|
|
|
DIE HOUVAS VAN JOU VERLEDE OP JOU TOEKOMS Watse houvas het jou verlede op jou toekoms? Dit is groot woorde. Dit is vir my so hartseer as ek hoor van mense wat in hulle verlede vasgevang is. En ek wil nou nie op 'n onsensitiewe manier hieroor praat nie, want hierdie is 'n baie netelige onderwerp wat nie sommer ligtelik hanteer moet word nie. Ongelukkig bly en leef ons in 'n samelewing wat soveel skade doen, wat mense se toekoms verwoes deur optrede wat sy oorsprong het in alkohol, slegte verhoudinge, egskeiding, gesinsgeweld, emosionele geweld, ag, daar kan soveel meer wees. In hierdie proses word kinders groot wat dikwels nooit ooit weer hierdie juk van hulle verlede afgooi nie, want die letsels wat die verlede laat maak dat mense nooit tot hulle volle potensiaal ontwikkel nie. Dit lei tot 'n swak selfbeeld, 'n minderwaardigheidskompleks en dan die hartseerste deel is dat die geskiedenis homself dan begin herhaal. Want wat met my gebeur het, laat ek dan met my kinders gebeur. Want jy sien, wat agter my lê, laat ek dan toe om te dikteer wat voor my gebeur. Die meeste mense kry nie sommer dit reg om uit hulleself hierdie bande te verbreek nie. Maar Goddank, met die hulp van die Here, is dit moontlik. Ek wil sover gaan om te sê, ek het nog nooit ooit iemand ontmoet wat die juk van die verlede kon afgooi sonder die Here nie, maar al baie mense gesien wat deur die werk van Jesus in hulle lewe dit kon regkry. Hoekom word ons so vasgehou daardeur, en hoe hanteer ek dit? Ek het 'n beeld gehoor op 'n tyd wat vir my verskriklik baie beteken het. Die persoon het gepraat van 'n motor se voorruit. 'n Groot stuk glas maak dat ek 'n baie goeie uitsig het van wat voor my gebeur. Dis nodig om voor jou te kan sien, want dit is wat ek nodig het om veilig vooruit te beweeg. Maar voor my is ook 'n spieëltjie, 'n truspieëltjie om te sien wat agter my is. Hierdie truspieëltjie is baie belangrik, maar die voorruit is baie belangriker. Want dis al waaraan ek iets kan doen. Daarom moet die voorruit groot wees en die truspieëltjie klein. Die groot voorruit is nodig om betyds 'n handeling te kan neem, maar die truspieëltjie is klein, want dit is net ter inligting van wat agter my is. Dit bepaal nie waarheen ek gaan nie, dit wys net waar ek was. En so is dit ook in ons lewens. Die voorruit is groot in ons lewens, want dit gee 'n visie op die toekoms. Maar steeds beperk, want die Here gee vir ons net genoeg visie om ver genoeg te sien om 'n rigting te kry en te hou. Om te fokus. Die truspieëltjie in ons lewens hoef nie groot te wees nie, want dit lê agter ons. Fil 3 : 13 en14 Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14 Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. Met Christus kan ek my losmaak van wat agter is. Jy sien, die satan het net op een manier 'n houvas op ons, en dis ons verlede. Want as ek en jy vrygemaak is deur Jesus Christus, is die mag van die verlede gebreek. Dan is 'n baie klein spieëltjie nodig. Wat gebeur as die truspieëltjie in ons lewens te groot is? 1. Die
verlede hou ons vas in slawerny. Slawerny beteken dat ons nie self beheer
het oor ons toekoms, of ons denke, of ons optrede nie. Watse houvas het jou verlede op jou toekoms? 1. Moet ons
enigsins 'n truspieêltjie hê? Verseker, solank hy klein is. Deur terug
te kyk, kan ons sien hoe ons gegroei het, as ons dit agterlaat. Jy sien,
as jy die verlede agter jou laat, beweeg jy weg van die probleme af. Dan
sal jy in die truspieëltjie sien hoe dit geleidelik in die niet verdwyn.
Maar as jy dit saamsleep soos 'n sleepwa, dan bly dit by jou. Ons noem dit
bagasie. Dan kyk jy heeltyd agter jou omdat jy hierdie ding vrees. Want hy
kom en kom. Nou hoe lyk die voorruit? Hoekom is hy nodig? Wel, die Here is soos my en jou voorruit. Hy gee vir ons visie vir die toekoms. Hy gee genoeg visie dat ons in vertroue, voluit, vooruit kan beweeg. Die voorruit neem nie die spieëltjie in ag nie. Die voorruit het nie die spieël nodig nie. Jy sien, die voorruit is deursigtig, hy wys toekoms, maar die spieëltjie kan net reflekteer wat was, wat reeds gebeur het. Die voorruit is van dik sterk glas gemaak, om ons te beskerm, die spieëltjie van dun glas wat maklik breek Want die spieëltjie is nie veronderstel om 'n gevaar in te hou nie. Deur deur die voorruit te kyk, kan ek sê, "Met die oog gerig op Jesus, kan ek vorentoe gaan". Jesus staan voor ons en wink en sê: "Kom, almal wat vermoeid en belas is". Jy sien Hom nie in die spieël en wuif nie. So asof Hy sou sê: "Gaan, en oja, good luck". Ps 119 : 105 U Woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. My vriend, al die antwoorde vir probleme van die toekoms, is in die Woord van God. 'n Toekoms saam met die Here, gee hoop. Verander jou toekoms deur gebed. Gaan pleit by die Here vir oorwinning oor die verlede, gaan gryp Hom vas. Hy is 100% getrou. Gaan maak klaar met wat agter is. Haak daardie waentjie wat net swaarder en swaarder word, los, moenie daardie bagasie saam met jou neem nie. Kry 'n vriend, 'n vertroueling om jou te help. Iemand wat saam met jou kan bid en jou bemoedig. En as die satan jou herinner aan jou verlede, herinner hom aan sy toekoms. Kom ons leef in oorwinning. Gebed Here, dankie dat U vir ons oorwinning oor ons verlede kan gee, en dat ons ons oë slegs op u kan rig en vorentoe gaan. Amen
|