|
|
|
Ons sien anderdag ‘n fliek met die naam “The Joneses”. Oulike fliek met baie lewenslesse. Dit gaan oor hierdie oënskynlike volmaakte familie: pa, ma, seun en dogter (jong volwassenes), wat in hierdie paleis van ‘n huis in ‘n spog woonbuurt intrek en net mooi alles het wat geld kan koop. Mooi mense – letterlik – en baie ryk. Al die bure staan verstom oor hierdie mense se vriendelikheid en gasvryheid, en dan nog meer, oor hulle besittings. En natuurlik wil almal vreeslik graag hê wat hulle besit, en wees soos hulle is. Vandaar die naam Joneses ... jy weet, “the Joneses next door”. Daar is egter ‘n kinkel in die kabel, want die Joneses was daar geplant om juis die Joneses next door te wees. Jy weet mos, die gras is altyd groener aan die ander kant. Ek wil hê wat jy het. Afguns? Jaloesie? Sieklike begeerte? Lyk dit dalk vir jou of die Here se guns meer anderkant die draad werk? So is die mens maar, of hoe? Dis egter interessant om te sien hoe ver die mens sal gaan om by die Joneses te kom. In hierdie fliek speel ‘n tragedie af oor iemand wat net nie kon byhou met die Joneses nie. Weet jy die Bybel praat ongelooflik baie oor geld. En die meeste daarvan is waarskuwings. In Spreuke is daar baie sulke tekste (geskryf deur Salomo wat skatryk was) Miskien is dit juis hoekom hy so ernstig was oor die gevare van geld. Geld is goed, en welvaart is seën van die Here, maar tot waar sal ons gaan om dit te verkry? Dis vir my nogal snaaks dat mense dikwels die Here se seën meet aan materiële dinge. Wanneer ons gesond is, of genoeg geld in die bank het, of as daar goeie verhoudings is, sê ons maklik dat die Here ons seën. Maar, as van hierdie dinge ontbreek, voel ons of die Here die seën-kraantjie bietjie toedraai. As ons die Joneses se nuwe off-road karavaantjie sien, dan voel ons sommer of die Here nou ‘n nuwe witbroodjie gekies het. Wanneer hierdie ding in ‘n sieklike jaloesie ontaard, gaan mense nogal na die ekstreme om dinge in hulle guns te swaai.
Hab 2:5-11 Sjoe, dis eintlik harde woorde hierdie . Mense wat hulleself verryk ten koste van ander. ‘n Hoë nes bou.... Iemand wat hom verryk met goed wat nie syne is nie. Die mens soek maar altyd na meer. Weet jy hoe maklik is dit om selfs as Christene skuldig te wees aan hierdie situasie in Habakuk 2? Jy rasionaliseer net die hele ding. Mense sal aanspraak maak op die Here se seën, materiële seën, selfs al het die Here besluit dat dit nie vir hulle beskore is nie. Daar is mos mense wat glo dat kinders van die Here nie met geld moet sukkel nie. Ek is jammer, maar ek lees dan seker ‘n ander Bybel. Die Bybel verwys telkens daarna dat ons ons oor die armes moet ontferm. Byvoorbeeld: Spr 14:31 Spr 19:17 Party het baie, en ander nie. Hoe tevrede is jy om NIE Mr en Mrs Jones te wees nie? Is jy tevrede? Of is jy dalk juis Mr Jones? Miskien besef jy dit nie. Kan jy nog tel? ... jou seëninge tel? Spr 30:7-9 Die woord “vrede” kom voor in die woord “tevrede”. Het jy daardie vrede? Miskien is jy the Jones next door. As jou huwelik gesond is, kyk die mense van anderkant die draad verlangend na jou, of jy dit besef of nie. As jy goeie verhoudinge handhaaf, kan jy trots wees op wat jy het. As jy ‘n mens is wat in jouself vreugde kan vind, en kan waardeer wat die Here in jou ingebou het, selfs al is jy gestrem, dan kyk ander met leep ogies na jou. As jy ‘n eerbare lewe lei, en nie toelaat dat jaloesie jou onderkry nie, kan ander maar opkyk na jou. As jy met baie min oor die weg moet kom, maar die Here prys vir elke happie kos en stukkie klere, is jy ryker as ‘n miljoen Joneses. As jy in ‘n goeie verhouding met die Here leef, hang jy uit met dié Een wat in elk geval alles besit. Dis nogal iets waarna ander mense kan opkyk, of hoe? Party mense dink hulle het “friends in high places”, maar mens, jy het ‘n “Friend in the highest place”. My vriend, jy kan ryk wees, ryker as enige mens op aarde, as jou vreugde in die Here gesetel is. Jes 2:22 Nee wat, vergeet die Joneses, kyk na Jesus. Hy het niks gehad nie, maar Hy kan jou álles gee. |