Ons het reeds gepraat oor "die geseëndes" oftewel die
saligsprekinge waarin Jesus wat in Matt 5 vertel wat ware seën
beteken.
Matt 5 : 3 - 12 Geseënd is dié wat weet hoe
afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van
die hemel. 4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.
5 Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.
6 Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal
versadig word. 7 Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle
sal barmhartigheid bewys word. 8 Geseënd is dié wat rein van hart
is, want hulle sal God sien. 9 Geseënd is die vredemakers, want
hulle sal kinders van God genoem word. 10 Geseënd is dié wat vervolg
word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die
koninkryk van die hemel. 11 Geseënd is julle wanneer die mense julle
ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van
julle sê. 12 Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die
hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.
Hierdie stukkie het eintlik 'n totale nuwe
perspektief op seën kom sit. Wil jy graag weet hoe om God se seën te
ervaar? Dan is al die antwoorde hier. In die eerste gedeelte het ons
gesê jy is geseënd as jy weet hoe afhanklik jy van God is. Geseënd
is jy as jy treur. Geseënd is jy as jy sagmoedig is, Geseënd is jy
as jy honger en dors na wat reg is, en geseënd is jy as jy
barmhartig is. Dit lyk dus vir my jy is geseënd as jy goeie goed
doen, en nie baie goed kry nie.
Vers 8 sê: Geseënd is die wat rein van hart is,
want hulle sal God sien. Sjoe, wie wil jy eerder sien as vir
God. Volgens die Bybel kàn ons nie vir God sien in hierdie wêreld
nie, maar wel in die hiernamaals. Dus is hier weereens 'n verwysing
na die ewige lewe. Dis al waar ons vir God kan sien. Kom ons maak
net een ding eers vas. Volgens die Bybel kan ons net Saligheid
verkry as ons vir Jesus as ons Verlosser aanneem en tot bekering kom.
Wedergeboorte. Dus is hierdie dinge wat ons in die Saligsprekinge
lees, nie ons paspoort na die Ewige lewe nie. Maar, kan ons nie dalk
sê dat hierdie die toets is vir ons bekering nie? Jy sien, àl
hierdie dinge verwys na 'n goeie lewe. Wat God verwag.
Nou, wat beteken 'n rein hart. Daar staan "wees
veral versigtig wat in jou hart aangaan, want dit bepaal jou hele
lewe". Om slegte dinge te bedink, mense te beskinder, negatiwiteit,
is definitief nie 'n rein hart nie. "Wat jy dink, dit is jy". Jesus
het 'n rein hart gehad. Hy het omgegee vir mense, hulle seer verlig,
hulle Saligheid was belangrik. Dis 'n rein hart. Miskien moet ons
vir ander mense vra of ons 'n rein hart het, dan weet ons.
Hier kom 'n moeilike een - "Geseënd is die
vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word". Klink
dit nie soos Joh 1 : 12 nie? "Maar almal wat Hom aangeneem het,
die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word".
Dus, die vredemakers het Hom aangeneem en gló in Hom. Moet wees,
want hulle "albei" sal kinders van God genoem word. Vredemaker. Dis
'n aktiewe positiewe aksie en daad, uit ons eie keuse, deur ons self
beoefen, met 'n geweldige opbrengs. Dink jy die engele baklei in die
hemel? Met God? Verseker nie, maar dit was eens op 'n tyd so. Toe
satan in opstand gekom het teen Jesus. Toe besluit God dat Hy nie
hierdie onvrede kan toelaat nie. Van watse plek sou dit die hemel
maak. Toe werp Hy die satan uit. En daarom, moet ons maar liewer
vrede maak. Daar by die werk - hoeveel vrede is daar? Skinder en
kwaadpraat maak nie vrede nie. Nee, praat dinge uit, maak reg, vra
verskoning, draai die ander wang, wees die minste, buig die knie,
"submit", dis vredemakers.
'n Polisieman is nie 'n vredemaker nie, hy is 'n
vrederegter. Hy stop die baklei en hou mense uit mekaar se hare uit.
'n Vredemaker tree pro-aktief op.
Vers 10: "Geseënd is dié wat vervolg word omdat
hulle doen wat reg is", en raai wat is die beloning? "Want
aan hulle behoort die Koninkryk van die hemel".
