|
|
||
Nou ja, die boeke moet klop, en as daar 'n fout is, soek jy hom tot jy hom kry. Maar … daar is een plek waar die boeke nie klop nie - en dit maak hoegenaamd nie sin nie! Dit is die Here se boeke. Daar waar ek en jy in ons lewenstranssaksies met God betrokke is. Rom 3:21-31 Kan jy sien hoekom mense wat nog nie tot geloof gekom het, hierdie dinge nie verstaan nie? In menslike terme klop die boeke eenvoudig nie. Om boeke te laat klop moet "in" versus "uit" klop. As die geld uit is, moet iets daarvoor pa-staan - 'n stuk hardeware of soms net 'n dokument. Die leningsrekening sal op die stelsel lê totdat dit terugbetaal is. Boeke moet klop, maar in menslike terme klop God se boeke nie. Jy sien, in die paradys was daar geen behoefte aan 'n boekhoustelsel nie. Alles het aan God behoort, en omdat die mense se harte rein en vlekkeloos geskep was, kon niemand vir iemand anders iets skuld nie. Maar .. toe kom die slang en oortuig die mens dat hy soos God kan word, en alles kan weet. Gen 3:1-5 En daar begin die moeilikheid, want met die mens se sondekeuse probeer hy om homself met God gelyk te stel, en God sê: "Nee, van nou af is jy in die skuld by My. Want Ek sê die loon van die sonde is die dood, en om dit vry te spring, skuld jy My iets". Onmiddellik gaan die mens in die rooi - ons "skuld" die Here iets. Die Here sê jy kan nie maak soos jy wil nie. As jy droog maak (sonde doen), dan is jy in die rooi. In die ou bedeling kon jy net op een manier die balansstaat laat klop en dit is om te werk vir jou skuld. Die probleem met die ou bedeling was dat jy nooit in die groen kon kom nie. Miskien net vir 'n baie klein rukkie. Slag 'n bees, of 'n lam, doen dit, doen dat, maak sus, maak so, en die Here aanvaar die strokies wat aangebied word om die boeke te laat klop. Dit was "offers' genoem. Ag tog, offer vandag en maak more weer droog. En dan moet jy maar net weer gaan offer. Die mens moes 'n expert boekhouer wees om die balansstaat skoon te hou. So sukkel die mens toe dag vir dag, en die Here besluit dat die mense te veel sukkel met hierdie boekhou-ding, en Hy laat breek 'n hele nuwe bedeling aan. Jesus, die beste boekhouer met die beste boekhoustelsel kom onder ons woon. Geen sakrekenaar, geen desktop, laptop of wat ookal nie! Jy sien, 'n rekenaar werk met Wiskundige beginsels, en absolute waardes, en dis nie hoe die Here se boekhoustelsel werk nie. Wat logies is vir die Here laat die boeke klop; wat logies is vir ons werk eenvoudig net nie. Een plus een word sommer 8 - hoe meer ons skuld voor die Here ophoop, hoe meer verdwyn dit in die boeke. Mens sou amper kon dink Hy hou, soos party maatskappye, so 'n ekstra stel boeke onder die toonbank aan! Jy weet mos, daardie wat wys dat die onderneming niks verkoop nie. Nou kom die Satan en slaan daagliks die boeke voor jou oop om te wys hoe bankrot jy is, en soms probeer hy dit seker vir die Here ook wys. Maar om die een of ander misterieuse manier wys die boeke heeltyd 'n nul-staat! Dit maak ou sekelstert seker nogal moedeloos. Jy sien, vriend, God se boeke klop WEL heeltemal! Elke keer, perfek. Die inskrywings van ons skuld (sonde) word ingeskryf, maar net deur onssellf! Die heeltyd wanneer ons besig is om God se genade te verwerp, gaan slaan ons die boeke oop en skryf verwoed. Dan probeer ons ook nog 'n paar aftrekkings inskryf: Here, ek het só gemaaak, dit en dat gedoen, en hierdie sondetjie oorwin, hier en daar gearbei in U wingerd …. En dan klop dit nie! En ons voel ellendig oor dit wat op die staat oorbly… daardie deel wat in die rooi is. Dan vat Satan daardie bedrag, plak dit voor jou neer, sit BTW by en vertel jou jy is geestelik bankrot. Voel jy miskien só vandag? Wel, die slegte nuus is, die som is reg! Goeie nuus is, die berekening stop nie daar nie! Weet jy dat jy jaarliks 'n korting kry by die Ontvanger? 'n Vaste bedrag ongeag die grootte van jou inkomste? 'n Direkte afskryf van dit wat jy skuld. En dit is waarmee ons vandag vir Jesus vergelyk: jou korting. Dit is 'n massiewe syfer. As jy dit van jou skuld afgetrek het, bly NIKS ook nie. En hoe groter jou skuld, hoe groter die korting. ALTYD - AS jy die korting-opsie kies. Jy sien, my vriend, jy kan nooit dieper in die rooi wees as die grootte van die korting nie. Die korting is oneindig. Mens wil amper sê dit maak nie sin nie …. Maar dit doen! Rom 8:1-3 Dit is wat "tetelestai" beteken, weet jy? Boeke skoon. Nul-opgawe ingestuur. Skuld betaal. Ons betaal tog nie skuld wat ons nie het nie, of hoe? Lééf uit God se genade.
|