DIE LEWENSREIS


Al die slagspreuk gehoor? "Life is a journey - enjoy the ride." Die lewe is 'n reis - geniet die rit.

Ons is iewers heen op pad, met hierdie ding wat ons "lewe" noem. Maar, min van ons geniet die rit. Dink bietjie as jy op vakansie gaan Kaap toe. Begin die vakansie as jy in jou motor klim? Of as jy arriveer? Vir my is dit maklik om te antwoord ….. ek haat elke sentimeter van die pad om daar uit te kom. Dit voel of ek elke breukdeel van 'n sekonde gestraf word. En dan, na hierdie straf rit, begin ek myself gate uit geniet. Net tot ek moet terugry. En so maak ons met die lewe. Haat elke oomblik van die rit. Die probleem is net, aards gesproke is daar nie 'n bestemming nie. Want die lewe IS die rit. Ons leef nou maar eenmaal asof die lewe daar vêr voor ons lê. En ons sal dit geniet, as ….. Daar moet net eers 'n paar struikelblokke uit die pad kom. Jy weet, wanneer dit en dat nog eers gebeur, sal ek vreugde in die lewe ondervind. Ons hang vir onsself 'n wortel voor die neus, en stap agter dit aan. Intussen geniet ons bitter min van die rit. Ek en vroulief het in die ou dae gereeld op staptoere gegaan, en was dan erg gefrustreerd met mense wat die pad so kon afjaag. Altyd gesê hierdie mense sien alles in 'n "blur". Stap 12 km in twee ure, net om die res van die dag by 'n ongemaklike hut deur te bring. Niks van die genot van die stap nie.

"Life is 'n journey, enjoy the ride". Wat maak dat ons die genietinge van die lewe mis?

1. Die verlede. Ons hunker terug na die goeie ou dae. Pred 7 : 10 "Moenie sê in die oudae was dit beter as nou nie. Dis nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie." Snaaks dat ons ook nie toe gelukkig was nie. Jy sien, die verlede is vir die mens bekend, en die toekoms nie. Wat wel waar is, is dat die mens die slegte dinge van die verlede redelik goed uitwis. 
2. Die toekoms. So asof gelukkig wees en vreugde hê net om die draai lê. As dit of dat nog net sal gebeur, sal ek gelukkig kan wees.

As ek net eers getroud kom, of ….. geskei. As hierdie transaksie nog net afkom. As ek nog so 10 kg afgegooi het. As my kinders net nog so bietjie groter word. As manlief of vroulief hom of haar net so bietjie regruk. As ek net so 'n klein verhoging kry. (Almal kort mos net so 10% of meer - ryk of arm), as die baas bedank, ek bevordering kry, misdaad in die land ophou, skoonma-hulle Spanje toe trek. Ai tog, as, as, as!

Haai weet jy, dalk sal een of twee van hierdie goeters waar word, maar nooit alles nie. En intussen bly ons nou maar smart vrate. En lei ons verskriklik om deur hierdie lewe te kom. Tot iemand netnou vir jou vra …. "Hoe gaan dit?" Dan is dit "kan nie beter nie", "voorspoed verveel my", "bitter goed", "punt in die wind", ens.

Geluk lê nie iewers aan die einde van die pad nie. Geluk is die pad.

'n Spreekwoord sê "Die lewe begin op 40”. Surprise, surprise ……

Ons sit mos maar almal met hierdie "idols" wat ons onbewustelik najaag.

Hier is vir jou ’n toetsie: Noem die:- 
1. Vyf rykste mense op aarde. 
2. Die laaste vyf mej Wêrelde. 
3. Laaste vyf Nobel-pryswenners. 
4. Laaste vyf Oscar-wenners vir beste akteur/aktrise.

Kan jy? Sukkel jy? Moenie sleg voel nie, hulle is la-a-a-ankal vergete. Hoekom? Want hulle het nie veel verskil gemaak aan jou en my nie.

Nog 'n ander toets: Noem:- 
1. Vyf onderwysers wat jou lewe goed be-invloed het. 
2. Vyf vriende wat jou gedra het in tye van nood. 
3. Noem 'n paar mense wat jou spesiaal laat voel het. 
4. Lekker tye saam met iemand.

Makliker? Of hoe? Want dis die dinge wat saak maak. Wat die lewe waarde gee!

Daar word vertel dat daar eenmaal in die  Seattle Olimpiese spele vir gestremdes 9 atlete deelgeneem wat almal op die een of ander manier fisies en of verstandelik gestrem was. Toe die skoot klap het almal begin hardloop. Een van die atlete het geval en begin huil. Die res het almal het gestop en omgedraai. 'n Meisie met Down sindroom het by hom gaan sit en gevra of hy nou beter voel. Toe hy opstaan, het almal saam met hom gestap na die eindpunt toe. Vir hierdie nege het dit oor verhoudinge gegaan.

Hoe lank gaan ons nog wag voor ons die lewe begin geniet? Dit lê nie oral rond nie, ons moet dit gaan haal, gaan soek. Die mooiste skulpies op die strand lê nie oop en bloot nie. Ons moet dit gaan soek in die poeletjies tussen die rotse, soms half begrawe in die sand.

Hoe kry ons dan lewensvreugde?

1. Tel jou seëninge. Jitte tog, is Suid-Afrika so sleg? Wil jy eerder in Zimbabwe bly? Of Indië, of China, elders in Afrika? Misdaad is sleg, maar ons is nie in 'n oorlog nie. Het jy al 'n oorlog sirene gehoor? 
2. Besluit om positief te wees. Lees Ps 23 - met 'n nuwe perspektief! Ons lees dit as 'n Psalm wat ons uit 'n donker gat moet haal. Luister net met 'n positiewe gesindheid. Kan ons nog negatief wees as die Here vir ons hierdie belofte gee? 
3. Pak iets lekkers aan. Iets wat jou aandag van die werk aftrek. 
4. Gaan doen daai ding wat jy nog altyd wou. Bungy, diepsee duik, versamel seëls, skilder. 
5. Doen lekker goed saam met die gesin. 
6. As jy val, staan weer op. Steek net jou hand uit, God sal dit vat. 
7. Stap in die oggend, begin 'n nuwe roetine, los die dieët vir 'n week, of sommer vir altyd. 
8. Gaan bedien ander wat swaarkry. Neem 'n ouma in die ouetehuis aan, of gaan kuier liewer vir jou eie ouma, of ma en pa. 
9. Gee so bietjie van jou geld weg. 
10. Gaan bederf jouself so bietjie met iets lekker. Nou nie 'n nuwe BMW nie! 
11. Vind jou vreugde in die Here.

Besluit om vandag te geniet. Beteken iets vir ander, jouself en die Here. Geniet die reis.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)