|
DIE REUSE IN JOU
LEWE
Het jy ook reuse in jou lewe? Goed wat op jou pad
kom (of tans is), wat net te groot lyk om te oorwin? Ek dink ons almal het
van tyd tot tyd hierdie probleem. Soms is hierdie reuse regtig reuse, maar
soms is dit dalk ons wat 'n berg van 'n molshoop maak. Soms maak hierdie
reuse vanself hulle verskyning. Ongevraagd. Soms bring ons hulle oor
onsself. Wat is hierdie reuse? Dalk jou werk verloor? 'n Ongeneeslike
siekte? 'n Geliefde verloor. Egskeiding. 'n Moeilike kind. Depressie.
Moedeloosheid. Magteloosheid. Eensaamheid. Verwerping. Jitte, partykeer
behandel die lewe ons maar stief, verseker soms ongevraagd en
onverdiend. Daar is ook 'n ander kant. Soms is jou probleem maar klein in
vergelyking met dié van ander mense, maar dit moet steeds opgelos word. Maar dan
moet jy dit oplos. In die Bybelse tyd was daar maar altyd reuse op die
groot ouens se pad. Adam se reus was die stryd om gehoorsaam te bly. Moses
moes die volk uitlei uit Egipte en 40 jaar deur die woestyn swerf. Abraham
se reus was geduld - om te wag op God se beloftes. Noag s'n was om 'n
opdrag uit te voer wat nie sin gemaak het nie, en 'n skip te bou wat
ondenkbaar groot was. Jesus se reus was die kruis. (As dit U wil is, laat
die beker by my verbygaan). Thomas s'n was ongeloof. Wat is jou reus wat
tans voor jou staan? Wat net ondenkbaar groot lyk?
Reuse in ons lewens. Kom ons kyk hoe het Dawid sy
reus (letterlik) verslaan.
1 Sam 17 : 37 - 51
37 Verder het Dawid gesê: "Die Here, wat my gered het uit die kloue
van die leeu en uit die kloue van die beer, Hy sal my red uit die mag van
hierdie Filistyn."Toe sê Saul vir Dawid: "Gaan, en mag die Here
by jou wees."
38 Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek: hy het 'n bronshelm
op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek,
39 en Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon
nie loop nie, want hy was dit nie gewoond nie.Dawid sê toe vir Saul:
"Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie."En
Dawid het dit uitgetrek.
40 Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit
uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy
slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop.
41 Die Filistyn het al hoe nader gekom na Dawid toe, terwyl sy skilddraer
voor hom was.
42 Toe hy vir Dawid sien, het die Filistyn hom met minagting aangekyk
omdat hy jonk was, met 'n rooi gelaatskleur en 'n mooi voorkoms.
43 Die Filistyn het vir Dawid gesê: "Is ek 'n hond dat jy met
kieries na my toe kom?"Hy het Dawid toe in die naam van die
Filistynse gode vervloek.
44 Verder het die Filistyn vir Dawid gesê: "Kom 'n bietjie hier dat
ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee."
45 Maar Dawid sê vir die Filistyn: "Jy kom na my toe met 'n dolk en
'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here
die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.
46 Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en
jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die
Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die
hele wêreld kan besef dat Israel 'n God het.
47 Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies
verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in
ons mag oorgee."
48 Toe die Filistyn regmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid
die Filistyn vinnig op die vegterrein tegemoet gehardloop.
49 Toe steek Dawid sy hand in die sak, vat 'n klip daaruit, gooi met die
slingervel, en tref die Filistyn teen die voorkop. Die klip het in sy
voorkop ingedring, en hy het vooroor geval op die grond.
50 Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy
hom verslaan en doodgemaak. Dawid het nie eens 'n swaard by hom gehad nie!
51 Toe het Dawid gehardloop, by die Filistyn gaan staan, sy swaard gevat,
dit uit die skede getrek en hom van kant gemaak: hy het sy kop daarmee
afgekap.Die Filistyne het gesien dat hulle held dood is, en het gevlug.
Dink jou in. 'n Seun?? Van miskien 1,8m staan voor
'n reus van 3m. Hoër as 'n huis se plafon. Nogal 'n fris beer. Kom ons
kyk wat was Dawid se plan:-
· V36. Dawid het reeds 'n beer en 'n leeu pak
gegee. Goliat was nie sy eerste reus nie. Hy kyk dus terug en weet dat die
Here hom in die verlede oorwinning gegee het. So moet ons ook terugkyk as
ons voor 'n reus staan en besef, hierdie een lyk dalk na die grootste,
maar in die verlede was daar oorwinning. Dawid weet dus dat hy weer op die
Here kan vertrou. Ons kan ook.
