DIE HERE SE GROOTSTE BATE


In die begin het God die hemel en die aarde gemaak … As ek jou sou vra: "Wat is die Here se grootste bate?", wat sal jy sê? Hy het alles gemaak, Hy besit alles - dit moet wees, want as Skepper van alles kan niemand niks van Hom wegvat nie. Dis nogal snaaks dat Satan dit al probeer het: Toe neem die duiwel Hom na 'n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en sê vir Hom: "Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid" (Matt 4:8-9). Die Satan bied vir Jesus iets aan wat in elk geval aan Hom behoort. Wat, sou jy sê, is God se grootste bate? JY is! Jy is Sy grootste bate, Sy beste besitting, meer werd as enige ster, planeet, galaksie, bronne van minerale of edelgesteentes. Jy is die beste iets wat aan Hom behoort.

Hoe skaf 'n mens 'n bate aan? Sekerlik oorweeg jy die waarde, jy kyk of dit 'n goeie belegging is, jy vergelyk dit met ander items, en dan begin jy met die beplanningsproses om hierdie item aan te skaf. En so het God iewers, lank lank gelede begin beplan aan jóú!

Ps 139:13-18
13 U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.
14 Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:
15 geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
16 U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.
17 Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!
18 As ek hulle sou wou opnoem - hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.

Duisende jare gelede, lank voor jy gebore is, het God met hierdie proses begin. Deeglik uitgedink, deeglik beplan, ek glo ook dat Hy baie uitgesien het na jou koms, vol afwagting en verwagting. En toe … word jy afgelewer (nee! Nie deur die ooievaar nie!) Van jou geboorte af is jy God se grootste bate. Glo jy dit? Voel jy so oor jouself?

Wat maak 'n mens met iets wat jy baie waardevol ag?
1) Ek dink jy beskerm dit met jou lewe. En dit het Jesus ook vir JOU as Sy grootste bate kom doen. Hy het jou letterlik kom beskerm met Sy lewe - soveel dat Hy Sy lewe verloor het, sodat jy joune kan behou.

2) Ek dink jy pas dit soos goud op. So hou die Here Sy beskermende hand oor jou. Hy hou jou elke oomblik dop om seker te maak dat jy okay is. Hy sit elke sekuriteitsmaatreël denkbaar in plek, sodat jy (Sy bate) niks sal oorkom nie.

Jes 43:1-4
1 Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.
2 As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie,
3 want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.
4 Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.


3) As jy 'n groot bate aanskaf merk jy dit, om seker te maak dat niemand anders kan dink dis syne nie. My pa het 'n vibreerpen gehad waarmee jy kan graveer, en hy het alles gemerk met sy naam daarop. So merk die Here jou ook. Maar om seker te maak, merk Hy JOU naam in Sy handpalm:
Jes 49:16 Ek het jou naam in my handpalms gegraveer ... Waaraan dink jy sal die Here dink elke keer as Hy na Sy handpalm kyk? Wat sal Hy sien? Jou naam, natuurlik. Sy liefde vir jou is só groot dat dit is asof Hy nét jou naam sien. Glo jy dit?

4) As mens 'n groot bate het, spog jy daarmee. Jy wys dit vir almal, vertel vir almal daarvan. So spog die Here met jou. Hy wys jou vir die wêreld en vertel met liefde van al jou goeie kwaliteite. Dink jy Hy vertel van jou swakhede? Nee, natuurlik nie. Want deur Sy oë is jy 'n volmaakte wese, want Jesus se bloed was jou silwerskoon.

5) As mens 'n groot bate het, probeer jy om die waarde daarvan te laat toeneem. So, is die Here elke oomblik besig met jou, om jou beter en beter te maak. Mens noem dit geestelike groei. Soms moet Hy bietjie snoei, en ja, dit kan selfs seer wees, maar dit laat jou waarde toeneem. Die beste manier wat jou baas byvoorbeeld in jou kan investeer is om jou beter toe te rus; hy stuur jou op kursusse, gee jou meer blootstelling, ens. So stuur die Here ons ook konstant op "kursusse", sodat ons meer en meer werd kan raak vir Hom, tot voordeel van Sy Koninkryk. Soms is dit nie lekker kursusse nie, dis moeilik en die eksamens is moeilik, maar dis alles tot voordeel van Sy bate-register.

6) As mens 'n goeie bate het, HOU jy dit. Jy raak nie sommer daarvan ontslae nie. So raak die Here nooit van jou ontslae nie. Nee, soos met 'n goeie motor, word jy gepolitoer en blink gepoets. Hy sê: "Ek sal jou nooit verlaat nie". Weet een ding: Die Here sal jou nooit, maar nooit vir 'n ander verruil nie.

Nou ja, miskien glo jy nou nog nie dat jy God se grootste bate is nie. Dan moet Hy dit maar self vir jou vertel:

Sef 3:17
Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.

So sê die Here, Here vir JOU vandag. En daarom kan jy dit glo. As jy dit glo, dink dan aan die volgende:

1) Besef dat jy vir Hom baie, baie belangrik is. Weet dat Hy geen skinderstories oor jou sal duld nie. Dis mos wat die duiwel probeer doen: hy gaan skinder oor jou swakhede en foute.
2) Weet dat God geen mens bo jou voortrek nie, of liewer het as wat Hy jou het nie.
3) Jý is Sy bate, nie dit wat jy het nie. Hy besit die res in elk geval, en leen dit net vir jou, soos jou huis, kar, geld, ens.
4) As jy Sy grootste bate is, is elke ding wat in jou lewe gebeur binne Sy beheer.
5) Jy kan maar gerus werk aan jou selfbeeld - jy is 'n Koningskind, 'n prins, 'n erfgenaam, jy deel in Sy skatte. Jy is spesiaal.
6) As jy Sy grootste bate is, stort Hy al Sy liefde op jou uit - alles!

Geniet jou status. Laat Hom toe om jou te vorm, laat Hom toe om jou waarde te laat vermeerder. Wees trots op jou eienaar. Hy "laaik" jou!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)