Kan jy sien dat die grootste seën op aarde die hemel
hierna is? Word jy vervolg omdat jy doen wat reg is? Ja, die ouens
nooi jou "strip club" toe, of kroeg toe vir 'n klomp kappe. En as jy
"nee" sê, kom hierdie vervolging in. Jy word sleg gesê, bespot. Of,
kom, so bietjie omkoopgeld, slegte transaksies. Nee, die Here sê,
vir dit is daar nie plek in die hemel nie. Koop die verkeersman om,
"squash" die boete, kom weg met moord. Nee, vat liewer vervolging
vir jou regte besluite.
Vers 11: "Geseënd is julle wanneer die mense ter
wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle
sê." Ons ly darem nie regtig vir ons geloof nie, of hoe? Paulus
was uitmekaar geslaan, Petrus onderstebo gekruisig, Stefanus was
gestenig, en so het omtrent al die apostels vir hulle geloof
gesterf. En net so baie mense in ander wêrelddele. Wreedaardig!! En
Jesus sê, "Geseënd is julle". Moeilik as iemand God se Naam ydellik
gebruik, of die kerk slegsê, of jou spot oor jou geloof. En nog
erger, as jy moet opstaan en standpunt inneem oor die Woord van God.
Oor wat reg en verkeerd is. Vernaam as jy nie saamstem met hierdie
nuwe denkpatrone wat die Bybel irrelevant maak nie. Al gehoor jy is
oudmodies, of 'n dweper, of skynheilig, of 'n regte ou "Bybel onder
die arm"? Dan sê Jesus, "geseënd is jy"!! Daar waar jy opstaan vir
wat reg is, waar jy jou geloof moet verdedig. Wanneer die mense
julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is,
van julle sê.
Jy sien, dis duidelik dat ons as Christene nie van
hierdie goed gevrywaar is nie. Inteendeel, ons moet dit verwag.
2 Tim 4 : 1 - 5 Ek beveel jou voor God en voor
Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel
jou met die oog op sy koms en sy koningskap: 2 verkondig die woord;
hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur
met alle geduld onderrig te gee, 3 want daar sal 'n tyd kom wanneer
die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle
eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net
sal sê wat hulle graag wil hoor. 4 Hulle sal die waarheid nie wil
hoor nie en hulle tot verdigsels wend. 5 Maar bly jy in alle
omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger
van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit.
"Verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die
evangelie” met die verduideliking in vers 1: "….. met die oog op Sy
koms en Koningskap".
Vers 12: "Wees bly en verheug, want julle loon is
groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle nét so
vervolg. Geseënd is jy as jy swaarkry. Hier sê selfs "wees bly
en verheug". Dan wonder ek soms: as ek dan nie ly vir my geloof nie,
doen ek hoegenaamd iets goed? Is my bediening die moeite werd? Wel,
ek is dalk net gelukkig dat daar nie soveel vervolging in ons land
is nie. En des te meer moet ons alles doen wat ons kan om die
evangelie te verkondig.
Ja, geseënd is jy as jy al hierdie dinge van Matt 5
doen.
Die uitvloeisel - die beloning, is die ewige lewe.
Ons swaarkry hier op aarde is van korte duur. Ons meet die materiële
as seën, God se seën. Maar dis net krummeltjies. Gemeet teen dit wat
kom as ons die ewige lewe behaal, is dit sommer niks.
Wil jy vandag 'n seën vir ander wees? Wees 'n
vredemaker, wees sagmoedig, wees rein van hart, honger en dors na
wat reg is, vertroos iemand wat hartseer is, leer ander om afhanklik
van God te wees. Wil jy geseënd wees omdat jy vervolging moet verdra?
Doen dan iets om vervolging uit te lok. Verkondig die evangelie, hou
daarmee vol, tydig en ontydig, weerlê, bestraf, bemoedig. Dan sal
dit kom.
Nou ja, ek hoop jy kan al hierdie seëninge tel. Kom
ons meet die regte goed. Ja, dalk kom daar so 'n ou meevallertjie,
dan is dit lekker. Gee dit weg, dan is dit nog lekkerder.
|