|
|
|
DIEN DIE HERE Om die Here te dien. Wat beteken dit vir jou om te sê: "Ek dien die Here". Is dit nie so dat ons as Christene so maklik sê "Ek dien die Here" nie? Dink vir 'n oomblik na: Sê nou iemand vra jou om te verduidelik wat jy bedoel as jy sê jy dien die Here. Hoe sou jy dit prakties uitdruk? Jos 24 : 14 - 15 Jos 24 : 23 - 28 "Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien". Is dit nie 'n pragtige verklaring van Josua nie? Ek en my familie, ons sal die Here dien. Het jy dit al iewers besluit? Heel moontlik, maar het jy dit al aan jou gesin (en ander mense) verklaar? Jy sien, in hierdie gedeelte is dit duidelik dat alles gaan oor 'n keuse. Om te kan sê, tussen al hierdie vals gode, afgode, ander dinge en begeertes, gaan my keuse die Here wees. Om die Here te dien met my hele hart, my hele siel en met my hele verstand. So moet ek en jy kies, is dit die ander dinge, of is dit God? Wat is die ander dinge wat vandag op ons pad kom, wat ons eerder - en meer - dien as die Here? Om 'n paar te noem: · Rykdom, Mammon - onthou daar
staan, ons kan nie God en Mammon dien nie. Dien jy die Here? Regtig? Hoe dien ons die Here? Eerstens het ek gesê "Ons moet kies wie ons gaan dien". Tweedens wil ek vra "Hoe doen ons dit?" Kom ek vra vir jou om jou lewe in 'n "pie-chart" in te deel. Deel dan nou die sirkel op in segmente en sê vir jouself hoe groot die stukke moet verdeel tussen 1. Werk. 2. Gesin. 3. Sport. 4. Stokperdjies 5. Finansies. 6. Christenskap. Hoe groot deel sou Christenskap uitmaak? Dink eerlik vir jouself: 50%, 10%, 5%, 100%? Net jy sal weet. Wel, om die Here waarlik te dien, beteken dat daar geen segment daaraan gekoppel kan word nie. Want jou verhouding met die Here moet die hele sirkel beïnvloed. Ons dien mos die Here in ons huwelik, gesin, werk, finansies, sport, alles!! Of hoe? As ek die Here waarlik dien, word alles beïnvloed. My tyd, my geld, my alles. Mark 12 : 28 - 34 Om die Here jou God lief te hê, en jou naaste soos jouself. Dan sê die Here, dis belangriker as diere-offers en brandoffers. Om die Here te dien, beteken om 'n invloed op die wêreld om ons te hê. Hoekom is die wêreld om ons so gebroke as daar so baie Christene is wat die Here dien? Is dit nie dalk so dat ons maar net onsself dien, en dan sit ons so 'n Christelike suikerlagie om nie? Ek het vroeër die vraag gevra "Verduidelik prakties wat dit sou beteken om die Here te dien". Ek het gaan kers opsteek by ander, en hier is wat hulle gesê het:- · Ek dien Hom met emosie. As dit
goed gaan is dit met blydskap. As dit swaar gaan met smeking. As dinge
soos trauma op my pad kom, met verwarring. Maar ek dien Hom!! Is dit nie 'n klomp pragtige stellings nie? Rom 12 : 1 "En nou, doen ek 'n beroep op julle broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en Heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die Godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe." Hoe sal ons kinders in die toekoms die Here dien? Soos hulle by ons sien? Hoe leer ons hulle dit? Deut 6 : 4 - 9 Skerp dit by jou kinders in, in jou huis, as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Maar weet jy, dan kan ons nie 'n deeltjie van die "pre chart" aan godsdienstigheid afstaan nie. Jy sien, ons staan maar gewoonlik net so 'n stukkie Sondagtyd aan die Here af. Soms Sondag Christene. En dis hoekom dit al is wat vir ons belangrik is. Na watter kerk toe ons gaan, hoe ons moet aantrek, net sing in goeie ou Afrikaans (trêêêkerig), sedig, lang gesig. Dan mis ons ons kinders. Hulle dien die Here met ander musiek, in ander kleredrag. En as ons dit nie kan hanteer nie, gaan ons ons kinders vir die evangelie verloor. Het jy al gesien hoe 3000 jongmense in 'n kerk lyk, op 'n Sondagaand? Waar hulle die Here op hulle manier kan dien? Hoekom kan ons mekaar nie maar die ruimte gee om die Here te dien op die manier wat ons pas nie? Hoe sal iemand in die amasone oerwoud nou op ons gereformeerde (of wat ookal) manier, die Here leer ken. God is nie volksvreemd vir enigiemand nie. Hy is vêr verhewe bo ons menslike vieterjasies. Joh 4 : 23 - 24
|