|
|
|
"Doen slegs U wil Heer - U wil met my, U, Pottebakker, met my, die klei. Vorm my en maak my, net soos U wil. Op U bly wag ek, nederig stil" …. So begin die bekende lied wat ons al vir só lank sing. Mooi, nê? Dit bring sommer lekker herinneringe terug. Ek is seker jy het dit net soveel kere soos ek gesing. Maar weet jy, ek besef net hoe moeilik 'n mens dit regtig bedoel. … vorm my en maak my net soos U wil, net soos U wil, Here. Die pottebakkersbedryf is baie oud, en word waarskynlik vandag nog net so gedoen soos in vervloeë se dae. Ons gaan vandag so bietjie in die Pottebakker se werkswinkel kuier en 'n paar toepassings op onsself maak. Ek het gesels met 'n goeie vriend van my, Paul, wat 'n kranige pottebakker is, en bietjie by hom uitgevind hoe werk dié dinge. Kom ons kyk eers na een van die gedeeltes in die Bybel wat ook oor die Pottebakker praat: Jer 18:1-10 Dié gedeelte klink so bietjie negatief, of hoe? Dan, skielik, weer positief, dan eindig dit met: "Maar wanneer hy doen wat verkeerd is in my oë en ongehoorsaam is aan My, sien Ek af van die goeie wat Ek aan hom wou doen." Sien jy wat hier gebeur? Die Pottebakker is heeltyd besig met sy pot, vorm aanhoudend en verander en druk totdat dit die beste pot is. Wanneer die Pottebakker 'n kleipot maak, is die eerste stap in die proses om die geskikte klei te kies. Die regte klei vir die regte pot. So kom die Here en vorm vir my en jou uit die stof van die aarde. Jy kan verseker weet dat die Here baie goed gekies het waarvan Hy jou wou maak. Jou klei het kwaliteite wat niemand anders het nie. Baie, baie spesiaal gekies om jóú te vorm, net soos jy is! Hierna begin die Pottebakker om die klei te brei - die pottebakkers noem dit blykbaar "wedge". Die doel daarmee is om die korrelstruktuur nét presies reg te kry. Wanneer die Here begin in hierdie breiproses in ons lewens, gebeur 'n wonderlike ding: eerstens berei Hy jou voor op presies die regte manier, maar belangriker is dat jy die hele tyd in Sy hande is. Brei, rol, klap …. Seer, ongemaklik, onseker, pynlik - só moet hierdie stuk klei seker voel. Maar jy sien, as die voorbereiding nie reg is nie, kan die pot nie 100% suksesvol wees nie. My vriend, Paul, het dit só mooi gestel: "Jy word as't ware deel van daardie stuk klei - jy brei jouself in die klei in". Onthou jy dat jy na die beeld van God gevorm is? Sien jy in jou Geestesoog hoe die Here met liefde, deernis en genot met jou werk (en speel)? Hy weet die hele tyd wat Hy doen - Hy is in beheer van die stuk klei. Nog nie 'n pot nie; nog nie klaar nie; nog nie tevrede nie …. Maar oppad om jou te maak soos Hy jou wil hê. Hierna begin die Pottebakker met die vorming. Hy werk met 'n plan in gedagte - as die Here jou vorm, weet Hy reeds hoe Hy jou wil hê. Met deernis in Sy oë en sagtheid in Sy hande begin Hy jou vorm. Met sagtheid, maar fermheid in Sy hande is Hy besig met jou. Hy visualiseer die eindproduk, Hy sien met verwagting uit na die voltooiing van Sy kunswerk. En dan … amper bo-natuurlik, begin Sy pot vorm aanneem: heeltemal uniek. Net soos geen kunstenaar twee van dieselfde kunswerke skep nie, is Hy nie bereid om jou uniekheid met 'n ander kunswerk te deel nie. Dit kan dalk soms bietjie hardhandig voel, want daar is miskien nog so 'n bietjie lug in die klei wat uitgewerk moet word. Oomblik vir oomblik kom die meesterstuk egter nader aan perfek. Soms sit Hy jou neer en tree so entjie terug om jou te bewonder. Is dit dalk dié tye wat jy wonder wáár God is … het Hy jou dan verlaat? Dan kom Sy liefdevolle, sagte hande en werk weer verder. Soms kla ek en jy, en dan sê ons vir Hom: "Here, nee, ek wil nie sus of so wees nie". Dan sê Hy in Jes 29:16: Julle is agterstevoor met alles, asof die pottebakker die klei is. Die maaksel kan mos nie van sy maker sê: "Hy het my nie gemaak nie"; die kleipot kan mos nie van die pottebakker sê: "Hy weet nie wat hy doen nie." Jy sien, dit vra dat ons onsself moet oorgee in die hande van die Pottebakker. Wanneer die Pottebakker tevrede is
met die pot, is die proses nog lank nie klaar nie. Eers moet die pot
heeltemal uitdroog. Dit voel partykeer vir ons of die Here ons halfpad
laat staan het, maar dit is nie so nie! Uiteindelik wanneer ons voel ons
is nikswerd nie, net 'n halfgebakte misoes, begin die moeilikste en
swaarste deel: die bakproses. Teen 1260°C is dit verseker nie pret in die
oond nie. Dalk is jy tans in die oond. "Here, dis só seer - ek wil
nie hier wees nie, haal my uit! Hierdie swaarkry is vir my een te veel.
Hoe lank nog, Here? Hoekom straf U my so? Ek kan dit nie verduur nie, dis
een te veel vir my. Het U my dan in hierdie oond vergeet?". Nee my
vriend. Hy het nie. 'n Pot kan net 'n sekere tyd in die oond wees, anders
flop hy - Hy SAL jou betyds uithaal, want Hy sal nie 'n flop maak nie! En
nee, oondtyd is nie straf nie. Moenie só dink nie, want dit is nie waar
nie. Dit bring volmaaktheid, al voel dit nie so nie; al maak dit nie sin
nie. Weet jy, 'n pottebakker kan nie in daardie tyd die oond oopmaak nie.
Maar … hy weet presies wat daarbinne gebeur. Hy is steeds in beheer, hy
sien met verwagting uit na die eindproduk.
|