|
|
|
DINGE WAT GOD HAAT God is liefde. 1 Joh 4:8. God het elke mens lief, onvoorwaardelik. Maar … daar is dinge wat mense dóén, wat God haat, waaraan Hy 'n afsku het, en waaroor Hy baie uitgesproke is. En onthou, God haat nie die mens wat dit doen nie, Hy haat dit wat die mens doen. Jy sal ook sien dat al hierdie dinge goed is wat juis Sy kinders seermaak. Hierdie punte kom alles uit Spreuke uit, en daar is sekerlik baie meer as net hierdie paar goed waarna ons nou gaan kyk. Spreuke 3:31 Moenie 'n man wat sy mag misbruik, beny nie en moenie self soos hy maak nie, want die Here het 'n afkeer van 'n slegte mens. Is dit nie waar nie? Die vinnigste wat jy 'n mens se ware karakter leer ken, is wanneer jy hom in 'n magsposisie sit Spreuke 30:21-22, 23(b) Daar is drie, nee, vier dinge wat die lewe ondraaglik maak, wat onuitstaanbaar is: 'n slaaf nadat hy koning geword het, … 'n slavin nadat sy haar eienares se plek ingeneem het. Dis ongeloofllik wat die mens vir mag sal doen, en hoeveel skade 'n mens kan aanrig wat magmal is. Kyk maar net oor die grens na ons bure. Daar was waarskynlik geen diktator wat nie onbeskryflik wreed was nie. Maar … lei ons nie maar almal in 'n mate hieraan nie? Hoe tree ons op teenoor ons werknemers en ondergeskiktes? Hoe is jou verhouding met die huis - en tuinhulp? Kry magsbeheptheid ook soms in jou lewe die oorhand? Mag is 'n lelike ding as dit in die verkeerde hande is.Sit 'n rewolwer of 'n mes in die hand van 'n 16-jarige en kyk na die verwoestende gevolge. Die Here haat mense wat hulle mag misbruik. Spr 6:16-19 Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van kwaad, 'n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers. Sjoe, hierdie is 'n mondvol. Hoogmoed, leuens, moord, samesweerdery, kwaadstokery. Kyk, 'n hoogmoedige persoon, is 'n ander mens … neus in die lug, neerhalend, hou van spog, sien neer op ander. Walglik, of hoe? Kom ons toets onsself gou-gou: hoe praat ons van mense wat in minder gegoede woonbuurtes bly? Wees eerlik met jouself. Hoe maklik maak ons nie ander mense seer met sinnelose, hoogmoedige opmerkings nie. Lieg … wel, mens kry mos mense,
as hulle sê "goeie more", dan moet jy gaan kyk of dit more is;
sulke mense is altyd onder suspusie. Jok, leuens, praat deur jou nek, lieg
deur jou tande … vreeslik, of hoe? En wat van 'n noodleuen, of 'n wit
leuentjie? Wel, hoe vaar ek en jy met eerlikheid? Hulle sê as jy 'n leuen
genoeg vertel, glo jy dit self. Vers 18 sê: "gedagtes wat met komplotte besig is …" God haat dit. Mense wat heeltyd onderlangs konkel. Ja, soos wanneer mev X by die werk so beskinder word dat sy naderhand bedank. Ondergrawery, subtiele aanvalle, ens. Dinge wat God pertinent haat, volgens die Bybel. Spreuke 15:8 Die Here het 'n
afsku van die offers van goddeloses. Spreuke 15:9 Die Here het 'n
afsku van die lewenswyse van goddeloses, maar Hy het dié lief wat volgens
Sy wil lewe. Spreuke 16:5 Die Here het 'n
afsku van 'n verwaande mens; dit staan vas: so 'n persoon sal nie
ongestraf bly nie. Spreuke 17:5 Wie met 'n arm mens
spot, beledig sy Maker; wie hom verheug oor die ongeluk van 'n ander, sal
self nie vrykom nie. Dit lyk my dat hierdie dinge wat God haat, is goed waarmee ons maar almal sukkel. Kom ons leer hieruit, en lééf 'n lewe wat God behaag.
|