DIE WÊRELD SAL JULLE HAAT


"Die wêreld sal julle haat" - aldus Johannes 15. Wie is die wêreld? Wie is dit wat gehaat word? Word JY gehaat deur die wêreld? Sekerlik, miskien dalk selfs sonder dat jy dit weet. Christelike vervolging … voel jy dit aan jou lyf? Miskien nie, maar die wêreld haat jou omdat jy 'n navolger van Jesus Christus is.

Joh 15:18-27
"As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat.
As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.
Onthou wat Ek vir julle gesê het: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s'n ook ter harte neem.
Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.
"As Ek nie gekom en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hulle sonde nie.
Wie My haat, haat ook my Vader.
As Ek nie by hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou sien hulle dit, en tog haat hulle My en my Vader.
Maar die woorde wat in die Skrif geskrywe staan, moet vervul word: 'Hulle het My sonder rede gehaat.'
"Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig.
En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My."

2000 jaar gelede waarsku Jesus sy dissipels reeds teen vervolging, en tot vandag toe is dit waar. Hierdie vervolging word baie subtiel toegepas. Ek lees die volgende in die JOY tydskrif:
1) Meer as 42 miljoen Christene sterf in die 20 ste eeu aan die hand van anti-Christelike regerings.
2) Onder Josef Stalin het 20 miljoen Christene gesterf.
3) Onder Mau Tse Tung se bewind sterf meer as 1 miljoen Christene.
4) Samora Machel se regering vermoor meer as 300 000 Christene.

Reeds in Handelinge lees ons hoe die Christene vervolg word - selfs onder Paulus. Dit was so, dis is nou so, en dit sal so wees. Hier, daar en oral word Christene op die een of ander manier benadeel oor hulle geloof.

In Suid-Afrika is ons nog gelukkig .. op die oppervlak. Een van die grootste privaat maatskappye in die land (wat deur jou vetgevoer word as jy met Mammie wil praat) laat nie e-posse deur na hulle werknemers toe as die naam Jesus daarin verskyn nie. Die stelsel tel dit op as "ontoelaatbare taalgebruik", en blokkeer dit. Jy kan dus nie met jou vriend oor die Here praat nie. Meer en meer vind hierdie openlike verwerping van die Christelike geloof plaas. Het jy dalk al deurgeloop? Stilgemaak by die werk? Jy mag nie items met 'n Christelike strekking op jou lessenaar of op jou kantoormuur sit nie. Daar is meer en meer openlike uitsprake téén die Christelike geloof. En ja, selfs op Afrikaanse Radiostasies word dit sommer openlik aangeval. Twintig jaar gelede het niemand openlik hulle ongeloof bely nie, maar vandag is dit die "in-ding".

Johannes 15 is sommer baie waar, en kink of dit sommer anderdag geskryf is… en so word die Bybel weereens korrek bewys.

In Handelinge word die Christene uitmekaar gejaag deur die Romeinse regering. In plaas daarvan dat die Christelike geloof uitsterf, versprei dit net verder en verder … sal dit vandag ook so wees?

Die wêreld sal julle haat. In Joh 15 sê Jesus: "Die wêreld het My voor julle gehaat", en in Luk 10:16: "Wie vir julle verwerp, verwerp My en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het".  Dus, haat die wêreld nie vir jou en my nie, maar die wêreld haat die Here, en haal dit dan op Sy volgelinge uit.

Hier is egter die goeie nuus: nog nooit kon hierdie haat die Christen onderkry nie. Nie 2000 jaar gelede nie, nie in die Middeleeue nie, en ook nie vandag nie. Nog altyd het die Here sy kinders staande laat bly. Hoe meer die Satan vir jou en my haat, hoe meer kom Jesus se liefde en beskerming in werking. Al word miljoene Christene wêreldwyd vermoor, kan Jesus se bestaan nie "vermoor" word nie. Jesus word aan die kruis vermoor, maar ook dit kon nie van Hom "ontslae" raak nie, want Hy het weer opgestaan - en steeds is die wêreld wat Hom so haat nie van Hom ontslae nie. Nadat Hy opgevaar het, stuur Hy 'n "ander Voorspraak", die Heilige Gees. Hoe meer Hy gehaat word, hoe meer stort Hy sy liefde op die wêreld uit. Die Koran sê jy moet jou van Christene distansieer (en nog erger dinge!), maar die Bybel sê jy moet jou vyande liefhê. Joh 15:25 sê: "Hulle het My sonder rede gehaat"; maar Hy het die wêreld sonder verdienste liefgehad. Al word ek en jy ook sonder rede gehaat en vervolg, moet ons steeds onvoorwaardelik liefhê.

Die wêreld sal julle haat - miskien juis omdat die ware Christendom so oorweldigend is. Is die wêreld nie vol blindheid nie? 60 000 manne trek saam in Greytown, en onmiddellik is daar negatiewe reaksie - nie van mense wat daar was nie, nee, van dié wat die mans "haat" wat gegaan het. Loftus verkoop uit, en skielik word oom Angus met agterdog bejeën, en gehaat, terwyl hy niks verkeerd gedoen het nie. Radiostasies se lisensies word afgewys, maar tog sorg die Here dat die deure oop bly. Regerings probeer verwoed Christene demp, maar massiewe gemeentes spring wêreldwyd op. In China, waar geweldige vervolging plaasgevind het, versprei die evangelie soos 'n veldbrand, en mense kom in massas tot bekering.

En Paulus? Hy het ook probeer, want hy het die Christene gehaat, tot die Here hom "getref" het. (As ek 'n vervolger was, sou ek gekoes het vir skerp ligte uit de hemel uit!) Paulus het toe die vervolgde geword … geslaan, in die tronk gegooi ter wille van die evangelie.

My vriend, gee dit nie vir jou geweldige hoop nie? Sien jy dat die haat van die wêreld niks kan doen aan die waarheid van die evangelie nie?

En ons? Laat ons liefhê, onvoorwaardelik. Sonder ophou. Mense moet Christus in en deur ons kan sien. Ek is so bly ek staan aan Christus se kant - saam met jou.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)