselfde beloning. Wel, dit was die ander seun se probleem. Wat hy nie verstaan het nie, is dat hy al die tyd in ál die heerlikheid gedeel het. Dalk het hy nooit gedink hoe mens kan smag na iets wat só volmaak is nie. Net so kyk ons vandag dit mis wat ons reeds het, nl. om al die tyd by die Vader te wees. Die sonde van die wêreld laat die varkhok bestaan só aantreklik lyk, en die omgaan met slegte vriende en prostitute so lekker, maar dis nie die lewe nie. Het iemand al vir jou gesê dat hulle daarna smag om te hê wat jy het? Ja, miskien kry dalk finansieël swaar, miskien is daar slegte omstandighede, is al jou verhoudings nie volmaak nie, maar niks oortref dit om altyd by Pa te wees nie .. soos die oudste seun. Ons het alles as ons by die Here is, en ons deel elke dag in alles, maar ongelukkig smag ons soms na so ietsie van die jongste seun se lewe. Ironies, of hoe? Die jongste seun het sy lewe gehaat, die oudste seun was blind vir sy seëninge. Kom ons vier ons redding, maar meer nog, kom ons gun die verlorenes die vetgemaakte kalf.
|