|
|
|
DIE TYD AS DIT NET JY EN GOD IS Daar kom 'n tyd wanneer dit net jy en God is. 'n Tyd wanneer niks van hierdie wêreld meer saak maak nie. Niks van die swaarkry nie, ook niks van die lekker dinge nie. Daar sal geen waarde wees in enige van jou besittings nie. Dit sal nie saak maak hoeveel jy bymekaar gemaak het nie, ook nie hoeveel aansien jy gehad het nie. Daardie tyd is die tyd wanneer alles wat eens op 'n tyd só belangrik was, nou absoluut geen waarde het nie. Al die gejaag na wind, het in hierdie tyd tot heeltemal niks gelei nie. Wanneer daardie dag kom, is dit nét jy en God. Wat verby is, is dan verby. Vir ewig. Net jy en God … daardie ontmoeting is óf een van vreugde, of een van hel (letterlik). Die mens loop iewers sy laaste pad. Ook maar goed so, wie wil dan vir nog duisend jaar in hierdie lewe vasgevang wees? As ons saak met God reg is, word hierdie lewe verruil vir 'n baie beter een. Dan … is dit net jy en God. Wat in jou lewe gebeur het tot dan, word nou geskiedenis. Nou kan ons vra: wat dan van die tyd van geboorte af tot die tyd kom dat dit net jy en God is? Of sommer net: wat van nou tot dan? Hoe sal ons die tyd wat oorbly spandeer? Ai, is ons nie eintlik dwaas nie? Is dit nie soos die Prediker sê nie? Alles kom tot niks. Pred 12:1-8 Sjoe, dit alles klink maar bietjie mistroostig, of hoe? Maar dit is nie waar nie. Ons probleem is net dat ons lewe asof alles net oor goeters gaan. En natuurlik probeer ons al hoe harder om nog langer en langer te leef. So asof daar dan sóveel is om aan vas te hou in hierdie lewe. Ja, ons moet werk, en ons moet bates bymekaar maak, en ons moet poog om onsself te verbeter. Ongelukkig kom sommige van ons by 'n tyd waar dit AL is wat saakmaak. En dan besef ons nie dat daar 'n tyd gaan kom dat dit net ons en God is nie. Vir dié wat tot dan wag om met God iets te doen te hê, sal dit nag wees. Prediker gee self ook die antwoord: Pred 12:1 "Dink aan jou Skepper in jou jong dae, voor die swaar dae kom…." As dit net jy en God is, wat sal Hy sê? "Wie is jy? Ek ken jou nie?" Of dalk: "My kind, welkom by die huis; Ek het gewag vir jou". Dan is dit lekker as dit net jy en God is. Ek vra weer: waarmee is jy besig tot dan? In Pred 2 sê hy "ek het kennis vergader, ek het plesier nagejaag, besigheid gedoen, huise gebou, opgegaar, ryk geword" … toe kom alles tot niks. Hoe kan ons dit anders doen? 1) Ek en jy kan plesier in die lewe
hê sonder om geld in oorvloed te hê, en sonder dat ons iets doen wat
teen God se wil is. Vriendskappe kos nie geld nie. 'n Goeie reis hoef nie
oorsee te wees nie, dit kan 'n dag êrens in die natuur wees. Stadig maar seker kom daardie dag vir ons elkeen, die dag wanneer dit net jy en God sal wees. Hoe lyk die pad van nou tot dan? Ek glo dit moet 'n lekker pad wees, of dit 60 of 2 jaar is. Pred 12:13: "Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam Sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word". Pragtig, nê? As ons DIT najaag, gaan ons lewe nie afdraande tot by die punt waar die silwer draad afgebreek word nie. Daar is mense wat al baie oud is, wat 'n positiewe verskil maak aan ander mense. Weet jy, dat jy in 'n rolstoel kan sit en vir iemand in die gevangenis 'n brief kan skryf? Een uur 'n maand wat jy aan iemand anders spandeer, en dit gaan vir jou vreugde verskaf. R10 van jou geld koop 'n brood vir 'n hele gesin vir 'n dag. Al hierdie goed pas in Jesus se definisie van diensbaarheid aan God. Hy sê: "wat jy aan die geringstes gedoen het, het jy aan My gedoen". En as jy dit self nie breed het nie, onthou jy het gawes wat jy kan gebruik: praat, bemoedig, bid, luister… Dan, as dit net jy en God is wat oor is, gaan Hy vir jou sê: "mooi so, goeie en getroue dienskneg". Jy kan nie 'n kar of 'n huis of 'n besigheid op daardie dag voor Hom neersit nie, net ander mense … Kom ons maak 'n sommetjie - bereken vandag wat jy nog kan doen met die silwer draad wat oor is. Dink aan God in jou jong dae, sodat, as Hy ál is wat oor is, dit al is wat jy wil hê.
|