|
|
|
DIE KERK WAT GOD LIEFHET Wat beteken hierdie stelling vir
jou: Die kerk wat God liefhet? 1. Die kerk wat vir God lief is. Hierdie twee kante kom beide mooi saam in:- Die kerk wat God liefhet. Wat beteken dit vir jou? Kan ons weet hoe die kerk lyk vir wie God regtig lief is? Of sal ons sê "Die Here is lief vir elke kerk?" Dis seker waar. Maar is die kerk - elke kerk - werklik lief vir God? Sjoe, dis 'n gevaarlike vraag. En omdat dit so gevaarlik is, sal ons maar die antwoord in die Bybel moet soek. Maar eers moet ons definieer wat "kerk" beteken. Jy is in 'n kerk en ek is in 'n kerk. Ja of nee? Ek dink die woordkeuse is verkeerd. Ek en jy is in 'n gemeente, van 'n spesifieke denominasie, 'n lidmaat, of jy neem daar deel aan 'n geloofsgemeenskap. Maar primêr, is ek en jy kerk. Die kerk van die Here Jesus Christus is 'n bondel individue, wat saam in die liggaam van Christus as kerk funksioneer. As ons elkeen deelneem en ons take uitvoer en ons gawes uitleef. As ….. 1 Kor 12 : 12 - 28a Dit is wat kerk beteken. Definitief nie 'n gebou nie, of 'n beweging, of 'n kerkraad nie, maar mense, wat deur God aangeraak is, wat doen wat die Here se bedoeling met kerk is. Die vraag is, werk dit? 1. Die kerk wat God liefhet, is 'n kerk (geloofsgemeenskap) waar daar eenheid is. Volkome eenheid, met 'n gemeenskaplike doel en fokus. En as daar verskille kom, dan word dit met volwassenheid en liefde hanteer, totdat die verskil uit die weg geruim is. Gal 5 : 14 - 15 En is dit nie maar daagliks aan die orde van die dag nie. Lidmaat teen lidmaat, gemeente teen gemeente, leraar teen leraar, lidmaat teen leraar, en anders om. Dikwels oor snert. Dan wonder ek maar net hoe lief ons vir die Here, en vir Sy saak is. Jy sien, hierdie liggaam van Christus, kan nie werk as ons nie saam staan in ons geestelike werk nie. Ons moet toleransie hê vir mekaar en ons moet 100% saamstem. Iemand maak eendag hierdie opmerking: "Die Christene is die enigste weermag wat sy eie soldate skiet". En dit is 'n baie baie ernstige aantuiging teen ons as kinders van die Here. Dan, as goed nie werk nie, begin ons nog 'n kerk. Eenheid beteken om 'n gemeenskaplike doel na te jaag, wat die Here behaag. Het jy al die stelling gehoor "Ek gaan sit nie in die kerk tussen al daardie skynheiliges nie"? Wel, skuus, ek is een van hulle want ek is 'n sondaar, totaal onvolmaak, met baie foute. Maar ek is gered deur Jesus se genade. Moet tog nie kies om die Ewige Lewe te mis as gevolg van my sondes nie. Die kerk wat God liefhet, is die kerk waar die Woord van God in sy totaliteit sentraal staan en as die volle en enigste waarheid voorgehou word. Is dit nie sleg dat die kerk vir jare sukkel om te verstaan wat dit beteken as die Here sondes in die Bybel uitwys nie. Dan kom ons op die punt wat ons as mense dan besluit dat die Bybel seker verkeerd is, of verkeerd vertaal is, of nou anders geinterpreteer moet word. Jy sien, God het elke sondaar lief, daarom spreek Hy netelige sake in die Bybel aan, want dan kan ons aan hierdie goete begin werk. Die Here het ons heeltemal te lief, om ons te los soos ons is. Daarom het Hy Sy Woord vir ons gegee. Ons hoef nie te besluit of God ernstig was toe Hy Sy Woord saamgestel het nie. Is Hy dan so 'n onmagtige Vader dat Hy nie Sy eie Woord in stand kan hou nie. Hy wat die hele skepping in stand hou, kan sekerlik Sy Woord instand hou, vir vandag, totaal relevant. 2 Tim 3 : 16 En dit sê alles. Die hele Skrif is deur God geinspireer. Vir vandag, vir die verlede, en vir die toekoms. Die kerk wat God liefhet, staan op Sy Woord, en lees dit, en leef dit. Die kerk wat God liefhet, is die kerk wat Jesus as die enigste Saligmaker erken en verkondig. Dis die kerk waar mense tot bekering kom, omdat die Weg na Saligheid verkondig word. Die kerk wat groei, nie omdat nuwe mense intrek nie, maar omdat mense buite die kerk bereik word. Hier, 'n bietjie verder, nog verder, tot aan die uithoeke van die wêreld. Jerusalem, Judea, Samaria, tot aan die uithoeke van die wêreld. En nee, nie deur die pastoor of die dominee nie, maar deur my en jou. Die kerk wat die Here liefhet, is die een waar die lidmate toegerus, bemagtig en vrygestel (release) word, om Jesus se opdrag te gaan uitvoer. Matt 28 : 19 "Gaan dan na al die nasies toe, en maak die mense my dissipels." Ek en jy moet dit doen - ons - die kerk. Komaan kerk, kom ons gaan maak 'n verskil, ons wat vir God lief is.
|