· Saul trek sy eie uitrusting vir Dawid aan, maar dit werk nie vir hom
nie. Net so kan ons nie ander mense se planne probeer gebruik om ons te
beskerm nie. Brons helm, harnas, swaard, ens. Nee, wat moet ons gebruik?
Die Christen se wapenrusting. Efesiers 6 : 10. Soek julle krag indie Here
en in Sy groot mag. Waarheid, vryspraak, geloof, verlossing, die Woord van
God. JY sien, hierdie wapenrusting is 'custom made'. Nie Saul se goed
waarmee g'n mens kan loop nie.
· Dawid vat sy wapens. Kierie, klippies en 'n slingervel. Sjoe - lyk na
'n spul nuttelose goed om 'n reus mee aan te pak. Kan jy sy geloof sien?
Hy het geweet dat die oorwinning primêr van God kom. Die wapen was net 'n
tool. Ons probeer soms om ander reuse te bou wat groter is as ons
probleem. Nie Dawid nie, hy kom met 'n verassingstaktiek. Dawid sê jy kom
na my met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ek kom in die Naam van
die Here, die almagtige. Dis sy wapen.
· Voorts sê Dawid:- "Vandag sal die Here jou in my mag
oorgee". Kan ons nie ook oorwinning oor ons reuse proklameer nie? In
die Naam van die Here. Is daar nie in jou verlede ook 'n klomp reuse wat
platgeloop is nie? Dawid glo onwrikbaar dat Sy oorwinning in God lê. Net
so kan ons dit ook doen.
· Dawid hardloop die Fillistyn tegemoet!! Wow. Mag miskien vreesloos lyk,
maar ek glo nie. Dawid het nie die Filistyn daar laat staan en nog groter
groei nie. Hy storm. Ons moet ook maar ons reuse bestorm, en die probleem
hanteer. Dalk met 'n klomp vrees, maar die bul moet tog seker iewers by
die horings gepak word!! Dawid se reus het nie vanself weggegaan nie.
Dawid moes hom trompop loop. Ons ook. Begin iewers, doen iets, bang of
nie. Die Filistyn sou nie net omdraai en wegloop nie. Net so ons probleme
(en reuse) ook nie. Dawid kon om sy reus hardloop, maar dan was die
probleem nie weg nie.
· En dan gooi Dawid die reus met een klip dood. Daar staan hy, het nie
eers 'n swaard by hom gehad nie. Een klip, maar ek is seker hy het reg
gemik. Wat doen Dawid? Hy gebruik skills wat hy gehad het om sy reus te
oorwin. Sy eie sterk punte, en sy eie vermoëns wat die Here hom gegee
het. Net so kan ons ook ons reuse oorwin. Deur dit te gebruik wat die Here
in ons ingebou het. Dalk onderhandeling, eerlikheid, geloof, moed. Dit wat
die Here in jou ingebou het. Dawid het op God vertrou, en die Here het hom
nie in die steek gelaat nie. Dieselfde God sal my en jou ook nie in die
steek laat nie.
Die reuse in ons lewens. Ek het my kinders van
kleins af geleer dat geen probleem te groot is om op te los nie. Dis nie
altyd maklik nie, maar oorwinning is aangenaam.
Kom ons leer by Dawid:-
· Moenie die reus ignoreer nie, pak hom aan.
· Trek die wapenrusting aan wat God vir jou ontwerp het.
· Pak die bul by die horings. Soms is dit glad nie so groot reus soos jy
gedink het nie.
· Ken jou vermoëns, en die innerlike krag wat die Here jou gegee het.
· Weet dat jy roekeloos op die Here kan vertrou.
· Kyk terug na die verlede en sien die lyke van jou vorige reuse raak,
en weet dat jy juis daarom op die Here kan vertrou.
· Leer uit die verlede.
· Maak klaar met elke verslane reus. Dawid het Goliat se kop afgekap.
· Moenie reuse gaan skep nie. Verslaan net die wat in die pad kom.
· Oefen jouself in stil tye in, om gereed en fiks te wees as die volgende
reus kom.
· Moenie ou reuse uit die sloot gaan grou nie.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|