|
|
|
DIE DAG TOE JESUS GEHUIL HET Die dag toe Jesus gehuil het. In Joh 11 lees ons van Lasarus se dood, en toe Jesus gehuil het oor sy dood. Joh 11 : 1 - 5 Joh 11 : 33 - 44 'n Aangrypende verhaal van die dood van 'n man, en die smarte van sy Vriend. In dié geval - Jesus. Ons dink so dikwels dat Jesus 'n baie saaklike en ernstige persoon was. Dalk met nie veel emosie nie, maar hier sien ons 'n sy van Jesus wat geweldig baie van Sy karakter weerspieël. Eintlik is hierdie gedeelte baie intensief beskryf, en met baie meer detail as baie van die ander wonderwerke wat Jesus gedoen het. Dit is baie duidelik dat Jesus baie naby aan hulle was. Vers 5 sê:- "Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad". Vers 2 noem dat dit Maria was wat Jesus met olie gesalf het en Sy voete met haar hare afgedroog het. 'n Baie spesiale band wat Hy met hulle gehad het. Vers 3 sê:- "Here, hy vir wie U lief is, is siek." Lasarus was lief vir Jesus. Vers 35 sê:- "Jesus het gehuil". En vers 33 sê:- "Sy gemoed het vol geskiet en Hy was aangedaan". En net so, glo ek, dat Jesus aangedaan raak as iets met een van sy kinders gebeur. Ek glo Jesus raak aangedaan as ons hartseer raak oor 'n geliefde wat sterf. Ek dink Jesus huil ook saam met ons. Jesus het reeds geweet dat Lasarus uit die dood sou opstaan, maar Hy het steeds gehuil. Hoekom het Hy gehuil? Want vir Hom was dit ook 'n verlies as iemand sterf. En daarom glo ek dat Hy steeds hartseer raak saam met ons as ons daardie verlies ervaar. Is dit nie so dat ons vertroosting vind as iemand saam met ons hartseer is oor die dood van iemand nie? Het jy al ervaar as iemand sy hand om jou sit en jou net styf vasdruk, en saam met jou hartseer is? Net so was dit vir Marta en Maria sekerlik 'n vertroosting toe Jesus saam met hulle huil. Hierdie gedeelte weerspieël die absolute mensheid van Jesus. "Hy was 'n mens, asof Hy nooit God was nie. Hy was God, asof Hy nooit 'n mens was nie. Hy was die volmaakte God, vir die volmaakte mense". Diep, roerende emosies. Jesus het gehuil. En toe wek Hy Lasarus uit die dood uit op. In vers 4 sien ons reeds dat Jesus geweet het dat Lasarus uit die dood gewek sal word. Vers 4 "Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word". Jy sien, ons kan so maklik vra hoekom mense naby ons dan doodgaan. Daar is nie 'n maklike antwoord nie. Dit gebeur. Maar, Lasarus gaan ook dood. En Jesus huil daaroor, ten spyte van die feit dat Lasarus weer sou lewe. Dit blyk egter dat Lasarus opgewek is, nie omdat Jesus mense wou plesier nie, maar ter wille van die eer van God. Dit gebeur vandag min dat mense uit die dood opgewek word, maar dit gebeur tog. En die krag van God wat vandag werk, is dieselfde mag en krag wat destyds gewerk het toe Jesus mense genees en opgewek het. Almal word nie opgewek uit die dood nie, en almal word nie genees nie, maar Jesus se eer word nie daardeur aangetas nie. Maar … steeds kan ons na Jesus toe gaan vir vertroosting, en steeds is Hy saam met ons hartseer. Steeds kan ons tot Hom bid, en baie baie dikwels doen Hy wonderwerke wat ver bokant ons begrip is. Ons kan aan Hom vashou in geloof, vir enigiets wat ons kwel. Hy hou nie van ons swaarkry nie. Ek dink Hy huil saam met ons. Jesus het gehuil!! Mense kom tot sterwe en ons almal is hartseer in sulke tye. Dit is die aardse deel. Daar kan egter ook vreugde wees. Joh 11 : 24 - 26 Glo jy dit? Daarom is trane logies vir die hier en nou. Maar, daar kan vreugde wees in die feit dat Jesus se kinders vir ewig sal lewe. Al huil ons nou. Ek dink egter net daar is 'n ander saak. Dalk huil Jesus oor elke siel wat verlore gaan. Elke mens vir wie daar so hard gebid is vir bekering. Daardie "siekte" wat tot die ewige dood lei. Miskien huil Jesus as mense hulle harte verhard en nie Sy uitgestrekte hand wil aanvaar nie. Dalk huil Jesus as Hy dink aan die ongelooflike pyn en vernedering wat Hy moes deurgaan, net om deur mense verwerp te word. Dalk huil Hy as mense nie kan aanvaar dat Hy die ewige dood oorwin het nie. En as mense nie net Sy beloftes kan aanvaar dat Sy vryspraak genoeg is nie. Deur net te glo. En ja, dalk huil Hy vandag saam met my en jou oor iemand wat verlore is. En miskien is dit omdat ons dit geweet het en niks daaraan gedoen het nie. Miskien huil Hy oor die hardheid van ons harte. Ons wat onsself Sy kinders noem. Miskien huil Hy oor iemand wat honger gaan slaap, of 'n bejaarde wat eensaam wag vir haar kinders wat nie opdaag nie. Maar Hy huil ook saam met my en jou as ons swaarkry. Hy is nie afsydig nie, en Hy het nie 'n hart van klip nie. Ons kan altyd vertroosting by Hom kry.
|