DIE WEDLOOP VAN DIE LEWE


Wanneer die Comrades wedloop wegspring is daar 'n stuk of 12000 dapper mans, vroue, jong mense, ou mense, verskillende rasse, verskillende lande, langes, kortes, maeres, rondes wat deelneem. Inderdaad 'n mengelmoes van mense wat een doel in gemeen het. Almal hardloop na dieselfde eindstreep toe. En almal gaan hardloop - so asof hulle karre stukkend is, shame. Behalwe vir die professionele atlete, is elkeen anders in 'n stryd gewikkel teen net een ding, en dis die horlosie. Om so vinnig moontlik anderkant te kom. En so heel as moontlik. Net soos die wedloop van die lewe waarmee ons besig is, wat op een gegewe tydstip begin het en dan iewers weer gaan eindig, met een of ander beloning. En soos met die Comrades, is daar vir elkeen 'n beloning. Die Comrades wedloop begin as die skoot klap en die atleet deel word van die wedloop. Ons geestelike wedloop begin met ons bekering, nie voor dit nie. Want voor dit is jy nog nie 'n atleet nie, dan is jy net 'n toeskouer. Ek verkies vandag om 'n toeskouer te wees van die Comrades, om voor die TV te sit en raad te gee...  Dalk so bietjie te kritiseer, en ja, selfs in 'n swak oomblik my verlustig in die mense se swaarkry. Soos wat nie-Christene dikwels met Christene doen. Raad gee, verlustig in hulle swaarkry, ens. Die beste posisie denkbaar, is egter wanneer die wedloop begin, ná ons bekering, want dan kan ek nie verloor nie. My enigste opponent was Satan, en hy het klaar verloor. Nee, ons hardloop en stry die goeie stryd, met die wenpaal in die oog, gefokus op Jesus.

Hoe lyk hierdie wedloop van die lewe?

Hebr 12 : 1 "Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuienis rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop."

 'n Klomp elemente wat ek in hierdie teks sien:

· Daar moet 'n begeerte wees om die wedloop te hardloop.
· Daar is 'n skare rondom ons, om ons aan te moedig en ons hande hoog hou. Wat ook getuies is van ons vordering, en ons bystaan.
· Ons kan nie met 'n las hardloop nie. Dink net as ons 'n 20kg rugsak moet saamdra. So sê die skrywer maak sonde met ons, dit rem ons af en hou ons terug.
· Ons moet uitsien na die wedloop, lus wees daarvoor, gereed, toegerus.
· Ons moet met volharding hardloop. Gefokus op die wenpaal, en die roete ken. Wat baie belangrik is, is om te weet hoekom ons hardloop. Dit gaan nie daaroor teen wie ons hardloop nie, maar saam met wie.

 Die voorbereiding. Wat moet ons doen?

1 Kor 9 : 25 "Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerhande dinge."

Selfbeheersing, selfdissipline. Absoluut nodig in die voorbereidings proses.

Vers 27: "Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep, en self nie kwalifiseer nie."

Oefen my liggaam. Om geestelik fiks te wees vir wat voorlê. En dan die belangrikste, sodat ek kan kwalifiseer. Nie net almal van die kantlyn af aanmoedig - of kritiseer nie, maar om deel te neem.

Dis al hoe ek die oorwinnaarskroon kan kry. Geen toeskouer sal ooit hierdie voorreg hê nie.

Waaroor gaan die wedloop. Hoe berei ek voor?

'n Doelgerigte oefenprogram.

1 Kor 9 : 25 sê: Alle atlete oefen hard, almal gaan in ordentlike oefening in, bring my liggaam onder beheer.

1 Tess 5 : 16 - 18: Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

Dis ons geestelike oefenprogram. Blydskap, bid, dankbaarheid. So maak ons onsself geestelik fiks.

* Die regte klere. Jes 61 : 10 "Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnings klere aangetrek." Die regte geestelike kleed is skoon, pas netjies, en dra by tot die sukses van die wedloop: 'n Man met 'n driestuk pak lyk nie reg vir 'n wedloop nie. Ons lewenstyl, dit wat mense van ons sien, identifiseer ons as atlete in die Here se wedloop. Slegte taalgebruik, verkeerde dade, wys dat ons kleed vuil en stukkend is en dit deug nie.

* Die reëls. Niemand kan deelneem sonder om die reëls te ken nie. Jy kan nie halfpad deur die wedren 'n taxi neem nie. Ook nie ander atlete pootjie nie. Dis teen die reëls.

2 Tim 2 : 5 'n Atleet wat aan 'n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding.

Ons kry ons geestelike reëls in die Bybel. Ek kan nie gaan owerspel pleeg, en sê ek het nie geweet dis verkeerd nie. Of steel, of moor nie. God het die reëls perfek uiteen gesit in die Skrif. Die reëlboek is ook nie moeilik om te verstaan nie. En daarom kan ek nie doen wat ek wil nie. 'n Christen is onderworpe aan reëls, en dis net tot ons eie beswil. Eerbiedig die reëls, en geniet die wedloop.

* Die prys. Hoe wonderlik is dit nie om 'n prys te wen in 'n wedloop nie. Veral as ons in die Koning se span hardloop en weet dat elkeen 'n prys kry. En al die plekke is eerste plek, en al die pryse is ewe groot. En die Here self gaan die prys en die blomme oorhandig. Die Engelse spreekwoord sê: "The reward is out of this world".

Openb 2 : 7 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.

Openb 2 : 11 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie.

Openb 2 : 17 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom 'n wit steentjie gee met 'n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry.

Openb 2 : 26 Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee.

Openb 2 : 28 Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee.

Openb 3 : 5 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.

Openb 3 : 12 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.

Openb 3 : 21 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

Dit klink deur en deur die moeite werd, of hoe?


 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)