|
|
|
Ps 34:1-11 Jy sien, hierdie Desember/Kersfees/Nuwe Jaar - mypaal verdoesel so half die werklikheid vir 'n rukkie, want Januarie word ons weer wakker geskud. Ek hoop dat hierdie Psalm jou sal help om die nuwe jaar met moed in te gaan! Dawid sê: "Die Here is naby", en in vers 2 sê hy: "Ek sal die Here altyd weer prys. Ek sal sy roem besing". Hy sê: "Sing saam met my oor die grootheid van die Here". Want … "Hy het my gered uit doodsgevare. Ek het geroep en Hy het gehoor". Dan sê Dawid 'n baie waar ding: "Die wat swaarkry, sien op na Hom en straal van blydsakp, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie". Kyk mooi, daar staan nie: "Die wat opkyk na Hom, sal nie swaarkry nie". Nee, selfs die wat swaarkry sal straal van blydskap. Eendag het Stephan Joubert gesê dat daar op meer plekke in die Bybel staan dat die Here jou beskerm IN moeilike tye, as TEEN moeilike tye. Die Here is naby! "Die engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat Hom dien, en red hulle" Weet jy, ons sê baie keer dat ons wegdryf van die Here af, maar ek dink nie dis waar nie, want die Here kan nie weg wees van Sy kinders af nie. Die Here is altyd naby, Hy is altyd orals. Dit is wel waar dat ons soms ons verhouding met Hom verwaarloos. Die Here is niks nader aan mense wat gereeld met Hom tyd spandeer nie. Mens hoef Hom nooit nader te wink uit die verte en wag dat Hy arriveer nie. Hy IS daar. Maar … om die verhouding met Hom te verwaarloos, maak dat ons die seën verbeur van intimiteit met Hom. En daardie keuse los Hy vir ons. Vers 9 het die uitnodiging: "Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil". Dawid het mooi verstaan - hy kon uit eie ervaring hierdie uitnodiging maak. Hy weet dit werk, daarom nooi hy ons om dit ook te probeer. Ps 34:10-15 Hier gee Dawid die geheim weg van hierdie ervaring. "As iemand …" - hiermee waarsku hy teen kwaadpraat, leuens en kwaaddoen. Jy sien, die Here wil verseker die goed van die lewe vir al sy kinders gee. En kwaadpraat, leuens en kwaaddoen is tog altyd immers teen ander mense gemik. En ja, hoe dikwels vuur ons nie geniepsige en nydige pyltjies vol gif af op ander mense nie? Dis toe nie net kriminele kwaaddoeners wat mense seermaak nie, of hoe? Dan is dit mos logies dat hierdie gedrag ons verhouding met die Here sal beïnvloed. Dit steel ons lewenslekkerte, en bo alles steel dit ons vrede. Vers 15 sê: "Bly weg van die kwaad en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na". Wow - SOEK vrede … sien jy dat dit dalk moeite kan wees om vrede te ontdek en te bekom? Harde werk om dit na te jaag? Sien jy dat dit nogal die moeite werd kan wees om vir vrede te "werk"? Wat wil jy meer hê as vrede? Dis tog seker lewensvervulling. Ps 34:16-23 Die Here is naby aan dié wat Hom soek. Dis nogal duidelik wat die Here vir ons wil sê: Bly in My - en Ek sal met die onregverdiges, die kwaaddoeners, die Goddeloses afreken. Vers 20: "Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal" Ja, daar sal rampe kom, die kwaaddoeners en goddeloses hét 'n invloed op jou en my lewens, dit maak verseker die lewe vir ons moeilik. Máár - dis nie ons saak nie. Volgens vers 22 bewerk die kwaad wat die goddelose doen sy eie ondergang; hy sal boet vir sy vyandskap teen die regverdige, terwyl die Here sy dienaars wat by Hom skuil vry maak (vers 23). Die Here is naby, ook in moeilike tye. Hy is in beheer, al tref moeilike goed ons. Hy smag na intimiteit met ons juis wanneer ons wegskram van Hom af. Hy red, selfs al voel dit of Hy stadig is. Die Here is naby in 2009 - mag jy dit só ervaar!
|