DIE VERLORE SKAAP


Hoe werk Jesus met ons as mense? Dink Hy aan individue? Of werk Hy met groepe of los Hy ons maar net aan ons eie lot oor? Natuurlik is die laaste stelling belaglik. Natuurlik is ons as mense vir Hom belangrik. Maar voel ons as mense nie maar soms so alleen en geestelik bankrot nie?

Luk 15 : 1 - 10 " Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2 Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle. 3 Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: 4 Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. 5 En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. 6 As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: "Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry." 7 Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie. 8 Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? 9 En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: "Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry." 10 Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer."

Jesus fokus op ons as mense. Vir Hom is dit krities belangrik dat elkeen van ons deel word van Sy trop in die kraal. Al voel ons nie altyd so nie. As een weg is, gaan soek hy daardie een en tel hom op Sy skouers en gaan vier fees saam met sy vriende. Die ander 99 wat Hy alleen los weet Hy is veilig, want hulle is beskerm in die trop.

Hoe gaan dit vandag met jou gemoedstoestand? Voel jy ook dalk so effens weg van die trop af? Daar waar jy miskien eensaam is en nie voel of jy iets werd is nie. So baie mense word uit die samelewing weggestoot. Of voel verwerp na 'n egskeiding. Of voel waardeloos omdat jy jou werk verloor het. Dalk maak siekte dat mense nie voel die Here gee vir hulle om nie. Maar dis nie waar nie. Vir die Here is elkeen van ons baie baie belangrik. En Hy gaan soek ons tot Hy ons weer gekry het. Al dink ons nie so nie.

Die gelykenis van die verlore skaap. Wat ek raaksien in hierdie gelykenis is dat dit waar is dat iemand soms wegdwaal. Daar is baie maniere van wegdwaal.

· Soms kom daar 'n geestelike louheid oor ons. 'n Tyd waar ons vêr van die Here af voel, wanneer ons gebede die plafon tref en daar net geen konneksie is nie. Dan lees ek in hierdie gelykenis dat die herder baie liefdevol gaan soek na sy skaap.
· Soms voel ons weg van die trop af as gevolg van omstandighede. Soos ek genoem het: egskeiding, verwerping, of iets wat net buite beheer uitgaan. Dan isoleer mens jouself van ander mense, omdat dit net te sleg is om heeltyd met hierdie dinge gekonfronteer te word. Dan kom soek die Herder steeds na Sy skaap.
· Soms is dit as gevolg van omstandighede wat ons oor onsself gebring het. Verval in afhanklikheid van alkohol of selfs iets erger. Saam met dit gaan dan outomaties verwerping van die mense rondom jou. Dan voel ons dat ons net nie goed genoeg is vir die Here nie, dat Hy ons nie kan terugneem nie. Weet jy, dis dan wat die Herder kom sê dat Hy vir jou te lief is om jou te los soos jy is. Dan soek Hy jou.
· Verkeerde besluite. Luk 15 : 11 - 31 lees ons van die jong man wat die huis verlaat het en net gaan droogmaak het. Dit het naderhand so sleg gegaan dat hy regtig swaar gekry het. Hy het ernstig afgedwaal. Maar die Herder het nie ophou soek nie.

Dalk voel jy vandag baie sterk as een van die 99 wat nie weggedwaal het nie. Wat verwag die Here van ons?

· Laat ons baie sterk waak teen geestelike hoogmoed. Weet jy, dis so eie aan ons menswees dat ons mense veroordeel wat deur 'n moeilike tyd gaan. Want sien, as ons 'n goeie rede kan kry om die persoon te kan aankla dat hy iets oor homself gebring het, hoef ons niks te doen nie. Maar dis nie wat die Here wil hê nie.
· Kom ons wees baie baie dankbaar vir die dae van "plain sailing". Dit vat nie veel om van die trop af weg te beweeg na die hoekie van eensames nie. In sulke tye moet ons onsself geestelik oefen en skerp hou. Omstandighede kan in 'n oogwink verander.
· Kom ons help soek na daardie verlore skaap. Hoe? Deur in mense belang te stel, en sensitief te wees vir hulle omstandighede. Wag met oop arms om iemand terug te verwelkom.
· Laat ons mense nie veroordeel en afskryf nie, want die Here doen dit definitief nie. Nee, laat ons liewer fees vier as een persoon terugkom.
· Laat ons bid vir mense wat so in 'n groef vassit.

En as mense in geestelike nood verkeer, kom ons staan hulle by, ondersteun hulle en gee regtig om.

Luk 15 : 20 - 24 " En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan.Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. 21 Toe sê die seun vir hom: "Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie." 22 Maar sy pa roep sy werksmense: "Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! 23 En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! 24 Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry." Toe het hulle begin feesvier."

God is op die uitkyk vir dié wat verlore is. Want Hy wil almal in Sy kraal hê. God se liefde maak dat Hy elke oomblik tel of almal nog by Hom is. Hy vat konstant "roll call" om seker te maak dat almal daar is. Die Here is sensitief daarvoor dat omstandighede mense in moeilike situasies laat beland. Die Here wil hê dat Sy kudde 100% voltallig is.

Ek weet dis baie moeilik om in swaar tye om te draai, maar daar is 'n manier om dit te doen.

1. Erken dat omstandighede buite jou beheer geraak het. Want as jy erken, kan jy jou ook oorgee.
2. Moenie alleen deur omstandighede worstel nie. Daarvoor is vriende of familie daar om te help.
3. Besef dat God die enigste uitweg is, en dat Sy arms nooit te kort is om te help nie.
4. Roep die Here aan en gee totaal oor aan Hom. Glo dat Hy alles kan regmaak.
5. Wees BAIE geduldig, as dit lyk of dinge nie vinnig genoeg wil regkom nie. Soms is dit 'n baie lang en moeilike pad.
6. Bely as jou omstandighede oor verkeerde besluite deurmekaar geraak het.
7. Byt vas nadat die herstelproses begin het, want dan is die duiwel BAIE lus om die oorwinning te steel.
8. Gebruik jou ondervinding om ander te help wat in dieselfde bootjie is.

Die Here sê: "My las is lig en My juk is sag. Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal vir julle rus gee."
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)