EBEN-HAESER


Ek neem jou terug na ‘n paar momente in ons geskiedenis (toemaar, dit het niks met politiek te make nie, al mag dit dalk aanvanklik so klink). Baie jare gelede hou ons ‘n referendum en die land moet stem: ja of nee. Ons moet besluit in watter rigting die regering moet gaan. Ongeag wat jy gestem het, was daar dalk ‘n gevoel van vrees. Nelson Mandela word vrygelaat en later word hy die president. Weer beleef baie van ons ‘n mate van vrees. Swart bemagtiging volg, mense sing: skiet die boer,  plase word afgeneem en alles raak meer en meer onseker.... en hier sit ons nou vandag, steeds onseker en dalk vol vrees. 

Ek weet nie wat vandag in jou hart aangaan nie, maar as mens dink aan dinge soos finansies, huweliksprobleme, gesondheid, werkloosheid, toekoms, pensioen, misdaad, kinders, skole en opvoeding kan mens dalk vrees voel opstoot in jou binnekant.

1 Sam 7:7-12

Die Filistyne het verneem dat die Israeliete by Mispa bymekaargekom het, en die Filistynse regeerders het teen hulle opgetrek. Toe die Israeliete dit hoor, was hulle bang vir die Filistyne. Die Israeliete sê toe vir Samuel: “Moenie ophou om die Here ons God vir ons om hulp te smeek nie, sodat Hy ons uit die mag van die Filistyne kan red.”  Samuel het 'n suiplam gevat en dit in sy geheel aan die Here as brandoffer geoffer. Hy het ook die Here om hulp gesmeek vir Israel, en die Here het sy gebed verhoor. Samuel was nog besig om te offer, toe kom die Filistyne nader om teen Israel te veg. Op daardie dag het die Here 'n groot donderweer oor die Filistyne laat losbars. Die Here het hulle verwar, en hulle is deur die Israeliete verslaan. Die Israeliete het van Mispa af die Filistyne agtervolg en hulle verdryf tot onderkant Bet-Kar.  Samuel het toe 'n klip gevat en dit regop gesit tussen Mispa en Sen. Hy het die plek Eben-Haeser genoem, “want,” het hy gesê, “tot nou toe het die Here ons gehelp.” (Die naam Eben-Haeser hou verband met die Hebreeuse woorde vir “klip” en “help”.)   

Na ‘n tyd van onsekerheid en vrees kom die oorwinning, en Samuel sê: tot nou toe het die Here ons gehelp.  ‘n Wonderlike kragtige belydenis. ‘n Belydenis wat vloei uit terugkyk, die Here raaksien, Hom innig bedank, ‘n “altaar” oprig en erkenning gee aan die Here. 

Ons leef in ‘n tyd van “doom and gloom”. Weet jy wat is ons probleem? Ons spartel te veel oor die onsekerheid van die toekoms, en kyk nooit meer terug na die oorwinnings van die verlede nie. Het jy al ooit oor die verlede gevrees? Natuurlik nie, dit sou sinneloos wees, dis bekend en verby. Onthou, die toekoms van dinge waaroor jy lank gelede gevrees het, is nou alreeds verlede tyd. En dalk was dit toe nie eers so sleg as wat jy gedink het dit sou wees nie. Nou vra ek jou: waar is jou klip-monumente? Jou Eben-Haesers? Het jy al by sulke plekke van intense dankbaarheid in jou lewe gekom waar jy gesê het: tot nou toe het die Here ons gehelp? As jy terugkyk, sien jy sulke monumente op jou lewenspad? Of is daar net klaagstasies? 

Jy sien, ons as Christene is op geen manier gevrywaar van moeilike tye nie, en as jy dink die lewe is een groot gladde oseaan sonder storms, maak jy ‘n groot fout. Voorts dink ek die uitdagings vir oorlewing is vandag so groot dat ons nie eers meer moeite doen om die lewe te geniet nie, wat nog van stilword en besin oor ons huidige toestand. 

