DIE HERE ONTMOET JOU OP DIE VLAK VAN JOU VERWAGTING

Luister na hierdie volgende stelling:-

"Die Here ontmoet jou op die vlak van jou verwagting". Wat verwag jy van die Here? Hoeveel vertroue is ek en jy bereid om regtig in die Here se hande te sit? En dan baie belangrik:- Glo jy regtig dat God vandag nog bonatuurlike wonderwerke doen? Dalk staan jy vandag voor 'n groot besluit in jou lewe, of dalk is jy werkloos, of moedeloos oor jou lewenssituasie, of dalk werk dinge net nie vir jou uit nie. Dan maak ek weer die stelling:- "Die Here ontmoet jou op die vlak van jou verwagting".

2 Konings 4 : 1 - 7
1 'n Vrou van 'n profeet het haar nood by Elisa kom kla: "My man is dood U weet self dat hy die Here gedien het. Nou het die skuldeiser gekom om my twee seuns te vat en hulle sy slawe te maak."
2 Elisa het vir haar gesê: "Ek sal jou help. Sê vir my: wat het jy in jou huis?"Sy het geantwoord: "Ek het niks in die huis nie behalwe 'n erdekannetjie olie."
3 Hy het toe gesê: "Gaan leen nou by al jou bure leë kruike, en sorg dat jy nie te min leen nie.
4 Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns toe, en gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol word, moet jy hom wegpak."
5 Sy is van hom af weg. Sy het die deur agter haar en haar seuns toegemaak. Soos hulle die kruike na haar toe aangedra het, het sy hulle volgemaak.
6 Toe die kruike vol was, sê sy vir een van haar seuns: "Bring vir my nog 'n kruik."Maar hy het gesê: "Daar is nie meer 'n kruik oor nie."Toe het daar nie
7 meer olie uit die kannetjie gekom nie. Sy het by die man van God aangekom en dit vir hom vertel. Hy het gesê: "Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly."

Baie bekende gedeelte. Nie 'n verhaal nie, nie 'n gelykenis nie, 'n fisiese gebeurtenis. En met 'n baie goeie doel opgeteken, vandag, vir jou!!! Hoor dit en glo dit. Wat verwag jy van die Here? Dink jy Hy is tot baie in staat? En dan, glo jy jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag gee?

Ek gaan nie praat oor baie geld en materialisme nie!! En nog minder oor die gedagte dat ek en jy moet terugsit en in oormaat ontvang. Ek praat oor ons God wat die beste uit ons kan haal, wat Hy in ons ingesit het.

Die weduwee se kruik. Kom ons kyk wat ons vandag hieruit kan leer.

Hierdie vrou was in nood. Fisiese nood. Soos ons dikwels in nood is. Ja, finansieel, maar ook in ander situasies. Wat is jou nood vandag? Eensaamheid, ervaar jy dalk verwerping, moedeloosheid, sonder mense wat vir jou omgee? Glo jy dat die Here hierdie kruik tot oorlopens kan volmaak? Wat het hierdie weduwee gedoen?

Sy het hulp gaan vra. By Elisa. So eenvoudig soos dit. Sy het nie toegelaat dat trots die oorhand kry nie. Ons gaan so dikwels alleen deur ons situasie, maar vra nie hulp nie. En dan bid ons tot God, sonder 'n verwagting. Om sonder verwagting te bid, is om passief agteroor te sit en te voel dat Gods water maar oor Gods akker moet loop. Hopeloos, hooploos, negatief, boedel oorgegee. Het jy al jou werk verloor? Dis wanneer hierdie gevoel so maklik oor ons spoel. Dan begin ons verwyt, jy, ook vir die Here.

Maar God ontmoet jou op die vlak van jou verwagting!! Glo jy dat die Here dalk vir jou soveel in gedagte het dat jy nie genoeg kruike bymekaar kan kry nie? Gaan soek hulp, sodat die Here se planne in werking kan kom!

Ek kan getuig daarvan. Tweemaal my werk verloor, en ek kan die Here nie genoeg dank nie. Jy sien, die Here het 'n plan. Pak uit daardie kruike!!

Wat gebeur toe met die weduwee?? Elisa vra "wat is in jou huis?" En sy sê, "'n erdekannetjie olie". En toe begin die pret, want toe vat die Here dit wat sy het, en vermeerder dit oneindig. So, jy beweer dit gaan sleg met jou? Wat het jy in die huis? Waarmee kan die Here werk om jou ellende te verlos.?

Mmmm, kom ons kyk bietjie wat staan daar by jou rond. Dalk so 'n kannetjie met talente, so 'n paar vermoëntjies wat die Here in jou ingebou het? (Al is jy 70 jaar oud!!) Dan kyk daar onder die maatemmer, knus weggebêre, want solank ek nie daarna kyk nie, hoef ek nie veel te doen nie. Miskien so 'n kannetjie ondervinding, dit wat jy weet wat ander nie weet nie, dit wat jy kan doen wat ander nie kan nie. O koek, dalk is daar so 'n kannetjie drome. "Ek wou nog altyd ….." Klink dit bekend? Jy wou al lankal, maar jy het nie ….. Toe begin die drome nagmerries word. In plaas van lugkastele, goed wat jy om en om in jou kop laat draai totdat dit realiseer.

Die gedagte is die teelaarde van die daad. Dalk so 'n kannetjie persoonlikheid. Daardie mooi wat die Here in jou ingebou het, dit wat ander mense so nodig het, om hulle op te beur, en 'n vriend vir iemand te wees. My vriend, waarmee kan die Here werk? Nee jong, pak dit uit op die tafel, die Here wil dit laat oorloop!!

En toe gebeur die wonderwerk!! Toe sy die kruike bring, toe loop die olie. Toe sy haar kant bring, het die Here iets om mee te werk. Vers 7 - "Gaan verkoop die olie, en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly."

Wow, alla wêreld. Weet jy wat is in jou opgesluit? As jy asemhaal, lewe jy nog!! Maar sit skouer aan die wiel, bring die kruike. Vergeet van geld, die Here wil vir jou lewe gee, en vrede, en verhoudinge, en 'n toekomsvisie!! Kom ons leer so 'n paar lesse:-

1. Deel jou probleme met ander, daar is baie wat kan, en wil help.
2. Gaan kyk wat jy het. Die Here het so baie in jou ingebou, jy is so uniek, gaan skop die omgedopte emmer om, en pluk daardie talente uit.
3. Die Here wil werk met wat jy het. Stel dit beskikbaar.
4. Aanvaar dat verandering gaan plaasvind, en sien dit as 'n uitdaging. Gaan lees "Who moved my cheese". Sodat jy kan besef dat verandering geleentheid is. Die Here wil ons uit die "boring" groef van verveling uithaal.
5. Hou op verwyt en alles die skuld gee. Hey, hierdie land is steeds die land van melk en heuning. As jy hier nie oorleef nie, gaan jy nêrens. Jou houertjie met olie staan hier. Met 'n doel.
6. Gaan uit, gaan leen daardie houers. Waarin op aarde moet die Here die olie gooi as ons dit nie regpak nie?
7. Gaan vat 'n kans, en vertrou op die Here. Jy sal nooit op aarde op die water loop, as jy nie uit die boot klim nie. Ek wou op 'n tyd nie uitklim nie, toe foeter die Here my uit. En boeta, toe loop ons water!! Lekker man!!
8. Besef dat jou God groter is as jou omstandighede. En Hy het baie olie. Pak reg daardie kruike.

Die Here ontmoet jou op die vlak van jou verwagting.

TERUG NA LYS MET TEMAS