DIS NOU HOE DIT IS


Wie maak siek? Wie maak gesond? Wie is verantwoordelik vir teëspoed? Of voorspoed? Waar pas die mag van die duiwel in? Is hy die een wat die mensdom se lewe vergal met negatiewe dinge? Ek glo dat daar baie verskillende menings onder enige groep mense oor hierdie vrae sou wees. Ek glo ook dat ‘n klinkklare antwoord baie moeilik (en self onmoontlik) sou wees. Selfs al hou ek vir jou ‘n klomp Bybelverse voor, sou ons kon stry oor die interpretasie daarvan. ‘n Baie sensitiewe punt is as ons sou praat oor ongeneeslike siektes. Waar pas God in daardie prentjie in? En die duiwel? En ek self? Ek ken ongelukkig nie die antwoord nie. 

Ek vertel jou graag van ‘n man met naam van Herman van Heerden. Ek het hom net so twee keer  van aangesig tot aangesig gesien, genoeg om te weet dat hy ‘n wedergebore Christen is, een van die sagste en aangenaamste mense wat ek al ontmoet het. Herman is op 12 Mei 2012 op die ouderdom van 44 oorlede aan limfoomkanker, ‘n kwaadaardige gewas in die brein. Hy was baie lank siek, en dokters het vir baie lank geglo Herman het MS (Multiple Sclerosis). Hy kon vir lank nie sport beoefen nie, het nie vooruit geweet of hy energie sou hê of sterk genoeg sou wees vir ‘n aktiwiteit nie; sy fisiese vermoëns het wipplank gery.  Hy het vir lank swaargekry.  Iemand het  so rukkie gelede vir Herman gevra hoe hy voel oor die feit dat hierdie siekte hom getref het. Sy woorde was iets soos: “dis nou hoe dit is...”. Dis al. Geen verwyte. Geen hoekoms. Geen verduidelikings nie. Net: “dis nou hoe dit is”. Ek wonder hoe ek daarop sou reageer het. Vir sy vrou, Henriette, lê daar ‘n geweldige vertroosting in hierdie gesindheid van hom.  

Dalk is jy ook in dieselfde bootjie, of ‘n ander bootjie wat in moeilike waters vaar. Dalk word jou bootjie geskud deur egskeiding, werksverlies, slegte gesondheid, rebelse kinders, gestremdheid, of watter swaarkry ookal. Is dit vir jou moontlik om op te hou veg, en te sê: “dis nou hoe dit is”? 

Hier is twee teksgedeeltes wat vir my van toepassing is en wat ek wil probeer verduidelik: 

Deut 32:39
Besef dit tog: Ek, Ek is die Here! Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond. Uit my mag word niemand bevry nie.  

Job 1:21-22
“Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.”  Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.         

Hierdie is Job se woorde nadat hy alles verloor het, sy besittings, sy werkers, sy kinders, alles.

 

Mens kan hierdie twee gedeeltes op een van twee maniere probeer interpreteer:

1. God is ‘n wrede God wat Sy eie skeppingswerk laat swaarkry en dit vernietig
of
2. God is in beheer van alles. Siekte, genesing, lewe, dood; swaarkry en voorspoed. Hy weet wat Hy doen.


Job en Herman het na my mening dieselfde gesindheid gehad. Die Here het gegee en die Here het geneem, prys die Naam van die Here! Job het alles teruggekry, maar Herman se lewe hier op aarde is verby. Is dit so eenvoudig? Nee, Job se kinders was steeds dood, hy het steeds deur erge pyn en verwerping gegaan; Herman se weduwee en familie en vriende het alleen agtergebly met hartseer en verlange. Maar nogtans het altwee gesê: prys die Naam van die Here. 

Die Here het gegee en die Here het geneem. Dit is die totale siklus van die lewe. Job 1:21 sê: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit”. Stof tot stof. Alles wat jy besit, het die Here vir jou gegee: jou persoonlikheid, jou vermoë om lief te hê, jou talente, jou liggaamlike vermoëns, jou werk, jou gesin, jou belangstelling, jou lewe, jou gesondheid, jou vermoë om te glo – alles! Dit alles kom uit God se hand uit. Die ongelowige, die ateïs, enige een wat enige ander geloof aanhang, almal het dit alles van God ontvang.  Die Here het inderdaad gegee. Dink jy dis jy wat hard gewerk het daarvoor, jou sterk hande wat alles vir jou verdien het? Deut 8:17-18 sê: “Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf. Moet ook nie groter prentjie vergeet nie: die Here gee, en die Here kan neem. Wanneer jy tot sterwe kom, neem Hy weer alles. Dit was nooit joune nie, dit was net aan jou geleen. Miskien moet ons dit meer besef, dan sal ons dalk alles beter oppas. “Wat ek is, is net genade, wat ek het, is net geleen”, só lui die woorde van Koos du Plessis se lied “gebed”. As mens ‘n motor huur of jou vriend s’n leen, dan pas jy hom ekstra mooi op, en jy bestuur baie versigtig, want dit wat jy moet teruggee, pas jy mooi op. Ons moet dit ook doen met alles wat die Here aan ons geleen het. Dis nou hoe dit is: die Here het gegee en die Here het geneem. 

Pred 12 :6-8
... die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val, die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het. Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.  

As ons onvoorwaardelik kan aanvaar dat God in beheer is van alles, kan ons sê: prys die Naam van die Here. Ten spyte van, te midde van, al is dit hoe seer, al is die verlies hoe ondraaglik, al verstaan ek hoegenaamd niks van waarmee die Here besig is nie, en al kry ek geen enkele antwoord op my “hoekom?” nie. Ai, ek is bevrees ek het nog nie hierdie geestelike volwassenheid nie. 

Die woorde van Herman: “dis nou hoe dit is....”, sal my die res van my lewe bybly. 

Vir my sê hierdie woorde:

* Here, ek daag U nie uit nie
* Here, ek trek nie U bedoelings in twyfel nie
* Here, ek probeer nie in die pad staan van U werke nie
* Here, ek vertrou U as ‘n soewereine God
* Here, ek aanvaar dat U ten volle in beheer is
* Here, laat U wil geskied

Voor Jesus se kruisiging het Hy in die tuin gebid: Laat hierdie beker by My verby gaan, maar laat nogtans nie My wil nie, maar U wil geskied.
Prys die Naam van die Here – geloofswoorde.

* nie omdat ek opgee nie
* nie omdat dit lekker is nie
* nie omdat ek die omstandighede oorgee aan die duiwel nie
maar, omdat ek die Skepper en Onderhouer , die Getroue en Betroubare, ken en in alle omstandighede vertrou. Totdat die finale uiteinde aanbreek, hou ons aan met bid, en sê ons: prys die Naam van die Here, want dis nou hoe dit is .....
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)