|
|
|
Julle moet in My bly, en Ek in julle. Joh 15 waar Jesus praat van die ware wingerdstok. Is dit nie ongelooflik mooi woorde nie? Julle moet in My bly, en Ek in julle. Wat beteken dit? Joh 15 : 1 - 8 Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2 Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3 Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4 Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. 5 Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6 As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7 As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8 My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is. Eintlik so 'n pragtige, praktiese beeld wat Jesus hier gebruik. God die Vader is die Boer. Hy het 'n wingerd wat vir Hom baie kosbaar is. Jesus sê Hy is die Wingerdstok, en ek en jy is die lote. En ons behoort vrugte te dra. So enkele weke gelede het ons gepraat van die twee mandjies vye. Mooi, goeie, lekker vye, en dan 'n mandjie met vrot vye. Jesus wil hê ons moet goeie vrugte dra. Anders word die lote afgesny en verbrand. Dan is dit niks werd nie, en hoort ons nie in die Boer - God die Vader - se wingerd nie. Maar as ons vrugte dra, sê Jesus in hierdie gedeelte, bly ons in Hom en Hy in ons. Maar hoe werk dit? Wat beteken dit? Voor ons hierna kyk, kom ons praat net eers oor die Boer - God. Hierdie is Sy wingerd. Is dit nie so dat die boer kan besluit wat in sy wingerd moet wees en wat nie? Hoe lyk 'n mielieland wat heeltemal verdroog het? Dit lyk sleg, jy kan niks daarmee doen nie, en daar kom 'n tyd dat jy niks meer kan red nie. Maar, waar vrug is, is daar 'n oes. 'n Boom wat vrug dra, bring iets voort, dit beteken vermenigvuldiging, en groei, 'n opbrengs, winste. Dit is wat God in Sy wingerd wil hê. En Hy kies, Ek in julle, en julle in My. Om IN Jesus te wees en Hy in ons, is sekerlik die grootste geskenk wat ek en jy kan hê. Ek wil niemand anders in my hê as vir Jesus Christus nie. Wel, hoe dan? 1. Om net kennis van alles rondom
Jesus, en sy werk op aaarde te hê, beteken nie dat Hy in my is en ek in
Hom is nie. Want kennis kan deur enigeen opgedoen word. Daar is mense van
ander gelowe wat waarskynlik bàie, bàie meer kennis het van die Bybel,
en teologie, wat nie vir Jesus in hulle het nie. En ons kan die Here dank
dat dit so is, anders sou ons maar swaar gekry het met hierdie leegheid
binne ons. 2. Die volgende ding wat dit nie is
nie, is net geloof. Om te glo dat God bestaan, en Jesus gedoen het wat Hy
kom doen het, maak nie dat ons in Hom is nie. Snoei is nie altyd lekker nie, en definitief is snoei nie straf nie. Snoei beteken dat die boer al die dooie takkies wegsny. Dis hoe die Here ons vorm, om skoon te kom, en optimaal te groei. Al gesien hoe lyk 'n roosboom wat glad nie gesnoei word nie? Sy takke groei in alle rigtings, die boom lyk siek en verwaarloos, en sy rose lyk slegter as plastiek rose. Nee, snoei gee vorm, dit stimuleer groei, en bring goeie vrugte voort. So wil 'n boer trots wees op sy wingerd, en so wil die Here trots wees op Sy wingerd hier op aarde. Maar dis net moontlik as Hy in my bly, en ek in Hom. Dit is my keuse - die Here dwing baie selde dit op ons af. Hy in my en ek in Hom. Wat moet ons doen? Ons moet bereid wees om gesnoei te word. Soms is dit nie sonder pyn nie. Maar dis die voorwaarde! Vers 4 - "'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie, en so julle ook nie as julle nie in My bly nie." Openb 3 : 20 "Ek staan en klop …. " en so kom alles na 'n punt toe, wat sê as daar nie 'n diepgewortelde verhouding is nie, bly ons nie in Jesus en Hy in ons nie. Die loot kan homself nie net soms aan die wingerdstok vasheg en dan weer sonder die wingerdstok gaan nie. Die loot kan homself ook nie so nou en dan aan iets anders gaan vasheg nie. Jy weet mos, soms so bietjie gerieflikheidshalwe. Die loot kan homself ook nie losmaak van die wingerstok en homself in die grond gaan inforseer nie. Hy sal doodgaan, en dan staan daar in vers 6 - "Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand". Al gesien hoe lekker brand droë lote in 'n vuur? Al gedink hoe moet dit in die hel wees? Droë lote brand lekker. Wat is lekkerder as 'n lewe waar Jesus in my is en ek in Hom? Volmaakte harmonie. En as ons bietjie wegdwaal? En die vrugte so bietjie afgaan? Dan snoei Jesus ons so bietjie, sodat ons beter kan raak. Dink jy dalk dat Jesus nie in jou wil wees nie? En dat Hy jou dalk nie in Hom wil hê nie? Dalk is die Here met jou besig met 'n snoeiproses. Dalk voel dinge nie so lekker in jou verhouding met die Here nie. Dan sê Hy net, bly in My. Byt vas, Ek is nog besig. Ek gee jou nog 'n kans. En as jy dit vandag hoor, weet verseker, dat die loot nog nie afgesny is nie. Daar is nog 'n kans. Gee oor, gee ALLES oor aan Jesus. Moenie die Wingerdstok probeer systap na die Boer toe nie. Hy gaan dit in elk geval nie toelaat nie. Hy werk deur die wingerdstok met jou en my as lote. Joh 17 : 21 "Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het". Die Vader in Jesus, Jesus in die Vader, Ek in Jesus, Hy in my. Pragtig nê. Julle moet in My bly, en Ek in julle. Gebed: Here Jesus, dankie dat U ons nog 'n kans gee, dat U nog nie die loot afgesny het nie. Maar dat U ons snoei sodat ons beter kan raak. Amen
|