Eben-Haeser. “Tot nou toe het die Here ons gehelp”, maak plek vir “Here, hoe nou vorentoe? Gaan U daar wees? Dink U nog aan my? Waar is U Here? 

Toe Samuel gesê het "Eben-Haeser, tot nou toe het die Here ons gehelp", was sy manskappe dalk besig om hulle eie mense se lyke bymekaar te maak. Weet jy wat gebeur in oorlog? Mense gaan dood. Daar was waarskynlik ‘n erge verlies aan lewens. Eben-Haeser beteken nie daar was geen swaarkry tot nou toe nie. Dit beteken nie dat daar geen letsels is nie, of lewensverlies, of dat jy jou werk verloor, of dat daar huweliksprobleme kom nie. Eben-Haeser beteken te midde van dit alles, ten spyte van swaarkry, het die Here my gehelp. Dit is daardie tye toe jy net die een ry spore in die sand gesien het en gevra het: “waar was U Here?”, en Hy geantwoord het: “dis My spore terwyl Ek jou gedra het”. 

Die Here is nie weg in moeilike tye nie, Hy het jou nie verlaat nie, Hy het nie Sy gesig weggedraai nie, Hy is waarskynlik nie besig om jou te straf nie, Hy het jou nie vergeet nie. Hy was daar, Hy is daar en Hy sal daar wees, maak nie saak wat nie. Eben-Haeser vra vir terugkyk, raaksien, besef, onthou, besin en dan... om erkenning te gee en dankbaar te wees. Ons probeer te veel om die huidige omstandighede te verander en te probeer swaai om ons te pas. Dalk moet jy vandag begin om dit te aanvaar, selfs besluit om daarmee saam te leef, en die Here se hand voortdurend in alles raak te sien. Dan kan jy dalk jou klip-monument neersit en sê: “tot hier toe het die Here my gehelp”. 

Met Eben-Haeser kan ek vorentoe gaan. Ja, met vrees, onsekerheid en kommer, maar steeds in my geestesoog in die toekoms die klip-monumente raaksien. Soos telefoonpale op die oop pad wat voor jou uitstrek in die toekoms in. Moenie probeer om net een reuse een voor jou te sien wat aan die einde van jou lewenspad geplant is nie. Toe Samuel die plek Eben-Haeser genoem het, was dit om erkenning aan die Here te gee, Hy het nie gesê: “tot nou toe het ek reggekom” nie. Ek kry mense so jammer wat net op hulle eie kragte staatmaak, want ek dink hulle kry bitter swaar. Wanneer jy jou klip regop staan maak, sê jy nie net: “tot nou toe...” nie, jy sê: “Here, ek is reg vir die volgende entjie”. Al is dit net een week of een maand vooruit.  

Ons spartel onsself oor ‘n mik om ‘n seepgladde toekoms vir onsself te verseker. Na die oorwinning by Mispa was daar nog baie oorloë, soms vernedering, soms oorwinning, maar Samuel het nie sy kop daaroor gebreek nie; dit was ‘n probleem vir ‘n ander dag.  

- Kan jy terugkyk oor jou lewe en sê: “dankie Here, tot nou toe het U ons gehelp”?
- Het jy genoeg dankbaarheid in jou lewe om vir die Here daardie erkenning te gee?
- Kan jy vorentoe kyk en die Here genoeg vertrou tot by die volgende klip-monument?
- Kan jy aanvaar dat oorwinning vandag, en die Here se altyd teenwoordige helpende hand nie net gladde waters beteken nie?
- Is jy bereid om jou klip-monument openlik as ‘n getuienis uit te pak, sodat ander hoop daaruit kan put?

Sit ‘n klip sigbaar op jou lessenaar of in jou huis vir ander om te sien. As iemand jou daaroor uitvra, dan sê jy dis my Eben-Haeser, want tot nou toe het die Here my gehelp.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)