|
|
|
Waar kom jy vandaan? Waar bevind jy jou nou? Waar gaan jy heen? Oor die laaste vraag: wéét jy? WIL jy weet? Kom, wees eerlik, wil jy weet hoe die pad vorentoe lyk? As jy ‘n keuse sou kry om jou lewenspad vorentoe soos ‘n pak kaarte voor jou uitgesprei te sien – sou jy kyk? So ‘n “magic” e-pos van die Here af wat sê: “My kind, as jy jou toekoms wil weet, kliek hier.” – sal jy kliek? Ek dink as dit miskien nou met jou swaar gaan sou jy wou kliek om te sien dat dit wel beter sal gaan, of dat daar vinnig ‘n uitkoms gaan wees. En as dit nou met jou goed gaan, sou jy kliek? ‘n Vriend sê anderdag hy vra die Here om vir hom die pad vorentoe te wys. Hy het lank, en aanmekaar gebid. Ek vra toe vir hom of hy regtig sou wou weet dat hy in September sy huis gaan verloor, of dat sy kind in Desember met ‘n ongeneeslike siekte gediagnoseer gaan word, of dat hy sy werk in Julie gaan verloor, en sy vrou hom in Oktober gaan los. Wat dink jy gaan gebeur as ons dit alles vooruit sou weet? Kom ons swaai dit nou na die positiewe kant toe. Kom ons sê jy weet dat jy einde November op ‘n wonderbaarlike manier miljoene rande ryker gaan wees. Hoe dink jy sou dit jou lewe beinvloed het? Hoe gaan dit jou vertroue in die Here beinvloed? Wil jy regtig weet hoe die toekoms lyk … al is dit goed òf sleg? Kom ek neem jou terug na my gesprek met my vriend, Paul. Hoe meer hy die Here vra: “Hoe lyk my toekoms?”, hoe meer kom die teks Ps 119:105: “U Woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad” , en dis ál wat hy kry … net dit. Wat vertel ons vir mekaar in hierdie onseker tye? Hoekom gaan sien mense sogenaamde profete? Om wat te hoor? Miskien het jy ook al gaan “hoor”, net om teleurgestel te word. Want jy sien, niemand sal ooit vir jou vertel dat dit bitter swaar sal gaan, dat jy dalk alles sal verloor, en dat ‘n vreeslike moeilike tyd vir jou voorlê nie; en dan boon-op, dat dit die Here se wil is. Ander vriende van ons kry baie duidelik die boodskap van die Here, so 4 jaar gelede, dat hulle alles hier moet oppak en Kaap toe verhuis om ‘n nuwe besigheidsgeleenthied daar aan te pak. Met groot opgewondenheid vertrek hulle na ‘n idiliese dorpie, bou ‘n groot huis en doen flink sake. Net om ‘n paar jaar later alles te verloor. Alles. Dit het nou onlangs gebeur. In hierdie tyd gaan hulle deur hel, spartel, kry maagsere, het ongelòòflike bekommernis. Hulle hele wêreld stort in duie. En toe kom daar uitkoms, waar hulle voor kan begin in goeie omstandighede. Die vraag is: waar was die Here? Kom ek sê jou waar die Here was. BY hulle!! Elke tree, elke oomblik, sonder ophou.
Ps 94:12-19 Toe ek gedink het my voete gly, het U troue liefde my regop gehou, Here. Die vriendin se getuienis was dat hulle nog nooit in hulle lewe so naby aan die Here was nie, nog nooit Sy nabyheid so intens ervaar het nie, en nog nooit soveel by Hom geleer het nie. My vraag is: sou hierdie vriende van my die pad vorentoe wou weet? Ek glo nie. Weet jy wat is ons probleem? Ons glo hierdie stories van mense dat dit nie swaar kan gaan met ‘n Christen nie. En dat daar geen doel daarmee kan wees dat ons moet swaarkry nie. Dit is nie waar nie, want my wil is nie God se wil nie. As die Here wil, kan Hy my stroop van alles, Hy kan elke ding van my af wegvat, as Hy ‘n hoër doel het wat Hy daardeur wil bereik. Jy sien, as ek en jy gestroop van alles en nakend voor Hom staan, dan het Hy ons volle aandag. As daar niks oor is waarop ek kan staamaak nie, as ek op niks kan terugval nie, as ek géén ander kruk het nie, kan Hy op ‘n wonderbaarlike manier met ons werk. Dit is tye waar die mense elke stukkie vertroue op sy Skepper plaas, homself ten volle ontbloot voor sy Maker, en alles aan Hom oorgee.
Job 42:1-5 Toe Job alles verloor, toe sien hy die Here, toe verstaan hy, toe leer hy die Here ken. Vir wie gaan vra jy vir raad in moeilike tye? Vir mense van wie Job in vers 3 praat? “Wie is dit wat U bedoelinge wou dwarsboom”? My vriend oppas vir wie jy raadpleeg in moeilike tye. Dit kan dalk net die Here wees wat besig is met jou. Wil jy die pad vorentoe weet? Vir wie vra jy?
Jer 23:16-17 As jy die hele Jeremia 23 lees sien jy dat die profete lieg (in die Naam van die Here), en sê dat niks slegs sal gebeur nie. Terwyl die Here besig is met ‘n woestyntyd met sy volk – met ‘n doel!
Wat is my punt? Ps 119:105 U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad…. ‘n kringetjie lig vir die volgende tree. Nét genoeg vir een tree – nie ‘n “spotlight” nie.
Moenie die toekoms wil weet nie, vertrou
net op die Here. |