DIE GEES BRING LEWE IN DOOIE BENE


Kom ek vertel vir jou 'n storie: 'n Man loop in die veld en kom by 'n hoop droë bene, skelette van afgestorwe mense. Die bene lê in 'n oop gat, die son skroei al vir jare daaroor. Daar is geen vel, geen hare, niks - net bene. Wat dink jy? Sien die man enige lewe in die bene? Sal dit ooit weer mense kan word? En dan … begin hy met die bene praat. Ewe skielik is daar 'n gerammel, die bene skuif na mekaar toe, elkeen na die res van die oorspronklike liggaam toe. Die man kyk verstom hoe senings, vleis en vel oor die bene begin vorm, en skielik begin hulle opstaan! Skrikwekkend! Haarrysend! Klink soos 'n verhaal uit 'n riller. Glo jy flieks waarin jy sulke goed sien? Natuurlik nie, maar dit klink na 'n lekker een vir 'n laatnag kampvuurstorie. Is dit moeilik om dié storie te glo? Wel, jy móét, want dit staan in die Bybel.

Esegiël 37:1-14
1 Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in 'n laagte. Die laagte was vol bene.
2 Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.
3 Toe vra Hy vir my: "Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?" Ek het geantwoord: "Nee, dit weet net U, Here my God."
4 Hy sê toe vir my: "Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene!
5 So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe:
6 Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is."
7 Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek 'n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas.
8 Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie.
9 Toe sê die Here vir my: "Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe."
10 Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was 'n baie groot menigte.
11 Die Here het vir my gesê: "Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: 'Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.'
12 Tree op as profeet, sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe.
13 Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is.
14 Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen," sê die Here.


… dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê, en Ek sal dit doen. Hierdie verhaal word nie vertel soos 'n gelykenis nie. Dit het regtig gebeur.

Dit is die  Gees van God wat lewe gee. Glo jy dat God die vermoë het om so iets letterlik te doen? Onthou jy nog dat die grafte oopgegaan het toe Jesus sterf? Matt 27:52: Grafte het oopgegaan en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan, waarna hulle aan baie mense verskyn het. Die Gees van God is só kragtig dat dit lewe in dooie bene bring. Glo jy dit? Dis dieselfde Gees wat in jou is.

Es 37:3 Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?
Wat sou JY antwoord? Esegiël sê: "nee, dit weet net U, Here my God". Goeiste, 'n man moet darem regtig baie geloof hê om dit te glo. Toe sê die Here vir hom om met die bene te gaan praat. En Esegiël doen dit! In vers 11 sê die Here: "Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: 'Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.'" En net so, is ons land ook vol droë bene. Hooploos, vleisloos, Geesloos. 'n Volk / land vol droë bene is 'n land waar lewe ontbreek by baie mense. Geesloos, Goddeloos. Sjoe, dit klink neerdrukkend, maar dit is tog wel so op baie plekke in die wêreld. Dis die slegte nuus. Maar … die goeie nuus is, God kan lewe gee in droë bene, as Hy Sy Gees daarin blaas. Vir God is alles moontlik! Hy sê in vers 12: "Dan sal julle besef dat Ek die Here is" Het jy al gesien hoe roekeloos mense met God omgaan? So blasé, asof Hy tot niks in staat is nie. Eendag sal almal besef dat Hy God is - elke knie SAL voor Hom buig. Jy sien, al is 'n land die ene droë bene, gee God nooit op op Sy kinders en Sy volk nie. Al is die mens hóé uitgedroog en leweloos, kan God deur Sy Heilige Gees lewe daarin blaas, nuwe dinge doen, harte van klip vervang met harte van vlees. Hy kán weer Sy volk se land herstel, hy kán hulle weer oprig. Hy bring weer hoop, want waar hoop is, is lewe. Dit maak nie saak hóé droog die bene is nie, as die Gees van God daaroor waai, kom daar lewe.

Die Gees van God bring lewe! Daar staan 5 keer in hierdie gedeelte dat die Gees van God gaan maak dat hierdie bene lewe. Jy sien, die mens kan nie lewe skep nie. Maar, toe God vir Adam en Eva geskep het, het Hy die lewensasem in hulle ingeblaas. Net Hy bring lewe. Wat is lewe? Om net asem te haal, 'n polsslag te hê, te eet? Is dit lewe? Nee, as die Here in vers 12 sê "en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe" beteken dit dat Hy hulle land gaan herstel. Hy wil die droë bene se status herstel, voorspoed gee. Hulle sal léwe, nie net bestaan nie. God kon mos sélf die bene weer in mense verander het, Hy gee egter vir Esegiël die opdrag om vir hulle te gaan profeteer. Kan jy dink hoe verspot dit moet voel om met 'n hoop droë bene te gaan praat? So, dink ek, gee die Here vir my en vir jou ook die opdrag om met die "droë bene" in ons samelewing te gaan praat - mense wat al só hooploos is, dat hulle soos lyke ronddwaal. Die volgorde is interesssant: Esegiël het eers net vir die bene gesê dat God die lewe in hulle gaan teruggee, en "dan sal julle besef dat Ek die Here is". Daarna praat Esegiël met die Gees, en roep die Gees uit die vier windstreke. Dan kom die lewe.

In vers 7 lees ons dat die bene na mekaar toe beweeg het, elkeen na die ander bene wat by hom pas. Dit laat my so dink aan die liggaam van Christus (Sy kerk hier op aarde) … daar waar die liggaam van Christus nie meer funksioneer nie, word die bene dor en droog. Ek glo die Here wil hê dat Sy kerk in eenheid voor Hom sal staan om as lewende eenheid Hom te aanbid.

Wat moet ek en jy vir die droë bene gaan sê?
1) Dat God lewe gaan bring in die droë bene, sodat daar hoop sal wees. Dan sal die bene besef dat Hy die land wil en gaan herstel. Nie om die volk te wees wat ons 5 jaar terug was, of voor 1994, of tydens die Groot Trek nie .. nee, Hy wil ons terugbring na Hom toe; naby aan Hom om die beste van die beste te beleef, om die melk en heuning te geniet. Om as 'n volk Hom te aanbid … dit is herlewing.
2) Dat Hy die enigste en ware God is. Hoe kwalifiseer ons dit? Wie is God? Wie is almal God? Net één. Hy het 'n Seun, Sy eniggebore, ons Verlosser. Geen Seun, geen God - punt.
3) Dat lewe net deur die Heilige Gees kan kom. Geen Gees, geen lewe - punt.

Miskien is ek en jy nie per definisie profete nie, maar hierdie opdrag is vir jou en my. 'n Land vol bene (of lyke) is 'n spookdorp. 'n Land vol lewe het hoop deur Christus wat in ons woon, deur die Heilige Gees. DIT is lewe.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)